Onderhoud van die maand: Sandra Prinsloo

Klein geveggies, groot verloor
Junie 22, 2015
In memoriam: Stephen Ellis
Julie 31, 2015

1) Hoe lyk die toekoms van Afrikaans oor die algemeen?
Ek dink dat die toekoms van Afrikaans baie goed lyk, aangesien daar so ’n positiewe stryd gevoer word om Afrikaans as moedertaal permanent te vestig in skole en tersiêre opleiding.

2) Hoekom het jy besluit om in Afrikaans jou loopbaan te volg?
Ek is Afrikaans, maar het ook vir baie jare amper uitsluitlik in Engels toneel gespeel. Die terugkeer na Afrikaans was seker onvermydelik. Dit is my herkoms en my toekoms.

3) Hoe sal jy kultuur definieer?
Dit is moeilik om kultuur te definieer, maar vir my is dit alles wat jy instinktief weet en waar jy waardes geleer het en wat jou gehelp het om met nuwe oë te sien. Waar jy vir die eerste keer die ondervinding gehad het, waar jy weet jy behoort, maar wat jou ook die vryheid gee om te verskil en ’n pad vorentoe te soek. Want soos alles is ’n kultuur nooit staties nie.

4) Hoe sal jy die jeug aanmoedig om Afrikaans te bevorder?
Praat Afrikaans, redeneer in Afrikaans en weet dat Afrikaans so ’n kleurryke en gewortelde taal is dat jy kan spog daarmee. Dis ook die jongste en dus vernuwendste taal in die wêreld.

5) Hoe voel jy oor die mening dat kunstenaars jou as die Marilyn Monroe van Afrikaans beskou?
Ek voel besonder gevlei en wonder terselfdertyd of hulle nie dalk spot met my nie!!

6) Wat is jou gunsteling 5 Afrikaanse films oor die afgelope 9 dekades?
Ek is jammer, maar ek sien amper nooit films nie, bloot omdat ek so besig is.

7) Wat is jou gunsteling Afrikaanse nagereg?
Ai, dis ’n moeilike vraag, want ek het nie ’n soettand nie! Kwalifiseer pampoenkoekies as nagereg?

8) Wat is jou gunsteling Afrikaanse gesegde?
Wat die hart van vol is, loop die mond van oor!

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!