AFRIKANERS IS PLESIERIG – ERFENISFEES

Militante liberalisme se aandeel in die opkoms van militante Islam
September 3, 2014
Die toekoms van Afrika
September 5, 2014

ERFENISFEES, 24 SEPTEMBER 2014

PIEKNIEKTERREIN: VOORTREKKERMONUMENT

Die Voortrekkermonument bied  24 Septemberweer ’n fees op Erfenisdag aan by die Piekniekterrein.

Die verrigtinge begin om 9.00 tot 16.00 die middag. Toegang R20.00 per voertuig.

Dit is ’n heerlike gesinsdag vol interessante aktiwiteite en kultuurdemonstrasies. Ons gaan brood in die tradisionele bakoond bak, koffie brand, kerse giet, botter maak en  swepe vleg. Daar gaan ’n tipiese Voortrekkeruitstalling met kakebeenwaens en pioniersgoedere by die bakoondterrein wees en  demonstrasies van voorlaaier skiet en smeewerk. Op die arena word  vroegoggend ’n interessante perdevertoning aangebied.

Naas allerlei snuisterye, handwerk, ’n biertuin en boekkraampies sal pap-en-kaaings, vetkoek, pannekoek, kerrie-en-rys, roosterkoek, gemmerbier, melktert, allerlei gebak, ingelegde produkte en vele meer te koop aangebied word.

“Ons erfenis kook” Die span van die Erfenisstigting bied ’n potjiekoskompetisie aan  en nie minder as agt verskillende potjies,  met stampmielies en ander bykos, gaan voorberei  en beoordeel word.

Ons tema  “Afrikaners is plesierig” is ’n unieke gebeurtenis hierdie jaar. Dit is die eerste keer dat verskillende Afrikaanse volksdanse op een terrein aangebied word.  Die Volkspelebeweging, wat vanjaar 100 jaar oud is, tree op. Die Wapadrand Boeredansgroep  dans die polka en mazurka en ander tradisionele danse. Die ATKV Junior Rieldanskampioene (2013) van  Wuppertal in die Noordkaap kappit  uit met hulle unieke stofpassies. En  Marius Annandale en die  PUK-dansers  wys vir ons hoe “rock” die jongmense vandag op  maat van Sarie Marais !!

Deur die dag maak die ATKV Centurion Musiekforum  lekker boeremusiek en   die sangers Pieter Smith, Johan van der Merwe, Herman Steyn en Henry van Dyk vermaak  ons op mooi  Afrikaanse liedjies.

Verder bied ons ook boeresportspeletjies en beesvelgooi aan. Kanon Susanna en kleinboet “Eenponder” bulder vreedsaam om 12.00. Die Hoëveld Trekker- en Enjinklub bring  ‘n klompie werkende veteraanenjins wat die ouer garde met nostalgie aan die dae voor Eskom sal herinner.

Kom geniet die dag op die Piekniekterrein van die Voortrekkermonument en besoek sommer die Antiekmark op die Amfidak.

Navrae aan Etta Judson: 082 413 4401.   museum@vtm.org.za

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!