Onderhoud van die maand: Lize Beekman

ZZ2 – ’n Organisasie wat sy gemeenskap dien
Februarie 2, 2015
FAK-Leiersgesprek – Tema: Afrikaners in 2015
Februarie 3, 2015

deur Hannie Boshoff.

1. Hoekom ’n produksie soos: “’n Eeu van Eybers”?

Elisabeth Eybers is gebore op 16 Februarie 1915 en in hierdie jaar sou sy haar 100e verjaarsdag gevier het. Sy is oorlede in 2007 op 92 jarige ouderdom en die versameling van gedigte wat sy agterlaat, is verstommend. Op 21jarige leeftyd was sy die eerste Suid-Afrikaanse vrou om ’n digbundel te publiseer en haar oeuvre strek oor ’n tydperk van 70 jaar. Boonop was sy die eerste vrou aan wie die Hertzogprys toegeken is – nie eenmaal nie, maar twee keer! “’n Eeu van Eybers” is ’n eerbetoon aan ’n die lewe en werk van ’n formidabele vrou.

2. Wat is ’n interessante feit van Elisabeth Eybers wat jy tydens die produksie uitgevind het wat jy nooit geweet het nie?

Daar is baie nuwe dinge wat ek geleer het rondom die lewe en werk van Elisabeth Eybers. So baie, dat spasie hier te min is om dit alles te noem. Soos baie ander mense was ek nog altyd vertroud met sekere van haar bekende gedigte (soos veral “Maria”), maar in alle eerlikheid sou ek voorheen geen sinvolle gesprek kon voer met insig oor haar lewe en werk nie. Ek moes egter indiepte-navorsing doen ter wille van die produksie en gevolglik het ek meer kennis oor haar lewe en haar werk en hoe ongelooflik verweefd dit was.

3. Wat moet ’n musiekregisseur in ag neem wanneer mens met ’n digter soos Eybers se gedigte werk?

In my ervaring – wanneer dit kom by die toonsetting en verwerking van ’n gedig – is dit belangrik dat die lengte van jou frases gevorm en gelei word deur die gedagtes van die digter, sodat die musiek dit ook getrou kommunikeer aan die luisteraar wat nie noodwendig die gedig in sy oorspronklike vorm voor hom/haar sien nie. Die toonsetting en verwerking moet ook getrou wees aan die ritme en ‘musikaliteit’ van ’n gedig wat inherent deel is daarvan.

4. Waarna kan die gehoor die meeste uitsien?

Die gehoor kan regtig uitsien na die vertoning in sy geheel, veral as hulle ’n liefde het vir die werk van Elisabeth Eybers. Dit is 55 minute gevul met bietjie agtergrond oor haar lewe, ’n seleksie van haar gedigte en ook pragtige toonsettings daarvan. Daar is selfs enkele gedigte wat gehoor kan word waar Elisabeth Eybers in haar laaste jare dit self voorlees. Dit is baie, baie kosbaar.  Dit beloof ’n mooi ervaring te wees vir liefhebbers van die digkuns sowel as musiek.

5. Watter gedig se verwerkings het jy die meeste geniet en waarom die spesifieke gedig?

Ek kan die een nie uitsonder bo die ander nie … ek het vir elke gedig soveel waardering soos vir die ander een en om dit nog dimensie te gee deur musiek was ’n voorreg.

6. Wat het jy as die hoogtepunt van die produksie ervaar?

Elke toonsetting, elke verwerking en elke regisseursoomblik is ’n uitdaging waaraan jy soms selfs vir dae lank slyp en skaaf. Elke oomblik waarin dit uiteindelik in plek val, is voorwaar ’n hoogtepunt!

7. Wat sal jy uit die produksie neem vir die toekoms?

Ek neem saam met my ’n nuwe waardering en respek vir die vrou, digter, lewe en werk van Elisabeth Eybers. Ek neem saam met my ook die waarneming van drie jong kunstenaars (Babette Viljoen, Olga Leonard en Trudie Prinsloo) deur die hele proses van toonsetting, verwerking en regie. Hulle talent, toewyding en ywer was bemoedigend en inspirerend.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!