’n Hart wat altyd Blou sal klop

Kultuurboeke gewild onder versamelaars, toon veiling
Junie 18, 2015
Chris se liefdes
Junie 19, 2015

deur Alita Steenkamp

Daar is ’n splinternuwe rugbyboek op die rakke, Wynie: My Bloed is Blou. Vir Wynie Strydom was die skryf van hierdie boek, ’n heerlike herinneringsreis.

Heyneke Meyer verwys na hom as Mnr. Blou Bul. Vir 459 wedstryde in ’n ry het Wynie Strydom week na week op die kantlyn gesit wanneer die Bulle in of ’n Superrugby- of ’n Curriebeker-wedstryd gespeel het. Wynie het diep spore in Blou Bul-rugby getrap en vanaf 1997 tot 2013 was hy die spanbestuurder van die Bulle. Tog het sy pad met die Bulle nie eers in 1992 begin toe hy voltyds deur die Noord Transvaalse Rugby-unie aangestel is nie. Veel vroeër, reeds in 1972, het hy vir Noord-Transvaal B in ’n klubwedstryd op Loftus uitgedraf. Ongelukkig het die rooikop skrumskakel nie veel speelkans vir die A-span gekry nie, want dit was die dae toe Naas Botha en Tommie du Plessis die skakelpaar was, en Wynie het menige wedstryd, as reserwe, van die kantlyn af dopgehou. Tog het hy nooit sy entoesiasme vir die spel rugby verloor nie.

Vroeg in 2014 het Wynie uiteindelik die groen lig gegee dat ons kan begin werk aan sy memoires. Van die begin af was dit duidelik dat hy nie bloot net wil gesels oor die tydperk wat hy by die Bulle deurgebring het nie. Sy storie moes heel van die begin af vertel word. Van daar waar hy as ’n klein sproetgesigseuntjie op die dorpie Hendriksdal naby Sabie, pennies op die spoor gesit het om te sien hoe die trein dit plattrap. Vir Wynie het hierdie terugstap in sy eie voetspore uiteindelik baie beteken.

“Die skryf van die boek was vir my ’n manier om al die vriende wat ek oor die jare gemaak het, te bedank vir die voetspore wat hulle in my lewe gelos het. Dit was ook vir my belangrik om die kultuur en tradisies van die Bulle te boekstaaf sodat dit op ’n manier behoue kan bly. Hierdie boek bevat ’n klomp statistiek wat nog nêrens anders in ’n boek gegee is nie. Toe ons begin skryf het aan die boek het ek vir die manne wat saam op die toere was, spelers en bestuurslede, gevra om so ’n bietjie van hulle herinneringe te deel. Ons het van die manne en dames se stories in die boek ingesluit. ’n Mens sit altyd iewers en gesels en dan sal iemand altyd sê: “Ons moet hierdie goed neerskryf!” maar dit word nooit gedoen nie. Nou bevat die boek van daardie lekker stories wat altyd om ’n kampvuur vertel word, ’n stukkie rugbygeskiedenis. Op ’n sekere manier was die skryf van die boek vir my ’n goeie manier om my tydperk by die Bulle af te sluit. Dit is ’n era wat verby is, en met Wynie: My Bloed is Blou, het ek nou ’n punt agter die storie gesit.”

In die boek van 255 bladsye, kyk Wynie terug op sy lewe en goeie tye saam met vriende, maar die inhoud fokus dan veral op sy tydperk by die Bulle. Daar is ’n hoofstuk oor toere waarin sommige van die hoogtepunte op die verskillende toere beskryf word. Een hoofstuk vertel van die tradisies en waar sommige van hierdie tradisies vandaan gekom het. ’n Ander hoofstuk fokus op die afrigters en kapteins. In aparte hoofstukke word daar gekyk na die drie gloriejare van die Bulle: 2007, toe die Bulle in die laaste minuut die Sharks op Kingspark verslaan het om vir die heel eerste maal die Super 14-trofee in die lug te hou. 2009, die gloriejaar van die Bulle, toe die Bulle beide die Super 14-trofee en die Curriebeker in die trofeekas op Loftus kon huisves. En ook 2010 toe die Bulle moes opmars na Orlando om die Super 14-trofee vir die derde keer te gaan haal. Hierdie keer het hierdie trofee ’n permanente staanplek op Loftus gekry, want in 2011 is daar met ’n nuwe kompetisie, die Super 15-kompetisie, begin wat ’n splinternuwe trofee op die spel het.

Nadat Wynie aan die einde van 2013 vir die laaste keer sy kantoordeur, met ’n venster wat op Loftus se middelkolletjie uitkyk, agter hom toegetrek het, het hy geweet sy seisoen by die Bulle is verby. In die voorafgaande Super 15-seisoen het hy die toer aangepak soos nog nooit tevore nie, want hy het geweet dit sou die laaste toer saam met die Bulle wees.

Wynie sê hy is al verskeie kere in die verlede, op verskillende forums gevra om sy hoogtepunte by die Bulle uit te sonder. “Ek sê altyd die wenne was fantasties. Die kere wat ons die Curriebeker gewen het en die drie Superrugby-trofeë. Selfs die jaar toe ons die Bankfin-trofee gewen het, was elke keer baie lekker. Tog was dit nie die lekkerste van alles gewees nie. Die vriende wat ’n mens langs die pad gemaak het, die toere en al die wonderlike saamkuier-tye, daardie kameraderie wat gevorm is, dit is die dinge wat verseker uitstaan.”

Met die werk aan die boek nou agter die rug, fokus Wynie deesdae baie hard daarop om sy gholfvoorgee te verbeter. Hy lag en sê die skryf van die boek het soms baie sleg met sy gholfsessies ingemeng. Tog is hy baie bly dat hy wel die projek aangepak het en hy hoop werklik die boek word ver en wyd gelees. Marlene, die spesiale vrou aan Wynie se sy wat vir jare lank vir die Bulle se spelers kos gemaak het in die restaurant by Loftus, het ook nou die leisels oorgegee aan ’n spyseniersmaatskappy. Dit gee nou vir haar en Wynie kans om die land so ’n bietjie plat te ry, en by al die plekkies uit te kom waar hulle nog nie voorheen was nie.

En wat is Wynie se droom vir die Bulle? “Vir my is dit belangrik dat die Bulle ’n span moet bly wat saamwerk. In die verlede is dit bewys dat elke keer wat die Bulle ’n beker gewen het, was dit omdat hulle as ’n span so goed saamgespeel het en vir mekaar omgegee het. Ek hoop van harte dit sal nooit verlore gaan nie. Daardie spangees en die wil om vir mekaar en vir die afrigter en bestuurspan te wen, moet altyd behoue bly. Dan sal die bekers ook Loftus toe kom.”

Wynie, My Bloed is Blou – Wynie Strydom met Alita Steenkamp

Zebra Press ISBN 978-1-77022-770-5

Word ’n vriend van die FAK teen R50 ’n maand en staan ’n kans om ’n boek te wen. E-pos u naam en kontak-besonderhede na fak@fak.org.za

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!