’n Manjifieke nalatenskap: Prof. TT Cloete
Augustus 6, 2015
Onderhoud met Bobby van Jaarsveldt
Augustus 6, 2015

deur DAWIE DU PLESSIS

   .

koerant

‘n Franse koerantvoorblad van destyds toon die Boeregeneraals tydens hul besoek aan Europa.

’n Wyle na die ondertekening van die Vrede van Vereeniging vertrek die drie Boeregeneraals, Louis Botha, Koos de la Rey en Christiaan de Wet op ’n tog na Europa om fondse vir noodlediging vir die verarmde weduwees en wese in te samel. In al die lande – Brittanje, Nederland, België, Frankryk en Duitsland – word hulle soos helde ontvang deur skares wat in hul duisende saamgedrom het. Op een van die vele ontmoetings (persoonlik en onpersoonlik) wat die generaals met die magdom gashere op die vasteland maak, is ook Helene Kröller-Müller, ’n jong Duitse vrou in haar vroeë dertigs. Sy was getroud met die Nederlandse sakeman Anton Kröller. Hulle het in Nederland gewoon, waar Anton die direkteur was van Müller & co., ’n handel- en skeepvaartsmaatskappy. Veral De Wet maak ’n indruk op haar.

Anton Kröller en sy eggenote Helene Müller was baie welgestelde mense, wat hul fortuin gemaak het voor en tydens die Eerste Wêreldoorlog deur ystererts na veral Duitsland uit te voer. Helene was ’n byna uitspattige kunsversamelaar. Sy het aanvanklik gefokus op werke uit die sewentiende eeu (die Nederlandse Goue Eeu), maar het later ook haar versameling uitgebrei na dié uit die laat negentiende en vroeë twintigste eeu. Die versameling sou mettertyd werke bevat deur onder andere Van Gogh (amper 300 tekeninge en skilderye), Braque, Mondriaan, Léger, Redon, Seurat, en Picasso. Die kunswerke is almal by die egpaar se huis gehou, nie ver van die dorpie Otterlo nie, wat uit die negende eeu dateer. In die eerste twee dekades van die twintigste eeu het die egpaar herhaaldelik aangrensende stukke grond opgekoop, om op die ou end ’n landgoed van nagenoeg 6 800 hektaar te besit – alles met die oog op privaat jagtogte. Nogal soos die adelstand van ouds.

egpaar

Helene Müller en haar man Anton Kröller in die laat 1880’s.

Teen 1935 was die Kröller-Müllers finansieel in die knyp, en onderhandel met die departement van natuurbewaring om hul landgoed te verkoop. Later het die regering, met hulp van buite, ’n stigting op die been gebring, spesiaal met die doel om die landgoed te koop. Helene was nog altyd van plan om haar kunsskat aan die publiek na te laat. Die egpaar was egter ook nou hul groot stuk grond kwyt. Sy onderhandel weereens met die regering. Sy sal die ongeveer 12 000 items waaruit haar versameling bestaan gratis oordra, maar op een voorwaarde – dit word op die landgoed gehuisves, en ’n spesiale museum moet daarvoor gebou word. Die regering het ingestem. Buitendien is die grond nou as bewaarde gebied verklaar. Sodoende het die Hoge Veluwe Nasionale Park en die Kröller-Müller Museum omtrent saam hul ontstaan gehad.

***

hoge veluwe

Die natuurskoon van Hoge Veluwe. Hier sien mens die kenmerkende sandgevulde boomleegtes wat plek-plek tussen die dennebosse voorkom

Gedurende drie weke in Junie en Julie 2015 het ek die wonderlike voorreg gehad om België en Nederland as mede-begeleier van die Jongerenprojek te besoek. Tydens die been in Nederland het ons ’n naweek in ’n tentkamp net buite Otterlo oorgeslaap. Vrydag die 10de Julie is ons per fiets na die nabygeleë Hoge Veluwe om die Nederlandse natuurskoon eerstehands te ervaar, en het kennis gemaak met die diversiteit wat die park bied. Heel anders was die omgewing as enigiets in Suid-Afrika, ten spyte van die ongelooflike verskeidenheid natuurstreke wat ons land bied. Ek kon die wêreld met niks tuis assosieer nie, en indien wel, was die herinnering te vaag. Alhoewel ons in die veld geloop het, het ek nie in mý boek in die veld geloop nie. Dit was soos ’n droomlandskap. Dit was, soos die Duitsers sê, enigsins unheimlich. Maar glad nie skrikwekkend nie; op ’n unieke manier mooi.

pres-steynbank

Die President Steynbank van die voorkant beskou.

Saterdag die 11de keer ons terug, dié maal om die kunsmuseum te besoek. Aan die einde van die dag se verrigtinge, en toe elkeen van die toergangers gereed maak om huiswaarts (of tentwaarts, eintlik) te vertrek, word ons aangesê om eers te wag. Daar is ’n verrassing, spesiaal vir de Zuid-Afrikanen. Na ’n verbasende kort entjie se stap bereik ons ’n mooi, netjiese gedenktuin, effens versteek tussen die groot bome. Niks anders as een van die vele wat ons die afgelope paar dae in die Laaglande teëgekom het nie. Maar onmiddellik val iets op die plakket my op. Steyn. En met ’n y. Nie die gebruiklike ij van die Nederlanders nie. Die opskrif lui: President Steynbank. Hier vind ons toe uit dat die Kröller-Müllers ’n groot bewondering vir die president gehad het. Of hulle ooit hierdie Siel van die Vryheidstryd ontmoet het, weet ek nie. Maar ons was nou, hier in die vreemde, in sý tuin. Die president se monument bestaan uit ’n gedenkbank en ’n tuin, al twee streng simmetries, met die tuin in die vorm van ’n kruis uitgelê. Die reliëf op die bank se rug beeld ’n swaard, ’n barometer, en ’n vergrootglas uit. Hierdie drie voorwerpe simboliseer die drie maniere waarop Steyn, volgens Helene Kröller-Müller, probleme opgelos het: eerstens deur die atmosfeer van ’n gegewe situasie te peil (die barometer), deur van naderby te bekyk (die vergrootglas), en indien nodig, daadwerklik op te tree (die swaard). Wat ’n aangename verrassing! ’n Gedenktuin hier in die vreemde vir een van óns mense. Maar blykbaar was ons steeds nie klaar nie – daar was nóg iets te sien. Dus neem ons toe weer ons fietse op, en ry een van die tallose paadjies die vlakte in.

steynbank-jp

Die besoekers in ‘n prettige luim, sittende op die Steynbank.

Terwyl ons dieper die park inry, onder die helderblou lug, is die koel somerlug werklik verfrissend. In die verskiet sien ek ’n baken in die middel van ’n groot sandveld verrys. Soos ons nader eien ek dit as ’n standbeeld. Toe skiet dit my binne. Tydens die besoek aan die kunsmuseum het ek die naam Mendes da Costa (tussen talle ander) raakgelees. As kunsleek het hierdie naam vir my slegs één betekenis. Hy het ’n standbeeld van generaal De Wet gemaak, wat “êrens in Nederland opgerig is”, onthou ek. Ek het my fiets neergesit en oor die sand begin loop. Ek was reg. Dit was oom Chrisjan. Ons het elkeen die beeld nuuskierig van alle kante bekyk, en herhaaldelik daarom geloop. Dit toon ’n vasberade, vér turende De Wet (met opset suidwaarts, op sy vaderland gerig). Onder hom is sestien anonieme Boerekrygers te sien, geweer in die hand. Enige Afrikaner sou egter vinnig agterkom dat dié reg onder die generaal eintlik die gesigte van Kruger en Steyn is!

De Wet-standbeeld - Hoge Veluwe

Die Suid-Afrikaners met hul Nederlandse gashere by die standbeeld van Generaal de Wet, deur Mendes da Costa.

Vir die geleentheid van ons besoek het die gashere aan elk ’n afdruk van Jan F.E. Celliers se bekende gedig oor die generaal gegee. Aan die geselskap (sekerlik eerder vir die Nederlanders tussen ons) het een van ons kortliks die lewensverhaal van Jan Celliers geskets. Daarna is die gedig plegtig deur ’n ander voorgelees. Ek wil waag om te sê dat elkeen diep geroer is, al was die plegtigheid volkome onbeplan. Een vir een is die jongens toe terug na hul fietse toe. Ek het egter agtergebly. In die stilte het ek nou na die generaal gekyk. Soos C. Louis Leipoldt, toe hy tydens sy studiejare in Europa op ’n sekretarisvoël in die dieretuin afkom, kon ek om dieselfde redes ook aan die generaal vra: “Wat maak jy hier?” Later, na ’n bietjie leeswerk, sou ek uitvind dat Helene Kröller-Müller in 1915 aan Mendes da Costa persoonlik opdrag gegee het om ’n beeld van die generaal te maak, wat toe in 1921 opgerig is. Maar wat sou die generaal my antwoord? Op sy kenmerkende pittige wyse sou hy seker Caesar parafraseer: “Ek het gekom; ek het gebedel; ek het gegaan.” Tydens die fietstog terug kon ek nie anders as om heeltyd oor die oubaas te sit en peins nie. Ek het oor my skouer gekyk, en hom vir laas gegroet voor hy uit die gesig verdwyn het.

Ek het later besef die vraag moes nooit aan generaal De Wet self gerig gewees het nie. Ek moes die Kröller-Müllers vra. Ek moes die Europese staatshoofde en amptenare van ’n eeu gelede vra. Ek moes enigeen van die derduisende mense vra wat destyds deur De Wet se teenwoordigheid tot raserny in die skares opgesweep is. En ek glo ek weet wat hulle sou antwoord: “Hy het gekom; hy het beïndruk; en hy het gebly.”

    ….

IMG_0750

“Al is die oog verswak, hy kyk nog fier omhoog in jou soos in sy God se oog.”

 

.

0 Comments

  1. Louis du Plessis sê:

    Wat ‘n uitmuntende en skerp geskrewe skets deur Dawie oor ‘n besoek aan die monument van genl Christiaan de Wet – een van die Afrikaners se briljantste taktici en volksleiers! Puik!

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!