AFRIKANERS, AFRIKAANSES EN DIE IDEAAL VAN NASIEBOU

Volksblad: Theuns Stofberg
Augustus 26, 2015
Resensie: NJ Hou Koers
September 4, 2015

deur dr. Danie Langner

Die spanning van totalitêre nasiebou

Nelson Mandela het na afloop van die verkiesing op 27 April 1994 ’n versoenende hand na Afrikaners uitgesteek met die woorde: “Die uitdaging van die nuwe patriotisme is nie een van ’n keuse tussen Afrikanerdom en Suid-Afrikanerskap nie. Inteendeel, dit is gewis oor die genesende versoening van Afrikaners met volle Suid-Afrikanerskap.” Nasiebou was ’n nuwe gonswoord wat ’n gemeenskaplike toekoms vir Suid-Afrikaners moes ontsluit. In praktyk het selfverryking deur korrupsie, regstellende aksie, ideologies gedrewe transformasie, kaderontplooiing, die soustrein, die brutaliteit en omvang van die plaasmoorde, tesame met ’n misdaadgolf die potensiaal van nasiebou ondergrawe.

Die grootste enkele rede vir die huidige mislukking van nasiebou is die ANC se onverbiddelike nasionaal-demokratiese rewolusie wat hulle op Suid-Afrikaanse gemeenskappe afdwing. In die naam van nasiebou onderbeklemtoon die ANC die veelvoud van identiteite en gemeenskappe om sodoende die klimaat te skep waardeur hulle ‘n eensydige meesterverhaal op Suid-Afrika afforseer. Die kriminalisering van Afrikanergeskiedenis as ’n misdaad teen die mensdom is nodig om suksesvol nuwe raswette en beleide te implementeer. Die donker kante van die strugglegeskiedenis word onder die dekmantel van nasiebou in skoolgeskiedenishandboeke versag, verswyg, subtiel verdraai of in heldeverhale omtower, terwyl Westerse geskiedenis, en spesifiek Afrikanergeskiedenis, grotendeels as sleg en boos uitgebeeld word. Radikale aktiviste word suksesvol as voetsoldate ontplooi om deur geweld op kampusse en in gemeenskappe ’n klimaat vir transformasie te skep soos wat tans op NWU, Stellenbosch en Elsenburg Landboukollege gebeur. Ongeag Universiteitsgemeenskappe, studente en donateurs se taalkeuse word daar uiteindelik, dikwels met die heelhartige samewerking van rektore, ’n klipharde ideologiesgedrewe Engelse taalagenda geïmplementeer onder die voorwendsel van gelyke geleenthede, nasiebou, versoening en geregtigheid. Jong Afrikaners wat na 1994 gebore is, nooit apartheid geskep het en nooit daarvoor gestem het nie, moet nou deurloop. Afrikaans is maar net die verskoning om jong Afrikaners en hul ouers by te kom.

Johannes Degenaar het reeds in 1995 gewaarsku teen die oppervlakkige kunsmatigheid van die ANC se totalitêre nasiebouprojek. Ongelukkig het sy tydige waarskuwing op dowe ore geval. Teen die draai van die eeu het baie Afrikaners hul kulturele selfvertroue verloor om as Afrikaners op te staan en standpunt te stel. Uit vrees vir etikettering, beskuldigings oor apartheid en etnosentriese verwyte het sommige Afrikaners berouvol, gewillig, gedienstig en gedwee na allerhande maniere gesoek om polities korrek voor die regering se totalitêre nasiebouprojek te buig. Wimpie de Klerk het teen die laat negentigs Afrikaners beskryf as kroes, kras en kordaat, en gepleit dat Afrikaneridentiteit in die gees van nasiebou verruil moet word vir die term Afrikaanses. Volgens De Klerk is Afrikaners: “Letterlik inmekaar gekrul, siek, olik. Afrikaners is aan die rondmaal soos ’n klomp vasgekeerde skape… Dan is daar die hink-en-pink Afrikaners wat etikette om hulself hang: die ontnugterdes; die rigtingloses; die sinici; die magteloses; die bedruktes; die beswaardes; die afwagtendes wat wag op ’n kaptein wat weer hekke sal oopmaak … Ander klein volkies is in hulle kroesheid uiteindelik uitgewis.”

Gaandeweg het sommige Afrikaners en kultuurorganisasies op die wenk van De Klerk hulle Afrikaneridentiteit begin ontken en die nuwe gonswoordjie Afrikaanses omhels. Afrikanerskap is as eksklusief, uitsluitend beskryf; as iets waaroor mens eintlik skaam behoort te wees. Vreemde terme het ontstaan, soos wit Suid-Afrikaanse Afrikaanses of wit Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners. Hierdie terme word deur sommige as polities korrek beleef, maar dui eerder op interne koersloosheid. Selfs al verval die woordjie Afrikaanses toenemend in onbruik, word Afrikanerskap steeds deur sommige Afrikaanse koerante en taalorganisasies as ’n verfoeilike, illegitieme verskynsel beskou wat liefs ter wille van nasiebou agterweë gelaat moet word. Afrikanerorganisasies en individue wat opstaan vir hul (grondwetlike) reg om ook Afrikaner te mag wees word voor die voet uitgebeeld as konserwatiewe, regse karikature. Wanneer Afrikaners hulle uitspreek teen die marginalisering van Afrikaans, die kwalik bedekte verengelsingsagenda aan Afrikaanse universiteite ontmasker, beswaar maak teen staatsverval en vele ander onregmatighede, word hulle beskuldig dat hulle vasklou aan apartheid. Wanneer organisasies deur positiewe selfdoenaksies verantwoordelikheid neem om te red wat te redde is en terselfdertyd soek na werkbare toekomsoplossings, word hulle beskuldig dat hulle hulself isoleer en anti-versoenend is.

Venyn en verdagmakery teenoor Afrikaners word deur sommige Afrikaanses, weliswaar net in hulle eie oë, as ’n bewys van verbintenis tot nasiebou en versoening beskou. ‘n FAK-verslag wat wys op die eensydige geskiedenis en growwe feite foute in skoolhandboeke en boonop deur ‘n hoogs gerespekteerde geskiedenisdosent nagesien is, word summier deur ‘n Afrikaanse koerant afgemaak as “leuens” en dat dit “moeilik lees”. As Afriforum beswaar maak teen die totalitêre nasiebouprojek en geskiedenis in perspektief probeer stel word hulle deur ‘n joernalis (wat self nog nie eers die film gesien het of Afriforum se kongres bygewoon het nie) oor die vingers getik dat hulle “mense bang praat”, of nog erger, “mense afvallig maak.” Afvallig van wat? Die polities-korrekte beskuldigings teen Afrikanerorganisasies en hulle “benoude lede” word in die openbare media rondgeslinger in dieselfde week waar Afrikaans aan nog ‘n kampus sterf en nog ‘n kollege brand.

Die vreemde verskynsel is egter dat, terwyl Afrikaanses toenemend ontnugter word, enorme interne spanning in hulel strukture beleef, as gevolg van vervreemding met hulle nismark vinniger lesers en lede verloor as wat China se aandelebeurs geval het, beleef Afrikanerorganisasies vandag ’n nuwe groei en dinamika. Wat is die rede?

’n Eietydse kultuurstrategie

Die verlies aan politieke mag met die ontbinding van die Nasionale Party het Afrikaners gedwing om nuwe toekomsstrategieë te bedink. Onder leiding van die FAK het twintig Afrikaner-kultuurorganisasies teen 2000 met mekaar begin beraadslaag oor maniere om anderkant die kulturele verstarring en diep verdelingslyne van die vorige eeu te tree. Afrikaners wou nie hulfself isoleer nie, maar anderkant apartheid na nuwe balans tussen kerk, volk en staat soek. Tom Dreyer, destydse Hoofleier van Die Voortrekkers het, as voorsitter van een van die gespreksgeleenthede, verduidelik: “Ons moet almal dieselfde ideaal hê, naamlik dat Suider-Afrika ’n veilige en voorspoedige woonplek vir almal sal wees. Kulturele vryheid is veel belangriker as wat die meeste mense besef. Ongelukkig voel jy eers die gemis as jy dit verloor het. Kulturele vryheid beteken dat Afrikaners hulle taal en kultuur ongehinderd kan uitleef en dieselfde vryheid ook aan die ander burgers van die land gun, want hulle bou aan die ideaal van ’n land waar elke kultuurgroep se kinders en kleinkinders in voorspoed, veiligheid en kulturele vryheid kan woon.”

Hierdie idees het sedert 2000 neerslag gevind in ’n nuwe 21ste-eeuse kultuurstrategie wat breedweg deur Danie Goosen beskryf word as: “’n beweging weg van staatsafhanklikheid na gemeenskapselfstandigheid; weg van die sindroom van wag op die staat se inisiatief na deelname aan eie gemeenskapsinstellings; weg van die teleurstellings in die staat na ’n benadering wat self skep, self handel, self die toekoms oopmaak. Dit is ’n kultuurstrategie wat gekenmerk word deur nuwe kulturele woordeskat, kulturele vlugvoetigheid en die wegbeitel van uitgediende benaderinge.”

Afrikaners het hulself begin herorganiseer in sterk burgerlike en kulturele organisasies. Die Voortrekkermonument, Die Voortrekkers, FAK, SAOU, FEDSAS, Dameskring, Solidariteit. die Rapportryers en Pretoria FM het saam met vele ander organisasies hulself herorganiseer en nuut verpak. Nuwe Afrikaner- burgerlike organisasies soos die Erfenisstigting, AfriForum, Maroela Media en Afrisake het op die toneel verskyn en maak vandag ’n saakmakende verskil. Met die verskyning van internet het globale omgewingsprobleme en internasionale tendense ook deel geword van Afrikaners se daaglikse doen en late. Vandag staan Afrikanerorganisasies, gemeet aan internasionale standaarde, op die voorpunt van moderne tegnologie en kulturele entrepreneurskap.

Die grootste skuif het egter op ideële terrein plaasgevind. Baie van die ideële grondskuiwe vind steeds onder die oppervlak plaas en is nog nie duidelik sigbaar in die openbare oog nie. Die nadelige gevolg is dat moderne Afrikaners steeds deur die bril van die verlede deur sommige beoordeel en veroordeel word. Ironies genoeg, meestal nie deur die ANC nie, maar deur Afrikaanses wat hardnekkig vasklou aan die uitgediende totalitêre nasiebouprojek en hulle ou persepsies, ou denke, ou konsepte en ou woorde wat ontstaan het in die vorige eeu.

Die meeste middelgrondsoekende Afrikanerorganisasies definieer vandag Afrikanerskap lankal nie meer vanuit die staatsafhanklike volksidioom van die vorige eeu nie, maar vanuit ’n eietydse en internasionaal erkende gemeenskapsidioom, waar eerder gefokus word op dít wat ons met mekaar in gemeen het, as dít waaroor ons verskil.

Afrikanerskap word subjektief, dinamies en ruimteskeppend vertolk aan die hand van vryheid van assosiasie. Afrikanerskap is vanuit selfdefiniëring ’n eie keuse; ’n vrye vereenselwiging met die gemeenskap en sy geskiedenis en aanvaarding deur hulle. Vereenselwiging met “ons” beteken nie selfverheerliking of stelling inneem teenoor “hulle” nie.

Afrikanerskap staan ook nie meer in spanning of in isolasie teenoor ander identiteite nie, maar saam met ’n veelvoud van identiteite. Moderne Afrikaners vind hulself gemaklik in ’n veelvoud van identiteite. Hulle deel ’n gemeenskaplike Westerse herkoms, maar is terselfdertyd volledig deel van Afrika. Afrikaners het hul taal, Afrikaans, en hul identiteit as Afrikaners na Afrika vernoem. Hierdie verskillende identiteite, of vorme van burgerskap, kan breedweg as volg beskryf word:

• Afrikanerskap – deel van ’n kultuurgroep
• Burgerskap – deel van die medeburgers in jou land
• Taal – deel van ’n Afrikaanse taalgemeenskap
• Afrikaan – deel van Afrika
• Internasionaal – deel van wêreldburgerskap

Afrikaners het nuwe kulturele begrippe ontwikkel waarmee hulle vandag suksesvol inhoud aan die eietydse kultuurstrategie gee. Enkele van die belangrikste kultuurbegrippe is die volgende:

Kulturele of gemeenskapsvryheid: Gemeenskapsvryheid beteken dat kultuurgemeenskappe hul taal en kultuur ongehinderd kan uitleef en self kan besluit oor sake wat hul gemeenskap raak, soos onderwys. Kulturele vryheid word nie net erken deur die grondwet nie, maar is ook ’n internasionaal erkende begrip wat deur die VN aanvaar is as ’n internasionale strategie waar minderhede se taal-, kulturele- en politieke regte gewaarborg kan word. Dit word reeds suksesvol in verskeie lande toegepas.

Vryheid van selfverwerkliking: Die grondwet waarborg die vryheid van keuse. Persone kan ook vryheid in en deur hul gemeenskapsinstellings ervaar wanneer hulle deur selfdoenplanne en uitnemende dade hulle volle potensiaal verwerklik. Deur selfverwerkliking ervaar die individu en gemeenskap geluk en trots. Die vryheid van selfverwerkliking is ’n voorwaarde vir ’n florerende kultuurgemeenskap.

Kulturele selfvertroue: Afrikaners wat as Afrikaners ’n nuwe kulturele selfvertroue ontwikkel om trots te wees op hul verlede, te leer uit hul foute en hulle as kultuurgemeenskap laat geld oor kwessies wat hul gemeenskap raak.

Kulturele volwassenheid: ’n Lewenshouding wat gekenmerk word deur wedersydse respek, verdraagsaamheid en erkenning van diversiteit en ander kultuurgroepe.

Kulturele burgerskap: Vandag woon trotse Afrikaners nie net in Suider-Afrika nie, maar in bykans elke ander land in die wêreld. As trotse en positiewe landsburgers van die Republieke van Suid-Afrika, Namibië, Brittanje, Australië, Kanada, Nieu-Seeland, die VSA of enige ander land waar ’n Afrikaner ’n landsburger is, respekteer Afrikaners daardie land se nasionale simbole, gehoorsaam hul wette en ondersteun die nasionale sportspanne. Afrikaners stem in verkiesings, betaal belasting en lewer, soos alle landsburgers behoort te doen, ’n positiewe bydrae tot die land se toekoms. Burgerskap word bepaal deur staatsgrense, maar Afrikanerskap word nie ingeperk deur hierdie grense nie. Om dié rede verduidelik Koos Malan is Afrikaners ook burgers van ’n kultuurgemeenskap. Hy verduidelik: “Kulturele burgerskap hou stand ongeag die verandering van staat, regerings en grondwette. Ons kan die waarde van ons kulturele burgerskap nouliks onderskat. Ons behoort te weet – en so kan baie van die beste presteerders onder Afrikaners getuig – dat die kultuurgemeenskap waartoe ons behoort die voedingsbron bied van waaruit die beste vrugte juis gedra kan word. Wanneer ons ons Afrikaner-burgerskap opneem om die veilige voortgang van ons gemeenskap te verseker, maak ons dit derhalwe terselfdertyd moontlik vir toekomstige Afrikaners om danksy hulle gesonde gemeenskap te kan floreer.”

Kulturele vryheid as die nuwe grondslag vir nasiebou

Anders as wat dikwels deur die ANC en Afrikaanses voorgegee word, is middelgrondsoekende Afrikaner-kultuurorganisasies vandag allesbehalwe afsydig teenoor nasiebou. Afrikaners besef deeglik dat Suid-Afrika se toekoms afhanklik is van goeie verhoudinge en die noodsaaklikheid dat Suid-Afrikaners anderkant apartheid nuwe gemeenskaplike grond moet vind. Kulturele vryheid is allesbehalwe isolasie, onttrekking of ’n nuwe apartheid soos wat sommige Afrikaanses graag sou wil beweer. Kulturele vryheid skep die grondslag vir blywende vreedsame saambestaan gebou op wedersydse respek en erkenning. Deur kulturele vryheid word stewige boustene vir ’n polities- en kultureel volwasse samelewing gelê aan die hand van ’n demokratiese verstaan van nasiebou.

’n Demokratiese verstaan van nasiebou forseer nie, soos die ou totalitêre nasiebouprojek van die negentigerjare, ’n eensydige meesterverhaal op die hede en toekoms af nie, maar put diepte uit die ruimteskeppende erkenning en akkommodering van veelheid van kulture, tale en verhale. Soos wat alles in die nuwe Suid-Afrika nie net sleg is nie, weier moderne Afrikaners egter om te aanvaar dat alles in hul verlede net sleg was. Afrikaners beskou ’n gebalanseerde en bestendige debat oor die verlede as ’n noodsaaklike voorwaarde en bousteen vir die ontwikkeling van ’n eietydse demokratiese verstaan van nasiebou.

’n Demokratiese verstaan van nasiebou plaas nie verskillende identiteite in spanning met mekaar nie, maar skep ’n akkommoderende ruimte en respek, omdat diverse identiteite juis die boustene van ’n gesonde nasie is. As identiteite ontken word, word ’n nasie juis verarm. ’n Demokratiese verstaan van nasiebou soek balans tussen eenheid en veelheid. Die totalitêre nasiebouprojek beklemtoon slegs die eenheid, terwyl diegene wat van nasiebou afstap, slegs die veelheid oorbeklemtoon.

’n Demokratiese verstaan van nasiebou bied die geleentheid vir gemeenskappe om eie verantwoordelikheid vir hul geskiedenis en kultuur te neem, self te besluit oor plaaslike sake en hul kinders se onderwys, maar ook om gemeenskaplike grond te vind met betrekking tot brandpuntsake en ekonomiese kwessies wat almal raak.

Kulturele vryheid bied toekomshoop

Anders as wat doemprofete beweer, het Suid-Afrika steeds die potensiaal om ’n wenland te wees met oneindigende toekomsmoontlikhede. Dit is immers hier in Afrika waar ons as Afrikaners ons Christelike roeping uitleef en vir ons kinders en kleinkinders ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms wil skep. Kulturele vryheid skep ‘n grondwetlike ruimte vir gemeenskappe wat ook hulle kulturele identiteit en erfgoedere in beskerming wil neem, maar dit bied veel meer. Kulturele vryheid bied ’n werkbare suksesmodel om blywende en stabiele nasiebou te bewerkstellig.

0 Comments

  1. Nasiebou is minstens 350 jaar reeds aan die orde in die RSA:
    1. Die VOC wou al in die 1650’s aan die suidpunt van Afrika ‘n nasie tot stand bring. Van Riebeeck is verbied om teen misdadige Koina op te tree wat Nederlandse beeswagters vermoor het om hul vee te roof. Selfs selfs toe sy eie woning afgebrand is, kon hy niks doen nie. Hy is uit Nederland beveel om met die inheemse volke nasie te bou.
    2. Toe kom die Britse Empire, wat ‘n onderdanige nasie uit Suid-Afrikanders wou bou – wat vanuit Londen regeer kon word. Die grensboere is verbied om inheemse rowers en moordenaars wat hul opstalle afgebrand en hul vee weggeevoer het, te vervolg. Dit was een van ndie vernaamste redes vir die Groot Trek na die noorde.
    3. Die Boererepublieke wou nasie bou, en deur hul welwillendheid is hul grondgebied toe deur uitlander-fortuinsoekers oorstroom, wat hul ideaal van ‘n eie utopie vernietig het. Dit het die Britse Empire die geleentheid gebied om met vuur en kanon die republieke tot as te verbrand, sy Afrikaner-bevolking byna uit te roei, en van al die inwoners slawe van Londen te maak.
    4. Louis Botha en Jan Smuts wou nasie bou, ondergeskik aan Londen en die Britse Empire.
    5. Hendrik Verwoerd wou nasie bou met al die witmense in die land, en het die ideaal gekoester dat elke etniese volk sy eie gebied sou kry om soos een groot reenboog oor die goud van die Suid-Afrikaanse aarde te span. Hy het onder meer verbied dat navorsing oor die Britse konsentrasiekampe gedoen word. Hy wou nasie bou tussen Afrikaner en Engelsman.
    6. Sedertdien het die res “nasiebou” gepraat, en praat dit steeds. Maar dit is net opportunistiese, goedkoop politieke retoriek sonder bodem of geloofwaardigheid.

    Idealisme is ‘n droom wat in die RSA nog maar altyd ‘n nagmerrie was.

  2. James Jacobs sê:

    Ek will net as historikus in reaksie op prof Goosen se artikel die volgende noem en vra?

    Eerstens, as Afrikaners nie die politieke tot 1994 gehad het nie, het die ANC reeds in 1960 die land omskep in ‘n Marxistiese staat. Lees gerus “Long Walk to Freedom” in hierdie verband. Dit was in elk geval die disintegrasie van die USSR en die ywerige pogings van mense soos Harry Oppenheimer en Anton Rupert was Nelson Mandela laat afsien het van sy Marxistiese ideale. Tans is daar ook baie swart sakelui wat hierdie stelsel goed benut en werk skep.

    Die vraag wat ek wil vra is “Was Shaka en Moshoeshoe se heerskappy oor ander swart etniese groepe dan nie ook ‘n spesiale vorm van kolonialisme nie?

    Groete

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!