“Kind van die smart en van die hoop”: Afrikaners se eie koerant

Resensie – Oor gemeenskap en plek: Anderkant die onbehae
Maart 19, 2015
Afrikaanse Skole-Ekspo: ’n hulpmiddel vir Afrikaanse onderwysers
Maart 23, 2015
De Burger se gebou in Keeromstraat, Kaapstad, is voor die Anglo-Boereoorlog vir die SA News gebou.

De Burger se gebou in Keeromstraat, Kaapstad, is voor die Anglo-Boereoorlog vir die SA News gebou.

Op Vrydag 18 Desember 1914, twee dae voor die fusillering in die sentrale gevangenis in Pretoria van die Rebelleleier Josef Johannes (Jopie) Fourie (37) weens sy militêre rol in die opstand teen die Unie-regering, het 16 prominente Bolandse Afrikaners in Huis Heemstede te Riebeeckstraat, Stellenbosch, byeengekom om die stigting van ’n dagkoerant as broodnodige mondstuk van die Afrikanervolk te bespreek.

Jopie Fourie as jong man

Jopie Fourie is deur die regering van Louis Botha en Jan Smuts doodgeskiet omdat hy ‘n Rebelleleier was.

'n Monument vir Jopie Fourie is later opgerig.

‘n Monument vir Jopie Fourie is later opgerig.

Die bestaande Engelse en Nederlandstalige koerante het slegs die belange van die Suid-Afrikaanse Party van genls. Louis Botha en Jan Smuts, die kapitaalkragtiges in die land en die Britse Ryk gedien. Uiteraard was die redakteurs die Afrikaanse taal en kultuur glad nie goedgesind nie, en het hulle die Milneristiese veldtog om die Afrikanerdom finaal te breek en uit te wis, aktief bevorder. Hierdie stellingname van die redakteurs en hul hoofredaksielede was uiteraard gerig op die bevordering van hul eie loopbane en ten bate van ander selfsugtige motiewe.

Op geen wyse kon die Afrikaner-gemeenskap sy griewe en behoeftes in die openbaar bekend maak nie, en bowenal kon hy hom nie met ink op papier uitdruk in die taal waarin hy dink nie. Sy literatuur in die Nederlandse Afrikaans van daardie dae was op sterwe na dood sedert die skandalige renegasie van die aanvanklike Afrikaanse taalpionier S.J. du Toit na die geledere van die Anglo-Amerikaanse mynmagnate en internasionale kapitaliste. Dit het gelei tot die ontbinding van die Genootskap van Regte Afrikaners, en al hul moeite om die Afrikaners se eerste koerant, De Patriot, en tydskrif, Ons Klijntji, op die been te bring, was tevergeefs. Afrikaners met ’n eerbare en opregte vaderlandsliefde, nasietrots en liefde vir hul eie taal en ryke kultuur wat deur die vlees van die geskiedenis na die dappere, selfstandige en gelowige Voortrekkers, Hugenote, Guise en Bataviere teruggestrek het, was behoorlik stom geslaan, verlam en politiek ontmagtig, terwyl die Angliserende meulsteen van verguising sy vernietingswerk van alles wat vir hulle dierbaar was, daagliks haas onstuitbaar voortgesit het.

Weens die Rebellie van 1914 het die regering van Botha en Smuts krygswet afgekondig, amptelike perssensuur ingestel en ’n anti-Afrikaner-propagandaveldtog van stapel gestuur om die Afrikaner se siening en vertolking van veral sy onmiddellike verlede, sy hede en sy toekoms onherkenbaar te verwring. Die Botha-regering, op advies van die Milneristiese maatskaplike ingenieurs in Engeland, het Engelssprekendes eerder as Afrikaners in die staatsdiens aangestel. En private ondernemings, die oorgrote meerderheid in die hande van Engelse en internasionale kapitaliste, het geweier om Afrikaners in sleutelposte aan te stel of selfs hoegenaamd in diens te neem.

Die landsekonomie was weens die Anglo-Boereoorlog met sy verskroeide-aarde-strategie van die Britse militere, en daaropvolgende droogtes en veesiekte-epidemies op ’n laagtepunt. Werkloosheid was aan die orde van die dag en Afrikaners moes hul trots in die sak steek en as laagbesoldigde loonwerkers in die goud- en steenkoolmyne vir die kapitaliste gaan werk. Daar is hulle met die grootste minagting behandel – alles deel van die Britse strategie om die moed, trots en aansien van die Afrikaners te breek.

D.C. Boonzaier se skets wat die Afrikaner-armoede, werkloosheid en hulpeloosheid van die era na afloop van die Anglo-Boereoorlog uitbeeld.

D.C. Boonzaier se skets wat die Afrikaner-armoede, werkloosheid en hulpeloosheid van die era na afloop van die Anglo-Boereoorlog uitbeeld.

By die handjievol regdenkende Afrikaner-intellektuele het die besef nou posgevat dat die Afrikaner nooit uit die put van ellende opgehef sou kon word om tot sy reg te kom sonder ten minste die stigting van eie koerante en ander publikasies nie. Andersyds kon ’n eie mondstuk weliswaar die politieke bordjies verhang, maar sonder daardie speekbuis van ink en papier was die Afrikaner se kulturele ondergang onkeerbaar. Op die politieke landskap was daar vir hom geen plek of enige vooruitsig nie. Soos die prominente Afrikaanse taalstryder van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging, adv. J.H.H. de Waal, dit gestel het: “Toesprake help weinig as dit nie gepubliseer word nie.” Die dinkskrum van 16 Bolandse Afrikaners in Huis Heemstede op Stellenbosch het sommer by die aanvang van hul samesprekings besluit dat die naam van die te stigte Afrikaans-Hollandstalige koerant De Burger sou wees. Die eerste uitgawe van De Burger het op Maandag 24 Julie 1915 verskyn. Dié naam sou sewe jaar later vanaf Januarie 1922 na Die Burger verander word toe Afrikaans as skryf- en leestaal aan die loskom was. Die eerste volwaardige Afrikaanstalige Bybel het egter eers in 1933 verskyn.

Gees van opportunisme:

Genl. Louis Botha, premier van die Unie-regering, voor, en genl. Koos de la Rey, volksheld, wat 'n paar dae nadat hierdie foto by die Parlement in Kaapstad geneem is, deur die polisie doodgeskiet is.

Genl. Louis Botha, premier van die Unie-regering, voor, en genl. Koos de la Rey, volksheld, wat ‘n paar dae nadat hierdie foto by die Parlement in Kaapstad geneem is, deur die polisie doodgeskiet is.

Genl. Jan Smuts, minister van verdediging van die Unie-regering, in die nuwe uniform van die Suid-Afrikaanse weermag volgens die Britse ontwerp.

Genl. Jan Smuts, minister van verdediging van die Unie-regering, in die nuwe uniform van die Suid-Afrikaanse weermag volgens die Britse ontwerp.

 

Met Uniewording in 1910 het die Brits-imperiale politici aan die Suid-Afrikaanse blankes die vooruitsig gestel van ’n nuwe Suid-Afrika waarin ook die Afrikanergemeenskap op gelyke voet met die Engelse gemeenskap ’n ewe menswaardige plek in die son gegee sou word, en beloftes is gemaak dat Afrikaners in die ontluikende welvaart van die land sou deel indien hulle met oorgawe vir die nuwe bedeling werk.

’n Opportunistiese gees het dadelik by naïewes ontstaan wat hul tanende drome van ʼn herlewing van die Boererepublieke en nasietrots summier verruil het vir drome van welvaart, persoonlike aansien en werksekerheid onder die Union Jack. Maar geleidelik het die borrel begin bars en was die ontnugtering groot toe dit duidelik word dat die Unie-regering van Botha en Smuts hulle slegs as goedkoop arbeid, inderdaad slawe, van die Britse Ryk, die Engelstalige kosmopolitaanse mynmagnate en die ewe gierige sakelui, almal skakels in dieselfde hedonistiese netwerk, sou misbruik.

Maar eers sou hierdie gees van opportunisme, tesame met die hensopper-en-joiner-opdrifsels van die Anglo-Boereoorlog, daarvoor sorg dat ’n permanente kloof in die geledere van die Afrikaner-gemeenskap geslaan word: die sogenaamde Nat-Sap-verdeling, met die aanhangers van die Brits-georiënteerde Suid-Afrikaanse Party aan die een kant, en die aanhangers van Afrikaner-nasionalisme, soos versimboliseer deur die te stigte Nasionale Party, aan die ander kant. Die Rebellie en die totstandkoming van ’n lyfblad van laasgenoemde groep sou uiteindelik daartoe lei dat die meeste Afrikaners hul eertydse nugterheid van voor die Anglo-Boereoorlog herwin het en dat hulle kon saamstaan om politiek die regeringsmag te bekom. ’n Hoogtepunt is binne minder as twintig jaar bereik met die onafhanklikheid van Republiek Suid-Afrika en die gepaardgaande welvaart onder dr. Hendrik Verwoerd. Nadat hy in die parlement vermoor is, was die agteruitgang van die Afrikanerpolitiek ewe meteories en die eerlose oorgawe van die politieke mag aan die swart meerderheid en hul kommunistiese hanteerders die laagste laagtepunt in die ganse geskiedenis van Suid-Afrika.

De Wildt-wekroep:

Regter-generaal James Barry Munnik Hertzog het leiding aan die Afrikaners gegee om hulle politiek uit die put van ellende op te hef.

Regter-generaal James Barry Munnik Hertzog het leiding aan die Afrikaners gegee om hulle politiek uit die put van ellende op te hef.

Die wekroep dat alles met die Unie-regering van Botha en Smuts onder die Britse vlag nie in orde was nie, het op 7 Desember 1912 gekom toe een van die min werklik pro-Afrikaanse politici in die Botha-kabinet, genl. (regter) J.B.M. Hertzog, op De Wildt (naby Brits) in sy epogmakende toespraak, “Suid-Afrika Eerste”, voorbrand gemaak het vir die belange van die inwoners van die land, veral die terneergedrukte Afrikaners, in plaas van om soos die Botha-regering net die belange van die Britse Ryk en sy kapitalistiese magsgroep te bevorder. Hy was ook ’n vurige kampvegter vir die Afrikaanse taal en kultuur, en vir gelykberegtiging vir albei taalgroepe (Afrikaans en Engels). “British supremacy” moes hiervoor uit die weg geruim word. Vir hierdie standpunte, wat regstreeks teen die Engelssprekende gemeenskap se algemene lewens- en wêreldbeskouing van bevoorregting ingedruis het, is Hertzog summier deur Botha uit die kabinet gemaneuvreer.

Vanuit Kaapstad is Hertzog geluk gewens met sy manhaftigheid en opoffering deur drie van die latere stigterlede van Die Burger, naamlik adv. J.H.H. (Jannie) de Waal, dr. W.A. (Willie) Hofmeyr en Fred Dormehl. Hulle het hom hul steun in sy verdere politieke loopbaan beloof. Dit het ook nie by woorde gebly nie, maar ’n Waaksaamheidskomitee vir nasionaal-gesindes is dadelik gestig. Die voorsitter van die komitee was J.G. van der Horst.

Die sestien Afrikaners wat op 18 Desember 1914 op Stellenbosch byeengekom het om die stigting van ’n eie nuusblad te bespreek, het besef dat die tyd meer as ryp was vir ’n mondstuk wat kon help om die verdrukte Afrikanervolk te bemagtig. Dit was ’n dringende werklikheid, want die Rebellie, waarin 11 372 Afrikaners van 14 Oktober 1914 tot einde Februarie 1915 die wapen teen die regering opgeneem het, het die hele land, maar veral volksgesinde Afrikaners, in ’n ernstige krisis gedompel. Teen 18 Desember was Genl. Christiaan de Wet, die mees geliefde en geeërde Boereleier van die Anglo-Boereoorlog, as gevangene in die tronk, terwyl genls. Koos de la Rey en Christiaan Beyers in hul graf was. En Jopie Fourie is op bevel van die kragdadige genl. J.C. (Jan) Smuts gefusilleer.

Ná die onderdrukking van die Rebellie was hofsake en bankrotskappe van beduidende getalle Afrikaners aan die orde van die dag, want ’n skuld weens oorlogskade en boetes van meer as £1 miljoen het soos ’n donker wolk oor die Rebellie-gesinde sektor van die Afrikanervolk gehang. Dit was tyd vir ’n noodlenigingsaksie, wat sonder ’n eie koerant as sameroepende mondstuk onmoontlik was.

De Nationale Pers Beperkt en De Burger: “Kind van die smart en van die hoop”

Die eerste redakteur van De Burger was die Graaf-Reinetse predikant dr. D.F. Malan.

Die eerste redakteur van De Burger was die Graaf-Reinetse predikant dr. D.F. Malan.


Hoewel die kapitaal vir die aankoop van ’n gepaste gebou en ’n drukpers dadelik van die welgestelde Stellenbosse broers Jannie en Christiaan Marais (Jannie Marais was ook volksraadslid vir Stellenbosch) verkry is, is besluit dat aandele in die maatskappy, de Nationale Pers Beperkt, aan die volk beskikbaar gestel moes word. Dit sou ieder en ’n elk ’n regstreekse belang in die koerant gee. En hoewel die meeste Afrikaners finansieel baie swaar gekry het, was dit vir hulle so ’n ernstige saak, ’n hartsaak, dat die stigting ’n sukses was. Hier was ’n samespanning aan die orde soos met die Anglo-Boereoorlog laas gesien is, en Die Burger het daarin uitgeblink om soos nog nooit voorheen nie die Afrikaners volks- en kultuurbewus te maak.

Op 20 April 1915 het die raad van direkteure besluit om ’n redakteur vir die dagblad, toe nog bekend as De Burger, aan te stel. Die keuse het op dr. Daniël Francois Malan, NG leraar van Graaff-Reinet, geval. Hy het op 3 April opspraak verwek toe hy in ’n brief, gepubliseer in die regeringsgesinde Kaapse koerant Ons Land, uitgevaar het teen ’n uitspraak van die Transvaalse Sinodale Kommissie van die NG Kerk dat lidmate hulle nie teen ’n wettige regering mag verset nie. Malan skryf hierdie houding is strydig met die gewone opvatting van die konstitusionele vryheid van die onderdaan en van die feite van die geskiedenis. Die Sinodale Kommisie spreek die ban uit “over de grote 80-jarige strijd onzer voorouders in Holland… Onze vrome, roemrijke Geuzen- en Hugenoten-voorvaderen [word] in de ban gedaan door hun eigene nazaten in Zuid-Afrika.” Daarmee stel hy die verdrukking van die Afrikanervolk deur die Britse Ryk en sy meelopende kapitalistiese magsgroepe gelyk met die verdrukking deur Rooms-Katolieke Spanje van die Protestante in Frankryk en Nederland.

Toe genl. De Wet die nuus van Malan se aanwysing as redakteur verneem waar hy in die Kimberley-tronk gevange gehou is, het hy ’n brief van gelukwense, mede-onderteken deur nog 94 mede-Rebelle daar, aan Malan gerig. Op 27 Mei 1915 het Malan die aanbod van eerste redakteur van De Burger aanvaar en as predikant bedank. Sy afskeidspreek was op 13 Junie 1915. In dieselfde tyd is die Nasionale Party van Kaapland op De Aar gestig, en op 23 Junie 1915 is Malan in die Hofmeyrsaal in Kaapstad as redakteur van De Burger en Wes-Kaapse voorsitter van die Nasionale Party verwelkom.

Toe De Burger se eerste uitgawe van tien bladsye op 26 Julie 1915 verskyn, het Malan se eerste hoofartikel die opskrif “Aan almal wat ons volk liefhet” gedra. Daarin verwys hy onder meer na die stigting van die blad in ’n krisistyd vir die Afrikanervolk: “De Burger is ’n kind van die smart en van die hoop. Hy is gebore uit die weë van ons volk. Was dit nie dat sware rampe ons volksbestaan getref het nie, sou hy seker nie daar gewees het nie. ’n Vyand van ons volk het eenmaal voorspel dat hy die rug van die Afrikanerdom sou breek. Dit het geskied. Maar nie deur hom nie. In die ontwaking van ons nasionale eenheidsgevoel lê ons redding. Hierdie gevoel wil De Burger versterk en lei. Die hoop van ons volk moet gewortel wees in sy geloof in God.”

Dr. J.D. du Toit (Totius) se reaksie was dat die verskyning van De Burger “een van die weinige soete druppels in die bittere beker [is] wat die Afrikaner nou moet leegdrink”. Geen ander wapen kan aangewend word om die volksgees weer wakker te maak nie. In Transvaal is hy so welkom soos in Kaapstad, waar Jan van Riebeeck, verteenwoordiger van van die sewentiende-eeuse Calvinistiese demonstrasie, voet aan wal gesit het. Kaapstad, waar later koerante soos die Volksvriend, Volksblad en Volksbode gebloei het, skryf Totius.

Afrikaner-renaissance:

De Burger, De Nationale Pers Beperkt en die Nasionale Party het die Afrikaners weer hoop gegee op 'n menswaardige toekoms in Suid-Afrika. D.C. Boonzaier, eerste tekenaar van De Burger, het hierdie treffende skets gemaak.

De Burger, De Nationale Pers Beperkt en die Nasionale Party het die Afrikaners weer hoop gegee op ‘n menswaardige toekoms in Suid-Afrika. D.C. Boonzaier, eerste tekenaar van De Burger, het hierdie treffende skets gemaak.

C.F.J. Muller verwoord dié ontwakingsgedagte in Sonop in die Suide soos volg: “’n Jonger geslag van Afrikaner-intelligentsia het visioene gesien van ’n Afrikaner-renaissance waarin die Afrikaanse taal, letterkunde, geskiedenis en breë kulturele ontwikkeling so sou bloei dat die hele Afrikanervolk sy volle potensiaal kon uitleef, langs (maar selfstandig van) die Engelstalige Suid-Afrikaner. Onder meer deur verbeterde onderwys moes die verarmde, verstedelikte Afrikaner nie net geestelik verryk word nie, maar ook op stoflike gebied sy selfstandigheid terugkry. In die omstandighede van die Eerste Wêreldoorlog en die Rebellie het amptelike perssensuur en die oorweldigende mag van die regeringsgesinde koerante die bewussyn laat posvat dat die Afrikaner se siening en vertolking van veral sy onmiddellike verlede, sy hede en sy toekoms nie tot sy reg kon kom sonder die skepping van eie media nie.

Wat dr. Malan verder in gedagte gehad het, was die uiteindelike onafhanklikheid van Suid-Afrika as ’n republiek met geen bande meer met Brittanje nie. Op 31 Augustus 1918 het hy op Malmesbury gesê: “Daar staan in Suid-Afrika vandag tal van monumente. Waarvoor? Om rassehaat te predik of om alleen maar te herinner aan dapperheid en volharding, aan misverstand en stryd? Nee, verre daarvan! Hulle staan daar om die volk nooit te laat vergeet dat daar manne, en dat daar veral ook vroue en kinders was, wat wat hul goed en wat hul eie lewe nie te kosbaar geag het om dit op die altaar te lê van ’n vrye en ’n onafhanklike vaderland nie. Maar nie alleen ten noorde van die Oranjerivier het hierdie ideaal in die verlede geleef nie. Dit was deur die hele geskiedenis heen ook die ideaal van die Afrikaner in die Kaapkolonie.”

Op 31 Mei 1961 het Suid-Afrika daardie ideaal onder leiding van dr. H.F. Verwoerd as Eerste Minister verwesenlik toe die Republiek van Suid-Afrika uitgeroep is. Wat meer is, hierdie status is internasionaal aanvaar. Maar dit het ook die era van die sogenaamde “Struggle” ingelui, wat die mag om die land verder te regeer, uit die hand van die Afrikaner sou ruk. Die hoofkantoor van die ANC se militêre terreur-organisasie, Umkhonto we Sizwe, was in Londen, die hart van Brittanje, gesetel.

Die Swart Rewolusie en die neo-Milnerisme

Sir Alfred Milner, Britse aanstigter van die Anglo-Boereoorlog en agent van die Anglo-Amerikaanse kapitalistiese geldmag. Na afloop van die Anglo-Boereoorlog het hy verklaar dat die Afrikanervolk vir altyd uitgedelg moet word. Nie soseer met gewere en koeëls nie, maar veral deur hul identiteit, hul taal en hul kultuur uit te wis.

Sir Alfred Milner, Britse aanstigter van die Anglo-Boereoorlog en agent van die Anglo-Amerikaanse kapitalistiese geldmag. Na afloop van die Anglo-Boereoorlog het hy verklaar dat die Afrikanervolk vir altyd uitgedelg moet word. Nie soseer met gewere en koeëls nie, maar veral deur hul identiteit, hul taal en hul kultuur uit te wis.

Die “swart rewolusie” van 1994 het die polarisering in die wit gemeenskap teruggebring na situasie wat dit ’n eeu gelede ten tyde van die die Rebellie was: Die benaming “wit” of “blanke” het nou bloot “nie-swart” geword. Die anti-Afrikaner-pool (die Sappe van weleer, nou bekend as die Demokratiese Alliansie) is steeds op koers met sy Milneristiese obsessie om alles wat Afrikaner is, uit te wis, terwyl die eertydse Nattes nou ’n koerslose en leierlose gemeenskap van verwarde Afrikaners, net soos honderd jaar gelede, is. Nou is hulle egter sonder ’n eie spreekbuis op die landskap van die hoofstroom-massamedia om hul saak te kan stel en hul griewe te lug. Hulle is nie eens in staat om mekaar ingelig te hou oor die daaglikse vlaag moorde wat landswyd die geledere van hul gemeenskap uitdun nie. Reikhalsend sien hulle uit na ’n wonderwerk van uitredding wat hul gebede gaan verhoor, maar daar is, helaas, nie eens ’n spreekwoordelike “wolkie so groot as ’n man se vuis aan die bleekverskroeide hemeltrans” nie.

Vir hierdie desperate ontnugterdes is die skommelende aandelebeurs en hoopvolle wensdrome van ’n toekomstige uitvlug-immigrasie na Australië of Kanada die enigste kunsmatige reddingsboei waaroor tans nog om die naweke se dop-en-hoenderbraai-byeenkomste gespekuleer word.

Van hul eie mondstuk De Burger en hul eie uitgewery, De Nationale Pers, het na ’n eeu slegs flarde oorgebly waarop die oportunistiese Demokratiese Alliansie sy neo-Milneristiese ideologie daagliks uitbasuin terwyl hy terselfdertyd sy internasionale sakebelange bevorder. Nog nooit in sy eeu-lange geskiedenis het Naspers-aandele so flink verkoop en so hoog gepresteer as juis nou nie. Voorwaar die Ou Testamentiese Goue Kalf wat die verlore volk uit die woestyn na die beloofde land gaan lei…

Heel ironies, het die rakleeftyd van “Die Kind van Hoop” na honderd jaar verstryk.
En vir die Afrikanergemeenskap is dit wat van hul eens uitreddende mondstuk oorgebly het, nog net “Die Kind van Smart” oor.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!