Beeskraal Revival sing gewilde Afrikaanse volksmusiek

Die Toekomsberaad en die “Seunse Weenkoor”
Oktober 20, 2015
Afri-Duetfees 2015
Oktober 20, 2015

In ’n musiekindustrie vandag, waar musiek vervaardig word vir massaproduksie en kommersiële waarde, is daar steeds groepe soos Beeskraal Revival wat vashou aan die oorspronklike normes en waardes van musiek-maak. Hierdie unieke groep het met hul sterk Afrikana-wortels al diep spore getrap in die Suid-Afrikaanse musiekindustrie en spog met ’n ossewa vol toekennings. Die media het die groep as revolusionêr bestempel in ’n era waar Afrikaans drooggeloop het in vertaalde Europese wysies. Beeskraal is verseker een van die mees lewendige groepe in die lande en meesters van hul instrumente. Die groep se lede het almal formele musiekopleiding gehad. Onlangs het die stigterslid Charlie Smidt aangesluit as die mediapersoon van die FAK en so is Beeskraal toe ook ingewy as ambassadeurs van die FAK. Die groep sing nou by al hul vertonings ou FAK-treffers wat hulle ’n bietjie skop gegee het met ’n moderne, tog eg Afrikaanse, inslag. So is daar in die drukgange ook toe besluit om ’n album te maak van eg Afrikana-skatte. Liedjies soos die “Oukraalliedjie”, “Ver in die ou Kalahari”, “Die lied van Jong Suid-Afrika” en nog vele meer gaan op die album verskyn. Daar gaan ook ’n paar gaskunstenaars verskyn, soos Richard van der Westerhuizen en Linda Malan. ’n Groot pluspunt op die CD is die duet saam met Jak de Priester met sy “Sporelied”. Jak het die lied spesiaal geskryf vir Die Voortrekkers se 85ste bestaansjaar in 2016. Beeskraal sing Afrikaanse volksmusiek gaan binnekort op die rakke wees en gaan voorwaar die luisteraar op ’n nostalgiese reis, een met ’n moderne aanslag, vat.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!