’n Manjifieke nalatenskap: Prof. TT Cloete

Sonder Afrikaans is ek niks
Augustus 6, 2015
Tuis in die vreemde
Augustus 6, 2015

deur ALITA STEENKAMP

Meer as 2000 miljoen jaar gelede het ’n meteoriet so groot soos Tafelberg die aarde getref in die omgewing van die klein Vrystaatse dorpie, Vredefort. Hier, waar die tekens van hierdie impak miljoene jare later steeds sigbaar is, het die digter T.T. Cloete sy eerste tree gegee. Theunis Theodorus Cloete is op 24 Mei 1924 in Vredefort gebore en het by meer as een geleentheid vertel hoe hierdie spesifieke stuk aarde ’n impak op sy skryfwerk gehad het. “My pa was ’n baie belese boer en hy het geweet van die meteoriet wat die aarde hier getref het. Hy het altyd vir ons gesê: ‘Weet julle kinders ons woon op ’n koepel, so naby aan die engele’ en ons was baie trots daarop. Dit het ’n invloed gehad op my as skrywer en tot vandag toe is dit een van die dinge wat by my verwondering wek,” was sy woorde in ’n onderhoud op die televisieprogram Kwêla wat in 2011 met hom gevoer is.

T.T. se grootwordjare op die plaas in die Vredefortkoepel was gelukkige jare van kaalvoetloop en kettieskiet maar in sy tienerjare het sy pa die plaas verkoop en ’n plaas op Ventersdorp gekoop. T.T. het matriek geskryf aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp waar sy klasmaats mense soos Connie Mulder, Willem de Klerk en Ina Rousseau was en dit het hom gedryf om hard te werk.

As eerstejaarstudent, op Oukersaand, het T.T. polio opgedoen. Al het die siekte sy liggaam afgetakel, het dit wel ’n belangrike impak op sy lewe gehad. “Polio het my liggaam verwoes,” het hy later gesê, “maar dit het my ook gestimuleer omdat ek baie gelees het en besef het waar my belangstelling eintlik lê.”

T.T. het die liefde van sy lewe, Anna van Zyl, op die buurplaas ontmoet toe hulle destyds na Ventersdorp verhuis het. Van Anna het T.T. altyd gesê dat sy die digter in hom is. Dit was ook sy wat hom aangemoedig het om van sy gedigte te publiseer. T.T. het dikwels vertel hoe hy grootgeword het met die digkuns van digters soos NP van Wyk Louw en Elisabeth Eybers en hoe hy eintlik geïntimideer is deur hierdie groot name. Hy het nooit besef watter impak sy eie verse wel later sou hê.

In 1948 voltooi hy sy akademiese opleiding aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys en in 1949 vertrek hy en Anna met ’n boot na Amsterdam waar hy sy doktorale studie onder die promotorskap van NP van Wyk Louw voltooi het. Prof. Cloete het vir bykans dertig jaar aan die PU vir CHO klas gegee en was net vir ’n periode van ses jaar verbonde aan die Universiteit van Port Elizabeth.

In 1979 het ’n ernstige trombose sy lewe bedreig en in die tyd het sy vrou by hom gepleit om sy beste gedigte uit te soek en dit dan te publiseer Sy sou bloot nie weet wat om met al hierdie gedigte te maak indien hy te sterwe kom nie, het sy aan hom gesê. Oor hierdie aanmoediging en onwrikbare vertroue in sy skryfwerk was T.T. haar ewig dankbaar. In 1980, op 56 jarige leeftyd, debuteer hy met die bundel Angelliera en letterkundiges het dadelik regop gesit.

Uiteindelik het daar tien digbundels van hierdie merkwaardige digter verskyn. Daarbenewens het hy ook twee kortverhaalbundels, een drama ,verskillende bloemlesings, literêre opstelbundels en ’n omvattende boek, Die ander een is ek, gepubliseer. In hierdie boek, wat in 2013 verskyn het, beskryf hy sy hele lewensfilosofie en sy siening van die digkuns. Uit die aard van sy werk het hy ook meer as 200 wetenskaplike artikels gepubliseer.

In die bietjie meer as dertig jaar wat hy geskryf het, het prof T.T. Cloete meer as twintig gesogte pryse en die hoogste lof vir sy skryfwerk ontvang. Van hierdie pryse is onder meer die Hertzogprys wat hy twee maal gewen het en waarop hy geweldig trots was, asook die Hofmeyrprys vir Poësie wat hy drie maal gewen het. In 1992 het prof Cloete die Staatspresident se Orde vir Voortreflike Diens Goud ontvang, ’n besonder gesogte toekenning.

In 2014 het die FAK ook ’n besondere eerbewys aan hom oorhandig. Hierdie woordsmid is toe vereer met die NP van Wyk Louw-toekenning vir die bevordering van Afrikaans, kultuur en geskiedenis. Dit was vir sy bydrae as een van die grootste Afrikaanse digters van ons tyd en sy impak tot die ontwikkeling van Afrikaans as hoëfunksietaal.

Prof Cloete het ook ’n merkwaardige bydrae gemaak met sy omdigting van die Psalms. Hierdie reuse taak het ’n dekade geneem om te voltooi. Een van die mooi staaltjies wat prof. Cloete hieroor vertel het, is hoe hy gesukkel het met die beryming van een van die sogenaamde wraakpsalms. Terwyl hy in die tuin gestap het, het hy die posman gewaar wat sy belastingaanslag afgelewer het. Die aand was sy beryming van die wraakpsalm afgehandel.

Deur die jare het vele studente onderrig ontvang by professor Cloete en elkeen sal kan getuig hoe ’n ontmoeting met hierdie besondere man hulle lewe verander het. Nie net was prof. T.T. Cloete ’n ware intellektueel en ’n belese akademikus nie, maar hy het presies geweet hoe om sy kennis met sy studente te deel en ook hul nuuskierigheid oor soveel dinge te prikkel. Uit T.T. en Anna se verbintenis is vyf kinders gebore en sy liefde vir sy vrou en sy gesin was ooglopend. In die Cloete-woning is daar baie gekuier en gelag.

Die manier waarop hy enduit aktief besig gebly het, al was sy liggaam verswak en afgetakel, is ’n voorbeeld vir almal. Een van die gedigte in sy latere digbundels som sy lewensfilosofie so mooi op:

Jy kry een lewe, net een.
Versorg en koester dit
Vier dit en vind daar vreugde in
Jy kry een lewe, net een.
Op 29 Julie, in die vroeë more-ure, blaas Theunis Theodorus sy laaste asem in ’n hospitaal in Potchefstroom, nie ver van die Vredefortkoepel nie, uit en ons groet ’n reus. Net soos wat die meteoriet miljoene jare gelede ’n onuitwisbare impak op die aarde gemaak het, sal die impak van T.T. Cloete se lewe op die Afrikaanse taal, onuitwisbaar bly.
“Daar waar die aarde sy meniskus
by die hemel laat uitkom
’n sierlike boogpunt maak
daar is vrede in die lug.”

Prof. T.T. se siening oor die toekoms van Afrikaans:

“Afrikaans is ’n jong taal, waarskynlik die jongste taal van alle tale op aarde, en tog het dit al die ou tale ingehaal, want daar is niks in enige ander taal wat nie ook in Afrikaans gesê, gevoel, gedink of geskryf kan word nie. ’n Mens kan enige ander taal aanleer, maar ek glo dat jou moedertaal nuanses het wat jy nie in enige aangeleerde taal kan uitdruk nie. Ek luister graag na die taal van wetenskaplikes, en dit tref my dat natuurwetenskaplikes en byvoorbeeld regsgeleerdes en ekonome die mooiste Afrikaans praat, mooier as party kunstenaars, veral mooier as ons popliedjieskrywers en -sangers.

Ek is besorgd oor die toekoms van Afrikaans. Skrywers wat rondvertel dat Afrikaans nie ’n toekoms het nie, doen baie kwaad aan Afrikaans, want die liggelowiges redeneer dat as skrywers dit beweer, kan hulle net so goed hul kinders maar na Engelse skole toe stuur. Na 1994 word Afrikaans op die agtergrond geskuif. Dis kulturele moord. Dis pure bog dat Afrikaans iets op sy gewete het. Geen volk het soveel ander tale onderdruk as die Engelse nie, tog praat almal graag Engels.

0 Comments

  1. Sanet Bulwan sê:

    My prof, my prof … Ek glo dat sy ewige nuuskierigheid bevredig is en dat hy hom ekstaties verwonder…

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!