Gedenktuin vir ABO-kampslagoffers by Oorlogsmuseum geskep

Ondertekende musiekstuk van ‘Die Stem’ vir R17 000 in Sandton opgeveil
Augustus 19, 2014
Is Suid-Afrika al meer ’n nasie wat lieg en bedrieg?
Augustus 21, 2014

Tuin (4)Tuin (3)

Die argiteksplan van die terrein van die Oorlogsmuseum, Beeldetuin en Vrouemonument. Die ingekleurde gedeeltes toon waar die nuwe ontwikkeling plaasvind.

Die argiteksplan van die terrein van die Oorlogsmuseum, Beeldetuin en Vrouemonument. Die ingekleurde gedeeltes toon waar die nuwe ontwikkeling plaasvind.

'n Voorstelling van die Tuin van Herinnering wat by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein geskep word.

‘n Voorstelling van die Tuin van Herinnering wat by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein geskep word.

Deur Marthinus van Bart

’n Gedenktuin vir die 34 051 slagoffers van die Britse konsentrasiekampe gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) word in Bloemfontein digby die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke en in die omgewing van die Nasionale Vrouemonument geskep. Die projek beloop R10,5 miljoen.
Die tuingedeelte in terrasse, wat R5 miljoen gekos het om uit te lê, is pas voltooi, en die sentrale geboude gedeelte word nou opgerig. Dit behels ’n opelug-kleinteater waaromheen granietpanele met die name van die kampslagoffers konsentries gerangskik word. Die name word in gepoleerde granietblaaie gegraveer, terwyl die ander bouwerk met sandsteen bekleë word. Die strukture word so geplaas dat ’n onbelemmerde uitsig van die tuin af op die Nasionale Vrouemonument verkry word.
Die terrein van die Vrouemonument, asook die beeldeterrein daar naby, word nie deur die nuwe ontwikkeling geraak nie.
Die argitek het die strukture in ’n moderne, maar neutrale, idioom ontwerp sodat dit nie visueel met die Vrouemonument sal meeding nie. Die piramied-ontwerp van die struktuurmure reflekteer die ontwerp van die piramidion bo-op die obelisk van die Vrouemonument. Terrasse wat trapsgewys van die omliggende tuin na die sentrale strukture en die opelugteater lei, sinspeel op die Vrystaatse koppielandskap van die omgewing.
Die departement van kuns en kultuur het die geld vir die projek bewillig omdat dit van nasionale belang is dat herinnering gebring word aan die duisende swart, bruin en wit mense wat in 124 Britse konsentrasiekampe weens siektes, wanvoeding en ontbering van begin 1900 tot Mei 1902 gesterf het. Terselfdertyd bied dit noodsaaaklike geriewe vir besoekers om te ontspan of vir die aanbied van geleentheidsaamtrekke met gepaste opelug-aanbiedinge.
Ook word noodsaaklike uitbreidings aan die Oorlogsmuseum self gedoen waarvoor die regering geld bewillig het. (Kyk argiteksplan hierby)
Die resente navorsing van die Potchefstroomse universiteitsargivaris Celesté Reynolds en die Amerikaanse sendeling-navorser eerw. Stowell Kessler het aan die lig gebring dat daar minstens 21 000 swart en bruin slagoffers was wat voorheen geen vermelding in geskiedenisboeke en ander kampverslae gekry het nie. Reynolds het bevind dat daar minstens 32 712 wit slagoffers was waarvan sy die name en ander persoonlike besonderhede kon vind. Voorheen is die Britse militêre kampsyfers van 27 000 wit slagoffers as korrek aanvaar. Haar syfers toon die aansienlike verskil van meer as 5 500 wit slagoffers.
Aangesien die name wat in haar databasis opgeneem is, die volledigste en akkuraatste tot dusver is, het die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein toestemming van haar verkry om hierdie name op die granietblaaie te laat graveer.
Terwyl die Britse militêre registers 49 konsentrasiekampe aangetoon het, het Kessler en Reynolds bevind daar was altesame 124 kampe. Daarvan was 59 kampe vir wit burgerlike gevangenes en hul huisbediendes wat saam deur die Britse soldate en hul swart en bruin helpers (30 000 van hulle was bewapen) opgeruim is, terwyl 65 kampe vir swart en bruin burgerlike gevangenes gebruik was.
Die Britte het meer as 30 000 plaasopstalle afgebrand, terwyl die boorde, wingerde en landerye verwoes en miljoene stuks vee doodgemaak is. Karkasse is in damme, putte en ander waterbronne gegooi om drinkwater te vergiftig.
Altesame 160 000 wit mense, meeste vroue en kinders, is gevange geneem en onder ellendige omstandighede in die kampe saamgehok. Onderweg na die kampe is beduidende getalle vroue en kinders meermale verkrag. In die kampe het meer as 22 000 kinders onder 16 jaar gesterf.
In die Republiek van die Oranje Vrijstaat is 43 594 bruin mense in kampe opgehok, en in die Vrijstaatse republiek, Natal en die Transvaalse republiek is 75 819 swart mense deur die Britte gevange gehou. Van die swart en bruin mense wat in die konsentrasiekampe gesterf het, kon van net 1 339 die name en herkoms vasgestel word. Die Britse militêre het eenvoudig geen indentifikasiestelsel vir hierdie kampslagoffers in werking gestel nie.
Reynolds se databasis, wat Kessler se statistieke en identifikasies insluit, toon dat altesame 34 051 wit, bruin en swart kampslagoffers positief geïdentifiseer kon word deurdat hul name, plekke van herkoms, geboorte- en sterftedatums, en oorsaak van dood in registers aangeteken was, of dat hulle op ander maniere uitgeken kon word.
Reynolds het die nuutste rekenaartegnologie gebruik om toevallige dupliserings en ander onjuishede te kon identifiseer sodat so ver moontlik foute uitgeskakel kon word. Haar navorsing is in ’n MA-verhandeling vervat wat sy Cum Laude verwerf het.
Op 16 Desember het haar geïllustreerde boek met hierdie navorsing, uitgegee deur die FAK, verskyn. Die titel is Konsentrasiekampsterftes gedurende die Anglo-Boereoorlog 1899-1902. Dit word deur Protea-Boekhuis in Pretoria en Stellenbosch versprei. ’n CD-ROM met die kampgegewens daarop is by elke boek ingesluit. Dit kan op enige tuisrekenaar oopgemaak word sodat lesers die name en ander besonderhede van mense wat in die kampe omgekom het, kan nagaan. Dit is die eerste keer dat so ’n genealogiese opname oor kampslagoffers van die Anglo-Boereoorlog bekostigbaar en gebruikersvriendelik gepubliseer word.
* Rig navrae aan Celesté Reynolds by tel 083 455 8565 en e-pos: archive@tutu.org.za.
Bestel die boek by Protea-Boekhuis in Pretoria of Stellenbosch by www.proteaboekhuis.com, 012 362 5663 of 1563 of 021 882 9100 of e-pos: proteaboek@mweb.co.za
* Die volledigste gedenkboek vir die Vrouemonument wat nog verskyn het, Die Nasionale Vrouemonument: Honderdjarige Herdenking — Verlede — Hede –Toekoms, ook deur die FAK uitgegee, het insgelyks op 16 Desember verlede jaar verskyn. Van Suid-Afrika se voorste kultuurskrywers het hoofstukke vir hierdie hardebandboek met kleurillustrasies gelewer. Die redakteur, ook mede-skrywer, is Marthinus van Bart. Rig navrae aan hom by e-pos kultuurkroniek@gmail.com of 072 740 5203.
Vir bestellings van die Gedenkboek kontak Protea-Boekhuis in Pretoria of op Stellenbosch.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!