Afrikaners gedenk 22 000 konsentrasiekampkinders

Karel Schoeman ontvang die NP van Wyk Louw toekenning
Junie 19, 2015
Afrikaanse Skole-Ekspo: Afrikaans tweedetaalsprekers welkom
Junie 19, 2015

Kampkinders in Norvalspont konsentrasiekamp se skool

deur dr Danie Langner

Kampkinders in Norvalspont konsentrasiekamp se skool

Kampkinders in Norvalspont konsentrasiekamp se skool

Dit is merkwaardig dat die datum, 16 Junie, betrekking het op twee prosesse wat ’n groot invloed op talle kinderlewens gehad het en tot die groot traumas van die Suid-Afrikaanse geskiedenis behoort.

Die foto van die sterwende Hector Pieterson wat tydens die Soweto-opstand op 16 Junie 1976 deur ʼn medeskolier gedra word, het vir baie Suid-Afrikaners die stryd teen Apartheid verbeeld. Verskeie kinders is in die gewelddadige opstande dood waar uiteindelik sowat 600 mense gesterf het.

Vanjaar, 115 jaar gelede, het die Britse imperialis, Lord Frederick Sleigh Roberts op 16 Junie 1900 die beleid van verskroeide aarde amptelik afgekondig. Brittanje het besef dat die oorlog teen die Boere-guerrillas veel langer duur as beplan en moes ’n ander plan maak om die Boeremagte se beweeglikheid in te perk. Alhoewel plaashuise naby strategiese punte soos spoorlyne en treinbrûe op beperkte skaal voor Junie 1900 afgebrand is, het Lord Roberts op 16 Junie 1900 die amptelike opdrag vir die verskroeideaarde-taktiek gegee. Die bevele was duidelik. Plase moes op grootskaal afgebrand en dorpe ontruim word. Huise en veestapels moes vernietig word. Die burgerlike bevolking moes met treintrokke, ossewa of per voet na konsentrasiekampe weggevoer word en sou as oorlogsgevangenes behandel word. Bejaarde en verswakte mans sou as werkers in die kampe optree. Op dié manier wou die Britte die Boerekrygers se moed breek deur middel van hul vroue en kinders se lyding en die afsny van hul ondersteuningsbasis op plase.

Lord Roberts se bevel vir ʼn uitgebreide verskroeideaarde-taktiek was die direkte gevolg van generaal De Wet se sukses tydens die Slag van Roodewal, soos dit in die Tweede Vryheidsoorlog bekend was. Roodewal is ʼn spoorwegstasie in die Koppies-distrik, 55 km noord van Kroonstad op die pad na Vereeniging. Hier het generaal De Wet ʼn Britse voorradetrein en talle Engelse troepe krygsgevange geneem en ʼn enorme voorraad ammunisie en proviand vernietig. Die skade wat Brittanje hier gely het, is op ongeveer £750 000 geskat. Hierdie slag het Lord Roberts, wat Pretoria twee dae vantevore beset het, se planne om met die Transvaalse republikeinse leiers te onderhandel, heeltemal in die war gestuur.

Die eerste plaas wat ná Roberts se bevel op 16 Junie afgebrand is, was die plaas van generaal De Wet naby Koppies. Die verskroeideaarde-beleid het die twee voormalige Boererepublieke ekonomies vernietig. Binne ’n paar maande is die Vrystaat en Transvaal verander in ’n wildernis.

Fauresmith, Bothaville, Bultfontein, Heilbron en Fouriesburg is in geheel verwoes. In Bethulie het daar slegs een bewoonbare huis oorgebly. In Frankfort het daar net agt huise bly staan. Dit was die geval in die meeste dorpe.

Daar is bereken dat meer as 60 000 huise en 30 000 plase afgebrand is.

Voor die oorlog het Transvaal konserwatief bereken 1 000 000 beeste, 200 000 perde en 1 500 000 skape gehad. Na die oorlog was die getalle onderskeidelik 200 000 beeste, 50 000 perde en 400 000 skape.

Dit was egter vroue en kinders wat die duurste prys vir die vernietigingstaktiek moes betaal. Ongeveer 118 000 Afrikaners en 43 000 swart mense moes in haglike omstandighede in konsentrasiekampe oorleef. Van die getal konsentrasiekampinwoners het ongeveer 22 074 kinders, 4 182 vroue, 1 500 bejaarde mans en minstens 14 154 swart mense in konsentrasiekampe gesterf. Na afloop van die Anglo-Boereoorlog was daar sowat 20 000 weeskinders in die voormalige Republieke.

Die hoofoorsake van konsentrasiekampsterftes was geen seep of waswater nie, te min kos, vrot vleis, geen groente of vrugte nie, geen doeltreffende geneesmiddels nie, onvoldoende huisvesting in tente wat geen beskerming gebied het teen koue, wind, hael, sneeu of teen die skroeiende son nie. Die kampe se sanitasie was uiters onvoldoende en het vinnig die teelaarde van siektes en infeksies geword. Daarby was die kampinwoners oorgelaat aan die sorg van dikwels onbekwame kampbestuurders en onvoldoende mediese personeel. Teen die einde van 1901 was die meeste kinders onder 2 jaar en verswakte bejaardes oorlede. Sir Henry Campbell-Bannerman het in die Britse parlement die beleid van verskroeide aarde veroordeel met die woorde: “It is an offence against civilization, as a military mistake and as a political disaster.”

Boonop het Lord Alfred Milner het met behulp van die direkteur van onderwys, Edmund Bale Sargent, die haglike omstandighede uitgebuit en deur te poog om die duisende kampkinders deur middel van onderwys te verengels en hulle in die Britse kultuur in te lyf. Die onderrigtaal in kampskole was slegs Engels, al was die meeste onderwysers Afrikaanssprekend. Die taktiek was gedeeltelik suksesvol. Kort voor lank het die Afrikaners hul speletjies in Engels begin speel, Engelse rympies opgesê en Engelse liedjies gesing.

Kinders het ook Engels met mekaar gepraat as hulle aan sportsoorte soos krieket, tennis en kroukie deelgeneem het. Skole-inspekteurs het die aanbied van geskiedenis as vak ontmoedig. Tydens ’n konferensie van skole-inspekteurs op 13 Augustus 1901 in die verowerde Pretoria is eenparig saamgestem dat die Suid-Afrikaanse geskiedenis ongewens was. Aardrykskunde is as vak gebruik om vir die kinders te leer hoe ’n klein deeltjie Transvaal en Vrystaat van die aardbol is, teenoor die groot Britse Ryk waaroor die son nooit sak nie.

Weeskinders by Norvalspont

Weeskinders by Norvalspont

Die eerste amptelike konsentrasiekampskool in Suid-Afrika is in Februarie 1901 op Norvalspont geopen. Daar was reeds ’n Hollandse privaat skooltjie op Norvalspont, maar dit is binne twee maande doodgedruk. Die kampkommandant het twee groot markiestenste tot beskikking gestel en Sargent het skoolboeke vanaf Kaapstad laat kom. Sargent het die ouers se misnoeë oor Engels as onderrigtaal probeer paai met die toegewing dat godsdiensonderrig in Hollands sal wees. Nadat die onderwyseksperiment op Norvalspont geslaag het, het Sargent die onderwysbeleid by ander kampe geïmplementeer.

KINDERS DRINK SOP IN NORVALSPONT

KINDERS DRINK SOP IN NORVALSPONT

Die verskroeide aarde is in Suid-Afrikaanse konteks ’n treffende metafoor vir onverdiende lyding. Die verskroeide aarde is nie net ’n gevolg van ’n vernietigende oorlog nie, maar ook ’n simbool van seerkry, swaarkry en lyding waarmee elke mens iewers in die lewe gekonfronteer word. Die verskroeide aarde kan soms onverwags ’n deel van ’n mens se lewe afbrand. ’n Verskroeide aarde is nooit regverdig nie. Jy vra nie daarvoor nie. Jy het dit nie gekies nie. Dit is hard. Dit is seer. Dit is swaar. Die verskroeide aarde konfronteer elke mens egter met die universele vraag: Hoe hanteer jy jou verskroeide aarde? Die vraag oor keuses in ’n verskroeide aarde is relevant vir elke mens. Dit is ’n vraag wat elke mens, volk en selfs land in ’n stadium moet beantwoord. Niemand kan sy verskroeide aarde kies nie, maar mens het ’n keuse hoe jy jou verskroeide aarde gaan hanteer. Keuses te midde van ʼn verskroeide aarde kan toekoms skep of toekoms vernietig.

Na afloop van die allerverwoestende Anglo-Boereoorlog was Afrikaners ’n getraumatiseerde gemeenskap. Hulle was militêr verslaan, polities onmagtig, ekonomies verarm en kultureel bedreig. Tog skryf TC Pienaar in 1904: “Die volk was moedeloos omring deur duisternis; nêrens was daar ’n straal van hoop meer nie. Maar in die as van die verbrande wonings het die vuur nog gesmeul; in die hart van die nasie het die wil om weer op te staan, nog flou gepols.” Afrikaners het die oorlog verloor, maar die vrede gewen. Hulle het niks van die Britse oorwinnaars ‘demand’ nie, maar uit die ashope van die verskroeide aarde met selfhelpplanne en selfdoenaksies opgestaan. Geen regering, beleid of parlement het ’n opdrag aan Afrikaners gegee om kultuurorganisasies soos die Tweede Afrikaanse Taalbeweging, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die FAK, ATKV, die Reddingsdaadbond, Sanlam, Santam, Volkskas, Die Burger, Die Volksblad of Die Voortrekkers te stig nie.

Met vryheid as dryfkrag om in Afrikaans te mag lees, praat en sing, het ’n Afrikaanse Bybel, ’n Afrikaanse radiostasie, Afrikaanse koerante, ’n Afrikaanse liedereskat in ’n FAK-Sangbundel, asook ’n magdom van Afrikaanse tydskrifte, gedigte en boeke gevloei. In die woorde van wyle Elize Botha “tot heil van miljoene”.

Met politieke vryheid as dryfkrag het Afrikaners demokrasie in Afrika gevestig deur vele politieke partye en belangegroepe te stig en te steun.

Met ekonomiese vryheid as dryfkrag het Afrikaners Volkskas, Sanlam, Santam, die Rembrandt-groep, Federale Volksbeleggings, SASOL, YSKOR en vele ander nywerhede gestig.

Met vryheid as dryfkrag vir selfhelp, het Afrikaners met die Helpmekaarfonds, Reddingsdaadbond en vele ander maatskaplike instellings die greep van armoede twee keer in een eeu gebreek.

Met denkvryheid as dryfkrag het Afrikaners in vyf dekades wêreldgehalte Afrikaanse skole, universiteite en tersiêre kolleges gestig, en Afrikaans tot ’n volwaardige wêreldgehalte- akademiese taal uitgebou.

Met positiewe selfdoen keuses het Afrikanerkinders wat die kampe oorleef het binne vier dekades hulle verskroeide aarde herskep. Hierdie geslag se taal, kulturele en ekonomiese nalatenskap dra vandag steeds goeie vrugte waarvan Afrikaners steeds die kulturele kapitaal kan ontgin. Op Jeugdag onthou Afrikaners die meer as 22 000 kampkinders wat gesterf het, maar vier ook die nalatenskap van die kampkinders wat oorleef het. Uit die ashope van hulle verskroeide aarde het hulle deur harde dienswerk ʼn Afrikaanse taal en kultuur gevestig, ekonomies opgestaan en ʼn politieke oplossing vir hulle en hulle kinders beding. Dit is alles inspirerende verhale wat vertel van geloof, moed, deursettingsvermoë en oorwinning.

Soos verskyn op Maroela Media, 16 Junie 2015.

0 Comments

  1. Anina Kotze sê:

    Ek is juis tans besig met navoring oor die Anglo-Boereoorlog en die konsentrasiekampe. Selfs tussen al die informasie wat ek reeds ingesamel het, het ek in hierdie gedeelte nuwe inligting gevind.

    Baie dankie

  2. Johan de Lange sê:

    Wonderlik om weer herinner te word aan wat ons voorouers moes deurgaan maar ook weer kon opstaan en trots wees en fondasies lé waarop n wonderlike unieke Afrikanasie gebou is wat sy merk deeglik in SA en die res vd gelaat het!

  3. Esme Randall sê:

    Ek weet dit waar want my oorlede ouma met haar tweeling seuns was in ‘n konsentrasie kamp. Die inligting van watter een is verlore, maar ek weet die tweeling is dood in die kamp. Nou die dag toe lees ek dat daar gese is in England dat dit nooit gebeur het nie. Tragedie

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!