’n Hart wat altyd Blou sal klop
Junie 19, 2015
Karel Schoeman ontvang die NP van Wyk Louw toekenning
Junie 19, 2015

deur Alita Steenkamp

Soos verskyn in die Vrouekeur, 5 Junie 2015

’n Mens kan die mooiste liefdesverhaal oor Chris Chameleon en Daniella Deysel se ontmoeting skryf. Die plek? Die mooie Stellenbosch, die studentedorp aan die hang van Helderberg waar klein straatkafeetjies langs die boomryke strate propvol studente en toeriste sit. Dan stap ’n gewilde musikant een van daardie kunskafees binne. Voor die klavier sit daar iemand wat besig is om musiek te maak vir die mense in die eetplek. Teen een van die mure staan ’n mooi blonde meisie met uitsonderlike groen oë wat die musiek ooglopend geniet. Die meisie vang dadelik die musikant se oog. Nie net weens haar skoonheid nie, maar juis oor die feit dat sy alleen daar staan en totaal gemaklik is in haar enkelheid. En dan ontmoet hulle oë…

Dis heerlik om te weet dat Chris sy hart op die mooie Daniella verloor het, en dat sy presies dieselfde oor hom voel. Chris vertel hy het aanvanklik vir ’n hele rukkie bontgestaan toe mense wou weet of hy en Daniella romanties verbind is. Hy is iemand wat nog altyd gesê het dat daar by hom geen heilige koeie is nie, en dat hy ook nie jok nie, maar tog het hy eers van ’n direkte antwoord weggeskram. “Ek weet hoe om te kolf en ek weet hoe om te blok. Ek slaan nie altyd ’n ses nie,” sê hy met ’n breë glimlag. Die enigste rede waarom hy vir eers die verhouding verswyg het, was dat hy graag wou hê Daniella moes eers self haar merk maak en mense oortuig van haar eie talent. Chris was self aanvanklik heel verras toe hy uitvind van die kreatiewe kant van Daniella en deesdae is dit vir hom heerlik om te sien dat sy genoeg kanse kry om haar talent met ander mense te deel. Aanvanklik het hy die musiek by haar gedigte geskryf, maar deesdae gebeur dit soms ook dat hy die woorde skep, en sy dan die melodie daarby voeg. Die pragtige CD Posduif was ’n heerlike saamwerkpoging tussen hierdie twee kunstenaars.

Vir Chris is dit baie lekker om ’n verhoog met Daniella te deel. Die twee het aan die begin van 2014 saam begin optree en die vertoning waarmee hulle oral optree, Drie Vriende, is baie gewild. Die drie is Chris en Daniella en Sarel Fourie. Chris vertel Sarel is ’n bektrek kunstenaar, let wel nié ’n backtrack kunstenaar nie. So ’n regte doef-doef skollie met hope energie en baie entoesiasme. Sarel bring ’n heerlike minder gesofistikeerde dimensie na hierdie vertoning. Hierdie karakter is gebore uit die rolprent Fanie Fourie’s Lobola waar Chris die broer van die hoofkarakter in die fliek gespeel het. En nou toer hierdie karakter oral saam met hom en Daniella.

Oor die samewerking met Daniella sê Chris: “Dis heerlik om musiek te maak saam met Daniella. Sy is ongeveer 20 jaar jonger as ek en sy kom uit ’n ander tydvak en het ’n ander verwysingsraamwerk. Buiten die feit dat sy jonk en pragtig is, is sy ’n Namibiër en dit dra ’n ander dimensie tot die vertoning by. Ek kan nie self twintig jaar jonger wees nie en ek is ook nie mooi en blond nie. Dit is vars en vernuwend vir my en dit bied aan my die moontlikheid om my beskouinge en my vaardighede in ’n ander uitingsvorm te giet.”

Daniella knik haar kop instemmend. Ook vir haar is dit baie spesiaal om die verhoog met Chris te deel. “Daar gaan nie ’n dag verby wat ek nie verstom staan oor hierdie voorreg nie. Saam met hom sien ek die hele Suid-Afrika wat natuurlik baie lekker is, maar dit is heerlik om saam met Chris op te tree. Die gehore wat hy trek is van ’n hoë gehalte en dit is vir my heerlik om te weet daardie mense hoor ook my musiek.”

Die een ding wat Chris en Daniella beslis deel, is hulle liefde vir ons pragtige Afrikaanse taal wat in Meimaand ’n negentigste verjaarsdag as amptelike taal gevier het. Chris en Daniella het by ’n spesiale geleentheid ter viering van hierdie prestasie by die FAK se liedjietuin by die Voortrekkermonument opgetree. Vroeër vanjaar het hulle ook saam gewerk aan ’n dokumentêre program oor Afrikaans in Namibië en Daniella het ’n kans gekry om medeaanbieder te wees. Sy is egter geen nuweling voor die kamera nie en het al rolle vertolk in sepies soos Villa Rosa en Binnelanders. Daniella het drama studeer aan Universiteit van Stellenbosch en daar is vir haar weinig dinge so lekker soos om in die skoene van ’n karakter te klim, hetsy op die verhoog of voor die kameras. Hopelik sal ons veel meer van haar op die kassie te sien kry.

Die liefde vir Afrikaans wat Chris so besonder mooi in sy lied, Taal van die Liefde bely, is egter nie bloot net lippetaal nie. Hy praat ’n keurige, suiwer Afrikaans wat maar skaars geword het onder Afrikaanssprekendes. Chris is ook baie trots op die feit dat hy die beskermheer is van die FAK se liedjietuin. Dis juis omdat Afrikaans hom so na aan die hart lê wat hy bereid is om hom te skaar by ’n organisasie soos die FAK wat hard werk om Afrikaans se toekoms te verseker.

“Die behoud van ons taal is vir my baie belangrik en dit pas in by my algemene bewaringsagenda. Ek is ook baie betrokke by natuurbewaring en herwinning, bewaring op vele terreine. Tog gaan dit nie net oor die behoud van Afrikaans nie, maar veel breër. Elke taal is ’n klein organisme in die menslike ekologie. Indien ’n klein paddatjie op Tafelberg se hange uitsterf, sal die gevolge daarvan in die ekologie enorm wees maar die mens sal dit eers veel later agterkom, wanneer die skade onomkeerbaar is. Indien enige taal of kultuur in die wêreld uitsterf, sal die gevolge eweneens eers veel later gesien kan word. ”

Daniella voeg dan gou by hoe sy en Chris, wanneer daar ’n Engelse woord in die geselskap opduik, sal soek na die korrekte Afrikaanse woord. Al het sy in Namibië in Engels skoolgegaan, het haar ouers seker gemaak daar word Afrikaans in die huis gepraat en vandag skryf sy die mooiste poësie in Afrikaans.

Die twee deel ook ’n liefde vir die natuur en die buitelug. Dis vir hulle heerlik om te stap en daar gaan byna nie ’n dag verby wat hulle nie sommer net vir ’n uur lank iewers gaan stap nie. Wanneer hulle by hulle blyplek in Linden is, sal hulle iewers in een van die parke gaan stap of sommer net die pad vat na die watertoring wat daar bo Linden uittroon. Die kere wat hulle op Chris se plaas naby Verkykerskop in die Vrystaat is, geniet die twee dit om die Vrystaatse vlaktes vol te stap.

“Kleintyd wanneer ons gesin in die motor gery het, het my pa en ma altyd vir ons gesê om te kyk hoe mooi alles buite ons is. Namibië is ’n pragtige land met die mooiste natuurskoon. Tog het ons baie keer in Suid-Afrika kom vakansie hou en ek het vroeg reeds my hart op Suid-Afrika verloor,” sê Daniella. Na skool het sy dus nie eenmaal getwyfel om te weet waar sy haar tersiêre onderrig wil ontvang nie.

Die twee vertel hulle het aan die begin van die jaar sekere doelwitte vir hulself gestel en tans is hulle baie goed op dreef met die bereiking van hierdie doelwitte. “Ons het besluit om ons lewens met positiewe dinge te vul, met lig en met mense wat positief tot ons lewens gaan bydrae. Dis belangrik om jou lewe te vul met mense wat opreg is en wat omgee vir jou. Wat nie net iets van jou wil hê of jou energie probeer steel nie,” sê Daniella.

Vir Chris is Daniella juis vir hom so ’n besondere maat omdat sy nie net sy liefde vir die natuur en vir kennis en ons pragtige taal deel nie, maar omdat sy geestelik so ’n inspirasie vir hom is.

“Daniella maak tans ’n wonderlike bydrae in my lewe om my kop op ’n geestelike vlak so oop te skiet. Na my mening is die geestelike deel van ’n verhouding van kardinale belang. Ons is ook wonderlike maats. Wanneer ons van Johannesburg af Kaap toe ry, is ons vir veertien vyftien ure in die kar en dan sal ons al die pad ry sonder om die radio aan te skakel, behalwe om net so nou en dan na ’n nuusbulletin te luister.

Ek dink dis ’n goeie teken indien ’n mens so lank gemaklik in mekaar se geselskap kan wees. Ons is natuurlik ook albei fynbesnaarde kunstenaars, maar die skakelpunt wat al ons probleme oplos en die kreukels uitstryk, is die geestelike sy van ons lewe. Dis wonderlik om iemand in my lewe te hê wat my in sovele opsigte aanvul. Lekker lag, lekker lees, goeie kos, goeie koffie, wonderlike geselskap en spesiale musiek is ons raakpunte. Waarvoor meer kan ’n mens vra?”

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!