Apartheid, moralisme en tragiek

Onderhoud met Bobby van Jaarsveldt
Augustus 6, 2015
Geskiedenis anderkant apartheid
Augustus 6, 2015

deur prof DANIE GOOSEN

Apartheid bly ’n saak waaroor ons waarskynlik nog vir dekades met mekaar gaan verskil. Dit in weerwil van die feit dat apartheid reeds 21 jaar gelede beëindig is.

Trouens, dit verg waarskynlik geen groot profetiese insig nie om raak te sien dat apartheid nog jare met ons sal wees. Dit hou onder meer met die toenemende verslegting van die Suid-Afrikaanse orde verband. Hoe meer ons aan dinge soos sistemiese korrupsie, wanbestuur, die ineenstorting van plaaslike owerhede en buitensporige vlakke van misdaad uitgelewer word, des te meer sal apartheid waarskynlik moralisties-eensydig verdoem en as die sondebok uitgeroep word.

En ongelukkig is ’n moralisties-eensydige verdoeming iets anders as ’n gebalanseerd-kritiese hantering van apartheid.

Terwyl laasgenoemde die volle historiese verhaal rondom apartheid in ag neem, beperk ’n moralisties-eensydige benadering sigself tot die blote etikettering van apartheid as ‘boos’ en Verwoerd as ’n ‘skurk’. Tegelyk is iemand soos Mandela ’n ‘superheld’ en daarom ook volledig bo enige kritiek verhef.

Dié werkswyse word nie net deur verskeie kritici van apartheid gevolg nie, maar – en dit is belangrik om in ag te neem – ook deur Afrikaners wat in antwoord daarop aanvoer dat apartheid ‘goed’ en Mandela ’n ‘skurk’ was. Ironies hiervan is dat hulle so in die denkbeelde van die moralisties-eensydige benadering van hul opponente vasgevang bly. Slegs die akteurs word omgeruil.

Dit bring ons by die wese van die verhaal hieronder. ’n Moralistiese skematisering met behulp van onderskeidinge soos goed en boos, superheld en skurk, ‘cowboy’ en ‘crook’ lei meestal tot ’n erge vereenvoudiging van die geskiedenis. Kan ons dus anders oor apartheid dink? Dit wil sê sonder om in die vereenvoudiging van óf ’n moralistiese verdoeming óf ’n blote lofprysing vas te val?

Uiteraard kan ons nie ’n volledige antwoord hierop gee nie. Sonder om in te veel detail hierop uit te brei, stel ons voor dat – effens lomp geformuleer – ’n dramaties-historiese benadering beter daartoe in staat is om die verwikkeldheid van die apartheidsverlede te begryp. Dit is ’n benadering wat ruim plek gee aan die morele oordeel oor apartheid, maar wat nie in moralistiese eensydigheid vasval nie.

Wat is die eienskappe van dié benadering? Ons noem slegs twee sake wat op die argument betrekking het.

Eerstens, ’n dramaties-historiese benadering word nie gekenmerk deur pogings om allerlei moralistiese clichés soos ‘superhelde’ en ‘skurke’ om die nekke van historiese figure te hang nie. Alhoewel dit waarskynlik verstaanbaar is dat ons soms na hulle in sodanige terme verwys, is dit meestal erg vereenvoudigend. Om reg aan historiese figure te geskied, moet hulle eerder by wyse van die wye spektrum van eienskappe eie aan die menslike toestand gelees en verstaan word.

En waar kry ons ’n beter samevatting van dié spektrum van eienskappe as in die Bybelse erfenis en uit die Griekse tragedies? As ons dit as maatstaf gebruik, word historiese karakters telkens weer deur dinge soos grootsheid, verbeelding, wysheid, dapperheid, geloof en sin vir geregtigheid gekenmerk, maar ook deur dinge soos beperktheid, konteksgebondenheid, vreesbevangenheid, lafhartigheid, gebrek aan oordeel, onreg, werklikheidsverlies, hardkoppigheid en hubris – om maar slegs enkele eienskappe uit ’n wye spektrum te noem.

Meestal is hierdie wye spektrum van eienskappe in een en dieselfde karakter aanwesig. Ook in die outeurs (en opponente) van apartheid.

Enigeen wat nie hierdie mengsel van eienskappe eie aan die menslike toestand raaksien nie, verstaan nie die drama eie aan die geskiedenis nie. Dit is ook waar van diegene wat ons apartheidsverlede aan allerlei vorme van moralistiese skematisering onderwerp.

So was daar byvoorbeeld tydens apartheid ook ’n strewe na geregtigheid, maar daar was ook onreg gepleeg; daar was ’n sin vir orde en goeie bestuur, maar daar was ook hardkoppigheid en ’n verlies aan werklikheidsin; daar was goeie bedoelinge, maar ook gewelddadige gevolge; daar was verbeeldingryk na oplossings gesoek, maar daar was ook enggeestigheid en dwaasheid; daar was ’n legitieme soeke na ’n eie plek vir Afrikaners en ander gemeenskappe in die geheel van dinge, maar daar was ook staatlike en militêre hubris. Ensovoorts, ensovoorts.

Woorde soos ‘boos’ en ‘skurk’ is nie naastenby in staat om hierdie verwikkeldheid te hanteer nie.

Tweedens, volgens die dramaties-historiese benadering bevind historiese figure hulself dikwels (of is dit meestal?) op ’n historiese verhoog waarvan hulself nie die grense gedefinieer het nie, maar waarbinne hulle hul keuses – dikwels met tragiese gevolge – moet uitoefen. In vele opsigte is dit keuses wat deur die tyd- en ruimtelike grense van dié verhoog gestempel, beïnvloed en gevorm is.

Ter wille van die argument staan ons by slegs een voorbeeld van so ’n verhoog stil, naamlik die moderne territoriale staat.

In vele opsigte was die moderne territoriale staat, waarvan die historiese oorspronge na die absolute monargieë van die vyftiende en sestiende eeue teruggevoer kan word, letterlik die verhoog waarop die moderne geskiedenis afgespeel het. Dit was ’n verhoog wat die politieke akteurs (konings, diktators, presidente, eerste ministers, ensovoorts) meestal nie self gedefinieer en geskep het nie. Dit was verhoë wat hulle keuses moontlik gemaak het, maar tegelyk ook begrens het.

Apartheid was nie hierop ’n uitsondering nie. Inteendeel, die apartheidstaat was ’n tipiese moderne territoriale staat. En net soos met laasgenoemde was die apartheidstaat ook dié verhoog wat nie net die keuses van die apartheidsleiers moontlik gemaak het nie, maar tegelyk ook ernstig aan bande gelê of begrens het.

Waarna verwys ons? Alhoewel dit uiteraard ’n ingewikkelder kwessie is as wat uit hieronder sal blyk, kan ons tog sê dat die wese van die moderne territoriale state opgesluit gelê het in hul poging om die ganse werklikheid ‘van bo af’ in te rig en te orden.

En een van die heel belangrikste instrumente wat dié state ingespan het om hulle wil letterlik van bo af op alles af te druk, was om hul onderskeie grondgebiede aan één standaard te onderwerp. Dit is onder meer gedoen deur één taal op almal af te dwing (dikwels ten koste van ’n groot veelheid van tale en kulture); maar ook deur dinge te doen soos om beheer oor gemeenskapsinstellings (families, skole, universiteite, besighede, ensovoorts) uit te oefen; deur individue van hulle gemeenskapsbindinge te stroop met die doel om hul afhanklikheid van die staat te vergroot; deur sentrumsoekende burokrasieë, moderne betonstede, asook abstrakte spoorlyne en snelweë in naam van ‘ontwikkeling’ bo-op die historiese en natuurlike kontoere van plekke en gemeenskappe neer te plak. Daar is nog verskeie sulke voorbeelde.

Alhoewel die apartheidstaat dikwels voorgehou word as ’n uitsondering (’n soort historiese anomalie), stem hy in vele opsigte met die logika ten grondslag van die moderne territoriale staat ooreen. Trouens, apartheid was ’n tipiese uitdrukking daarvan.

Soos die moderne territoriale staat het die apartheidsregering gepoog om die ganse geheel vanuit ’n burokratiese sentrum te bestuur en alles aan sy standaarde te onderwerp. Soos met die ander state het dié werkswyse inderdaad tot voordele gelei, soos die aanlê van ’n moderne infrastruktuur (soos byvoorbeeld onderwys, gesondheid, paaie en veiligheid), effektiewe regering, ekonomiese groei, ensovoorts.

Maar deur middel van dinge soos gebiedsverskuiwings, instromingsbeheer en trekarbeid – alles tipiese instrumente van staatlike standaardisering – het dit tegelyk ’n omvattende ontwrigting in die lewe van talle gemeenskappe veroorsaak.

Hierdie gebeure het nie sonder tragiese ironie geskied nie. So is die staatlike prosesse van standaardisering deur goeie bedoelinge jeens die veelheid van kultuurgemeenskappe gekenmerk, maar in die harde werklikheid het dit dikwels tot tragiese gevolge aanleiding gegee. Die bou van Atlantis, die betonstad noord van Kaapstad, is waarskynlik dié metafoor hiervan. Terwyl dit die bruin gemeenskap ter wille wou wees, het dit juis tot ’n omvattende ontwrigting aanleiding gegee.

Kortom, die moderne territoriale staat met sy diepliggende drang tot standaardisering was die verhoog waarop die moderne geskiedenis afgespeel het – ook die geskiedenis van apartheid. Om die leiers van die moderne era (maar ook die leiers van apartheid) te begryp, moet verstaan word dat hulle akteurs op dié verhoog was – en nie bose duiwels nie.

Maar dit bring ons by waarskynlik net so ’n tragiese ironie. Ook die huidige sogenaamde demokratiese (of post-apartheid) Suid-Afrika word deur dieselfde territoriaal-staatlike drang tot standaardisering gekenmerk. Alhoewel hierdie staat homself as ’n radikale alternatief op apartheid voorhou, deel hy die diepliggende ambisie om elke duim grondgebied aan sy wil te onderwerp. (Hierdie keer in naam van onder meer die beleid van verteenwoordigendheid).

En soos met die territoriale staat in die algemeen en apartheid in die besonder is dit weer eens ’n gemeenskap (in hierdie geval ’n kultuurgemeenskap soos die Afrikaners) wat aan die kortste end trek. In plaas daarvan dat Afrikaners inspraak in dié instellings het wat hulle toekoms ten nouste raak (hul skole, universiteite, besighede, ensovoorts), word hulle deur die staatlike logika gedwing om by die dwang tot standaardisering (verberg agter die ideologie van verteenwoordigendheid) in te val.

Trouens, ’n hele falanks van Afrikanerkritici maak hulle, in naam van die demokrasie en menseregte, ironies genoeg ook skuldig aan hierdie staatlike logika met sy poging om alles vanuit ’n sentrum in te rig. In die mate waarin hulle daarvoor voorspraak maak (en voor die mag van die staatlike sentrum buig), gee hulle willens en wetens kontinuïteit aan een van die belangrikste eienskappe van die apartheidsverlede.

Ten slotte, in antwoord op wat ons hierbo as die dramaties-historiese benadering bestempel het, kan aangevoer word dat dit slegs ’n poging is om apartheid te verskoon. Want, kan die argument lui, die hele poging om apartheid vanuit die geskiedenis van die territoriale staat te verstaan, relativeer die eie aard en wese van apartheid.

Ons antwoord hierop is dat so ’n afleiding eenvoudig verkeerd sou wees. Die argument hierbo steun op die soeke na ’n ‘verhoog’ vanwaar die werklikheid op ’n ander wyse benader kan word as om dit – soos in die moderne staat, apartheid ingesluit – vanuit ’n staatlike sentrum (met al die gewelddadige gevolge daaraan verbonde) in te rig.

Watter verhoog? In die geskiedenis van die moderne wêreld was daar slegs een alternatief op die sentralistiese staat, naamlik die federale staat (soos die gemeenskapsfederatiewe staat). In plaas daarvan dat laasgenoemde die ganse werklikheid vanuit die sentrum bestuur, verplaas dit die gesag na onder toe – in die hande van gemeenskappe en hul veelheid van instellings.

Teoreties gesproke is die gemeenskapsfederale staat die enigste staatlike alternatief op apartheid (en die huidige staatlike bedeling). Histories gesproke is dié staat egter nie ’n praktiese werklikheid in Suid-Afrika nie. Dit beteken egter nie dat gemeenskappe, en in die besonder die Afrikaners, daarmee magteloos gelaat word nie.

Inteendeel, in aansluiting by die gemeenskapsfederatiewe gedagte kan Afrikaners, in die mate waarin die staat agteruitgaan, steeds sterker aansluiting by ’n gemeenskapsbenadering opsoek. Met sy klem op die selfstandigheid van gemeenskappe, demokratiese deelname aan gemeenskapsinstellings en die idee van ‘kulturele vryheid’, is dit nie ’n benadering wat nie vanuit die staatlike sentrum dink en handel nie, maar juis ‘van onder af’.

So ’n benadering kan op geen wyse as ’n kontinuering van die moderne staat en apartheid verstaan word nie, inteendeel, dit verteenwoordig ’n alternatief daarop.

0 Comments

  1. Carel Boshoff sê:

    Uitstekende kort ontleding en rigtngwyser vir alternatiewe denke wat so noodsaaklik is. Om een punt ‘n bietjie verder te voer: mens kan na my mening histories van “afwenteling” van bevoegdhede praat aangesien dit in die sentrum gevestig geraak het en by desentralisering na federale eenhede verskuif word – maar deur wie? Deur die sentrum self wat tot nuwe insig kom? Dit is nie onmoontlik nie, iets van wat in Brittanje gebeur, deels aan die hand van die invloed wat Phillip Blonde-hulle met die Res Publica Institute uitoefen. Maar as die federale eenhede, stede of streke nie oor ‘n diepgewortelde sin vir selfstandigheid en oor die toepaslike instellings beskik nie en as dié instellings of owerhede die bevoegdhede nie opneem nie, sal dit alles niks anders as nog ‘n sentralistiese ordeningskema wees nie. Daarom is ‘n soort ontologiese oriëntasie, ‘n benadering wat sê “gemeenskappe ís outonoom, hulle moet dit net opneem” nodig. Daarin lê iets anders as om vir afwenteling te wag, opgesluit. In ons geval waar die sentralie owerheid nog lank nie sy eie beperkings oorweeg nie, sal dit te meer ‘n voorvereiste vir federalisering wees.

  2. Ester le Roux sê:

    Baie dankie, dr Danie Goosen vir ‘n puik ontleding, soos altyd – bevrydend en verruimend!

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!