Afrikaanse Skole-Ekspo: Afrikaans tweedetaalsprekers welkom
Junie 19, 2015
Onderhoud van die maand: Sandra Prinsloo
Junie 23, 2015

deur prof Danie Goosen

Ons is almal bekend daarmee: die kleinlike maar tierende gevegte wat tussen Afrikaners op die sosiale media woed. Ons raas, beskinder en verskreeu mekaar op die webwerwe, op Facebook en op twitter.

Maar nie net op die sosiale media nie. Dit gebeur orals, selfs onder diegene wat beter behoort te weet. So moes ons onlangs hoor hoe selfs die hoof van ’n bekende Afrikaanse organisasie lustig aan die geskinder, die afkraak en karaktermoord op mede-Afrikaners meedoen. In plaas daarvan om ’n voorbeeld van geduld met ons onderlinge verskille te wees, stook hy kwaad sover hy gaan.

Van ons bekendste akademici val hierby in. Die wyse waarop ’n bekende Stellenbosse akademikus onlangs op ’n ewe bekende Bloemfonteinse akademikus oor die kwessie van apartheidsimbole op die kampus van die US geantwoord het, bevestig die punt: Dit is nie die bal wat belangrik is nie, maar die karakter van sy teenstander wat in die grond geboor moet word. Dit nogal in naam van oop en eties begronde denke!

Hoe moet ons hierdie woede teenoor mekaar verstaan? En watter gevolge het dit vir ons as Afrikaners?

As ons eers by laasgenoemde vraag kan begin. NP van Wyk Louw, een van ons grootste digters en denkers, het reeds dekades gelede hierop ’n antwoord gegee. Louw was diep bekommerd oor die kleinlike twiste wat in die sestigerjare tussen Afrikaners gewoed het. Soos die destydse geveggie rondom die vraag of roomyskarretjies hulle klokkies op Sondagmiddae mag lui!

Louw was bykans voelbaar beangs oor die feit dat die ‘Afrikanergedagte’, vanweë die kleinlike binnegevegte, sy aantreklikheid sal verloor. En dat die skeppende geeste onder ons eenvoudig hulle rug op ons sal draai.

Alhoewel ons nie nou hierby kan stilstaan nie, was Louw wat dié vrees betref reg. Verskeie skeppende Afrikaners (skrywers, intellektuele, ensovoorts) het hulle rug vanaf die sestigerjare op die Afrikanergedagte gedraai – tot groot nadeel en verarming van alle Afrikaners.

Louw het reguit gesê dat die kleinlike binnegevegte tussen Afrikaners op ’n selfvernietigingsdrang dui. Die implikasie van Louw se insig is dat dit nie soseer groot ‘objektiewe’ kragte is wat vir die Afrikaners ’n uitdaging verteenwoordig nie (soos ons demografiese agterstand, ons gebrek aan geografiese konsolidasie of ’n falende staat), maar eerder onsself! In sy historiese drama, Die pluimsaad waai ver, stel hy president M.T. Steyn, die hoofkarakter, daarom ook aan die woord: “Só skeur ons ons, so skeur ons ons, / elkeen met sekerheid. / So skeur ons volk homself.”

In sy grootse biografie oor NP van Wyk Louw verwys Jaap Steyn dikwels na Louw se kommer oor dié skeuringe tussen Afrikaners. In ’n bespreking van die beeld wat Louw hier in die mond van die ou president plaas, naamlik ‘skeur’, skryf Steyn as volg daaroor. Omdat dit so treffend is, haal ons hom breedvoerig aan:

Dis ’n beeld wat Louw bygebly het uit ’n boek wat hy in sy jeug gelees het, en wat in die volksverdeeldheid van die jare veertig sterk by hom opgekom het. In ’n “boek van die martelare” het hy dit teëgekom en dit nooit vergeet nie, so gruwelik was dit. Dit is van ’n man op die brandstapel wat in die ergste pyn sy geboeide arms oor sy bors gekruis het en met die naels sy vleis geskeur het …

Die gedagte het hom in die veertigerjare baie gekwel. Die gemartelde wat sy eie vleis verskeur, is die beeld van die Afrikanersvolk van die jare veertig. “Hy word geskeur & hy skeur homself.” Dit lyk asof ons mense een of ander genot van selfpyniging kry, so graag toon hulle die magtelose verdeeldheid aan die wêreld. Is dit tekens van ’n ondergaande kultuur? Is dit die verblindheid, die blinde eiegeregtigheid wat soms gevestigde groepe voor groot omwentelinge beetpak? “By die een soort mens hoor jy: ‘Ek is geen Afrikaner meer nie; ek wil niks met julle te doen hê nie’ (net asof hy deur die wêreld ooit anders as Afrikaners behandel sal word!) By ’n ander soort hoor jy: ‘Van hóm wil ek niks weet nie; hy is nie meer ’n Afrikaner nie’; By baie ander spottend: ‘Julle Afrikaners …’ of ‘ons Afrikaners maak mos altyd maar sus of so’.”

Met hierdie enkele opmerkings uit sy werk het Louw ook ’n antwoord op ons tweede vraag gegee, naamlik hoe die selfvernietigende skeuringe onder Afrikaners verstaan moet word.

In ons eie taal geformuleer kan gesê word dat dit volgens Louw verstaan moet word as simptome van ’n kultuurgemeenskap wat aan patologiese vorme van kollektiewe onsekerheid ly.

Dit is ’n onsekerheid wat oor eeue kom: Onseker of hy die uitdaging van groot en vyandige stamme aan die Oosgrens en in die binneland sal kan hanteer; onseker of hy die militêre en politieke oormag van die Britse Empaaier sal kan hanteer; minderwaardig oor sy eie kulturele diepte in vergelyking met die Britse kultuur en taal; onseker hoe hy op die ‘skuldvraag’ van apartheid moet antwoord, en onseker of hy homself as minderheid in ’n meerderheidskonteks sal kan handhaaf.

Hierdie onsekerheid verduidelik waarom sommige Afrikaners uit die ‘volk’ bedank (in die waarskynlike hoop dat hulle hul sekerheid by ander gemeenskappe, soos die globale Engelse wêreld, sal vind);

Of waarom Afrikaners hulself van hul historiese wortels afsny en hul toevlug tot ’n private bestaan neem (in die hoop dat ’n bestaan agter hoë mure en elektriese drade hul teen alles sal afskerm);

Of waarom andere weer hulself as die enigste Afrikaners uitroep (in die hoop dat hulle in een of ander soort ‘Afrikaner-puurheid’ hul sekerheid sal vind);

En waarom sommige Afrikaners bykans paranoïes waak teen enige Afrikanergroepering wat te suksesvol sou word en wat dus aan ander Afrikaners sou kon voorskryf (so asof hulle eie sekerheid ironies genoeg juis in hul onsuksesvolle instellings opgesluit lê).

Maar hoe gemaak? Ons sluit met een of twee voorstelle. Carel Boshoff, leier van Orania, vertel na ’n onlangse besoek aan Suid-Tirool dat hy aan ’n bekende leier van dié land gevra het waarom hulle ekonomies, sosiaal en kultureel gesproke so ’n buitengewone suksesvolle kultuurgemeenskap is. Die antwoord van die betrokke leier het om twee begrippe gedraai, naamlik ‘geduld’ en ‘eenheid’.

Weer eens in ons eie taal geformuleer: Afrikaners kan hul onsekerheid te bowe kom (en so op ’n betekenisvolle wyse vir hulself intree) as hulle deur die beoefening van geduld jeens mekaar iets soos ’n eenheid-in-verskeidenheid onder mekaar kan bewerkstellig.

Carel kon egter vir die leier van Suid-Tirool gesê het dat NP van Wyk Louw dit reeds geweet het. Louw het immers die versugting na presies so ’n toestand uitgespreek wat dié leier as noodsaaklik beskou:

Ja, ’n mens verlang na ’n toekoms waarin ons Afrikaanse eenheid-in-verskeidenheid by geen Europese kultuur agter sal staan nie.

Hieraan kan egter ’n laaste voorstel bygevoeg word. Waarskynlik sou Louw vandag daarmee saamgestem het.
Ons sal die kollektiewe onsekerheid (en gevolglike binnegevegte) oorkom as ons ’n suksesvolle gemeenskapstrategie volg. Laasgenoemde is ’n strategie waarin Afrikaners self die verantwoordelikheid vir ons as kultuurgemeenskap neem. ’n Strategie waarin ons letterlik van onder af (vanuit ons eie instellings en plekke) vir ons en ons wêreld intree.

Verwagtinge vanuit Afrikanergeledere dat die staat sus of so vir ons moet doen, is gedoem om te misluk. Sodanige verwagtinge werp ons slegs in ’n spiraal van teleurstellings, omdat die staat nie daartoe in staat is nie (of nie daartoe bereid is nie).

Nog erger, in die mate waarin ons in hierdie spiraal vasgevang word, sal die onsekerheid en die binnegevegte slegs hewiger word.

Maar in die mate waarin ons vanuit onsself hierdie spiraal van teleurgestelde verwagtinge bevry en van onder af vir onsself intree, in daardie mate sal die onsekerheid en die selfvernietigende binnegevegte wyk.
Die goeie nuus is dat Afrikaners vandag reeds met groot sukses so ’n strategie volg.

0 Comments

  1. Sonia Odendaal sê:

    Ja, as ons ou Afrikanervolkie tog maar sal “agree to differ” en dit op ‘n beskaafde manier hanteer sal ons meer respek afdwing by ander. Die ou leuse “Eendrag maak Mag” is so waar. Dis ongelooflik dat ons bereid is om mekaar so lelik af te kraak en te verneder en dit in die media wat die hele wêreld ingestuur word, soos vere wat nooit ooit weer bymekaar gemaak sal kan word nie. Mag God ons help.

  2. Hannes Nel sê:

    Hoe dan anders as aanbieders op KykNet bespiegel of Afrikaners nie dalk te stowwerig en verkramp is nie en as hulle meestal onderhoude voer met Engelse gaste? Is Afrikaners dan nie goed genoeg om op hul eie programme te praat nie?

  3. Dit is ‘n treffende en nodige artikel en oproep, in aansluiting by die vorige “Afrikaners moet middelgrond kry. Is dit nie egter meerendeels onweergebore naamchristene wat so oorhoops is met mekaar nie? Is die antwoord nie dus dat hulle hul tot Christus bekeer en sy Woord navolg nie? Hoewel daar voortreflike Afrikanerleiers aan die ontluik is, is die aanwesigheid van ‘n uitgesproke Bybelse, Geesgedrewe, Christus-lewensbeskouing onontbeerlik.

  4. Elmien Geel sê:

    Dis hartseer dat Afrikaners nooit kon of kan saamstaan nie!! Dink net hoe ‘n magtige volk ons sal wees!!

  5. Anton Alberts sê:

    Mooi geskryf Dankie!

  6. Kathleen Backhouse sê:

    Baie dankie vir so ‘n goed deurdagte skryfstuk. Ek dink die antwoord le gesetel in Eenheid-in-Verskeidenheid, met ‘n baie groot skeut verdraagsaamheid, geduld en geloof in ons taal en taalgenote !!

  7. Jann Schlebusch sê:

    Dankie Hanno, jy is in die kol.

  8. Jann Schlebusch sê:

    Presies Hannes. Hulle is ook ons vyande wat deelneem aan ons vernietiging

  9. Stephan Strydom sê:

    Hierdie is die soort benadering wat ons as Afrikaners vorentoe sal neem en nie agtertoe nie. Dankie!

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!