Godsdiens en mag
September 8, 2014
Diamantskandaal van Duitswes en die Rebellie van 1914
Februarie 2, 2015

Die Afrikaanse Taalmonument

Die Afrikaanse Taalmonument

Afrikaans het die oorgang na die nuwe bedeling nie net oorleef nie, dit het boonop een van die voortreflikste voorbeeld van transformasie in Suid-Afrika geword sedert die dood van apartheid. Taal van die demokrasie, en taal is die mense wat dit praat, skryf Hans du Plessis**.

Dis dié dat die regering en die ANC, die SAUK en die onderwysowerhede so histeries bevange teen Afrikaans protesteer. Dit sou amusant kon wees as dit nou net nie so ernstig was nie. Die geïnstitusionaliseerde teistering van Afrikaans is die logiese uitvloeisel van die feit dat Afrikaans ʼn goeie voorbeeld van suksesvolle transformasie en demokratisering is. Dit is dan geen wonder nie dat Afrikaans en sy mense nou weer in die spervuur staan: dit werk dan! En dis al wat behoorlik die transformasie kon internaliseer en besig is om te bewys dat die nuwe Suid-Afrika nie net ʼn dooie droom is nie. Trek die aandag van die suksesse af en jy verdoesel daarmee jou eie mislukking; verander die name van strate en niemand sien die slaggate daarin raak nie; gee dorpe nuwe name en die fokus is nie meer op vrot dienslewering nie.

“Afrikaans getransformeer?” vra jy. “Waar kom jy daaraan?”

En ek sal jou kan antwoord: dit is die taal wat in baie huise van wit, bruin en swart sonder skroom moedertaal geword het. Dit mag nou wel nie die regering se taal wees nie, maar dit het die taal van die mense geword – dié wat elke dag sommer so met mekaar op straat en by die werksplek praat. Dit het die taal geword wat brûe bou. Oupa en ouma, oom en tannie of my broer het die versoeningsvokatiewe in die strate en die winkels van Suider-Afrika geword, en dit lewe op ryvlakke van motorhawens in die vriendelike monde van petroljoggies!

Waar wil jy beter voorbeelde kry van reënboog-Afrikaans as op RSG of KykNet? Is Sewende laan se rolbesetting, dialoog en storielyn dan nie juis ʼn lewende voorbeeld van ʼn getransformeerde Suid-Afrika nie? Dit is hoe ʼn nie-rassige samelewing kan lyk, en dít in Afrikaans. Gaan kyk maar na die syfers: die hele reënboog kyk!

Die Potchefstroomkampus van die NWU is suksesvol in Afrikaans; dit is op pad na ʼn instelling wat die nasionale demografie van Afrikaans weerspieël. Getransformeer in Afrikaans. Maak die plek toe, want die demokratiese, nie-rassige droom mag mos nou net nie in Afrikaans werk nie.

Daarom die bevange vervolgingswaan teenoor alles wat in Afrikaans werk!

Daarom word SAUK2 nou ont-Afrikaans. Moet die Afrikaanse mense hulle televisielisensies bly betaal? Betaal om ANC2 te kan kyk? Nie ek nie. Ja, en ek bedoel SABC, maar ek weier dat iemand anders besluit hoe ek SABC in Afrikaans sal sê, of SAL. Geen Fransman het nog ooit vir my vertel hoe ek hulle hoofstad se naam in Afrikaans moet sê nie. Dis goed as Namibië Namibia wil wees, maar ek sal self oor die Afrikaanse vorm daarvan besluit.
Die punt is: as jy suksesvol transformeer, is dit deel van die Suid-Afrikaanse droom – solank dit net nie in Afrikaans is nie!

Dit sal nie die eerste keer in die geskiedenis wees dat leiers Afrikaans en sy mense onderskat nie. Dit het nog met elke wending van die eeue gebeur. Maar dit weet ek: doodkry is min.

** Hans du Plessis is ‘n woordmens van formaat: taalkundige, skrywer, digter, navorser, akademikus en dramaturg. Hy is gebore op 15 Januarie 1945 in Pretoria en het sy studies aan die Harvard-Universiteit voortgesit na hy sy doktorsgraad in Afrikaanse Taalkunde in 1975 voltooi het. Du Plessis het groot bekendheid verwerf met sy bundels Griekwagedigte en in 2002 wen sy topverkoperbundel Innie skylte vannie jirre: Griekwapsalms en ander gedigte, die Christelike Boekhandelvereniging van Suid-Afrika se Algemeen Christelike Kategorie.

Bron: Die Groot Debat, uit Maroela Media

Comments are closed.

error: Content is protected !!