DIE ANC, DIE STAAT EN DIE AFRIKANERS (‘KOLONIALISTE VAN ’N BESONDERE SOORT’)

Namibië: ‘n Plek om dop te hou
September 4, 2015
Die Toekomsberaad en die “Seunse Weenkoor”
Oktober 20, 2015

deur prof DANIE GOOSEN

Afrikaners voer dikwels gesprekke met die ANC. Meestal loop hierdie gesprekke op niks uit nie. Nog erger, telkens word Afrikaners tydens sodanige gesprekke ideologies ore aangesit. In plaas daarvan dat Afrikaners die ANC met behoorlik deurtrapte idees tot verantwoording roep (of hom tot ernstige nadenke stem), gebeur dikwels presies die teenoorgestelde.

In die hart van hierdie gesprekke staan ’n strategie waarmee die ANC met vervelige reëlmaat die Afrikaners troef: In plaas daarvan om eerlik en reguit op die talle vrae van Afrikaners oor dinge soos die agteruitgang van die staat te antwoord, word die Afrikaners met skuldgevoelens verlam.

En laat daar geen twyfel daaroor wees nie, die ANC is meesters in dié politiek van skuld. Afrikaners word nie net telkens weer aan apartheid herinner nie, maar in die besonder aan hul sogenaamde koloniale verlede, synde dit dan – in die woorde van die ANC – ’n koloniale verlede van ’n besondere soort.

Daarmee is die ‘gesprek’ by voorbaat ten gunste van die ANC beslis. Dit alles vanweë die feit dat die party homself by voorbaat as moreel verhewe en die ander party as besmet met morele skuld beskou.

Die feit dat Afrikaners hulself ná sodanige gesprekke met die wete troos dat hulle darem met die groot menere van die ANC kon praat, grens aan die patetiese. In hulle harte weet hulle dat hulle weer eens niks reggekry het nie. En dat hulle nogmaals die stryd om idees verloor het.

Nou, die vraag is hoe moet Afrikaners hierdie saak hanteer? Alhoewel die bedoelinge van die opmerkings hieronder geensins is om ’n volledige antwoord te gee nie, wil ons tog op ’n ernstige gebrek in die ideologiese mondering van die ANC wys. Dit hou juis met die ‘kolonialisme’ verband – en die meestal onbewuste spanning wat die ANC-standpunt hieroor kenmerk.

Wat is die werkswyse van die ANC? As dit tot die wesenlike gereduseer kan word, kan gesê word dat dié party die onderskeid tussen die ‘kolonialisme’ en die ‘antikolonialisme’ tot vervelens toe inent op ’n onoorbrugbare moralistiese spanning tussen die ‘bose’ en die ‘goeie’, tussen duiwel en engel.

Ingevolge hierdie vertrekpunte laat die ANC geen twyfel aan watter kant van hierdie moralistiese indeling hy homself bevind nie. Terwyl hy homself graag voorhou as voorste engel in die kamp van die antikoloniale magte, is die Afrikaners telkens weer deel van die bose groepering.

Een van die belangrikste implikasies van hierdie moralistiese indeling van die koloniale verlede is dat daar geen historiese oorvleueling, grys gebiede of nuanses hierbinne toegelaat word nie. Óf jy bevind jou aan die kant van die engele óf aan die kant van die duiwel.

Daarmee word nie voorgegee dat die onderskeid tussen koloniaal en antikoloniaal sinloos is nie. Ná die Tweede Wêreldoorlog is ’n groot deel van die geskiedenis inderdaad deur die stryd tussen koloniale en antikoloniale magte gekenmerk.

Maar is dit alles so eenvoudig? Kan dié onderskeid in alle omstandighede gehandhaaf word? Is dit altyd so klokhelder duidelik wie tot die onderskeie kampe behoort? Kan die ANC sonder vrees van teenspraak beweer dat hyself nie deur die ‘koloniale’ erfenis beïnvloed (en self ten diepste daardeur gestempel) is nie? En kan hy werklik volhard met sy miskenning van die feit dat die Afrikaners (‘koloniste, dit wil sê uitbuiters, van ’n besondere soort’) ook ’n heroïese stryd teen die kolonialisme gevoer het?

Ongelukkig is die geskiedenis ten ene male veels te ingewikkeld om binne die moralistiese skemas van die ANC te pas.
As daar maar net vir ’n sekonde by die geskiedenis van die sogenaamde antikoloniale beweging stilgestaan word, is dit duidelik dat laasgenoemde deur enorme interne spanninge gekenmerk word. In die hart van hierdie spanninge staan die onontwykbare feit dat die antikoloniale beweging dikwels die koloniale kragte nageboots het. In die proses het dit dikwels gepoog om selfs méér koloniaal as hul eertydse koloniale meesters te wees.

Daarmee het die antikoloniale magte, in weerwil van allerlei mooiklinkende slagspreuke en beloftes van ’n antikoloniale utopie, ironies genoeg juis verdere kontinuïteit aan die koloniale erfenis gegee.

Alhoewel die ANC nie noodwendig ’n sin vir ironieë in die geskiedenis het nie, is die ironiese gevolge van dié nabootsing duidelik. In plaas daarvan dat die antikoloniale magte in alle omstandighede helder en duidelik van die koloniale magte onderskei kan word, het hul nabootsing van laasgenoemde juis hierdie onderskeid ondermyn. Soveel so dat dit dikwels onduidelik geword het wie nou eintlik die koloniale kragte verteenwoordig en wie nie.

Kom ons staan by slegs ’n enkele tersaaklike voorbeeld stil, naamlik die moderne territoriale staat. Enigiemand wat hoegenaamd ’n greep op die geskiedenis van die moderne staat het, weet dat dié staat een van die heel belangrikste magsinstrumente was waarmee Europese moondhede die moderne koloniale tydperk ingelei, deurgevoer en bestuur het.

Deur middel van die moderne territoriale state het koloniale kragte hul eie politieke, militêre en ekonomiese skemas op groot dele van die wêreld neergelê. (Sien die kunsmatige landsgrense wat deur dié state op Afrika, die Midde-Ooste en Amerika afgedruk is).

Hierdie staatlike skematisering het dikwels met ’n omvattende ontwrigting van inheemse kulture gepaard gegaan. So is gemeenskapstrukture dikwels aan die gesag van die sentralistiese staat onderwerp; eiesoortige sosiale en ekonomiese strukture is ontwrig; ou gesagsliggame is opgehef; koloniale behoeftepatrone is as normatief beskou, ensovoorts.

Daarby het die proses van staatlike skematisering egter nie geëindig nie. Enigeen wat hom- of haarself nie deur die retoriek van politieke demagoë uit die antikoloniale tradisie laat mislei nie, weet dat die einste antikoloniale kragte nie kon wag om hul hande op presies dieselfde koloniale instrumente, naamlik die moderne territoriale state, te lê nie.

In weerwil van hul vyandskap teen die koloniale magte was die magsinstrumente van laasgenoemde kennelik te aantreklik om te weerstaan. Ons kan hierna as die ‘dialektiek van die kolonialisme’ verwys: Enersyds is die koloniale meesters verag, andersyds is die houding van die antikoloniale kragte dikwels deur intense vorme van afguns en jaloesie jeens dieselfde meesters gekenmerk. ‘As hulle dit het, kan ons dit ook kry,’ is dikwels die stemming ten grondslag van die antikoloniale kragte.

Die historiese gevolge hiervan is duidelik (ongelukkig meestal nie vir die antikoloniale kragte self nie, die ANC ingesluit): In hulle nabootsing van en uiteindelike toe-eiening van die territoriale state het die antikoloniale kragte dikwels selfs erger vorme van geweld teen die inheemse kulture en hul gemeenskapsinstellings gepleeg.

Niks illustreer dié punt so as die talle totalitêre bewinde, diktature en militêre vergrype wat die ganse antikoloniale geskiedenis kenmerk nie. Nie net die Midde-Ooste nie, maar ook Afrika is deurdrenk van die bloed van slagoffers van sogenaamde antikoloniale state. Orals was dieselfde patroon sigbaar: Skaars was die koloniale meesters vort of ou vorme van staatsgeweld is deur die sogenaamde bevryders teen die gemeenskappe ingespan. Dit alles met behulp van die instrumente van die kolonialiseerders.

Kortom, die gedagte dat die kolonialisme en die antikolonialisme skerp van mekaar onderskei kan word, is bloot ’n fiksie, ’n leuen waaragter die vergrype van die nuwe magshebbers versteek word.

Die werklik kritiese vraag is of die ANC homself ook aan hierdie leuen skuldig maak. Voer die ANC nie onder die vaandel van sy antikoloniale verlede, maar met behulp van dieselfde staatsinstrumente uit die koloniale era, ’n veldtog ingevolge waarvan alle gemeenskappe aan sy sentralistiese gesag onderwerp moet word nie? En is die gevolge daarvan nie soortgelyk aan wat in die koloniale era gebeur het nie, naamlik dat gemeenskapsinstelling aan die wil van die staat onderwerp word (nou met behulp van die verskoning dat dit die bevolkingsamestelling moet weerspieël)?
As ons die ruimte gehad het, kon ons ook na ander voorbeelde as die staat verwys, soos die antikoloniale ANC se omhelsing van alles wat uit die sogenaamde koloniale Weste kom, soos Westerse lewenstyle en verwagtinge, die Westerse wetenskap en tegniek, ensovoorts. Om in ’n duur Duitse motor-kavalkades op moderne hoofweë te jaag en jouself tegelyk as antikoloniaal voor te hou, maak eintlik ’n bespotting van die eretitel ‘antikoloniaal’.

Na 21 jaar aan stuur van sake het ons genoeg ervaring met die ANC om te weet dat ’n enorme waarheid in dié retoriese vrae opgesluit lê.

Afrikaners behoort hulle in toekomstige gesprekke met die ANC nooit weer deur sy antikoloniale retoriek te laat flous nie. Eerder die teendeel, die ANC behoort daarop gewys te word dat hy – in weerwil van sy hoogheilige aansprake om aan die voorpunt van die antikoloniale beweging te marsjeer – inderwaarheid kontinuïteit aan die koloniale verlede gee.

2 Comments

  1. Andre Pelser sê:

    Die fout wat almal maak is om oor geskiedkundige blaam te debatteer, in stede van die stand van Afrika sedert UHURU en oorsake daarvan, A-/apartheid is nie die oorsaak van die flagrante korrupsie in SA nie, ook nie kolonialisme in die res van Afrika nie. Vryheid sonder verantwoordelikheid en regte sonder verpligtinge is die grondslag van anargie en meerderheidsdwang is tirannie. Die enigste beskerming hierheen is ‘n grondwetlike bestel en erkenning van die oppergesag van die Reg volgens internationaal erkende norme.

  2. Geen gesprek is moontlik met ‘n regime wat gereed staan met pasklaar retoriek om sulke gesprekke in die wiele te ry nie. Hy het geen begeerte om met enige teenstander gesprek te voer nie. Hy wil baasspeel en basta. Dit is die eeue-oue Afrika tradisie: Die koning regeer, en dit is vir hom dat die dromme slaan. Dit sal nooit verander nie. Miljoene jare se genetiese voetspoor word nie binne drie eeue verander nie. Die ganse bemagtigingsstrategie van die Afrikaner moet verander as hy nie wil ondergaan nie. Die demografie van die afgelope twintig jaar toon ‘n skerp afwaartse grafiek vir hierdie volk. Politieke ginnegaap gaan dit nie stuit nie. Begin deur die marionetmeesters agter die ANC op te spoor en hulle te ontmasker. Maar dit vra breinkrag en ware leierskap, nie politieke breedsprakigheid deur opportuniste en huigelaars rondom die parlementere geldpot nie.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!