Onderhoud van die maand: Joshua na die Reën

‘Milnerisme weer by UV gepleeg’
Mei 19, 2015
Kom kyk hoe lyk ons Tolhuis, sê trotse span
Mei 19, 2015

deur Hannie Boshoff

Hoe lyk die toekoms vir Afrikaans oor die algemeen vir jou?

Ek is vreeslik opgewonde daaroor … veral omdat ek voel dat Afrikaans nog soveel het om te bied in baie verskillende aspekte en ek glo dat as ons toelaat dat dit wat in ons harte is, uitkom in Afrikaans, dit ’n besonderse reis sal wees.

Waarom het jy besluit om in Afrikaans jou loopbaan af te skop?

Ek wou graag die uitdaging aanvat om iets in Afrikaans te doen waarvan ek regtig hou … en ek moet sê dat ek nooit in ’n ander taal sal wil skryf nie!

Wat geniet jy die meeste van jou professie?

Die reis … die mense … die uitdagings … die weer en weer opstaan as mens soms voel jy is nie goed genoeg nie. Om op ’n verhoog te kan staan en iets van my hart te wys. En dan die kans om iets vir mense te beteken.

Waar het jy jou eerste blootstellingsgeleentheid ontvang?

As Joshua na die Reën het ek my album opgeneem met baie twyfel en onsekerheid in my hart. Ek het gewonder of mense daarvan sou hou, maar ek het nooit geskryf sodat mense daarvan hou nie. Ek het geskryf wat in my hart is. Alishia van Deventer van Starburst Promotions doen my PR-werk vir my en sy het my ingeskryf vir die Ghoema-toekennings. Ek is toe in drie kategorieë benoem waarvan ek twee gewen het! Van daar af was alles makliker… al dink ek dat al die harde werk voor dit wel die rede daarvoor was.

Wat beteken kultuur vir jou?

Dit definieer ’n sekere deel van ’n mens. Ek is nie seker of dit altyd so goeie ding is as mense net bly vashou aan hul eie kultuur nie. Ons is tog almal mense … miskien is daar vir my baie kulture in kultuur.

Wat volgens jou is noodsaaklik om Afrikaans lewendig te hou en onder die jeug aan te moedig?

Dat mense hulle harte volg, eerder as om iets te probeer namaak!

Wat inspireer jou die meeste?

God se skepping

Wat is jou gunsteling Afrikaanse kinderliedjie?

“Wouter Kabouter” van Carike Keuzenkamp

Wat is jou gunsteling Afrikaanse nagereg?

Malvapoeding

Wat is jou gunsteling Afrikaanse sêding of frase?

Soos mis voor die son verdwyn.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!