Karel Schoeman ontvang die NP van Wyk Louw toekenning

Chris se liefdes
Junie 19, 2015
Afrikaners gedenk 22 000 konsentrasiekampkinders
Junie 19, 2015

deur dr JOHANN ROSSOUW

Soos verskyn in die Volksblad op 12 Junie 2015

Die FAK het op 11 Junie, op Van Wyk Louw se verjaarsdag die NP van Wyk Louw-eerbewys vir die bevordering van die Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis aan Schoeman toegeken. Lank voordat sogenaamde sosiale geskiedenis toonaangewend geword het, in ’n era waarin ’n geskiedsbeeld vol groot manne en monumente nog oorheers het, het Schoeman geduldig begin om veral die negentiende-eeuse Bloemfontein, die sentrale en suidelike Suid-Afrikaanse binneland van die sewentiende tot die negentiende eeu en die vestigingsjare van die Kaap te rekonstrueer.

Met sy geskiedskrywing het Karel Schoeman ’n manjifieke blik op veral die klein mensies en die vergete stemme van die wye en droewe land gegee. Só skryf dr. Johann Rossouw in sy commendatio vir die FAK en Bloemfonteinse Afrikanerkultuurraad (BAK) se eerbewys aan Schoeman.

Die FAK het in samewerking met die BAK op 11 Junie by die Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein persone vereer wat uitstekende bydraes op verskillende gebiede in Afrikaanse kultuurorganisasies lewer. Hierdie is werklik ’n groot eer en ’n prestige vertoonvenster van individue wat konstant nog uitnemende diens lewer aan hulle onderskeie organisasies en gemeenskappe.

Die gasspreker was prof. Danie Goosen en eretoekennings is aan mnr. Karel Schoeman, mev. Corrie Scheepers, mev. Maretha Maartens, mnr. Josias Swanepoel, mev. Kobie Colditz en ds. Retief Botha oorhandig.

Hier verdien die magistrale werk wat Karel Schoeman oor slawerny aan die Kaap die laaste vyftien jaar verrig het, besondere vermelding, omdat dit ons herinner hoe diep daardie ongelukkige geskiedenis Suid-Afrika én Afrikaans tot vandag toe raak.

Ook die onvergeetlike beeld op die nou vergane, eenvoudige Afrikaanse plattelandse wêreld wat Van Wyk Louw gevorm het, wat Schoeman gegee het met sy boek Die wêreld van die digter, moet uitgesonder word.

Karel Schoeman is op 26 Oktober 1939 gebore en het sy eerste lewensjare in Trompsburg deurgebring. Ná sy ouers se egskeiding het hy saam met sy moeder na die Kaap verhuis en die grootste deel van sy jeugjare in die Paarl deurgebring, waarna hy ’n B.A.-graad aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat verwerf.

In weerwil van sy oorwegend Kaapse jeug ag hy homself allereers as Vrystater. Die identiteit word daardeur bevestig dat Schoeman ná ’n loopbaan waarin hy hoofsaaklik as bibliotekaris in onder meer Johannesburg, Bloemfontein, Amsterdam, Pretoria en Kaapstad gewerk en gewoon het, hom eers in Trompsburg en eindelik weer in Bloemfontein vestig.

“Ek is die FAK dankbaar vir die onderskeiding ”

Sedert die verskyning van sy eerste fiksie, die novelles Veldslag en In Ballingskap vanjaar vyftig jaar gelede, het Schoeman met verstommende ywer ’n oeuvre van fiksie, geskiedenis, reisbeskrywings en vertalings geskep waarvan die omvang geen gelyke in Afrikaans en waarskynlik min ander tale het nie.

Met sy vertalings het Schoeman baanbrekerswerk gedoen om die Afrikaanse wêreld bloot te stel aan die Keltiese mitologie, die Katolisisme en die Boeddhisme, teen die agtergrond van wat mettertyd by hom geblyk het ’n immer verdiepende verbintenis tot die mistieke te wees.

Vir Schoeman het die reis inderdaad inwaarts gelei, soos hy dit telkemale ook in die mond van sommige van sy fiktiewe karakters gelê het.

Ondanks die grootsheid van sy geskiedkundige werk het Schoeman die meeste lesers se lewe waarskynlik die meeste deur sy fiksie geraak.

Tientalle handgeskrewe romans het uit sy pen verskyn, waaronder ’n Ander land, Afskeid en vertrek, die Stemme-trilogie en Verkenning miskien die sterkste uitstaan.

Soos in sy geskiedskrywing het Schoeman in die meestal geskiedkundige romans sy selfopgelegde taak as getuie van die tye geduldig en toegewyd uitgevoer.

Só het ’n aantal romans ontstaan waarvan die stemming en die ritme nie in Afrikaans nie en ook in min ander tydgenootlike skrywers in ander tale geëwenaar is, met die uitsondering van Marcel Proust.

Soos Proust het Schoeman ’n lewe gewy aan die soeke na die verlore tyd en ’n oeuvre geskep waarin herinnering, en veral die herinnering van stom voorwerpe as getuienis van die vergane, uitstaan: ’n wapperende rooi lintjie in die veld, ’n verroeste pylpunt, ’n klipstapel, bloekombome langs ’n ou pad wat ons en hul planters ondanks alles steeds aan mekaar verbind.

Schoemann se skrywe oor die toekenning:

“Oor die afgelope vyftig jaar het ek ’n onvergelyklike kans gehad om dit wat ek te sê het, in ’n haas eindelose stroom gepubliseerde boeke te verwoord, en selfs noudat my skryfwerk tot ’n einde gekom het, wag daar nog etlike titels op moontlike uitreiking. Dit sou oorbodig wees om vanaand iets aan die stortvloed van woorde te probeer toevoeg, en ek sal dus bondig wees.

Dit is vir my altyd besonder verblydend om van ’n leser van my boeke te verneem iets wat ek geskryf het, was vir hom of haar van persoonlike betekenis. Ewe goed is ek egter dankbaar om van ’n instansie formele erkenning te kry dat my werk in ’n ruimer konteks sin en waarde gehad het.

Waar die erkenning, soos in die huidige geval, aan die einde van my skeppende lewe gegee word, en teen die einde van my menslike bestaan, span dit as ’t ware die kroon op my werk, en ek is die FAK dankbaar vir die onderskeiding. Veral waardeer ek dit dat in dié verband ook na geskiedskrywing verwys is, want oor die jare het ek heelwat meer nie-fiksie as fiksie geproduseer, en die navorsing en skryfwerk daarvoor was vir my steeds besonder vervullend. Dat ek as nie-akademikus van tyd tot tyd formele erkenning op die terrein mag ontvang, verhoog slegs die voldoening.

Ten slotte is dit vir my op persoonlike vlak ’n besondere genoegdoening en ’n eer om danksy die onderskeiding in verband gebring te word met die naam van Van Wyk Louw wat vir my nog altyd die grootste figuur in die Afrikaanse letterkunde is, ’n gedurige voorbeeld vir almal wat hom probeer navolg, en uit eie reg ’n uitsonderlike mens.

Dat ek nie self vanaand aanwesig is om my waardering vir die onderskeiding uit te spreek nie, doen hopelik geen afbreuk aan my erkentlikheid nie, en ek waardeer die begrip wat die FAK se bestuur in dié opsig getoon het.

Ten slotte sou ek graag die geleentheid wil waarneem om, terugblikkend oor ’n halfeeu, almal te bedank wat my gehelp het om dit wat ek gedoen het, gedaan te kry: die ou openbare biblioteek in die Paarl vir die opvoeding wat ek tussen sy rakke mog geniet; my uitgewers en hul personeel oor die jare, veral my huidige uitgewer, wat so idealisties bereid is om my nie-fiksie te publiseer; en die biblioteke in Suid-Afrika en die buiteland waarvan die praktiese bystand vir my onontbeerlik was. In die eerste instansie geld dit die Universiteit van die Vrystaat wat ek ook graag sou wil bedank vir die geldelike steun wat ek met my navorsing mog geniet.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!