Kruger-geldbussies met ‘n sonderlinge verhaal

Geskiedenis anderkant apartheid
Augustus 6, 2015
Volksblad: Theuns Stofberg
Augustus 26, 2015

Die Amerikaans-vervaardigde Kruger-geldbussie van geelkoper, links, wat R550 op 4 Augustus se veiling van Stephan Welz & Co in Johannesburg verkoop is. Wat was op R1 500 gewaardeer. ʼn Soortgelyke een het in 2011 egter R7 280 op ʼn Welz-veiling behaal. Foto: Stephan Welz & Co

Die Amerikaans-vervaardigde Kruger-geldbussie van geelkoper, links, wat R550 op 4 Augustus se veiling van Stephan Welz & Co in Johannesburg verkoop is. Wat was op R1 500 gewaardeer. ʼn Soortgelyke een het in 2011 egter R7 280 op ʼn Welz-veiling behaal. Foto: Stephan Welz & Co

Die Amerikaans-vervaardigde Kruger-geldbussie van geelkoper, links, wat R550 op 4 Augustus se veiling van Stephan Welz & Co in Johannesburg verkoop is, was op R1 500 gewaardeer. ’n Soortgelyke een het in 2011 egter R7 280 op ’n Welz-veiling behaal. Foto: Stephan Welz & Co

’n Besonder interessante Paul Kruger-aandenking wat rondom die jare van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) dateer, is op 4 Augustus deur die oudhede-afslaer Stephan Welz & Co in Johannesburg aangebied. Dit is ’n spaarbussie, 14,5 cm hoog, wat vermoedelik in 1900 in Amerika van geelkoper gegiet is. Op die veiling het dit R550 behaal. Op ’n vorige veiling in 2011 het ’n soortgelyke bussie R7 280 behaal.

Voordat Brittanje by wyse van sy driejarige verskroeide-aarde-oorlogsveldtog die ryk goudbronne van die Witwatersrand ingepalm het, het hy in die aanloop daartoe eers sy propaganda-visier op die leierskap van die Transvaalse Boererepubliek, amptelik bekend as die Zuid-Afrikaansche Republiek, ingestel.

Die bedenklike maniere waarop probeer is om veral die persoonlike aansien van pres. Paul Kruger in die openbaar af te breek, is legio. Die doel daarvan was om die res van die sogenaamde beskaafde wêreld sag te maak vir die komende gewelddadige oorlog teen die Boere wat in die geheim in Londen beplan is.

Deur Kruger en sy mense as korrupte, onmenslike kreature uit te beeld, sou dit vir die openbare mening meer aanvaarbaar wees dat duisende Afrikaners in die op hande oorlog doodgemaak word. Die invloedryke vromes sou dan hul gewete kon sus in die geloof dat die “bose Kruger-regime alles verdien wat hom oorkom”. Hierdie selfde sluwe haat-strategie word steeds teen die Afrikaners van vandag ingespan.

Britse propagandiste het onder meer die plan bedink om ’n spaarbussie-karikatuur van Paul Kruger te maak wat die Britse publiek sou laat lag, maar wat terselfdertyd ook ’n sterk negatiewe boodskap oor hierdie Boere-leier by haas elke Britse huis sou indra.

Francis Carruthers Gould, ’n spotprenttekenaar in diens van die tydskrif Westminster Gazette in Londen het die normale uitvoering van sy politieke propaganda-pligte talle karikatuursketse van “Kruger, die vermetele vyand van die Britse Ryk” gemaak. Sy gewildste voorstelling was van Kruger wat soos ’n verslonsde boemelaar, “Kruger, the Backvelder”, lyk.

Die gietery John Harper & Co. Ltd. in Engeland het reeds in 1885, in die nasleep van die Boere se klinkende militêre oorwinning in 1881 in die Slag van Majuba oor die Britse leër, die Kruger-muntbussie van gietyster begin maak. Gould se karikatuur van “Kruger, die boemelaar” is daarvoor gekies. Op die pluiskeil van die bebaarde, potsierlike boepensmannetjie is die woorde “Transvaal Money Box” gegraveer. Dit het impliseer dat “Backvelder Kruger” boonop geldgierig was. Die bussie het ook ’n kromsteelpyp, soos pres. Kruger s’n, bygekry, maar die meeste pype het reeds in die vervoer van die bussies na die winkels afgebreek. Baie is toe sonder die pyp versprei. Op die rugkant van die bussie is gestempel: “By permission of the proprietors of the Westminster Gazette.”

Die bussie van Paul Kruger met sy kromsteelpyp is in die 1890’s in Engeland vervaardig. Die pyp wip op en af wanneer ʼn munt bo in die bussie gegooi word. Die muntgleuf is aan die bokant van die pluiskeil.   Foto: Marthinus van Bart

Die bussie van Paul Kruger met sy kromsteelpyp is in die 1890’s in Engeland vervaardig. Die pyp wip op en af wanneer ’n munt bo in die bussie gegooi word. Die muntgleuf is aan die bokant van die pluiskeil. Foto: Marthinus van Bart

Die bussies was veral gewild by kinders, en gevolglik het baie ouers dit vir hul kroos gekoop. Die Kruger-muntbussie in geelkoper wat deur Stephan Welz & Co opgeveil is, is vermoedelik met dieselfde gietstuk as dié van die 1885-gietysterbussie in Amerika gegiet. Dit is nie met ’n kromsteelpyp toegerus nie. Peter Digby, die ABO-vakkundige by Stephan Welz & Co, meen dit dateer van 1900 tot 1902.

In 1890, toe die anti-Kruger-politiek begin toeneem het, het ’n ander, onbekende, gietery in Engeland besluit om die bussies op vernuftige wyse te verbeter deur ’n beweeglike (meganiese) pyp te ontwerp wat losweg aan ’n gleufie in die mannetjie se mond hang, met ’n hefboom aan die binnekant van die bussie. Wanneer ’n munt by die geldgleuf aan die bokant van die pluiskuil ingedruk word, tref dit die hefboom en die pyp wip op en af. Die bussie se boodskap word nou: “Die geldgierige, agterlike Paul Kruger se pyp wip op en af van pure genot vir elke pennie wat hy gulsig insluk.”

Aan die rugkant van die bussie is gegraveer: “By permission of the proprietors of the Westminster Gazelie.” Die woord “Gazelie” in plaas van “Gazette” is klaarblyklik gekies om beskuldigings van vervalsing af te weer. (Bron oor tegniese aspekte: Kanadese Anglo-Boereoorlog Museum: www.http://angloboerwarmuseum.com/Boer90s_krugerbox.html)

Die Britse politieke propagandiste het indertyd aangevoer dat Kruger en die lede van die ZAR-volksraad die Transvaalse goud vir hulself wou inpalm. Hulle was dan glo nie bereid om aan die duisende Britse “Uitlanders” wat in die myne gewerk het, stemreg te gee sodat hulle as landsburgers in die goudrykdom kon deel nie. So asof enige mynbaas nog ooit die goud of diamante wat ontgin word met die werkers sou deel. Werkers is betaal vir hul arbeid, en basta.

Die waarheid was egter dat Brittanje op stemreg vir sy onderdane in Transvaal aangedring het sodat hulle die Kruger-regering by wyse van ’n getalle-oorwig by die stembus kon verslaan. Dan sou die Britse regering en die Anglo-Amerikaanse mynmagnate sonder slag of stoot Transvaal, en dus die goudbronne, geheel en al kon beheer.

Dieselfde Anglo-Amerikaanse slenter – ’n idealistiese drogbeeld van sogenaamde demokrasie – is ’n eeu later suksesvol op Suid-Afrika toegepas. Deurdat ’n etniese meerderheid die stemlokale van die verkiesing “demokraties” oorstroom het, is die Afrikaners van alle seggenskap in hul eie landsake beroof en is hulle vandag net nuttig oor hul belastingpligtigheid – en is hulle dus in alle opsigte die slawe van die swart meerderheidsregering, met tradisionele uitgebreide familie- en vriendekringe.

Kruger het indertyd deur dié slenter van die Britte en die internasionale kapitaliste gesien, en geweier om stemreg te gee aan uitlanders wat net tydelik hul fortuin op die Witwatersrand kom soek. Hy het daarop aangedring dat hulle vir volle burgerskap moes registreer en eers 14 jaar lank in Transvaal moet woon voordat hulle kon stem. Onder druk van Brittanje, wat toe openlik met oorlog gedreig het, het Kruger die tydperk afgebring na 9 jaar, en onder verdere druk na 7 jaar.

Die Britse onderhandelaar, lord Alfred Milner, het toe 5 jaar geëis, maar mettertyd aangedring op summiere meerderheidverteenwoordiging in die Volksraad.

Kruger het reguit aan hom gesê: “Dit is nie stemreg wat jy soek nie, dit is my land wat jy wil hê.”

Die Boere het vasgeskop, en op 11 Oktober 1899 het die verwoestende driejarige oorlog uitgebreek wat tot 31 Mei 1902 voortgeduur het. Die land is letterlik in puin gelê, duisende weerlose burgerlikes, veral vroue en kinders, het brutaal gesterf, en Brittanje se agente, die internasionale kapitaliste en die mynmagnate, het die Witwatersrandse goudrykdom vir hulself ingepalm. Die “Uitlanders”, wat niks behalwe hul dagloon gekry het nie, het die hasepad gekies toe die eerste skote knal.

In 1914 het Jan Smuts en Louis Botha, aan die stuur van die Unie-regering onder die Britse vlag, in opdrag van dieselfde Britse magte en internasionale kapitaliste Duits-Suidwes-Afrika met die SA Weermag binnegeval en beslag op al die Duitse diamantmyne gelê. Die Oppenheimer-broers, internasionale kapitaliste, het daarna die myne oorgeneem en sodoende die diamant-wêreldmark ten volle beheer. Die vyandighede van die Eerste Wêreldoorlog tussen Duitsland en Europa was die rookskerm vir hierdie grootste diamantroof ter wêreld, wat waarskynlik net so omvangryk was as die vorige soortgelyke diamantroof van 1871 deur die Britte op die Republiek van die Oranje-Vrijstaat.

0 Comments

  1. Co van den Raad sê:

    Ek het my Kruger geldbussie in die vroee 90’sin Dubai gekoop vir R25 by ‘n ou antiek winkel. Baie trots op my stuk Africana!

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!