Oor Danie Goosen se Oor gemeenskap en plek: Anderkant die onbehae

Britse teoloë oor gemeenskap en individu
Mei 15, 2015
Die 2015-standbeelde kontroversie
Mei 15, 2015

deur Johann Rossouw

As sleutels gesoek word waarmee die geskiedenis van Afrikaners – én Suid-Afrika – die afgelope honderd jaar ontsluit kan word, dan is een so ’n sleutel die wel en wee van die Afrikaners se verhouding met die moderne territoriale staat. Teen die agtergrond van die traumatiese verlies van die twee Boererepublieke van die negentiende eeu en die Anglo-Boereoorlog het die Afrikaners in 1910 saam met hulle Suid-Afrikaanse eweknieë van Britse afkoms hul politieke lot by die moderne territoriale staat ingewerp.

Hierdie lotsbepalende keuse het mettertyd beslag gekry in die herlewing van die idealisme waarsonder Afrikaners as gemeenskap kwalik bedink kan word. Hoewel hierdie ideaal mettertyd bekendgestaan het as Afrikanernasionalisme, kan vandag by nabetragting gesê word dat die ideaal berus het op die moderne uitgangspunt dat ’n kleiner kultuurgemeenskap se toekoms die beste bevorder kan word deur dit aan ’n moderne territoriale staat te verbind. Hierdie uitgangspunt het waarskynlik die kiemsel bevat van sowel die hoogtepunt as die laagtepunt van die Afrikanergeskiedenis tussen 1948 en 1994, naamlik republiekwording in 1961 en die latere politieke mislukking van apartheid.

Op gevaar van vereenvoudiging af kan aangevoer word dat die vraag na die politieke toekoms van die Afrikaners deur hulle geskiedenis heen op twee maniere beantwoord is. Volgens die een perspektief is die ideaal dat Afrikaners hulle lot self as kleiner gemeenskap bepaal; volgens die ander dat hulle hul by die groter sentrum moet inwerp. Die negentiende-eeuse stigting van die Boere- en ander kleiner republieke is een voorbeeld van die eerste perspektief, terwyl om in die skadu van die Britse Ryk skuiling te soek ’n voorbeeld van die tweede perspektief is. Maar wat as Afrikaners ’n posisie tussen hierdie twee pole opsoek deur voortdurend tussen die kleiner rand en die groter sentrum te bemiddel?

In wese is dit wat Danie Goosen in hierdie omvattende, meesleurende boek voorstel. Afrikaners, sê Goosen, was nog altyd mense van die tussen, en dit het tyd geword dat hulle hierdie tussenposisie bewustelik en skeppend ontgin. Maar wat beteken dit?

Om dié vraag te beantwoord, neem Goosen sy leser op ’n lang, boeiende omweg via die tradisie na die moderniteit. Hoekom? Omdat hy redeneer dat die posisie en toekoms van Afrikaners – en van Suid-Afrika – vandag nie deurdink kan word sonder ’n detailbeeld op die onderliggende idees wat Afrikaners en Suid-Afrika as tussenmense in ’n tussenland gevorm het nie. Hiermee lewer Goosen ’n groot bydrae tot die strewe om anderkant die oorvloed kitsontledings van ons tyd te tree.

Daar is twee ander redes waarom hierdie tydige boek uitstaan. Die eerste rede hou verband met ’n saak wat Goosen betreklik skrams aanraak, naamlik die liberale wending onder veral Afrikaner-sakelui, -politici en -akademici sedert die laat jare sewentig van die vorige eeu. In die geval van die Afrikaanse universiteitswese het hierdie wending die vorm aangeneem van die grootskaalse omhelsing van postmoderne denkers soos Nietzsche, Heidegger en, meer onlangs, Derrida, Foucault, Deleuze en Lyotard.

By nabetragting is hierdie omhelsing te verstane: Tydens waarskynlik die verstikkendste dekade in Afrikaners se politieke geskiedenis – 1980–1990 – het talle Afrikaner-filosowe, -skrywers, -kunstenaars en -akademici in die postmoderne beweging instrumente gevind waarmee strakke magshiërargieë en die sogenaamde groot verhaal wat alles moet verklaar – soos apartheid en sy staat – bevraagteken kon word. Goosen self, wat sy proefskrif in die vroeë jare tagtig oor Nietzsche voltooi het en daarna tot met die laat jare negentig een van die voorste Afrikaanse vertolkers van Heidegger en Derrida geword het, het ook hierdie koers ingeslaan.

In sy eie denke kom daar egter ’n wending aan die einde van die jare negentig, waarmee hy in sy geslag iets soortgelyks as in ’n vorige geslag die onvolprese Marthinus Versfeld ondergaan. Dit is naamlik ’n herontdekking van die klassieke denke in die algemeen en die Christelike Middeleeue in die besonder. Hierdie wending by Goosen is onlosmaaklik van die besef dat die postmodernisme ten diepste die modernisme handhaaf en op wanhoop en politieke uitsigloosheid moet uitloop, al is dit hoe speels.

Goosen se magistrale werk, Die nihilisme. Notas oor ons tyd (2006), verteenwoordig die eerste opbrengs van sy wending tot die Christelike tradisie. Sonder om dit ooit andersins as met subtiele suggesties te kenne te gee, het Goosen reeds in daardie werk die moedeloosheid en uitsigloosheid wat onder Afrikaners in die besonder en die wêreld in die algemeen posgevat het, getakel met ’n boek wat uitweë uit die onbehae van ons tyd aangedui het.

Nou, agt jaar later, plant Goosen met hierdie boek ’n tweede mylpaal op sy reis vanaf die tradisie na die toekoms vir die Afrikaanse leser. Anders as in Die nihilisme spel hy hierdie keer die konkrete politieke implikasies vir Afrikaners binne die eietydse Suid-Afrika uit.

Die tweede rede waarom hierdie boek uitstaan, is dat Goosen hier op vreeslose wyse probeer om ’n uitdaging op te neem wat geen selfrespekterende Afrikaner kan vryspring nie, naamlik om met apartheid in die reine te kom. Ofskoon apartheid allermins die hoofonderwerp van die boek is, word dit op meesleurende, dapper wyse in die laaste afdeling behandel as simptoom van die Afrikaners se verleiding deur die modernisme. Goosen is nie die eerste om aan te voer dat apartheid ’n poging tot modernisering was nie, maar hy is wel die eerste om aan te toon dat apartheid berus het op ’n bykans ongemerkte verskuiwing vanaf ’n politiek gerig op die transendente na ’n politiek gerig op die self. Die genealogie van apartheid wat Goosen met behulp van die filosofiese teologie in hierdie boek ontwikkel, sal waarskynlik die gesprek oor die wat en die waarom van apartheid op beslissende wyse beïnvloed.

Goosen se boek verteenwoordig saam met Z.B. du Toit se Die nuwe toekoms (2000) en Koos Malan se Politokrasie (2012) mylpale in die Afrikaners se politieke denke sedert 1994. Waar Du Toit Afrikaners se politiek aan die hand van die beste eietydse denke oor minderhede en die demokrasie beskou het, en Malan dit doen aan die hand van deurtastende eietydse kritiek op die territoriale staat, doen Goosen dit hier in gesprek met die voorste eietydse denkers oor die klassieke en Christelike tradisies. So slaan elk van die drie werke ’n brug oor die kloof tussen Afrikaners en die leidende internasionale gesprekke wat tydens die nou vergete, maar steeds gevoelde kultuurboikot van die jare sewentig en tagtig ontstaan het.

In die geval van hierdie boek word dit gedoen met groot geduld met die leser, sowel die filosofies ingewyde as die leek, in klinkende, poëtiese Afrikaans. En so is ’n denkpad tussen die Scylla van liberale individualisme en die Charybdis van neo-nasionalisme vir eietydse Afrikaners oopgemaak, wat die verlede van die toekoms op boeiende wyse ontsluit.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!