’n Middelgrond vir Afrikaners

FAK-Leiersgesprek – Tema: Afrikaners in 2015
Februarie 3, 2015
DIE FAK SE KULTURELE DOENLYS VIR 2015
Februarie 3, 2015

deur Prof Danie Goosen.

Kan Afrikaners as bewoners van die middelgrond beskryf word? En indien dit inderdaad die geval is, wat beteken dit?

Alvorens ons enkele eienskappe van die middelgrond ter sprake bring, is dit nodig om daarop te wys dat die middelgrond nie vir Afrikaners vreemd is nie. Indien argetipiese Afrikaners soos oudpresidente Paul Kruger en M.T. Steyn as maatstaf gebruik word, behoort die gedagte van die middelgrond tot die ‘hart van die Afrikaners’? Waarom?

President Kruger se politieke denke is ’n goeie voorbeeld hiervan. Oom Paul het homself politiek gesproke tussen twee uiteenlopende wêrelde bevind:

Enersyds het hy aangesluit by die Calvinistiese tradisie van ons Nederlandse voorvadere en oor die politiek vanuit hierdie agtergrond nagedink. Andersyds het hy egter ook ’n groot bewondering gehad vir die moderne politieke denke in die besonder vir Thomas Jefferson, een van die grootste grondleggers van die Amerikaanse grondwetlike orde.

Streng gesproke kan die Calvinisme en die modernisme van iemand soos Jefferson kwalik met mekaar versoen word. Nogtans het beide tradisies, sowel die Calvinisme as die modernisme, ’n rol in die denke van Oom Paul gespeel. Kortom, laasgenoemde was ’n bewoner van die middelgrond (in hierdie geval tussen die tradisie en die moderne wêreld).

Dieselfde kan van oudpresident M.T. Steyn gesê word. Steyn was – en dit is tipies van die middelgrond – tegelyk tradisiebewus én moderngesind; tegelyk bewus van die eie gemeenskap én iemand wat goeie verstandhoudinge met ander gemeenskappe opgesoek het; tegelyk gemeenskapsdenker én ’n uitsonderlike individualis; tegelyk gemotiveer deur universele beginsels (geregtigheid, selfbeskikking, waarheid) én ’n verbete vyand van dié universele mag van sy tyd, naamlik die Britse Empaaier.

Kortom, as vandag na die betekenis van die middelgrond gevra word, is figure soos Kruger en Steyn belangrike aanknopingspunte uit die verlede.

Ons gaan uit van die gedagte dat die middelgrond vir Afrikaners weer eens belangrik geword het. In die mate waarin Afrikaners nie daarin slaag om weer by ’n ‘lewensbeskoulike middelgrond’ aansluiting te vind nie, sal hulle steeds ten prooi val van verskeie patologieë, soos kollektiewe verdwaaldheid, wrokkigheid, ekstreme politiek neiginge, verlammende negatiwiteit, uitsigloosheid, gebrek aan toekomsvisie, godsdienstige ontvlugting, privatisme, verbruikerisme, ’n vasgevang-wees in die verdelinge van die verlede, ensovoorts.

Alhoewel dit ’n onvolledige lys is, kan die volgende eienskappe van die middelgrond genoem word:

  1. Erfgename en skeppers

Iemand wat vanuit die middelgrond dink, is bewus daarvan dat ons as mense sowel ‘erfgename’ as ‘skeppers’ van ons werklikheid is.

In die eerste plek bestaan ons as mense by grasie van die feit dat ons ons tale, kulture, tradisies, ensovoorts, geërf het. Ons is hoegenaamd, omdat ons ’n wêreld buite-om ons eie inspanning ontvang het.

Maar in die tweede plek bestaan ons as mense ook by grasie van die feit dat ons ons wêreld skep. Ons is nie net erfgename nie, maar ons skep (of nog beter: ons herskep) ook dié werklikheid wat ons ontvang het op nuwe en ander wyses.

Vanuit die middelgrond beoordeel, is beide aspekte noodsaaklik, sowel die feit dat ons ontvang as dat ons ook ons werklikheid nuut kan skep. Indien ons slegs erfgename was, sou daar nie plek vir die nuwe onder ons gewees het nie. En indien ons slegs skeppers was en nie ook erfgename nie, sou ons inderwaarheid nie eg kon skep nie. Om te kan skep, het ons aanknopingspunte nodig. Elke skepping is daarom ook ten diepste ’n herskepping van wat reeds aan ons gegee is. (Selfs diegene wat heeltemal met ’n bepaalde erfenis wil wegdoen, doen dit altyd weer met ’n beroep op of aansluiting by ander erfenisse).

Kortom, vanuit die middelgrond bedink bevind die mens homself in die spanningsveld tussen erfenis en skepping.

  1. Gemeenskap en individu

Vanuit die middelgrond bedink, is sowel die eie gemeenskappe as die individu belangrik. Gemeenskap het die individu nodig, net soos wat die individu ook gemeenskappe nodig het.

Vandag dink denkers wat by die middelgrond aansluiting vind, ruimer oor hierdie saak as denkers wat vanuit die liberale tradisie dink. Waarom? Onder liberale denkers word daar telkens ’n skerp skeidslyn tussen individu en gemeenskap getrek. Gemeenskap en individu sluit mekaar volledig uit.

Vanuit die middelgrond bedink, roep gemeenskap en individu mekaar wedersyds op. Terwyl gemeenskappe die ruimte skep waarbinne die skeppende individu hoegenaamd na vore kan tree, het die energieke gemeenskap ook skeppende individue nodig.

As daar vandag vir die Afrikaners as kultuurgemeenskap voorspraak gemaak word, kan dit die beste vanuit die middelgrond tussen gemeenskap en individu gedoen word. Dit wil sê vanuit daardie raamwerk wat die samehang tussen laasgenoemde erken.

  1. ’n Ongedifferensieerde versus ’n gedifferensieerde gemeenskap

In aansluiting by bogenoemde punt: Diegene wat vanuit die middelgrond dink, pleit nie vir ’n geslote gemeenskapsopvatting nie, maar vir ’n gemeenskap wat geduld met andersdenkendes in eie geledere het.

Volgens middelgronders beteken dit dat sowel die eenheid van die eie gemeenskap as die veelheid van stemme daarin noodsaaklik is.

Anders geformuleer, vanuit die middelgrond bedink, is die samehang in ’n gemeenskap noodsaaklik, maar nie ’n eendersdenkende verstikking nie. Openheid vir andersdenkendes is kenmerkend daarvan, maar nie die verbrokkeling of versplintering van die eie nie.

  1. Tradisie en moderniteit

In aansluiting by die inleidende opmerkings oor oudpresident Kruger kan ons ook sê dat diegene wat vanuit die middelgrond dink hulself iewers in die vreemde sone tussen die tradisie en die moderne wêreld bevind.

Middelgronders neem sowel die stem van die tradisie as die eise van die moderne wêreld in ag. Indien net na die stem van die tradisie geluister word, val ons vas in ’n tradisionalisme; indien ons net na die stem van die modernisme luister, gee ons onsself oor aan die selfdestruktiewe obsessie met ‘vooruitgang’ en ‘ontwikkeling’.

Vanuit die middelgrond word telkens gevra hoe die tradisie – indien nodig – by moderne omstandighede aangepas kan word. Tradisie (die huis van die verbeelding) en moderniteit (die skeppende individu) word so in ’n lewende gesprek met mekaar gehou. Daarmee word voorkom dat ons aan ’n starre tradisie of ’n siellose moderniteit oorgelewer word.

  1. Grense

Grense is noodsaaklik vir gemeenskappe. Sonder grense kan hulle nie wees nie. Trouens, sonder grense kan die geskiedenis self nie gebeur nie. Grense maak die beweging eie aan die geskiedenis moontlik.

Die belangrike vraag is egter hoe grense getrek moet word. Afrikaners het dikwels in die verlede te sterk grense rondom hulleself getrek. So is die begrip ‘Afrikaner’ met te veel voorskrifte belas. Afrikaners is vandag daarenteen dikwels nie in staat om hoegenaamd enige grense te trek nie. Laasgenoemde blyk uit die twyfel wat sommige steeds het dat daar hoegenaamd Afrikaners is.

Middelgronders erken die noodsaak van grense. Grense maak gemeenskappe moontlik. In plaas daarvan om grense egter as óf onoorbrugbaar óf as nie-bestaanbaar te verklaar, vra die middelgrond-denke eerder waar en wanneer die grense getrek moet word. In hierdie verband laat hy of sy hulle lei deur die goeie oordeel. President Steyn sou waarskynlik volledig daarmee saamgestem het.

  1. Vryheid

Die strewe na vryheid is een van die belangrikste moderne politieke ideale. Maar presies wat word met vryheid bedoel? Vandag kan tussen ten minste twee uiteenlopende opvattinge van vryheid onderskei word, naamlik die ‘vryheid van keuse’ en die ‘vryheid van verwerkliking’. Wat word met hierdie twee vryheidsopvattinge bedoel?

Eersgenoemde, naamlik die vryheid van keuse, is vandag die mees dominante vryheidsopvatting in die sogenaamde liberale of neo-liberale wêreld. Vryheid van keuse steun op die gedagte dat ons as mense vry is wanneer onsself kan kies hoe ons ons lewe wil ly. Watter taal ek praat, aan watter kultuur ek behoort, watter godsdiens ek aanhang, wat ek as van allergrootste belang beskou: hierdie dinge is alles ’n funksie van my eie keusevryheid.

’n Goeie beeld waarmee dit geïllustreer kan word, is die verbruiker wat met ’n mandjie in die hand kies watter produkte hy of sy van die rakke wil koop. Dit rus op die uitgangspunt dat ons as mense nie reeds vooraf deur talige, kulturele of tradisionele bindinge gekenmerk word nie, maar dat ons dit agterna self moet kies.

Volgens dié vryheidsopvatting is die kultuur van regte (hetsy individuele of kollektiewe regte) dié belangrikste instrument wat ons vryheid kan waarborg. In en deur ons regte word ons in staat gestel om ons lewe volgens ons eie keuse in te rig. Dit bring ons by die tweede vryheidsopvatting.

Laasgenoemde, naamlik die vryheid van verwerkliking, steun op ’n andersoortige uitgangspunt. Dit gaan uit van die gedagte dat ons as mense vry is wanneer ons op ’n uitnemende wyse aan ons verskillende instellings (dit wil sê dinge soos die skole, kerke, teaters, kunste, beroepe, besighede, vakbonde, burgerregtebeweging, ensovoorts) deelneem. Want, sê hierdie vryheidsopvatting, dit is in en deur die uitnemende deelname aan ons instellings dat ons onsself kan verwerklik. En ons ons ‘roeping’ as mense so kan waarmaak.

Terwyl die vryheid van keuse op die kultuur van regte steun, steun die vryheid van verwerkliking op die gedagte van geluk. Ons kan sê geluk is die hoogste doel van die vryheid van verwerkliking. Indien Koos of Marie hulself as onderwysers verwerklik (of as musici, as ingenieurs, as dokters, as huisvrou, as tegnikus, as boer, as ambagsman, sportvrou, ensovoorts) ervaar hulle geluk. So sê nie net ons eie ervaring nie, maar ook die eeueoue tradisies waaruit die vryheid van verwerkliking stam.

Dit bring ons terug by die gedagte van die middelgrond. Om vandag vanuit die middelgrond te dink, beteken om nie ’n strakke lyn tussen bogenoemde opvattings van vryheid neer te lê nie. Beide is noodsaaklik. Nogtans kan vanuit die middelgrond gesê word dat daar vandag te veel klem geplaas word op die vryheid van keuse. En dat daar ’n dringende behoefte is aan die geluk wat met die vryheid van verwerkliking gepaard gaan.

Vanuit die middelgrond bedink, is albei opvattinge van vryheid noodsaaklik. Indien ons net op die vryheid van keuse klem lê, loop ons die risiko om in ’n negatiewe kultuur te verval waarin ons telkens slegs ’n steeds uitbreidende hoeveelheid regte vir onsself opeis. Die kollektiewe ontevredenheid wat daaruit kan spruit, kan die sosiale vesel van gemeenskappe vernietig (of die geluk wat gemeenskappe te beurt val wanneer hulle aan hulle instellings deelneem).

Indien ons egter slegs sou klem lê op die vryheid van verwerkliking (onwaarskynlik, omdat dié vryheidsopvatting vandag onderbeklemtoon word), kan ons onsself in ’n toestand bevind waar ons ons geluk ten koste van andere se regte najaag. Soos wanneer die beoefening van ’n uitnemende Christelike onderwys teen die regte van nie-Christelike leerlinge sou diskrimineer.

Nogmaals, vanuit die middelgrond beoordeel, is beide nodig, sowel die vryheid van keuse as die vryheid van verwerkliking.

  1. Staat en die tussenliggende instellings

Dit bring ons by ’n laaste eienskap van die middelgrond. Bogenoemde vryheidsopvattinge het elkeen sy eie ‘plek’ waar dit gestalte kry.

Die plek waar die vryheid van keuse vandag tot sy reg kom, is binne die strukture van die moderne staat. Daarteenoor kom die vryheid van verwerkliking binne die sogenaamde tussenliggende instellings tot sy reg, dit wil sê in die instellings wat die ruimte tussen die individu en die staat vul, naamlik gesinne, skole, universiteite, kerke, teaters, besighede, ensovoorts. In en deur dié instellings kan gemeenskappe hulself verwerklik.

Volgens Robert Nisbet word die moderne staat egter gekenmerk deur ’n vyandigheid jeens die tussenliggende instellings van gemeenskappe. Daarom moet dié instellings volgens Nisbet telkens weer binne die strukture van die staat opgeneem en aan sy gesag onderwerp word.

Nisbet se punt is ook op Afrikaners van toepassing. Ingevolge die staat/party se beleid van verteenwoordigendheid word Afrikaners nie as gemeenskap toegelaat om oor eie gemeenskapsinstellings te beskik nie. Ingevolge dié beleid moet elke instelling eerder die bevolkingsamestelling en bygevolg die wense van die meerderheid weerspieël (en nie die wense van kleiner gemeenskappe nie).

Geen wonder dat daar vandag ’n dwingende behoefte is aan die groter inspraak van ’n kultuurgemeenskap soos die Afrikaners in dié instellings wat hulleself as gemeenskap ten nouste raak nie.

Trouens, vanuit die gedagte van die middelgrond het dit ’n noodsaaklikheid geword. ’n Eensydige klem op die belange van die staat (en sy grondliggende meerderheidsbeginsel) moet gebalanseer word met ’n groter seggenskap van gemeenskappe in eie instellings.

Ten slotte, indien aangevoer word dat die middelgrond ons nie in staat stel om sterk standpunt in te neem nie, is bogenoemde ’n antwoord. Vanuit die middelgrond bedink, is die bestaande bedeling onvoldoende. ’n Egte middelgrond kan eers tot stand kom indien die status quo aan sterk vorme van verandering onderwerp word.

0 Comments

  1. Baie dankie. Nugter, volwasse, intelligent.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!