Ope brief : Jaco Oelofse se EFF(ense) denke
September 6, 2014
Afrikaans, die sonde van transformasie
September 12, 2014

praying_hands_bibleDr. Wouter van Wyk, sekretaris van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika se Sentrum vir Toerusting, Inligting en Kommunikasie (SENTIK), skryf die volgende na aanleiding van die kwessie van geloof in skole.

Waarom lok die jongste aansoek om ’n hofinterdik teen ses skole landwyd te kry soveel reaksie uit?

Omdat ’n paar dinge oombliklik duidelik is:

• Die skole is almal Afrikaanse skole met ’n Christelike inslag,
• Die organisasie wat hulle dagvaar, het vir hulleself ’n veelseggende naam gekies: Organisasie vir Godsdienste-Onderrig en Demokrasie (akroniem OGOD),
• Die uitspraak het duidelik implikasies vir alle openbare skole in die land, en vir die ruimte wat daar vir mense is om hulle geloof binne die breë skoolverband uit te leef,
• Die saak raak mense se identiteit en waardestelsel.

Maar dalk spruit die sterk emosionele reaksie onbewustelik uit die spontane aanvoeling dat ons hier te doen het met ’n poging om mag uit te oefen.

Die grondwet en die nasionale beleid vir godsdiens en onderwys (2003) bied tog reeds ’n duidelike raamwerk waarbinne skole, ouerliggame, onderwysers en kinders moet beweeg. Waar ’n bepaalde instansie of persoon buite hierdie raamwerk beweeg, kan elkeen wat daardeur geraak word, tog seker persoonlik en plaaslik beswaar maak. Of kan mense wat nie met die beleid of praktyke identifiseer nie, hulle bloot daaraan onttrek.

Daar bestaan geen volmaakte beleid nie, en ook geen skool sonder tekortkominge nie. Ouers en onderwysers is almal feilbare mense, en kinders geen engele nie. Daarom kan feitlik elke ouer jou vertel van geleenthede toe sy kind iewers uitgesluit is, te na gekom is, onregverdig gestraf is, verneder is, of aan aktiwiteite moes deelneem waaraan hy geen erg gehad het nie. By elke geleentheid wanneer sportspanne of leiers of verteenwoordigers vir die skool aangewys word, is daar mense wat ten regte of ten onregte “duistere motiewe” vir die insluiting of uitsluiting van hierdie of daardie leerder wil aanbied.

Soms blaas ouers net luidkeels in die openbaar stoom af, soms gaan sien hulle die onderwyser of die skoolhoof, en soms haal hulle selfs hulle kinders uit die skool. Maar ontevrede ouers dagvaar nie sommer die skool nie. En ontevrede ouers in Alberton, Boksburg, Johannesburg, Pretoria, en Oudtshoorn dagvaar nie saam hulle onderskeie skole nie.

Daarom dui hierdie hofaansoek nie op protes oor ongewenste uitwasse in godsdiensbeoefening nie, en ook nie op onbillike behandeling wat spesifieke leerders op spesifieke tye ontvang het nie. Dit is eerder ’n melodramatiese magsgreep, ’n manier om die meerderheid te dwing om dinge te doen soos dit ’n klein groepie pas.

Dwang is feitlik altyd teenproduktief. Wanneer leerlinge gedwing word om aan godsdienstige praktyke deel te neem, wek dit weerstand. Wanneer ’n groepie ongeïdentifiseerde individue skole of ouerliggame wil dwing om afstand te doen van hulle Christelike identiteit, sal dit skerp reaksie ontlok. Want dit is die weg van magsgrepe.

Die Christelike geloof is nie net nog ’n godsdiens nie. Christene moet nie na mag gryp of hulle waardes op ander afdwing nie. Christene moet getuig – van die Here Jesus Christus wat self nooit dwang gebruik het nie, maar mense met liefde aangeraak het.

Jesus het verkondig dat God se koninkryk aangebreek het. Maar God se koninkryk is nie soos die koninkryke van hierdie wêreld nie – dit is nie op mag gebou nie, en dit kan nie met mag vernietig word nie. God se koninkryk word onstuitbaar wanneer gelowiges eerlik en uit die hart getuig. Dit doen ons oral en onbevange. Maar sonder om onsself op ander af te dwing.

Bron: Die Groot Debat, uit Maroela Media

Comments are closed.

error: Content is protected !!