Die 2015-standbeelde kontroversie

Oor Danie Goosen se Oor gemeenskap en plek: Anderkant die onbehae
Mei 15, 2015
Afrikaanse Skole-Ekspo
Mei 15, 2015

deur Alana Bailey, Adjunk Uitvoerende Hoof: AfriForum

Dit mag lyk asof Paul Kruger, Koningin Victoria, Mahatma Gandhi, J.G. Strijdom, Cecil John Rhodes, Fernando Pessoa en Sarah Baartman weinig in gemeen het, maar in April 2015 het standbeelde wat ter herinnering aan hierdie uiteenlopende groep mense in Suid-Afrika opgerig is, almal onder politieke vandale deurgeloop.

Waar het alles begin?

In Suid-Afrika met sy winsgewende sluikhandelmark vir skrootmetaal, is standbeelde in die verlede al dikwels geteiken deur vandale. Op Kerkplein is die Kruger-brandwagte se gewere (met dele wat maklik afgesaag kan word, soos lope en snellers) al ’n paar keer beskadig en begraafplaas-kruise word uit Pretoria se Helde-akker geplunder, om net enkele voorbeelde te noem. ’n Disfunksionele Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronne-agentskap (SAEHA) en traak-my-nieagtige owerhede het verder tot gevolg dat onvervangbare Suid-Afrikaanse erfenisse stadig maar seker tot niet gaan.

Die beeldestorm van 2015 is egter ’n heel ander verskynsel. Die klimaat vir die storm is grotendeels geskep toe president Jacob Zuma by die 103e herdenking van die ANC se bestaan in Januarie 2015 verklaar het dat die land se probleme alles met Jan van Riebeeck se koms na die land begin het.

Wit Suid-Afrikaners, en meer spesifiek Afrikaners, word in ANC-beleidstukke “colonialists of a special kind” genoem en reeds lankal as sondebokke uitgesonder wat vir die land se vele krisisse geblameer word. Sedert Januarie is die totale geskiedenis vanaf 1652 egter in die spervuur, met standbeelde as sagte teikens vir opportuniste, populiste en enigeen met ’n ideologiese agenda of grief voortspruitend uit die heersende kultuur van aanspraakmaking op voorregte waarvoor nie gewerk is nie.

“Rhodes must fall”

Na president Zuma se uitlatings, het die veldtog teen Rhodes se standbeeld by die Universiteit van Kaapstad (UK) die kollig nog skerper op standbeelde en erfenis laat val. Die uiteindelike verwydering van die beeld was nie net ’n oortreding van erfeniswetgewing nie, maar het ook ’n gevaarlike presedent geskep met ’n universiteitsbestuur wat sonder veel teenspraak bloot aan ’n klein groepie anargistiese studente se eise toegegee het.

Aanvanklik was daar selfs enkele Afrikaners wat opgewonde was oor Rhodes wat ’n slag in die spervuur kom, blind vir die feit dat Rhodes as persoon weinig met die kontroversie te make gehad het. Die studente was immers eerlik daaroor dat hulle stryd oor die transformasie van die universiteit, die universiteitswese en selfs privaat eiendomsreg in die land gaan en nie beswaar teen ’n individu nie. Rhodes verdien volgens hulle nie erkenning vir die grond wat hy geskenk het vir UK nie, omdat hy die grond “gesteel” het, soos die ander “koloniste”. Daar kan dus geen onduidelikheid daaroor wees dat enige steun vir die verwydering van die beeld, ook as steun vir die beginsel van transformasie uitgebeeld sal word nie.

Die toegewings aan die studente gaan nie net by UK nie, maar ook op ander kampusse in die land gevolge hê wat veel wyer as bloot die verskuiwing of verwydering van standbeelde en gedenkplate gaan strek. Ons sien dit reeds met die vandalisme teen standbeelde op kampusse elders en die groeiende prominensie van groepe soos die #OpenStellenbosch-forum.

Geskiedenis as vakwetenskap is ’n rekord van die stryd tussen idees en die stryd mag nie doodgesmoor word deur aan politieke druk toe te gee en beelde uit die openbaar te verwyder nie. ’n Universiteitskampus is juis die plek waar geskille op intellektuele wyse besleg moet word en opkomende geslagte in hierdie vaardighede opgelei moet word. In teenstelling met hierdie beginsel, het UK se bestuur geswig voor mense wat daal tot die vlak waar hulle riool gooi om gesag aan hul argumente te gee.

Die media-aandag wat aan die Rhodes-veldtog gegee is, asook die sukses van die studente se anargie, het meer aanslae teen standbeelde en monumente in openbare ruimtes deur die land tot gevolg gehad. Die wandade is hoofsaaklik gepleeg deur EFF-lede, maar was nie beperk tot hulle nie. In Februarie het ’n UDM-leier in die Oos-Kaap byvoorbeeld voorgestel dat alle beelde, monumente en geboue wat met kolonialisme en apartheid verband hou, vernietig moet word. ’n Meer bisarre oproep is by ’n Natalse saamtrek van die Jong Kommunisteliga gemaak, naamlik dat die oorskot van ondersteuners van apartheid opgegrawe moet word, sodat daar meer plek in begraafplase vir swart Suid-Afrikaners is.

Die ministeriële erfenisberaad

In Maart 2015 het die soort oproepe oorgegaan in ’n vlaag vandalisme teen standbeelde. Nie net beelde wat met kolonialisasie en apartheid verband hou, is geteiken nie. Van die vreemdste voorvalle is die beskadiging van die Perdemonument in Port Elizabeth en die verf van die standbeeld van Gandhi in Johannesburg. Laasgenoemde het volgens die EFF nie vir swart bevryding gestry nie en verdien daarom geen erkenning nie. Hierdie insident bevestig die groeiende kultuur van onverdraagsaamheid teenoor minderheidsgroepe in die land wat met die xenofobiese aanvalle van die afgelope paar weke nog meer sigbaar geword het.

Te midde van die oorweldigende media-aandag wat die voorvalle gelok het, het die minister van Kuns en Kultuur, Nathi Mthethwa, ’n openbare beraad belê waar belanghebbendes hul insette oor erfeniskwessies kon gee.

Die beraad het op 17 April 2015 by Vryheidspark in Pretoria plaasgevind. AfriForum is daarheen genooi en is verteenwoordig deur Kallie Kriel (Uitvoerende Hoof), Henk Maree (Voorsitter – AfriForum Jeug) en myself (Alana Bailey, Adjunk Uitvoerende Hoof – Erfenissake).

Meer as 200 mense het politieke partye, burgerlike organisasies, regeringsliggame, bewaringsinstansies en museums daar verteenwoordig. Buiten politieke partye, die Raad van Tradisionele Leiers en die studente van UK wat vir die veldtog teen die Rhodes-standbeeld verantwoordelik was, is slegs AfriForum gevra om ’n amptelike voorlegging aan die aanwesiges te doen. Alle teenwoordiges kon verder van die vloer af aan die robuuste bespreking oor die toekoms van erfenisbewaring in die land deelneem.

Die studente van UK is deur die fasiliteerder as helde aan die gehoor voorgehou. Uit hulle voorlegging was dit duidelik dat hulle ’n massa onsamehangende aanvullende eise het. Onder meer vra hulle dat die naam van die Universiteit van KwaZulu-Natal moet verander omdat dit aan die aanvalle van ondersteuners van die Inkatha-Vryheidsparty op ondersteuners van die ANC in die 1980’s herinner. Duidelik dien hulle die agenda van net een party, naamlik die ANC, in lyn met die strewes verwoord in dié party se Nasionale Demokratiese Rewolusie-beleid.

Erfenisinstellings het gewys daarop dat omvattende wetgewing bestaan aan die hand waarvan prosesse soos voorstelle om standbeelde te verskuif, al dan nie, hanteer moet word. Daar was talle teenwoordiges wat beklemtoon het dat erfenisbewaring en die debat oor die verlede nie verdraai en verskraal moet word deur plekname te verander of standbeelde te verwyder nie, maar dat meer name en standbeelde eerder tot die landskap toegevoeg moet word. Aan die ander kant was daar ook emosionele beroepe op die minister om alle spore van die koloniale en apartheidsverlede uit te wis.

AfriForum se standpunt is weer duidelik gestel – dat plekname en standbeelde nie kan verander of verskuif word bloot om aan tydelike ideologiese druk toe te gee nie, maar dat ’n kultuur van wedersydse erkenning en respek bevorder moet word deur vir almal se erfenis en standpunte ruimte te skep.

Aan die einde van die program is ’n aantal resolusies aan die teenwoordiges voorgehou. Van die resolusies ontbloot die NDR-agenda, byvoorbeeld dat ’n landswye opname gemaak word van koloniale en apartheidspersoonlikhede wat deur plekname, standbeelde en monumente verteenwoordig word, sodat bepaal kan word wie “aanstoot gee” en wat dus nie in die openbaar erkenning mag geniet nie. Aan die hand van so ’n lys, is voorgestel, moet pleknaamveranderings dan ekstra vinnig deurgevoer word en monumente verwyder word om die erfenissektor “te transformeer”. Apartheidsleiers is deurgaans aan Hitler gelykgestel. AfriForum het ten sterkste standpunt ingeneem teen hierdie eensydige, eendimensionele en polariserende beoordeling van die verlede.

Tevore wanneer standbeelde verwyder is, is instellings soos die Erfenisstigting toegelaat om dit in ontvangs te neem en te bewaar, maar uit die gehoor en resolusies het dit duidelik geword dat dit nie langer deur die owerhede as ’n oplossing beskou word nie. Daar is naamlik voorgestel dat wanneer besluit word om openbare standbeelde van byvoorbeeld apartheidsleiers te verskuif, dit nie aan die Afrikanergemeenskap vir bewaring gegee moet word nie, maar in sogenaamde temaparke opgeneem moet word waar diegene vir besoekers as menseregteskenders uitgebeeld kan word. AfriForum beskou dit as presies dieselfde soort kulturele vandalisme as wat deur die EFF gepleeg word wanneer hulle ’n standbeeld beskadig – dit is net ’n ander metode wat gevolg word. Die resultaat, naamlik ’n daad van disrespek jeens minderhede soos Afrikaners, ly dieselfde, net die metodes verskil.

AfriForum en ander instellings se besware teen verskeie resolusies, insluitend hierdie een oor die “konsentrasiekamp vir standbeelde”, is aangeteken en die beraad is verdaag met die onderneming dat die gesprek voortgesit sal word. Op 22 April 2015 het die minister egter aangekondig dat die resolusies aanvaar is en dat met die implementering daarvan voortgegaan word. Op ons vraag waarom daar nie vir ons opposisie erkenning gegee is nie, het die minister geantwoord dat die meerderheid teenwoordiges saamgestem het en teenkantig dus van geen betekenis is nie. Hierdie standpunt maak weer eens duidelik dat die regering se interpretasie van demokrasie bloot ’n diktatuur van getalle is.

Waarom kan die beeldestorm nie maar geïgnoreer word nie?

Die gebeure rakende die beelde het ’n ongekende reaksie onder Afrikaners tot gevolg gehad. Selfs mense wat tradisioneel apaties staan of liberaal is, was woedend oor die vlaag vandalisme. Waarskynlik omdat ons generasie visueel ingestel is, het die sigbare vergestalting van onverdraagsaamheid en disrespek soos uitgebeeld deur ’n standbeeld met ’n brandende motorband om die nek, meer impak gemaak as politieke leiers se gereelde haatspraak by openbare vergaderings.

In regeringskringe is die afgelope 21 jaar stelselmatig wegbeweeg van die boodskap dat die diversiteit van die sogenaamde reënboognasie gevier moet word, na dwang om slegs een identiteit te bevorder, soos uiteengesit in die ANC se Nasionale Demokratiese Rewolusie-beleid. Die polemiek wat om erfenis geskep is, is maar een fase van hierdie proses, met die studente en EFF-partylede as nuttige pionne wat die voetwerk hiervoor doen.

Hierdie aanslag teen die openbare uitbeelding van ons erfenis moet net so sterk teengestaan word as aanslae teen Afrikaans. By die 2014-sewende sessie van die Verenigde Nasies se Forum vir Minderheidskwessies in Genève, het doktor György Tatár, president van die Boedapest Sentrum vir die Internasionale Voorkoming van Volksmoord en Massa Gruweldade, daarop gewys dat geweld teen minderhede aangehits word wanneer so ’n minderheid onder ongelyke ekonomiese omstandighede as sondebokke gebrandmerk word. Hy het gewaarsku dat die manier waarop die verlede uitgebeeld word, kan bydra om haat tussen gemeenskappe aan te wakker van geslag tot geslag, veral wanneer slegs gedeeltes van die verlede op bevooroordeelde wyse uitgebeeld word.

Die regering se voorgestelde Suid-Afrikaanse temaparke kan presies op die soort vergryp afstuur waarteen doktor Tatár waarsku en kan dus nie maar sonder meer geïgnoreer word nie. So ’n eensydige historiese uitbeelding kan die wit, en meer spesifiek die Afrikanerminderheid, as die “hulle” voorstel – ’n vervreemdingsproses waardeur onverdraagsaamheid en selfs geweld mettertyd vir die meerderheid na ’n geregverdigde proses teen die uitgesonderde minderheid mag lyk. Al is ’n standbeeld wat met verf toegetakel is, dus op die oog nie so ’n ernstige vergryp nie, moet dié soort insidente ernstig opgeneem word weens die boodskap waartoe dit bydra.

Wanneer ’n instelling soos AfriForum dus bydra tot die restourasie van gevandaliseerde standbeelde, is dit nie net ’n erfenisbewaringsaksie nie, maar die omkeer van die boodskap wat die vandalisme oordra.

Gemeenskapsbetrokkenheid is die antwoord

Buiten teenkanting teen die verdraaiing van die geskiedenis en die herstel van beskadigde standbeelde en monumente, is daar nog baie wat enigeen wat sterk oor ons erfenis voel, kan doen. Gemeenskapsbetrokkenheid is van sleutelbelang.

Die brandpunt gaan nie oornag verdwyn nie, en dus moet ons ingelig bly oor owerhede se erfenisplanne – waar geskiedenis verdraai of erfenisse verwaarloos, vernietig of in diens van ’n ideologiese agenda “herontplooi” word, moet ons ons teenkanting laat hoor.

Ons moet realisties besef dat ons erfenisse selde indien ooit ’n prioriteit vir die owerhede sal wees. Instellings soos die Erfenisstigting, FAK, AfriForum en andere het ook nie die hulpbronne om alles in stand te hou nie. Gemeenskappe sal self vir dít in hulle omgewing wat vir hulle belangrik is, moet verantwoordelikheid aanvaar. Die genoemde instellings kan wel help met advies oor hoe dit gedoen moet word.

Ons mag nie toelaat dat beelde en monumente sonder meer verskuif word omdat ons toegee aan kulturele terreur en uit vrees halsoorkop nuwe tuistes daarvoor vind nie. Ons bydrae tot die geskiedenis moet in die openbaar erken word om bogenoemde vervreemding en etikettering as sondebokke teen te werk. In enkele gevalle sal verskuiwing van historiese bakens nodig wees, maar slegs as ’n laaste uitweg.

Van alle wapens is kennis die magtigste. Daar rus dus ’n verpligting op ons om onsself, maar ook alle ander betrokkenes, vertroud te maak met ’n gebalanseerde weergawe van die geskiedenis.

Ons doen ’n beroep op gemeenskappe om instellings soos die Erfenisstigting, FAK en AfriForum in hierdie proses te ondersteun – die toekoms van ons verlede is in ons hande en gaan ook ons toekoms bepaal.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!