Die Toekomsberaad en die “Seunse Weenkoor”

DIE ANC, DIE STAAT EN DIE AFRIKANERS (‘KOLONIALISTE VAN ’N BESONDERE SOORT’)
September 4, 2015
Beeskraal Revival sing gewilde Afrikaanse volksmusiek
Oktober 20, 2015

deur prof DANIE GOOSEN

Die Toekomsberaad van die Solidariteit Beweging is onlangs in Pretoria gehou. Alhoewel die media reeds heelwat aandag daaraan gegee het, duur die gesprek oor die betekenis daarvan nog voort.

Vanuit die perspektief van die FAK, kan ten minste die volgende opmerkings daaroor gemaak word. In die eerste deel verwys ons kortliks na die betekenis van dié gebeurtenis, waarna ons in die tweede deel enkele opmerkings oor die afwysende kommentaar van sommige woordvoerders sal maak (dit wil sê dié woordvoerders wat Tim du Plessis in sy eie Rapport-kommentaar op die Toekomsberaad as die “Seunse Weenkoor” beskryf).

Algemene opmerkings

Eerstens, die Toekomsberaad en die groot sukses wat dit was, moet verstaan word teen die agtergrond van ’n groeiende selfvertroue wat daar die afgelope jare onder Afrikaners sigbaar is. In vele opsigte kan die Toekomsberaad as ’n uitdrukking van dié selfvertroue verstaan word.

As ons in gedagte hou dat talle Afrikaners in die dekade en meer ná 1994 aan iets soos kollektiewe neerslagtigheid gely het, het die Toekomsberaad in die teken gestaan van die teenoorgestelde neiging, naamlik die bereidwilligheid om op eie voete te staan, moue op te rol en self verantwoordelikheid te aanvaar.

Tweedens, enigeen wat die Toekomsberaad bygewoon het, sal daarvan kan getuig dat die groeiende selfvertroue onder Afrikaners kennelik nie deur ’n opgeblase of arrogante selfbeeld gekenmerk word nie. Inteendeel, ons indruk is dat die nuutgevonde selfvertroue ewewigtig is – en dat die soeke na ’n middelgrond tussen uiteenlopende benaderinge in die hart daarvan staan.

Laasgenoemde punt word treffend geïllustreer deur die sleuteltoespraak wat Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, tydens die Toekomsberaad gehou het. In die hart van Buys se toespraak staan die gedagte dat die nuwe ‘politiek van selfvertroue’ (my woorde) nie deur die heerskappy van slegs een benadering onder Afrikaners gekenmerk kan wees nie, maar dat dit voorsiening vir ’n veelheid van benaderinge maak.

Dié veelheid strek vanaf ’n beroep op die bestaande grondwetlike voorsiening vir taal- en kultuurgemeenskappe tot en met benaderinge wat klem lê op die skepping van selfstandige instellings en selfs plekgebonde (en in die besonder stedelike) hervestiging.

Vanuit ’n FAK-perspektief beoordeel, is dié sin vir veelheid onder Afrikaners van wesenlike belang. Tegelyk moet gesê word dat ons nie daaruit moet aflei dat ’n onderlinge samehang tussen Afrikaners onbelangrik is nie. Inteendeel, die voorsiening wat vir ’n veelheid van benaderinge gemaak word, kan juis die onderlinge samehang versterk. En ook dit moet verwelkom word.

Derdens, uit die Toekomsberaad het dit gestraal dat Afrikaners veel groter strategiese duidelikheid het oor wat hulle vandag te doen staan as in die dekade en meer ná 1994. Toe was Afrikaners dikwels deur strategiese verwarring en koersloosheid gekenmerk. Die Toekomsberaad is deur die teenoorgestelde stemming gekenmerk, naamlik groter strategiese fokus.

Hierdie fokus draai rondom die begrippe ‘selfstandigheid’ en ‘gemeenskap’. Tydens die Toekomsberaad is getoetste planne, wat op dié twee begrippe rus, aangekondig. Dit is planne wat betrekking het op verskeie terreine van die lewe: vanaf skole, ’n tegniese kollege en universiteit tot en met dinge soos plaaslike veiligheid en bestuur, goeie ekonomiese en kulturele praktyke, taalbeskerming en -uitbouing, ensovoorts.

Vanuit die perspektief van die FAK, moet ook hierdie groter strategiese helderheid en fokus verwelkom word.

Vierdens, onlosmaaklik deel van genoemde visie is die gedagte dat die selfstandigheid van die eie gemeenskap so ver as moontlik in samewerking met ander gemeenskappe verwesenlik moet word. ’n Oop hand van vriendskap en samewerking bestaan teenoor alle gemeenskappe.

Anders as wat die Seunse Weenkoor (ons verwys hieronder na hulle) tot vervelens toe beweer, strewe die Toekomsberaad nie ’n toestand van isolasie na nie. Wedersydse erkenning en samewerking tussen verskillende gemeenskappe is eerder kenmerkend daarvan. Ook hierdie uitgangspunt word deur die FAK ondersteun.

Dit bring ons by ’n laaste algemene opmerking. Dit hou verband met die nuwe selfvertroue. In die dekade en meer ná 1994 het Afrikaner-instellings ’n krisistyd ervaar. Verskeie instellings het gekrimp en op die rante van induiestorting gestaan. Tydens die Toekomsberaad is die punt egter bevestig wat talle van ons die afgelope jare sienderoë ervaar, naamlik dat daar weer instellings is wat die vermoë het om onder jong en dinamiese leierskap groot getalle mense te mobiliseer.

Dié groei van Afrikaner-instellings is nie die gevolg van kruiperigheid voor die bestaande ordes en ’n napraat van politiek-korrekte slagspreuke nie. Nee, dit is eerder die gevolg van goeie leierskap, ’n eerlike verrekening van bestaande werklikhede, die bereidwilligheid om bondgenootskappe aan te gaan, en die vermoë om ewewigtig op die uitdaginge te antwoord. Ook dit word deur die FAK verwelkom.

Die “Seunse Weenkoor”

In antwoord op die Toekomsberaad, het ’n klein groepie werklikheidsvreemde woordvoerders luid beswaar aangeteken. Die klagtes wat die Seunse Weenkoor teen die Toekomsberaad ingebring het, draai hoofsaaklik rondom die volgende punte:

1. Sonder uitsondering gaan die Weenkoor uit van ’n eenvoudige tweedeling. Volgens hulle is daar twee soorte mense: enersyds diegene wat ‘oop’, ‘demokraties’, en ‘toekomsgerig’ dink en handel, en andersyds die ‘benoudes,’ die ‘laertrekkers’, die ‘neo-nasionaliste’ en diegene wat na die verlede ‘terughunker’. Terwyl eersgenoemdes vry asemhaal, loop laasgenoemde die risiko om vanweë die verlies aan kulturele suurstof hulself kollektief te versmoor.

Tegelyk laat die Seunse Weenkoor (met apologie aan die een of twee dogters wat hulself in daardie geledere bevind) geen twyfel tot watter groep hulleself behoort nie: Terwyl hulle vir hulself die etiket van ‘oop,’ ‘demokraties’ en ‘vry asemhaal’ opeis, staan die Toekomsberaad in die teken van die nare neiging om laer te trek, met al die versmorende gevolge daaraan verbonde.

Nog meer, ingevolge dié tweedeling behoort die toekoms aan hulle en hul ondersteuners. Tegelyk sal die laertrekkers en terugkrabbelaars deur die geskiedenis in sy klaarblyklik onwrikbare pad na vooruitgang agtergelaat word.

Nou, so ’n tweedeling is een van die oudste truuks in die arsenaal van sofistiese ‘redenaars’ waaragter hulle hul eie kontradiksie probeer versteek. Laasgenoemde is egter sigbaar vir almal wat wil sien: Ondanks hul beroep op erewoorde soos ‘oop’ en ‘demokraties’, skryf die Weenkoor immers hul eie standpunte aan almal as normatief voor. Daarmee doen hulle presies dit waarvan hulle hul opponente beskuldig.

Terwyl hulle hul opponente van voorskriftelikheid beskuldig, is dit eintlik hulself wat die meesters van die politiek korrekte voorskrif, die moralistiese beterweterige bevel en die sug na ’n benoude eenheid is. Dit alles onder die vaandel van openheid, pluraliteit en vrye asemhaling!

2. Dit is betekenisvol dat verskeie lede van die Seunse Weenkoor saamstem met die Toekomsberaad dat daar vandag inderdaad groter klem op selfstandige handeling geplaas moet word. Daarsonder sal ons nie in staat wees om op die steeds verswakkende toestand van die staat te antwoord nie.

Maar, voeg hulle in een koor by, die klem op selfstandige handeling moet nie net ’n Afrikaner-ding wees nie. Inteendeel, die ganse burgerlike wêreld moet daarby betrek word.

Nou, inderdaad moet die ganse burgerlike wêreld betrokke raak indien ons ’n antwoord op die ernstige toestand in Suid-Afrika wil gee. Sonder die betrokkenheid van almal staar ons werklik ’n afgrond in die gesig.

Die vraag is egter ‘hoe?’ Hoe word die ganse burgerlike wêreld betrek? Indien die Weenkoor nie hierop ’n antwoord kan geen nie, beteken hulle voorspraak in wese niks nie. Trouens, in die mate waarin hulle in gebreke bly om hierop te antwoord, lê hulle hulself vir alle praktiese doeleindes by die bestaande ANC-geleide orde neer (presies dit waarop hulle ingevolge hul eie aansprake eintlik ’n antwoord wil wees).

Die feit van die saak is dat dié burgerlike wêreld eintlik ’n blote abstraksie sal bly solank as wat dit nie in spesifieke gemeenskappe en hulle instellings (belangegroepe, vakbonde, plaaslike gemeenskappe, taal- en kultuurgemeenskappe, ensovoorts) beliggaam word nie. Solank as wat hierdie punt nie begryp word nie, sal die beroep op die burgerlike wêreld steeds net dit wees, naamlik ’n beroep.

Hierdie punt is juis uitstekend deur die Toekomsberaad begryp. Omdat hy homself nie op alle burgers beroep nie, maar op spesifieke gemeenskappe uit die burgerlike wêreld, kan hy juis ’n leidinggewende rol daarbinne speel.

Ongelukkig begryp ons vriende in die Weenkoor nie hierdie punt nie. Hulle bly eenvoudig in gebreke om aan te dui waar en hoe die burgerlike wêreld beliggaam moet word. Die gevolg is dat hulle hulself ironies genoeg, ondanks hul geregverdigde kommer, by die heersende toestande neerlê.

3. ’n Laaste tersaaklike kenmerk van die Weenkoor is dat hulle nie uit die ‘banvloek’ van hul individualistiese vertrekpunte kan tree nie. Hulle kan eenvoudig nie insien dat die storie van Suid-Afrika (sowel in die verlede as in die hede) ook die storie van haar gemeenskappe is nie. Enige antwoord op Suid-Afrika se krisisse sonder die erkenning van hierdie feit is by voorbaat tot mislukking gedoem.

Erken die gemeenskappe. So kan die voorwaardes vir vrede, vryheid en geluk vir almal neergelê word.

Daarteenoor, misken die gemeenskappe en in die besonder die Afrikaners (veral hulle skole, universitêre ruimtes, erfenisse, ensovoorts), en dit sal die geheel benadeel. Is die Seunse Weenkoor inderdaad ‘oop’ genoeg om hierdie histories beproefde waarheid raak te sien? Tot dusver het hul ideologiese vooroordele hul van dié belangrike insig weerhou.

6 Comments

  1. Coenraad sê:

    Goed gestel en beredeneer.

  2. Die “oop gemoed” van die Weenkoor veroorsaak ‘n nimmereindigende invloed van redenasies en swak vriende wat onvolhoubaar en normeloos te midde van vele windrigtings en sigbare verval, op sanderige fondasies probeer bou. Dit is ‘n verganklike mite en nooit haalbare ideologie. Lank lewe die Afrikaner Toekomsberaad se praktiese en gedefineerde aksieplan. Mag dit vas staan en doeltreffend uitkring.

  3. Francois Griebenow sê:

    ‘n Puik, ewewigtige artikel. Die Seunse Weenkoor se verdagmakery, kwaadwillige etikettering van die beraad en kwansuise morele meerderwaardigheid eggo net so hol soos hulle gebrek aan alternatiewe.

  4. Hein sê:

    Die Seunse Weenkoor is n interessante nuwe benaming vir die groep wat vir hulleself, in die dae voor die groot referendum, die term “verligtes” toegeien het. Almal met n ander siening van dieselfde saak was toe as “verkramptes” bestempel.
    So stil-stil die afgelope jare het die term “verligte’ uit die geprekvoering verdwyn. Ek vermoed die verligtes het agtergekom hulle weet nie waar sit die skakelaar toe iemand intussen die lig afgesit het nie. Nou is hulle die Weenkoor. Interresante tye.
    Ek dink nie ons hoef te sensitief te wees oor die Weenkoor nie, hulle invloed is aan die taan en dalk is hulle nie meer die meerderheid nie

  5. Marinus Schoeman sê:

    Dankie Danie, jy het die saak uitstekend raakgevat en verwoord.

  6. Ondersoek die leiers en die werklike motiewe van die verdagmakers. Dit is hoe William Wallace die Skotte help bevry het van die Engelse dwingelandy.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!