Afrikanergeskiedenis, ons prioriteit
Maart 23, 2015
Tienpunt- aksieplan vir erfenisbewaring
April 10, 2015

deur prof Danie Goosen

Soos ’n rustelose spook wil die gesprek rondom die Belhar-verklaring eenvoudig nie gaan lê nie. Inteendeel, met die stemming wat tans in die NG Kerk oor Artikel 1 van die kerkorde gehou word, loop die spook van Belhar weer rond. Wat hieronder volg, is enkele gedagtes daaroor.

Maar laat my dadelik sê, die gedagtes hieronder hou nie direk met die Belhar-verklaring self verband nie, maar eerder met die breë konteks in die agtergrond daarvan. Dié konteks kry nie altyd die aandag wat dit verdien nie. Ons verwoord met behulp van enkele punte.

1. Histories gesproke spruit die Belhar-verklaring uit weerstand teen apartheid. Daarom is dit ook te verstane dat apartheid nie ver in die agtergrond staan as Belhar ter sprake gebring word nie. En dit is as sodanig nie ’n probleem nie. Afrikaners gaan en moet nog lank oor apartheid en die gevolge daarvan gesels.

Nogtans knoop hieraan ’n ernstige probleem. Dit hou verband met die feit dat die Afrikaners hulself vandag in ’n radikaal andersoortige konteks as tydens apartheid bevind. Afrikaners het voor nuwe uitdagings te staan gekom. En dit is uitdagings wat van ons nuwe denke en dade anderkant die apartheidsverlede vra.

Maar, en dit is die kritiese vraag, word Afrikaners vandag inderdaad toegelaat om dit te doen? Talle Afrikaners antwoord vandag op die nuwe eise van die tyd met behulp van denke en dade wat nie met apartheid in verband gebring kan word nie. Nogtans word juis hierdie Afrikaners daarvan beskuldig dat hulle aan een of ander nostalgie jeens apartheid ly.

’n Teenswoordige voorbeeld hiervan kom uit die openbare gesprekke oor die toekoms van Afrikaans op die Potchefstroom-kampus van die NWU. Diegene wat vir die behoud van Afrikaans voorspraak maak (deur onder meer te pleit vir die handhawing van die federale struktuur van dié universiteit), word dikwels van apartheidsentimente beskuldig.

Laasgenoemde is egter niks minder as ’n leuenagtige voorstelling van sake nie. Die ‘federale antwoord’ wat talle Afrikaners op die uitdaging van Potchefstroom gee, verskil hemelsbreed van die sentralistiese aard van apartheid. Trouens, dit stem ooreen met die sterkste moontlike demokratiese impulse elders in die wêreld. Nogtans word apartheid om hul nekke gehang.

Hoe hou dit met Belhar verband? Die Belhar-gesprek onderskei nie altyd skerp genoeg tussen apartheid en die andersoortige konteks waarbinne Afrikaners hulself vandag bevind nie. Daarom word dit ook dikwels deur ’n stemming onderlê ingevolge waarvan die hedendaagse voorspraak vir ’n eie taal- en kultuuridentiteit met ’n voorspraak vir die verlede verwar word.

Diegene wat sterk voel oor die Belhar-verklaring sal aan Afrikaners moet kan verduidelik dat dit nie die geval is nie. En dat Belhar geensins in die pad van die bevordering van ons tale en kulture staan nie.

Maar kan dit inderdaad gedoen word? Met die spesifieke inhoud wat Belhar aan ’n begrip soos ‘eenheid’ gee, is dit ’n vraag of dit werklik ’n nuwe taal- en kultuurbenadering kan ondersteun.

As Belhar met ‘eenheid’ ’n gedifferensieerde eenheid sou bedoel (dit wil sê ’n eenheid wat die veelheid as noodsaaklik vir ’n gesonde eenheid verstaan) dan sou hy waarskynlik so ’n nuwe benadering vanuit Afrikanergeledere kon ondersteun. Vanweë die sterk aanwesigheid van apartheid in die agtergrond kan Belhar dit waarskynlik nie doen nie. In reaksie op apartheid gee ’n ongedifferensieerde opvatting van eenheid eerder die pas aan. Dit wil sê ’n eenheid wat juis nie klem op die uitbouing van die veelheid van tale en kulture lê nie.

Indien bogenoemde inderdaad korrek is, beteken dit dat die onderskeid tussen apartheid en vandag nie skerp genoeg gehandhaaf word nie, en dat Afrikaners aan apartheid vasgeknoop word.

2. In die hart van die Belhar-verklaring staan die begrippe eenheid, versoening en geregtigheid. Alhoewel hierdie lofwaardige ideale verteenwoordig, is hulle nie sonder probleme nie. Dit draai rondom die vraag hoe op ’n konkrete wyse inhoud aan hierdie ideale gegee kan word. Hoe moet eenheid, versoening en geregtigheid in die wêreld beliggaam word?

Nou, die antwoord daarop is ’n funksie van die vooroordele waarmee hierdie ideale gelees en geïnterpreteer word. ’n Liberale en ’n gemeenskapsdenker sal eenheid, versoening en geregtigheid op verskillende wyses verstaan. Terwyl eersgenoemde kan aanvoer dat geregtigheid deur die kultuur van individuele regte bevorder moet word, sal laasgenoemde daarenteen aanvoer dat geregtigheid sal geskied wanneer gemeenskappe oor die nodige instellings beskik waarbinne hul hulself kan verwesenlik (of waarbinne hulle tot hul reg kan kom).

Dieselfde is waar van begrippe soos eenheid en versoening. Hulle kan op radikaal uiteenlopende wyse vertolk word.

Maar, en dit is die kritiese vraag, met watter bril word hierdie begrippe deur die apologete van Belhar gelees? My oorweldigende indruk is dat hulle ’n interpretasie aan hierdie begrippe heg wat eerder die bestaande ideologiese konsensus in die land ondersteun. En dit is ’n konsensus wat kennelik nie ’n besondere voorkeur aan die gemeenskapsgedagte en die uitbouing van ons tale en kulture verleen nie.

Terugskouend kan die indruk kwalik ontsnap word dat die vooroordele waarmee Belhar geskryf en oor die jare geïnterpreteer is, deur die politieke idees vanuit die 80’er jare beïnvloed is. Alhoewel dit ’n lomp omskrywing is, kan dit as die breë sosiaal-liberale tradisie beskryf word. In den brede lê dié tradisie ook ten grondslag van kragte soos die Vryheidsmanifes van die ANC, die destydse UDF, die politieke denkbeelde van Allan Boesak, ensovoorts. Belhar kom uit hierdie dampkring.

Nou, in ’n sekere sin het Afrikaners vrede daarmee. Die sosiaal-liberale denke (Jean-Claude Michéa beskryf dit as die links-liberale denke) geniet vandag wêreldwyd aansien. Nogtans beteken dit nie dat dit die beste denke vir gemeenskappe en in die besonder vir ’n kultuurgemeenskap soos die Afrikaners is nie.

In die postapartheidsera het dit van groot belang vir Afrikaners geword om ’n benadering te volg waarin die gedagte van gemeenskap (gemeenskapsdeelname, gemeenskapselfstandigheid, ensovoorts) ’n hoë voorkeur geniet. Hiervolgens kan Afrikaners die beste na hulle gemeenskaplike sake omsien indien hulle oor die nodige gemeenskapsinstellings beskik waarbinne ’n selfstandige gemeenskapslewe tot haar reg kan kom.

Vanuit hierdie perspektief beoordeel is dit ’n vraag of die sosiaal-liberale denke hoegenaamd vir gemeenskappe geskik is. Maak dit werklik positief voorsiening vir die deelname van gemeenskappe aan hul instellings? Laat dit gemeenskappe toe om hul gemeenskaplike goed na te strewe? Moedig dit onderlinge verstandhoudinge tussen gemeenskappe aan?

Ongelukkig bestaan daar goeie redes om oorweldigend negatief hierop te antwoord. Veral taal- en kultuurgemeenskappe tree binne die sosiaal-liberale denke op die agtergrond, terwyl die klem eerder op die staat en die beskerming van individuele keusevryheid val. Die daadwerklike uitbouing van gemeenskapstrukture is ten ene male laag op die sosiaal-liberale agenda. Die feit dat die apologete van Belhar tot en met vandag meestal swyg oor die eise waarvoor Afrikaners vandag te staan gekom het, versterk hierdie indruk.

3. ’n Ander manier om bogenoemde opmerkinge te verwoord, is om aan te voer dat die sosiaal-liberale tradisie ten grondslag van die Belhar-verklaring negatiewe implikasies vir gemeenskappe het. Dit knoop gemeenskappe aan die staat vas. So word gemeenskappe eerder geneutraliseer as bemagtig. Waarom?

Robert Nisbet het reeds jare gelede in sy bekende werk, The Quest for Community, aangevoer dat moderne state daartoe neig om onverskillig en selfs vyandig teenoor gemeenskappe te staan. State poog telkens om mense vanuit hulle gemeenskapsbindinge los te maak en hulle aan eenvormige standaarde, soos een standaardtaal, te onderwerp. So kan die state effektiewe beheer oor die ‘bevolking’ (nou gereduseer tot ’n ongedifferensieerde versameling individue) uitoefen. Anders as wat dikwels geglo word, is dit nie die individu wat die vyand van die moderne staat is nie, maar die gemeenskappe.

In vele opsigte is die Suid-Afrikaanse staat, in weerwil van allerlei grondwetlike buiginge jeens die gemeenskapsgedagte, ’n goeie voorbeeld hiervan. Dit word gekenmerk deur die poging om eenvormigheid op almal af te dwing, ’n eenvormigheid waarin die veelheid van gemeenskappe nie tot hul reg kan kom nie. Laasgenoemde blyk nie net uit die feit dat een taal die de facto landstaal geword het nie, maar ook uit die beleid van verteenwoordigendheid wat strak op die verwikkelde netwerk van gemeenskappe en lokaliteite afgedwing word, die onbegrip vir die land as ’n land van gemeenskappe (en nie net ’n land van ‘swart’ en ‘wit’ nie), ensovoorts.

Belhar gee kwalik blyke daarvan dat hy skepties staan teenoor die werking van die moderne staat. Net so toon dit weinig begrip vir die negatiewe gevolge van die staatlike logika vir ’n gemeenskap soos die Afrikaners. En vir die vraag hoe gemeenskappe vandag ‘tot hulle reg kan kom’.

Onlosmaaklik deel van die betekenis van ‘tot hul reg kom’ is om aan gemeenskappe die ruimte te gee waarbinne hulle self inhoud aan begrippe soos eenheid, versoening en geregtigheid kan gee. Dit wil sê ’n inhoud wat verskil van die verstikkende eenheid wat state afdwing; wat verskil van dié versoening wat vra dat die eie opgehef moet word; en wat verskil van dié geregtigheid wat slegs klem plaas op die keusevryheid van die individu en die verwesenliking van gemeenskappe ignoreer.

4. As met rassisme bedoel word dat negatiewe houdinge en praktyke jeens ander beoefen word, dan is rassisme ’n probleem wat ook deur Afrikaners hanteer moet word. Afrikaners kan nie bekostig om daardeur gemerk te word nie. Dit sal niemand minder nie as hulself benadeel.

Maar verstaan ons die dieperliggende verband tussen die bestaande orde en groeiende rassistiese stemminge? Die sosiale logika daarvan word dikwels waargeneem: In die mate waarin ’n gemeenskap soos die Afrikaners toenemend aan gevoelens van ongeborgenheid oorgelewer word, in daardie mate gaan – en dit verg geen profeet nie – die rassisme eenvoudig toeneem.

Help Belhar ons om die verband tussen sosiale ongeborgenheid en rassisme raak te sien? Gee dit vir ons konkrete riglyne, dit wil sê riglyne wat in die sosiale werklikheid van instellings geanker is, en wat aan ’n gemeenskap soos die Afrikaners sekerheid oor die toekoms van dinge soos hul skole, universiteite, arbeidsgeleenthede, simboliese erkenning, ensovoorts, gee?

Sonder hierdie sekerheid sal die rassisme na alle waarskynlik verhewig (Trouens, dit is ook waar van talle ander gemeenskappe, wat eweneens deur soortgelyke onsekerhede gekenmerk word). ’n Blote morele veroordeling gaan nie help nie. Inteendeel, dit kan die probleem verhewig, omdat dit as voorskriftelik, beterweterig en arrogant ervaar kan word.

Kortom, in die mate waarin Belhar in gebreke bly om ’n positiewe begrip vir die noodsaak van gesonde gemeenskapsinstellings te toon, in daardie mate sal sosiale probleme soos rassisme steeds met ons wees. En is dit nie ironies nie?

0 Comments

  1. Gert Keyter sê:

    Ek dink die belhar bedryf is n omgekeerde rasisme en skep n groot problem vir apartheid na die ander kant toe ek wil net verder se hulle moet ophou om te krap waar dit nie juk nie want die gene wat daardie besluite geneem het dink net aan hulle self en aan niks anders nie, en wat se inpak dit op die groot gemeenskap gaan he.

  2. Kirby van der Merwe sê:

    Geagte Prof. Goosen, kan u vir my sê: Het eietydse Afrikaner-denkers al koppe bymekaar gesit om ‘n eietydse verklaring (Belhar-teenvoeter) te formuleer? (Gesien die stand van die Volk in/onder die heersende politieke bestel). Ek sal baie graag dié verklaring/formulering met Belhar vergelyk.
    Groete,
    Kirby van der Merwe

  3. Puik artikel. Mens wonder of die deursnee NGK-lidmaat besef dat die verandering van Art.1 net die eerste hekkie is na die volgende: totale aanvaarding van Belhar as vierde belydenisskrif, want die VGK sal met niks minder tevrede wees nie. Hulle kan ook nie, want nie net is Belhar klaar by hulle ‘n vierde belydenisskrif nie, hul hele Kerkorde is gegrond daarop. Wat lê nog voor? ‘n Slinternuwe mega-kerk, waar die kleiner getal NG-lidmate ( waarskynlik iets soos 700 000 wat sal oorbly) opgeslurp gaan word in die VGK se meerderheid ( iets soos 1,2 miljoen lidmate) . In meeste van hierdie VGK gemeentes is Engels die voertaal. Trouens, hul meerdere vergaderings word alles in Engels gehou. Ooreenkomste wat alreeds tussen die VGK en die NGK se leiers gesluit is, is in Engels. Wanneer kanselruiling gaan plaasvind, sal ‘n oud-NG-gemeente gereed wees om na die preek in Engels te luister?

  4. Hier kan u een van die dokumente kry ( slegs in Engels) van ‘n ooreenkoms wat redelik onlangs tussen die leiers van die VGK en die NGK gesluit is:

    http://www.ngkerkas.co.za/wp-content/uploads/2013/04/URCSA-DRC.pdf

  5. Hannes Deetlefs sê:

    Belhar is vir Duitssprekende bewoners van Namibië al lankal bekend: Diesefde teks is gebruik om in die sewentigers die Duitse gemeentes in Namibia te dwing om godsdienste in Engels te hou (wat nie eens die dominee foutloos konpraat nie). Dit was die kerk van SWAPO, en dit is ook baie duidelik so gestel. Belhart het baie later gekom, Maar met dieselfde doel.

  6. Jos Cloete sê:

    prof Danie Goosen – Die artikel is een van begrip volle ontledeing van die probleem. Die uitkoms van stemminge is nie ‘n onwilligheid om hande te vat nie – eerder protes teen onwilligheid om die rol van die Afrikaner in die opbou van die land te ONTKEN EN MISKEN.

    Kom Geloofsgemeenskappe (belhar-manne) :-
    kom vat die Christen Afrikaner se hand en ons maak die land ‘n beter plek vir almal!
    Staan op teen vergrype en vals geskiedenis uiteensettings!
    Wie het Christendom in Afrika ingedra – tot U redding?

  7. James Jacobs sê:

    Dankie Prof Danie dat jy dinge in vandag se perspektief plaas. Ons moet ook onthou dat Belhar deel van die ANC se propaganda oorlog van die tagtigerjare was. Net soos die Algemene Vergadering van die VN wat apartheid as ‘n misdaad teen die mensdom verklaar het. Die oorsprong hiervan was die Sowjetunie en ander Marxistiese state. Westerse lande het hierdie verklaring verwerp. As dit wat in apartheid verkeerd was in ag geneem word is dit omtrent ”n geval van die pot wat die ketel verwyt omdat hy swart is. Mense moet ook onthou dat die ANC vanaf 1984 tot 1994 ongeveer 20 000 swart mense koelbloedig vermoor het om hulself as die sterkste politieke groep te vestig. Meer mense moet Anthea Jeffery se boek “People’s War” lees om die konteks hiervan te verstaan.

  8. Attie Bezuidenhout sê:

    Dis bak, sommer baie bak. Ek hoop net die lede van die NGK se Algemene Sinode se moderatuur sal dit lees en verstaan.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!