Ondertekende musiekstuk van ‘Die Stem’ vir R17 000 in Sandton opgeveil

Renate Barnard se ope brief aan Jan de Lange
Augustus 18, 2014
Gedenktuin vir ABO-kampslagoffers by Oorlogsmuseum geskep
Augustus 20, 2014
Langenhoven se handgeskrewe teks vir Die Stem van Suid-Afrika.

Langenhoven se handgeskrewe teks vir Die Stem van Suid-Afrika.

Deur Marthinus van BartOndertekende bladmusiek vir “Die Stem van Suid-Afrika” wat  ds. Marthinus Lourens de Villiers in die pastorie van die NG kerk in Simonstad gekomponeer het en wat in 1935 deur De Burger Boekhandel gedruk en uitgegee is, is op Donderdag 28 Augustus in Sandton, Johannesburg, vir R17 000 deur die afslaer Stephan Welz & Co opgeveil.
Die veilingswaardasie was R8 000, meer as die helte laer as die prsy wat dit toe op die veiling behaal het. Daar is nie bekend gemaak wie die koper is nie.
Wat die gelamineerde manuskrip van vier bladsye so belangrik (as Africana) maak, is dat ds. De Villiers dit op 13 Desember 1935 onderteken het. Hy skryf bo-aan sy handtekening “Deur my” omdat dit sy voorlegging in die landswye kompetisie is wat die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) indertyd uitgeskryf het om die beste toonsetting vir die woorde van die beoogde volkslied, soos reeds in 1918 geskryf deur C.J. Langenhoven, te vind.
Bo-aan die voorblad van die musiekstuk (sesde uitgawe) lui die opskrif: “Die Gewenste Volkslied” (Die Burger).
Die publikasie daarvan was in die jaar voor die aanvang van die historiese Ossewa-trek van die Kaap tot in Transvaal, met as klimaks die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument op Monumentkoppie in Pretoria.
Die Afrikaner was aan die opmars om sy volle bugerregte op te eis: Hy is gedurende die Anglo-Boereoorlog vir die soveelste keer in sy veelbewoë geskiedenis sedert 1795 deur die hebsugtige Brittanje van sy erfporsie in Suid-Afrika beroof, en met die beloftevolle Uniewording van 1910 het hy steeds net die Union Jack as landvlag, God Save the King as volkslied, en die Governor-General in Londen as staatshoof ontvang. Die tyd het aangebreek dat hy hom bemagtig en sonder bloedvergieting terugneem wat syne is. Dit moes onder meer met ’n lied in die hart, oftewel ’n hartslied, gedoen word: ’n eie Volkslied.
Die Rebellie van 1914, ’n klaaglike mislukking, het hom laat besef dat die wapen nie die enigste manier was waarop ’n volk ’n ondraagbare juk van sy skouers kon afgooi nie. Daar was ’n edeler weg: die doelgerigte opbloei van sy kultuur. En wat van toe af gebeur het, was ’n prysenswaardige ewolusie, ’n Afrikaner-Renaissance van die hoogste goed wat enige volk kan besit. En vooraan was die fakkel- en vaandeldraer Afrikaans.
Die Afrikaanse pers het in 1914 in Kaapstad die pas aangegee deur sy Afrikaanse landgenote ’n eie stem te gee, en Langenhoven het in 1918 die bewoording van ’n waardige Afrikaanse volkslied neergepen. Die toonsetting van hierdie volkslied was al wat nog nodig was vir ’n voortreflike begin: Dit was ’n “statige eedsaflegging en gebed van die Afrikaanse volk”, het D.J. Opperman dit genoem.
Toe Suid-Afrika in 1910 tot Unie met selfbestuur verklaar is, maar steeds onder Britse gesag verkeer het, was die enigste “volkslied” wat in die openbaar gesing moes word, die Britte se God Save The King. Die talentvolle regsgeleerde, poilitikus, joernalis, skrywer, digter en musikant C.J. Langenhoven, wat hom van toe af energiek vir die bevordering van Afrikaans beywer het, wou ook iets aan dié skrynende leemte van ’n eie Afrikaanse volkslied doen. Op Maandagaand 30 Mei 1918 het hy by sy eetkamertafel te Arbeidsgenot op Oudtshoorn die eerste drie strofes van Die Stem van Suid-Afrika neergepen, en die volgende aand het hy agter sy klavier in die sitkamer ingeskuif en dit ook getoonset.
Hy dra die lied, luidens die oorspronklike bewoording daarvan, op aan “Afrikaners, kinders van Suid-Afrika” — in die wete dat die meeste Engelssprekendes steeds God Save The King sou bly sing solank as wat die “Union Jack” oor die land wapper en die “Governor-General” namens Brittanje die laaste woord hier spreek.
Die vertaling en uitgee van ’n eie Afrikaanse Bybel het in 1933 die Afrikaner se bemagtigingspas verder versnel. Nou moes landswyd ’n grootse, sigbare poging van stapel gestuur word wat die hele Afrikanergemeenskap sou betrek en begeester – en hulle één sou maak: Die ideale simboliek sou ’n Ossewa-gedenktrek van 1938, eeu-fees ter viering van die aanvang van die Groot-Trek en ter herdenking van die Slag van Bloedrivier in 1838, asook die oprigting van ’n Voortrekkermonument ter ere van die stoere pioniers wat geweier het om die Britte se slagoffers te wees.
Die Afrikaner-deelname aan die ossewatrek en die saamtrek by Bloedrivier en by die hoeksteenlegging van die Monument in 1938, het meer as 100 000 mense beloop. Elf jaar later, in 1949, met die inwyding van die voltooide Monument, het die skare op 250 000 getel, die grootste saamtrek in die geskiedenis van hierdie gemeenskap.
In 1952, met die driehonderdjarige herdenking van die aankoms van Jan van Riebeeck en sy gevolg in 1652, is weer eens ’n massale volksfees gehou. Dié keer was dit ’n landswye poging om nasiebou tussen die Afrikaner- en die verskillende wit gemeenskappe van Suid-Afrika te bevorder. Toe is die bewoording van Die Stem van Suid-Afrika ook in Engels verwerk met die titel The Call of South Africa.
In 1957, in nog ’n nasiebou-poging, het die J.G. Strijdom-regering albei weergawes tot die amptelike Nasionale Volkslied verklaar, en dr. Edith ter Meer se Duitse vertaling, Aus der Bläue unsres Himmels, is erken.
In strakke kontras, deesdae, word die huidige veeltalige Nasionale Lied van Suid-Afrika ingelui deur die volledige ANC-lied Nkosi Sikelel’ iAfrika van Enoch Sontonga en M. Khumalo, terwyl van “Die Stem” se twee amptelike weergawes slegs enkele reëls behou is. Laasgenoemdes word deesdae boonop deur al die gemeenskappe, met uitsondering van ’n behoudende, kultuurbewuste sektor van die Afrikanergemeenskap, geïgnoreer. Die resultaat is dat die sogenaamde nasionale volkslied na ’n politieke struggle-lied gedegenereer het, en die res van die gemeenskap tans volksliedloos is. Die vraag wat oorbly is: Raak dit hulle hoegenaamd? Is daar in hierdie “wye en droewe land” nog plek vir ’n lied in die hart, ’n hartslied? Of benodig Afrikaners strak weer ’n lied met durf en daad, soos Die Lied van Jong Suid-Afrika (FAK-Sangbundel I, Lied 39) wat die jonger geslagte van vandag glad nie ken nie.
Nadat Langenhoven sy volkslied geskryf en getoonset het, wou hy dit aan die groot klok hang deur dit in Die Burger te laat publiseer. Hy was toe reeds ’n ingeburgerde koerantskrywer met die gewilde rubriek “Aan Stille Waters”. Sy skuilnaam was Sagmoedige Neelsie.
Hy stuur toe die bewoording van sy volkslied, asook sy eie bladmusiek, aan sy subredakteur, Sarah Goldblatt, met ’n nota daarby: “Hierbij stuur ik jou ’n gesangetjie wat ik geskrijf het met musiek wat ik daarbij self ‘gekomponeer’ het — harmonie en al. Jij sal seker denk dit beteken maar bliksems min — maar ons moet maar sukkel tot ons eendag ’n volkslied het. Ondertussen kom ons nie aan die gang nie, want die digters en musikante het ’n swijgkomplot opgemaak. Laat hom maar so verskijn, dan kan iemand daar beter musiek bijset, en als hij dié het, dan weer iemand anders dáár beter woorde bijset.”
Die gedig word geplaas en baie goed deur die lesers ontvang, maar versoeke word gerig dat Langenhoven ’n strofe byskryf waarin die nagelate godsdienskultuur (die “erwe van ons vaad’re”) ook tot sy reg kom sal kom.
Langenhoven, gedagtig daaraan dat sy eie musikale komposisie dalk nie die paal gaan haal nie, nooi komponiste om ander toonsettings in te stuur, en so het onder andere Gideon Fagan, Emiel L. Hullebroeck, Victor Potgieter, Stephen Eyssen, Agnes Witting en ds. Marthinus Lourens de Villiers gereageer. Fagan se weergawe is deur die sangeres Betsy de la Porte gesing, en dit is op grammofoonplaat versprei.

Ds. MLdeVilliers

Langenhoven, wat kopiereg op die woorde geregistreer het, het De Villiers se weergawe – wat hy in 1921 geskryf het – verkies, maar die dominee moes die musiekstuk verskeie kere hersien voordat Sagmoedige Neelsie daarmee tevrede was.
Die FAK, wat die Volkslied-projek oorkoepelend gekoördieer het, het ’n keurkomitee aangestel om al die inskrywings te beoordeel. Die Langenhoven-De Villiers-weergawe is in 1936 amptelik deur die FAK aanvaar.
Maar voordat die FAK-stempel op Die Stem van Suid-Afrika geplaas is, het reeds op 31 Mei 1928 ’n koor van 500 kinders van Kaapse skole onder begeleiding van ’n blaasorkes die toekomstige volkslied die eerste keer in die openbaar op ’n terrein voor die Senaat in Kaapstad gesing.
Die Stem-pastorie in Simonstad was baie jare lank ’n indrukwekkende museum vir M.L. de Villiers se klavier en ander persoonlike besittings wat met die toonsetting van Die Stem van Suid-Afrika verband gehou het. Dit was ook ’n verklaarde nasionale gedenkwaardigheid. Ná 1994 het die SA Vloot besit van die indrukwekkende sandsteengebou geneem en dit is in ’n opleidingsentrum vir Vlootkwekelinge verander. Iziko-Museums het die museumstukke aan die familie De Villiers terugbesorg.

Bronne:
Langenhoven ’n Lewe deur J.C. Kannemeyer, Tafelberg, 1991, pp 375-379.
Standard Encyclopaedia of Southern Africa, Nasou, 1974.
Navrae oor die artikel kan per e-pos aan die skrywer gerig word: kultuurkroniek@gmail.com

1 Comment

  1. […] manuskrip is vir R17 000 aan ‘n onbekende veilingganger verkoop. Vir meer inligting, volg hierdie […]

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!