Is Suid-Afrika al meer ’n nasie wat lieg en bedrieg?

Gedenktuin vir ABO-kampslagoffers by Oorlogsmuseum geskep
Augustus 20, 2014
Sê nee vir “transformasie”
Augustus 25, 2014

212c7afHoe verrot is die Suid-Afrikaanse samelewing regtig en wat is die werklike omvang van korrupsie en leuens tot op die hoogste vlakke van besluitneming?

Dit is sekerlik een van kwelvrae wat die afgelope weke by al hoe meer mense opgekom het wat dag na dag moet lees en hoor van individue in (veral) hoë poste wat willens en wetens leuens oor hul kwalifikasies en grade vertel.

In sommige gevalle is dit mense wat al vir jare in uitsoekposisies was en seker net geglo het dat hulle te “slim” is om ooit uitgevang te word.

’n Tendens soos hierdie kan eenvoudig nie goed vir enige land wees nie en sekerlik net bydra tot persepsies van ’n “Piesang-republiek” waar daar geen sprake van eerbare leiers met enige integriteit is nie.

In die afgelope weke is die publiek nie minder nie as drie keer geskok met nuus van hooggeplaastes wat oor kwalifikasies gelieg het.

Daar was die omstrede Hlaudi Motsoeneng, bedryfshoof van die SAUK, wat geswyg het oor die feit dat hy nie eens ’n matrieksertifikaat het nie.

Die openbare beskermer het bevind hy is onregmatig by die SAUK aangestel, terwyl hy sommer ook onreëlmatig reuse-verhogings aan homself en ander personeel toegeken het.

Nou is Ellen Tshabalala, SAUK-voorsitter, ook in die sop oor sy ook glo oor haar kwalifikasies gejok het.

Sy het glo aangevoer sy het ’n B.Com-graad van Unisa en ’n nagraadse diploma in arbeidsverhoudinge wat blyk nie die geval is nie. Sy het nou heelwat om in die parlement te verduidelik.

Net voor dié bom gebars het, is die ANC-strydros Pallo Jordan na jare ook uitgevang dat hy nie oor ’n doktorsgraad beskik nie. Nie net het hy dekades met die leuen saamgeleef nie, maar glo ook gepoog om ’n joernalis met ’n biografie-foefie te probeer omkoop om nie sy geheim uit te lap nie. Jordan het intussen as parlementslid bedank.

Voor Motsoeneng, Jordan en Tshabalala was daar ook al andere soos Sicelo Shiceka, voormalige minister van samewerkende regering en tradisionele sake wat aangedui het dat hy ’n meestergraad in politieke ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf het wat ook nooit die geval was nie.

Schiceka, wat in 2012 dood is, het ook in ’n stadium vir sy vriendin Nana Masithela in 2009 ’n aanstelling as finansiële hoof van die Madibeng-munisipaliteit in Noordwes gereël waarvoor sy onbevoeg was. Sy is afgedank omdat sy glo voorgegee het om ’n MBA-graad te hê.

Dit is egter nie net op regeringsvlak waar ligtelik met die waarheid omgegaan word nie. ’n Paar jaar gelede is prof. Johnny Molefe, rektor van die Tshwane-universiteit van Tegnologie (TUT), ook afgedank na ’n gemors met sy kwalifikasies waar hy aanspraak op ’n geakkrediteerde doktorsgraad gemaak het wat nie erken is nie.

Maar dit is nie net hooggeplaastes wat hulself op papier beter wil laat lyk nie.

Verskeie kwalifikasie-verifiëringsmaatskappye het verlede jaar daarop gewys dat talle Suid-Afrikaners leuens tydens werksaansoeke vertel.

In ’n studie wat Managed Integrity Evaluation (MIE) gedoen het, is bevind 54% van mans en 46% van vroue jok as hulle vir werk aansoek doen. Mense jok nie net oor hul kwalifikasies nie, maar ook oor vorige misdaadveroordelings en rybewyse.

Bestuurders van organisasies wat kwalifikasies verifieer, meen organisasies en maatskappye loop die gevaar om self bedrog te pleeg as hulle werknemers met vals kwalifikasies aanstel wat nie die werk kan doen nie.

In Suid-Afrika is dit baie moeilik om te verifieer of iemand oor sy kwalifikasies lieg. In die meeste gevalle moet werksoekers toestemming gee dat werkgewers hul kwalifikasies mag nagaan of ’n aansoek moet ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting gebring word.

Miskien het dit tyd geword vir ’n baie meer deursigtige proses rondom die openbaarmaking van Suid-Afrikaners se kwalifikasies. Dalk kan universiteite die leiding in die verband neem en as fluitjieblasers begin optree wanneer mense beweer hulle het kwalifikasies aan ’n bepaalde instelling verwerf terwyl dit nie die geval is nie.

Bron: Die Groot Debat, uit Maroela Media

Comments are closed.

error: Content is protected !!