Resensie – Oor gemeenskap en plek: Anderkant die onbehae

Waak teen ‘geleerde barbare’
Maart 19, 2015
“Kind van die smart en van die hoop”: Afrikaners se eie koerant
Maart 23, 2015

Resensie deur prof Kobus Kruger, afgetrede professor in Godsdienswetenskap, Unisa

Met hierdie boek bevestig en versterk Danie Goosen sy posisie as Afrikaanse kultuurdenker van
besondere betekenis. Die boek getuig van ’n indrukwekkende belesenheid; deklameer nie maar net
nie, maar voer ’n argument op ’n hoë vlak en betrek sy leser in sy argument; en is uitstekend geskryf.
Die skrywer bied dit aan as ’n ‘konserwatiewe’ boek, en dit is waar in die sin dat dit draai om die as
van die tradisie in ’n groot sin van die woord. Die boek handel oor die algemene ‘onbehae’ (soos die
subtitel dit stel) waarin die huidige Afrikaanse mens verkeer, in die konteks van die huidige ‘post’-
/‘laat’-/‘hoog’-moderne globale lewensuitkyk. Goosen se boek strek om twee pole uit: die kultuurpolitiese
en die religieus-metafisiese, wat as pole van een gedagtewêreld ook op mekaar aangewese
is.

Wat die kultuur-politiek betref, bied die boek sigself aan as ‘konserwatief’ en in ’n
fundamentele sin is dit wel so, maar dit is terselfdertyd progressief en neem ’n posisie in sterk
anderkant die blote kontinuering van wat was net omdat dit was. In sy hande is dit ’n kritiese en
skeppende beginsel. Saam met tradisie is ‘gemeenskap’ ’n sentrale beginsel in sy werk. Dit is ’n
‘Afrikaanse’ boek, in leiding-gewende solidariteit geskryf vir Afrikaanse mense in ’n tyd van krisis, en
dit neem, met ’n beroep op die groot Europese tradisie waarin Afrikaanse mense staan, belangrike
stappe vorentoe. Ek waardeer byvoorbeeld sy besonne kritiek op apartheid besonder hoog, asook sy
suggestie van ’n meer insluitende opvatting van ‘Afrikaner’ (bl 418) as wat in die onlangse eeu die
geval was. Ek besef en waardeer dat hy skryf as kultuurleier met ’n verantwoordelikheid teenoor ’n
bepaalde groep mense en dat hy daarom oorwoë en versigtig formuleer, maar ek is vol vertroue dat
dit Afrikaanse mense oor ’n beslissende drumpel op weg na die toekoms sal help, anderkant die
onbehae. Goosen het ’n formidabele teoretiese teks daargestel wat denke en praktyk sal stimuleer.

Soos hierbo gesuggereer, vind ek die skrywer se hantering van die begrip ‘gemeenskap’ ryk
en genuanseerd, en sy waarskuwing teen geslotenheid (byvoorbeeld op bl 116) word hoog geskat,
maar ek wil in die verbygaan die vraag stel of die skrywer bereid sou wees om dit sterker ook as ’n
openheid na buite te kwalifiseer? ‘Grense’ bly vir my ’n skeidende woord; relatief onderskeidende
poreuse membrane is wat vir my ‘tussen’ groepe lê. Die erg-belaste ‘ras’-ding lê steeds soos ballas
onder in die Afrikaanse skeepsruim, maar dit het geen positiewe funksie nie en is waardelose,
skadelike vrag. Goosen doen in beginsel daarmee weg, maar sou hy dit nie sterker vir eens en altyd
uit die weg wou ruim nie? Ek lees Goosen se term ‘Afrikaner’ as verwysend na wat ek die unieke
‘Euro-Afrikaanse’ tradisie, met as sentrum hierdie unieke taal, wil noem: inderdaad brugtaal tussen
Afrika, Europa en die Ooste. Sy intree vir die rykdom en waardigheid van die Euro-Afrikaanse kultuur
as ’n besonder betekenisvolle inset tot die welsyn van die land in ’n tyd waarin dit nou nie juis
algemeen besef word nie, moet waardeer word. Beslissend anderkant ‘ras’: so lees ek die neiging
van Goosen se denke. Daarmee saam is sy koppeling van die Afrikaanse projek aan die groot
Europese tradisie, met as hoogtepunt die Hoog-Middeleeuse sintese van Christendom en klassieke
Europese kultuur, ’n kragtige argument.

Vir die skrywer hiervan is menslike (saam-)leef soos ’n piramide. Bolangs is ’n piek van
geestelike ‘aristokrasie’ (bietjie uit konteks geleen by Van Wyk Louw, ’n kroongetuie in Goosen se
argument) wat alle ander bindinge transendeer. Goosen se boek spreek kultuur-politiek aan, dit
begryp ek goed, maar ek sien dit ook as behorend tot ’n ‘aristokratiese’ gemeenskap van die gees,
van mistieke swye en verwondering wat oor dekades uit sy werk straal. Sou hy bereid wees om die
begrip ‘Afrikaner’ sterker in terme daarvan te relativeer sonder prysgawe van sy solidariteit met
hierdie groep? In beginsel sien ek dit in sy boek aanwesig.

By implikasie is reeds gesê dat die boek ryk is aan teologiese en filosofiese inhoud. Dit wil
voorkom of die huidige ‘Afrikaanse’ religieuse mens hinkende-pinkende twyfelend-weifelend huiwer
tussen ’n religieuse orde wat verval of reeds verval het, en ’n nuwe wat nog nie vorm aangeneem het nie. Die onsekerheid oor die aard en status van Gereformeerde belydenisse, berou (of nie) oor die verlede, diepgaande meningsverskille oor die plek van die vrou en toenemende Mengelkaans op preekstoele het op die oog af weinig met mekaar te doen, maar is verwante simptome van ’n diepgaande en wydstrekkende religieuse krisis. Goosen se koppeling van die Afrikaanse religieuse kultuur aan die Hoog-Middeleeuse Christelike sintese om ’n uitweg anderkant die onbehae te vind, is indrukwekkend. Met hierdie strategie neem hy stelling in teenoor minstens die volgende drie: (a) die inval by die norm van geldmaak en suksesvol en mooi wees in die plat, vlak globale massakultuur, in ’n verskeidenheid voorspoedkultusse op veral juppies gerig; (b) die kritieklose inval by die wetenskap as nuwe norma normans vir ernstige denke, bereid om selfs die erg-materialistiese implikasies van sommige vorme daarvan klakkeloos oor te neem; en (c) die blote bly by denkpatrone van 50 jaar gelede, miskien koppig, miskien verleë, miskien gewoon goed-bedoeld onwillekeurig.

Teenoor sulke instansies van boedel-oorgee bepleit Goosen ’n terugkoppeling aan die klassiek-Christelike tradisie soos dit in ’n Thomas van Aquino (en ek wil byvoeg, ’n Dante Alighieri) vorm gevind het. Goosen lééf daarin, en ek deel sy bewondering vir wat daar vermag is. Miskien die sterkste tema in sy boek is sy besef van die uiteenrafeling en verval wat daarop gevolg het, met insluiting van selfs die Reformasie en uiteindelik uitlopend op die huidige (post-/hoog-/laat-) modernisme, soos sy skerpsinnige analise toon. Die historiese oorwegings van Goosen se boek beweeg nie op bloot moralistiese vlak nie; hy wil sy vinger lê op presies waar dinge begin skeefloop het, en vind dit in die denke van die Skotse Franciskaan Johannes Duns Scotus (1266-1308). Die Afrikaanse religieuse problematiek, kan mens sy gedagtegang verleng, is nie op slegs apartheid terug te voer nie, maar is deel van ’n veel langer en groter proses van disintegrasie oor eeue. Diegene wat dink dat dit genoeg is om bloot oor apartheid te ‘bieg’ en dan is alles in die haak, het dit mis. Figure soos Barth was tydelike walle in ’n vloed. Goosen wil die historiese horisonne van Afrikaanse nóú en Europees-Middeleeuse tóé bemiddel, en hy doen dit indrukwekkend.

Vir die skrywer se terugkoppeling aan daardie hoogtepunt in die Europese religieuse en kultuurgeskiedenis het ek veel bewondering, en tog wil ek die kantaantekening maak dat daardie moment, soos alle dinge, verganklik blyk te wees. Dit het, soos Goosen inderdaad aantoon, sy groot uur gehad. Wat nou? Hier neem Goosen nie die wending wat ek persoonlik sou verwelkom het nie, naamlik die uitreik na ’n nuwe historiese projek: ’n groter inklusiwiteit — nie as verraad van die Tradisie nie, maar juis as ’n kontinuering daarvan vorentoe, ’n verwerkliking van die latente tendensie daarvan. Dit het niks te make met tegnokratiese globalisering nie, maar was altyd die natuurlike neiging van alle mistiek. ’n Effense sysprong: die fout wat John Milbank myns insiens maak, is dat hy hierdie historiese uitnodiging van die hand wys en sodoende nie aan ’n reaksionêre instelling ontkom nie: hy versmal in plaas daarvan om te verruim. Terug by Goosen: sterk soos sy argument is, wens ek hy het meer ruimte gelaat, inderdaad geskép (dit is ’n transformatiewe daad), vir ’n ‘gemeenskap’ van die gees wat die groot Europese tradisie inbind in ’n nog groter verband.

Om ’n enkele konkrete toepassing te noem. Herakleitos in Griekeland, Lao-Tzu in China en die Boeddha in Indië verteenwoordig ’n soort uitkyk wat strukturele affiniteite, uitdagend vir die metafisies-mistieke verbeelding, vertoon. In die geval van China het dit weliswaar ’n taamlike sosiaal-konkrete vorm aangeneem; in die geval van Indië het dit in die vorm van (veral) die Boeddhisme sterker institusionele vorm gevind; maar in die geval van Europa het Parmenides-Plato-Aristoteles-Plotinus, later aangevul met die titane Aquinas-Kant-Hegel, ’n falanks gevorm wat die pragtige radikaliteit van die sofiafilie van die laaste, onoorskrybare, onbetreebare, onkenbare Horison waarskynlik vir altyd uit die Europese denkwêreld verban het. Hulle blok die verdere uitsig, staan dit gewoon toe. Maar miskien is daar nuwe roeringe. Let wel: die woord ‘sofia-filie’ wil iets heel anders sê as die dissipline van die hedendaagse ‘vak’ ‘filo-sofie’, waarskynlik net soos die vak ‘teologie’ (trouens, alle vakke in die hedendaagse akademiese bedryf) ondergeskik ingeskryf in die kragveld van politieke en ekonomiese mag. Ek wens die skrywer het meer van hierdie groter gemeenskap gemaak! ’n Versugting, juis omdat hierdie boek so duidelik getuienis lewer van ’n gees gedrenk in die denkbeeld van ’n aristokrasie van die gees. Dit voel vir my die skrywer is wesenlik tuis in die kring van wat ek nou maar ‘metafisiese mistici’ sal noem. Sy werk het die goeie geur van verwondering wat bo blote politiek en akademie uitreik. Om hierdie gedagtegang af te sluit: die derde-eeuse Boeddhis Nagarjuna het tog wel ’n besonder indrukwekkende kritiek op die Aristoteliese vier-oorsake-leer gebied. Hulle was albei, elk in ’n kleiner kulturele ruimte staande, ook deel van groter, oorvleuelende ruimtes. Ek noem dit omdat Aristoteles so ’n buitengewoon groot rol in die skrywer se denke speel (bl 182 ens). Maar ek oordeel nie te sterk oor hierdie sake nie: Goosen se eerste taak was om die groot Europese tradisie behoorlik staan te maak, hier lewend te hou en te maak, en dit het hy indrukwekkend gedoen.

Nog ’n terloopse opmerking: ek is nie oortuig van die krag van analogie-denke wat op voetspoor van Aristoteles (vgl bl 183 ev) en Aquinas (vgl bl 197 ev) ’n buitengewoon funderende rol by Goosen speel nie. Mens kan wel die Boere-krygers sien as ‘analoog’ aan leeus (hy maak hierdie mooi vergelyking in ’n ander verband), maar dit is net moontlik omdat mens albei alreeds ken. Maar op wat ek nie alreeds ken nie en nie kan ken nie, is analogie nie van toepassing nie. Wat Aquinas van ‘Anderkant’ sê, is nie werklik nuwe ontdekkings, as ’t ware verpligtend op grond van analogie nie, maar die oorsê van ’n bepaalde kultureel-religieuse historiese erfenis van Semitiese monoteïsme en Griekse filosofie, reeds aan hom bekend, al klaar deur hom geglo. Dit is ’n variant van die gesegde van Anselmus, fides quaerens intellectum: ‘(reeds bestaande, kognitief reeds gevulde) geloof wat begrip soek’. Dit het ook die implikasie dat ek nie heeltemal so hard oor die subtiele doktor Scotus oordeel as wat die geval in Goosen se boek is nie (bv bl 212 ev). ’n Tekort-koming (te kort gemik) wat Scotus volgens my wel gemaak het, is om nie werklik die teologies-filosofiese denke van sy dag verder te radikaliseer tot by ’n laaste, onbereikbare, onoorskrybare Horison van totale swye nie, maar dat hy voortgegaan het om tog heelwat oor ‘God’ te sê dúskant die ontologiese en kognitiewe Horison. Ek dink ’n uitreik na die ouer, groter gemeenskap wat strek tot ’n duisend en meer jare voor Scotus kon die kontoere in Goosen se boek versag het. Ek vermoed dat ons hier in die buurt is van miskien die grootste verskil tussen Goosen se benadering en wat ek as ’n noodsaaklike uitdaging sien vir ons tyd, juis vir die Euro-Afrikaanse kultuur.

Die aanvaarding van ’n laaste leë en ontledigende Horison beteken nie die minagting van wat in die vóór-laaste wêreld, die ruimte van politiek ensovoorts, gebeur nie. Inteendeel! Dit relativeer weliswaar wat daar afspeel, maar positiveer dit ook liefdevol en sorgsaam. Die Euro-Afrikaanse moment in die geskiedenis, verganklik soos dit is, is uniek en pragtig en die moeite werd om te beskerm, nie omdat dit op een of ander wyse ewig is nie, maar juis in die kontingente ligtheid daarvan, blom eerder as rots.

Daar is nie nou ruimte om in verdere besonderhede in te gaan op die rykdom van die boek nie. Onderskeidinge soos die tussen ‘plek’ en ‘ruimte’ en wat alles daarmee saamhang, is besonder ryk en vrugbaar, en die behandeling van ’n half-vergete skrywer soos W.A. de Klerk se Uur van verlange pragtig.

Kleinighede: die besonder lang aanhalings in Engels val tog wel steurend op, juis in hierdie boek; dit bevestig die indruk dat Engels die vanselfsprekende terugval-taal van Afrikaanssprekendes is. Daag Afrikaanstaliges uit met ’n paar Latynse, Griekse, Duitse, Nederlandse, Franse of Italiaanse aanhalings, al word hulle in Afrikaans vertaal, net om die breedheid van daardie tradisie en die breë wortelstelsel van Afrikaans te beklemtoon — die skrywer doen dit byvoorbeeld op bladsy 242 pragtig in die geval van Nietzsche; maar Aquinas in Engels in ’n Afrikaanse boek oor Afrikaans pla darem. Nog iets: ‘natuurwet’ (bl 106 ens) sou, in aansluiting by Nederlands en Duits, eerder as ‘natuurreg’ weergegee word.

Maar genoeg! Die leser ontvang hier ’n skitterende boek wat hopelik die ontvangs sal kry wat dit verdien en verdere denke sal stimuleer. Dankie Danie Goosen!

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!