Grondwetlike opvolgskikking nodig vir volhoubare demokrasie

Sê nee vir “transformasie”
Augustus 25, 2014
Is Afrikaners te wit vir die hemel?
Augustus 27, 2014

Concourt1Die Suid-Afrikaanse grondwetlike bedeling vier vanjaar sy twintigste bestaan. Hoewel die Grondwet in hierdie tyd meestal aangeprys is as die “beste ter wêreld”, begin al meer mense twyfel of dit wel voldoende beskerming teen die ANC se politieke oormag bied. Die rede daarvoor is baie duidelik – ’n groeiende gaping tussen die grondwetlike teorie en die politieke praktyk is aan die ontwikkel.

Die ANC-regering is self daarvoor verantwoordelik. Hoewel die Grondwet se bewoording ondanks verskeie wysigings wesenlik dieselfde gebly het, beweeg die regering in die praktyk al verder weg van talle van die belangrikste grondwetlike bepalings. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde:

– Hoewel die Grondwet voorsiening maak vir 11 amptelike tale, word Engels die landstaal wat deur die staat bevoordeel word;
– Ten spyte van die Grondwet se bepaling oor gelykheid, vertolk die regering se transformasie-ideologie gelykheid as rasseverteenwoordigendheid;
– Die meeste grondwetlike instellings wat demokrasie moes bevorder, is in die praktyk deur die regering gekoöpteer;
– Eiendomsreg word al meer bedreig, ten spyte van die grondwetlike verskansing daarvan;
– ’n Sosialistiese welsynstelsel word onder die vaandel van sosiaal-ekonomiese menseregte bevorder;
– Gereelde aanvalle op die media, die howe en opposisiepartye ondermyn hierdie instellings se geloofwaardigheid by die publiek; en
– Ten slotte het daar niks gekom van die grondwetlike ruimtes vir en beskerming van kultuurgroepe nie.

Selfs liberale denkers en skrywers is uiters bekommerd oor die regering se afwatering van die Grondwet, wat hulle tereg as ’n aantasting van die demokrasie beskou. Daarom klink al meer stemme op dat landsburgers die Grondwet moet beskerm. Dít val vreemd op die oor, omdat die Grondwet eintlik die burgers moes beskerm! Die kern van die probleem is daarin gesetel dat die regerende party sy politieke oormag gebruik om sy eie, eensydige vertolking van die Grondwet in die praktyk te laat geld. Só word die politiek uiteindelik “sterker” as die Grondwet.

Die regering se bedenklike hantering van die Grondwet laat die “onvrabare” vraag opduik, naamlik of die huidige grondwetlike bedeling ná twee dekades dalk sy laaste skof beleef?

Grondwetlike lewensduur

Hierdie vraag is nie onbillik as gekyk word na die gemiddelde lewensduur van grondwette in die wêreld nie. Navorsers aan die Universiteit van Chicago se regsdepartement het byvoorbeeld bevind dat die gemiddelde lewensduur van grondwette die afgelope twee eeue net 17 jaar was! Wat egter veral beduidend is, is hul bevinding dat die gemiddelde leeftyd van ’n grondwet in Afrika ’n skamele tien jaar is. Hul navorsing bewys boonop dat die grondwetlike lewensverwagting nie toeneem nie, maar eerder afneem. Verskeie redes word vir hierdie kort leeftye aangevoer, waaronder die lompe hantering van etniese verskeidenheid en eksterne skokke soos ekonomiese krisisse.

Nuwe grondwetlike bedelings word oral met groot vreugde en hoë verwagtings ingelui, maar die harde politieke werklikhede van swak regering en die groot uitdagings wat state die hoof moet bied, lei betreklik gou tot ontnugtering onder die belangrike magsblokke. In die geval van Suid-Afrika, klink doktor Van Zyl Slabbert se waarskuwing al helderder, naamlik dat die politiek verwagtings skep waaraan die ekonomie nie aan kan voldoen nie.
Soos hy dit gestel het: “By choosing to pursue both democracy and growth at the same time, South Africa as a developing country is continually caught up in the tension between the imperatives for a successful market economy and the promises of a liberal democracy.”

Die hoë grondwetlike “sterftesyfer” in Afrika is kommerwekkend – en voorspel niks goeds vir die volhoubaarheid van die grondwetlike demokrasie in Afrika nie. Hoewel daar geldige bekommernisse oor bepaalde gebreke in die Suid-Afrikaanse grondwet heers, is die kanse skraal dat iets beters sal volg as die huidige Grondwet geskrap sou word.

Al word die huidige Grondwet nie geskrap of ingrypend verander nie, blyk dit egter duidelik dat minderhede in Afrika meer as grondwetlike verskansing benodig om hul geregverdigde belange te beskerm. Suid-Afrika is nie ’n homogene land wat net deur politieke verskille verdeel word nie. Kenners van heterogene lande, soos onder andere professor Arend Lijphart, meen dat Suid-Afrika deur van die diepste verdelingslyne in die wêreld gekenmerk word.

Daarom waarsku die bekende spesialis in etniese konflikbestuur, professor Donald Horowitz van die VSA, dat simplistiese meerderheidstelsels, soos dié in die VSA en Brittanje, nie in verdeelde lande kan werk nie – en net minderheidsoorheersing met meerderheidsoorheersing vervang. “For these societies, special sets of institutions seem to be required to insure that minorities who might be excluded by majoritarian systems be included in the decision-making process and that inter-ethnic compromise and accommodation be fostered rather than impeded”.

Suid-Afrika het ná twee dekades baie om voor dankbaar te wees, maar dit raak al meer duidelik dat die politieke oormag van die ANC tot al meer en dieper probleme in die land lei. Daarom bepleit professor Pierre du Toit, ’n politieke wetenskaplike van Stellenbosch, al geruime tyd lank ’n “opvolgskikking”. Dit moet ten doel hê om te verseker dat die leemtes in die huidige bedeling ondervang word om volhoubaarheid te verseker.

Suid-Afrika verdien beter as om net nóg ’n grondwetlike ongeval op die vasteland te word.

Bron: Die Groot Debat, uit Maroela Media

Comments are closed.

error: Content is protected !!