Kruger-geldbussies met ‘n sonderlinge verhaal
Augustus 6, 2015
AFRIKANERS, AFRIKAANSES EN DIE IDEAAL VAN NASIEBOU
September 2, 2015

deur Alita Steenkamp

In ’n tydperk voor professionele rugby het Theuns Stofberg diep spore in Suid-Afrikaanse rugby getrap.

Op 14 Augustus 1976, nou 39 jaar gelede het ’n 21-jarige Vrystater sy Springbokdebuut in ’n toets op die Vrystaatstadion in Bloemfontein gemaak. As ’n groot flank met spoed wat oral op die veld is, het mense hom dadelik as gerekende krag op die rugbyveld raakgesien. Daar het baie water in die see geloop sedert daardie toets teen die All Blacks, maar met sy helderblou oë, kyk Theuns steeds ’n barshou.

1301083_120129194636_060

Theuns Stofberg, 1976

14 Augustus is om ’n heel ander rede ook ’n besondere dag vir Theuns. Op hierdie datum, in 1940, is sy oupa, die formidabele NJ van der Merwe, in Bloemfontein begrawe. Theuns vertel dat hy altyd bewus was van oupa NJ wat verskeie dinge reggekry het, maar watter diep spore hy werklik in Afrikaans en die Afrikaner se kultuur getrap het, het onlangs eers onder sy aandag gekom.

“My ma het vir ons kleintyd uit die boek, Die Burgemeester van Sannaspos, wat my oupa oor sy wedervaringe tydens die Anglo-Boereoorlog geskryf het, gelees. Dié storie is in die derde persoon vertel en het nie werklik ’n indruk op my gemaak nie. Dr. Danie Langner van die FAK het egter hierdie verhaal aangepas sodat ’n eerstepersoonsverteller aan die woord is en meteens is dit omskep in ’n besondere verhaal.

Op 14 Julie vanjaar het Die Voortrekkers my genooi om ’n krans te kom lê op my Oupa se graf op Doornkloof, die Voortrekkerplaas. Op die graf is daar ’n standbeeld van ’n Voortrekkerseun wat salueer. Ek was die model vir die standbeeld wat my ma, Elsa Stofberg, gemaak het. Ek het nooit destyds die eindproduk gesien nie en toe ek hierdie jaar vir die eerste keer daar kom, was dit  vir my ’n baie emosionele ervaring.”

Daar is baie ooreenkomste tussen Theuns en sy oupa NJ. Oupa NJ was ook ’n kranige rugbyspeler en ’n inspirerende leier. Albei het aan Grey Kollege in Bloemfontein gematrikuleer en albei was Voortrekkers. Theuns glimlag wanneer hy vertel dat sy ma in Graad 6 sy Voortrekkerspan se offisier was. Hierdie span het so half profeties besluit om hulself die Springbokspan te noem, en hul opponerende span was die Duikers. Dis moeilik om te glo, maar Theuns het eenmaal, terwyl sy span besig was met die kamoefleerkenteken, as kamoeflering ’n rok aangetrek en ’n hoed opgesit, met sy ma se lang vlegsels daaraan vasgewerk en doodluiters as ’n meisie met vlegsels by die Duikers verbygeglip.

Theuns was tot in 2008 werksaam in sy eie fisioterapiepraktyk. Kort voor ’n besoek aan Engeland, om daar een van die Springbokke se toetse teen Engeland by te woon, het hy ernstig siek geword. Die dokters het kop gekrap, want die simptome was verwarrend. Met ’n sak pille het hy op die vliegtuig geklim en uiteindelik dodelik siek in Londen geland waar hy reguit in die hospitaal opgeneem is. Hier is die seldsame Churg-Strauss-sindroom by hom gediagnoseer. Theuns is sedertdien onder behandeling vir hierdie outo-immuunsiekte wat dodelik is indien dit nie behandel word nie.

Die impak van sy siekte het veroorsaak dat hy sy praktyk moes sluit, maar Theuns is steeds aktief aan die gang. Hy en sy vrou Martie het ’n onderneming begin wat toergroepe na die buiteland neem. Hy geniet dit om te reis en nuwe plekke te verken, en soos hy sê, die “bucketlist” het nog heelwat items om af te merk.

“Een van die hoogtepunte van my lewe het juis gebeur terwyl ek in Italië op reis was saam met ’n toergroep en my vier kinders. Ek het as rugbyspeler een seisoen vir die Petrarca Rugbyklub in Padua gespeel en ek wou graag vir my kinders gaan wys waar ek gebly het. Ek het die bestuur van die klub ingelig, en toe ons groep die aand daar opdaag, was daar meer as twintig van my ou spanmaats en ons het heerlik gekuier. Dit bewys net weer eens dat ’n mens op die rugbyveld vriendskappe smee wat lewenslank duur.”

Theuns lag oor die opmerking dat hy seker oral in die land bewonderaars het, want hy het vir die Vrystaat, Noord-Transvaal en die Westelike Provinsie gespeel in seisoene wat die drie spanne onderskeidelik die Curriebeker gewen het. “Die probleem is, ek het ook vyande in elke provinsie, want elke keer wat ek geskuif het, was iemand vies vir my daaroor …” Theuns vertel dan hoedat hy in die tydperk wat hy vir die Vrystaat gespeel het, bloot R5 per wedstryd vir ’n tuiswedstryd gekry het. Vir ’n wegwedstryd was die bedrag R15. Toe hy na Noord-Transvaal verhuis het tydens sy militêre dienspligdae, was hy baie bly om te hoor dat die Bulle R18 per wedstryd kry. Die spelers het toe besluit dis ’n bietjie min geld en het vir Brigadier Buurman van Zyl vir ’n verhoging gevra. Met die volgende wedstryd het hierdie kleurvolle karakter by die kleedkamer ingeloop en die spelers se koevertjies daar neergegooi. “Julle vra my nooit weer vir meer geld nie, ’n mens speel nie rugby vir geld nie,” het hy gesê en tot hul ontnugtering moes die spelers ontdek dat hy drie rand by elkeen afgetrek het.

Theuns sê baie van die dinge wat hy in sy rugbyjare geleer het, bly ’n mens lewenslank by. Hy is huiwerig om enige uitspraak oor ons huidige Springbokspan te maak, maar reken tog indien sy era se spelers dieselfde professionele afrigting ontvang het, hoef hulle geensins terug te staan vir vandag se span nie.

Theuns het ook pas ’n manuskrip voltooi waarin hy ’n paar rugbystories, maar ook van die hoogtepunte en laagtepunte in sy lewe met lesers deel. Die boek sal aan die begin van volgende jaar beskikbaar wees.

Theuns vertel hy was anderdag in Bloemfontein tydens die Vrystaat Rugbyunie se feesvieringe en hy het by sy ouerhuis in Dan Pienaar verbygery. Daar moes hy sien hoe die bome wat hy en sy pa op die erf geplant het, nou reuse bome is wat bo die huise uittroon. Daar en dan het hy opnuut besef hoe vinnig die lewe verbysnel.

“Ek was nog altyd vreeslik realisties. Wanneer daar iets negatiefs gebeur het, en ek kon daar niks aan doen nie, het ek dit aanvaar. Daar is by my ook nie verwyte oor dinge nie en ek glo ’n mens moet elke oomblik geniet, die lewe is kort. Maar tog weet ek ook ons is net ’n klein stippeltjie in God se groter plan. Wanneer jy besef die hier en nou is nie al waarom dit draai nie, gee dit eensklaps vir jou sin aan jou bestaan.”

jvaneeden@volksblad.com
Volksblad

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!