Kom kyk hoe lyk ons Tolhuis, sê trotse span

Onderhoud van die maand: Joshua na die Reën
Mei 19, 2015
Kultuurboeke gewild onder versamelaars, toon veiling
Junie 18, 2015

deur Jackie Kruger, soos verskyn in Die Burger, Vrydag 15 Mei 2015

11060888_861118153959988_1667277586343081033_n’n Restourasieprojek om een van die Suid-Kaap se oudste bakens vir die nageslag te bewaar, is Donderdag deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vereer.

Die jare lange projek om die Tolhuis in die Montagupas buite George tot sy oorspronklike glorie te herstel, het die laaste paar maande eers vlerke gekry. Dit is danksy Gerda Stols, ’n plaaslike inwoner, en die organisasie Vriende van die Tolhuis. Verskeie mense en sakeondernemings in die Suid-Kaap het met die projek gehelp.

“Ek is ongelooflik trots,” het Stols Donderdag aan Die Burger gesê toe die deure van die “nuwe” Tolhuis, kompleet met houtvloere en ander klipwerk, oopgegooi is vir ’n besoek deur dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK.

Langner het ’n toekenning en sertifikaat aan die Vriende van die Tolhuis oorhandig. “Die FAK wil dankie sê dat julle dié monument vir ons kinders bewaar,” het hy gesê.

Volgens hom besef die FAK erfenisterreine is onder groot druk. “Daar is min ondersteuning vir erfenisorganisasies in gemeenskappe wat self reuse-projekte aanpak.” Volgens hom getuig die projek van mense se liefde vir geskiedenis en deursettingsvermoë.

Die geselligheid is bygewoon deur verskeie hooggeplaastes, onder meer Charles Standers, burgemeester van George, en Marie Ferreira, burgemeester van Mosselbaai.

Stols het gesê dit is ’n ongelooflike oomblik om by die punt te kom waar ’n mens kan sê: “Kom kyk hoe lyk die Tolhuis. Daar is soveel stories tussen dié mure dat ons boeke vol kan skryf.”

Sy het al die betrokkenes bedank. Die organisasie se volgende mikpunt is ablusiegeriewe, parkeerplek en later ’n museum. Die doel is nie om geld te maak nie, maar om iets vir die nageslag te bewaar.

Die Tolhuis is in 1845 gebou. Tolgeld is verhaal van transportryers wat met hul diere oor die pas gery het om goedere in die binneland te gaan verkoop.

Dit is in 1971 tot ’n na­sionale gedenkwaardigheid verklaar, maar het oor die jare heen erg agteruitgegaan.

Die Wes-Kaapse Erfenisraad het toestemming vir die restourasie verleen.

Volg die skakel: http://www.netwerk24.com/nuus/2015-05-15-kom-kyk-hoe-lyk-ons-tolhuis-s-trotse-span

0 Comments

  1. Chris sê:

    ‘n Opregte grooooot dankie aan die Tolhuis span vir die inisiatief en omgee vir ons kultuur asook ons geskiedenis wat so skokkend subjektief die afgelope tyd in die media uitspeel.

    Chris

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!