Die teenstelling tussen Engelse liberales en Afrikaanse linkses
Augustus 5, 2014
Die tirannie van verteenwoordiging: Herbedink van regstellende aksie
Augustus 11, 2014

Hendrik Verryn, ʼn 24-jarige teologiestudent van die Puk*, skryf:

Die Afrikaanse Taalmonument

Die Afrikaanse Taalmonument

Dis maklik om simpatie met ‘n saak te toon wat na aan jou hart lê. Dis net so maklik om iets as onbelangrik af te skryf as dit jou nie persoonlik raak nie. Met hierdie stelling is dit byvoorbeeld vir my as jong Afrikaner-student nie belangrik wat met vlug MH370 gebeur het nie. Dit is vir my egter baie belangrik wat met die Puk gaan gebeur. So ook is die toekoms van my geloof, taal en kultuur belangrik.

My eerste persoonlike ervaring waar ek gevrees het vir my taal en toekoms, was in matriek. Ek moes ‘n vorm invul waarop ek aandui in watter taal ek my matrieksertifikaat verkies. Soos ‘n trotse Afrikaanssprekende in ‘n Engelse stad, Pietermaritzburg, het ek Afrikaans gekies. Met groot skok is ek vermaan deur een van my Afrikaanssprekende onderwysers dat dit my gaan benadeel in die toekoms. Sy het die vorm opgeskeur en ‘n klaar ingevulde een vir my gegee en gesê ek moet net teken. Nou is my sertifikaat in Engels.

Vir jare lank het ek geglo dit maak nie saak wat die huidige regering en anti-Afrikaners doen aan Afrikaans nie, want ons het die Britte se kampe oorleef. Binne ‘n paar dekades van ‘n volksmoord het ons as volk ‘n punt bereik waar Afrikaans en die Afrikaanse kultuur op sy sterkste was. Dit is eers met hierdie matrieksertifikaat-voorval dat ek besef het ons beleef ‘n tweede moord. ‘n Taalmoord.

Dit het my ook laat besef dat die Afrikaners nie in die 1900’s gaan lê en wag het vir verligting nie. Hulle het terugbaklei. Hoe hulle terugbaklei het weet ek nie, want op skool het ek net van Apartheid en die Koue Oorlog geleer. Tog het hulle teruggekap teen hulle omstandighede.

Hierdie baie werklike Taalmoord gebeur terwyl te veel Afrikaners terugsit en nie veel omgee oor goed soos die Puk se transformasie nie. Anna Modler se vernedering oor sy Afrikaans is, bring nie ‘n naar gevoel van vrees nie. Pamflette op die Puk wat geweld teen Afrikaans en boere aanblaas, skok nie genoeg nie. Ek sien daagliks sulke trae houdings teenoor ons taal by jonk en oud.

Sommige Afrikaners meen dat dit nie die onderdrukking is van Afrikaans nie, maar die transformerende regstelling van ander kulture en tale. Hulle glo verder dat wanneer iets werklik onregverdig gebeur, soos met arme Anna Modler, is dit ‘n uitsonderlike geval waar net een persoon ‘n fout gemaak het. Verskil jy van hierdie mense word jy as ‘n rassis en grotman bestempel. Ek is nie ‘n rassis nie! Ek is nie ‘n grotman nie! Ek is ‘n Afrikaner! En ek vrees vir my taal, ek vrees vir my kultuur en ek sien die aanslag teen my as Afrikaner.

Van kindsbeen af het ek by my ouers gehoor dat die toekoms van ons land by my geslag lê. Dat wanneer ons eendag ouer is, dit ons plig gaan wees om ons taal en kultuur te beskerm. Dit het altyd so lekker warm gevoel van trots in my bors veroorsaak. Maar deesdae as ek dit onthou, voel ek net koud en verlore. Ek voel so omdat ek nou besef watter taak dit is om my identiteit te beskerm teen ‘n oorweldigende mag. Dít, terwyl my eie mense nie die aanslag kan raaksien nie.

Afrikaans word vermoor en Afrikaanse bastions soos Beeld oorhandig spreekwoordelike woordeboeke om verbrand te word. Tog sien ek uitkoms by instansies soos die Solidariteit Beweging en die VF+. Instansies wat baklei om my reg om my taal en kultuur te behou, beskerm.

My geslag het met ‘n Jannie Jammerg*t-houding grootgeword. Ons is te bang om te sê ons is trots Afrikaans. Ons is te bang om te sê ons is trots Boer. Want dis rassisties en nazisties. Tog is daar uitsonderings: die Puk-studente het onlangs gewys ons is steeds trots op Afrikaans. Jong mense het gewys daar is nog hoop in hierdie geslag. Ek wil deel wees van só ‘n groep Afrikaners, ‘n groep wat nie bang is om uniek te wees nie. ‘n Groep wat nie transformasie benodig nie. ‘n Groep wat vir Afrikaans se bestaansreg baklei.

Laat die wyse, ervare manne in die howe gaan baklei en slim praatjies maak oor waarom Afrikaans mag bestaan. Ons op straat sal uit onse leke-monde die konkreetste rede vir Afrikaans se bestaan gee: ons praat Afrikaans. Ons bid in Afrikaans. Ons baklei in Afrikaans en ons vry in Afrikaans. Ons IS Afrikaans!

Hier moet ek van my ouers verskil, die toekoms van Afrikaans lê nie in my geslag se hande nie. Dit lê ook nie in die ouer geslag se hande nie. Afrikaans is ons almal se baba, ons almal moet saamwerk om dit te voer en te versorg. En as daar leeus buite die laer brul vir babavleis, moet ons almal ons swepe en gewere optel en gaan veg.

Dit is tyd dat alle Afrikaanses besef dat daar tans net ‘n ondergrondse weerstand teen die Taalmoord is. Dit is tyd dat hierdie weerstandsbeweging in ‘n goed gewapende weermag verander. Die Solidariteit Beweging, die VF+ en ander bewegings wat vir Afrikaans baklei, kan nie sonder soldate baklei nie. Dit is tyd dat almal wakker skrik en besef Afrikaans is ‘n baba en die Blades en Bassonne is voor die laer besig om ons baba te verskeur.

* Hendrik Verryn is ʼn 24-jarige voorgraadse teologiestudent aan die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-universiteit.

Sy standpunt, “Taalmoord is ons voorland as ons nie baklei nie”, is ʼn bydrae in reaksie op Maroela Media/Die Groot Debat se uitnodiging aan jongmense en studente om hul standpunt te stel oor aktuele sake. Lees meer hier.

Let daarop dat geen van die standpunte in hierdie stuk of op Die Groot Debat noodwendig Maroela Media se mening weerspieël nie. Klik hier om Die Groot Debat se waardes en beleid te lees.

Bron: Die Groot Debat, uit Maroela Media

Comments are closed.

error: Content is protected !!