Britse teoloë oor gemeenskap en individu

MENEER DIE PRESIDENT, ONS SAL ONS NIE LAAT UITVEE NIE
Mei 5, 2015
Oor Danie Goosen se Oor gemeenskap en plek: Anderkant die onbehae
Mei 15, 2015

deur prof Danie Goosen

Verlede week is ’n besonders betekenisvolle konferensie op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat gehou.

Tydens dié konferensie is aandag gegee aan ’n bekende teologiese beweging van ons tyd, naamlik die Radikale Ortodoksie. Twee bekende vertolkers van hierdie beweging, naamlik John Milbank van die Universiteit van Nottingham, en Graham Ward van die Universiteit van Cambridge, het tydens die geleentheid die gehoor toegespreek.

Waarom was hierdie konferensie so betekenisvol? Alvorens ons hieronder in groter detail by die betekenis van die konferensie stilstaan, moet vooraf reeds gesê word dat dit vir die FAK van groot belang is om goeie verhoudinge met internasionale ‘denkforums’ soos die Radikale Ortodoksie te handhaaf.

Die belangrike rede daarvoor is dat sowel die FAK as forums soos die Radikale Ortodoksie vandag aansluiting soek by die gemeenskapsgedagte. Vir sowel die FAK as die Radikale Ortodoksie behoort die mens altyd alreeds tot ’n veelheid van gemeenskappe, waaronder hul taal- en kultuurgemeenskappe. (Enigeen wat die FAK dophou, sal weet dat dié gedagte in die hart van sy idee-raamwerk en strategiese denke staan).

Nog meer, vir beide forums hou ’n betekenisvolle lewe verband met die feit dat ons by die sake van ons gemeenskappe betrokke is en daaraan deelneem.

Daarby eindig die ooreenstemming egter nie. Sowel die FAK as die Radikale Ortodoksie ontwikkel vandag ook ’n kritiek op die hedendaagse (neo-liberale) verskraling van ons as mense tot blote losstaande individue. Beide voer aan dat dit ons menswees aantas. Ons is altyd méér as net selfgesentreerde individue. Ons behoort altyd alreeds aan dinge wat groter as onsself is, naamlik ons veelheid van gemeenskappe en tradisies.

Daarmee word nie gesê dat die FAK in alle opsigte met die Radikale Ortodoksie saamstem nie. Daar is ook verskille.

Een daarvan is dat laasgenoemde in politieke terme ‘links’ georiënteerd is, terwyl die FAK eerder verkies om na homself as middelgrondsoekend te verwys. (Tydens die konferensie het sowel Milbank as Ward met groot skok kennis geneem van die vernederende nederlaag wat die linkse Arbeidersparty in die Britse algemene verkiesing gely het nie. Beide is vurige ondersteuners van die Arbeiders).

Maar hierdie verskil kan ook misleidend wees. Die feit van die saak is dat die verskeie denkforums aan weerskante van ou politieke verdelingslyne vandag voorspraak vir die gemeenskapsgedagte maak. En tegelyk krities staan teenoor die neo-liberale globalisme. Dit gebeur wêreldwyd. En dit is ook waar van die FAK en die Radikale Ortodoksie. In weerwil van verskille is daar rondom hierdie wesenlike kwessies groeiende ooreenstemming.

Teen die agtergrond van hierdie enkele inleidende gedagtes kan die volgende opmerkings oor die konferensie in Bloemfontein gemaak word.

Eerstens, genoemde teoloë het met groot waardering en simpatie na Afrikaners geluister wat tydens die konferensie ’n voorspraak vir die erkenning van hulself as kulturele (nog erger: “etniese”) gemeenskap gemaak het.

Nog meer, tydens die konferensie en uit talle private gesprekke met hulle is ook begrip uitgespreek vir die kritiek wat Afrikaners op die sentralistiese staat en sy voorskriftelike rol het. Enige vorm van diskriminasie, ook die diskriminasie wat spruit uit die regering se beleid van ‘verteenwoordigendheid’, is sterk deur ons oorsese gaste afgewys.

Tweedens, anders as wat dikwels die geval met veral Afrikaanse liberale is, word ons Britse besoekers nie deur ’n gevoel van selfmiskenning en selfveragting met betrekking tot hul eie kulturele identiteite gekenmerk nie.

Inteendeel, uit die veelheid van gesprekke het dit duidelik geword dat hulle vandag ook kultuurgemeenskappe as belangrike bronne van ‘gemeenskapsvorming’ beskou.

Trouens, sodanige gemeenskapsvorming kan vandag ’n belangrike rol speel om ’n antwoord te gee aan die (neo-liberale) ontkenning van onsself as gemeenskapswesens. Kulturele gemeenskappe kan ’n sin vir gemeenskap in stand hou. Geen wonder dat Milbank ook onlangs ’n digbundel gepubliseer het waarin hy die Engelse tradisie besing nie.

Kortom, die feit dat hierdie denkers ‘links’ is, is nie vir hulle ’n rede om die belangrike rol van kultuurgemeenskappe te ontken nie. Inteendeel, as linkses maak hulle selfs ’n voorspraak daarvoor.

Derdens, uit die gesprekke met Milbank en Ward is dit duidelik dat hulle ’n voorkeur vir die federale tradisie het.

Dit wil sê dié tradisie ingevolge waarvan die verskillende gemeenskappe en streke binne een en dieselfde politieke orde oor so groot as moontlike inspraak in eie sake moet beskik.

Die voordele daarvan spreek vanself. As ons dit in tipiese FAK-taal kan formuleer, kan gesê word dat federale ordes verhoed dat gemeenskappe hulself óf isoleer (die vrees van onder meer die liberales) óf dat hulle deur meerderhede verswelg word (die vrees van minderhede). ’n Federale orde bied ’n positiewe antwoord op beide hierdie vrese.

Daarom is dit ook nie vreemd nie dat Milbank in gesprekke voorspraak vir die omskepping van die teenswoordige uniale orde in Brittanje in ’n federale orde gemaak het. In so ’n federale orde kan sowel die gevaar van isolasie as die gevaar van verswelging voorkom word. In die proses kan die veelheid van gemeenskappe en lokaliteite tot hul reg kom.

In die taal van die FAK, die Radikale Ortodoksie is – soos die FAK – ten gunste van gemeenskapsfederasies.

’n Vierde saak waarna met betrekking tot die konferensie verwys moet word, is die kwessie van deelname. Uit die lesings wat Milbank en Ward in Bloemfontein gehou het, het dit nogmaals duidelik geword dat die begrip ‘deelname’ by hulle ’n belangrike rol speel.

Volgens Milbank is die mens nie in die eerste plek ’n geïsoleerde wese wat, soos in die neo-liberale denke, slegs op sy eie individuele belange bedag is nie. Nee, die mens is in die eerste plek iemand wat buite hom- of haarself na ’n groter werklikheid uitreik met die doel om daaraan deel te hê.

Binne die teologiese denke van Milbank is dié groter werklikheid natuurlik in die eerste plek God self, maar na analogie daarvan ook die veelheid van gemeenskappe waarvan ons altyd reeds deel is.

Teen die agtergrond van hierdie klem op deelname en gemeenskap is dit nie vreemd nie dat iemand soos Milbank tydens die konferensie op ’n boeiende wyse na die belangrikheid van die geskenk verwys het. Geskenke, sê Milbank (en hier sluit hy by baie verskeie antropoloë aan) is vanaf die vroegste stadium van die mens gebruik as instrumente waarmee onderlinge gemeenskap gestig en uitgebrei is. Sonder die wedersydse gee van geskenke is gemeenskap nie moontlik nie.

Tegelyk wys Milbank ook daarop dat die geskenk vandag toenemend deur die ‘kontrak’ vervang word. In plaas daarvan dat ons deur geskenke verbintenisse met gemeenskapsgenote vestig, neig ons eerder daarna om vandag blote onpersoonlike kontraktuele verhoudinge met andere aan te knoop. Daarmee dreig ons om aan ’n utilistiese wêreld, waarin die blote berekening van ons eie private voor- en nadele die botoon voer, uitgelewer te word. Laasgenoemde is ’n wêreld sonder geskenke en gemeenskapsbindinge.

In die tradisie, sê Milbank, was kontraktuele verhoudinge nie vreemd nie. Nogtans was my kontrak (om byvoorbeeld produkte teen ’n bepaalde prys aan kopers te lewer) onderlê deur die gedagte van die geskenk (soos uitgedruk in die ou gewoonte om afslag aan die koper te gee; genade aan die skuldenaar te betoon, ensovoorts). Geskenk en kontrak het mekaar nie uitgesluit nie, maar eerder aangevul. So is gemeenskap in stand gehou.

Vandag het ons met die teendeel te doen. Kontraktuele verhoudinge verdring die geskenk. Alle verhoudinge word slegs kontraktueel vasgelê. Dit gaan met die dramatiese verlies van gemeenskap gepaard.

Alhoewel Milbank nie hierdie voorbeeld gebruik het nie, is die lotgevalle van ’n oeroue gemeenskap soos die huwelik vandag ’n goeie voorbeeld hiervan. Vandag verstaan ons die huwelik toenemend as slegs ’n kontraktuele verbintenis.

Ons vra wat ons ‘daaruit kan kry’. In die proses gaan wedersydse geskenke soos selfopoffering en toewyding, waarmee die huwelik as gemeenskap vroeër verdiep is, verlore.

Die vyfde en laaste saak hou met die verbeelding verband. Volgens die Radikale Ortodoksie kan die skepping as ’n digterlike gebeure – ’n lewende en steeds uitbreidende gedig – verstaan word. In en deur ons verbeeldingryke deelname aan die sake van ons gemeenskappe word verdere strofes daarby gedig. So bly die skepping ’n lewende skeppingsgebeure.

Waarom noem ons dit hier? Ons verwys hier na diegene onder ons mense wat hulself van ons as gemeenskap onttrek deur te bedank of hulself (vanweë dinge soos bitterheid, afsku, skaamte en renons) in ’n private bestaan terugtrek.

Afrikaners wat so reageer, ontneem hulleself van die voorreg om – hoe gering dit ook al mag wees – aan die kontinue skeppingsgebeure deel te neem.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!