Stigter van Voortrekkerbeweging met behoorlike boek behoorlik vereer

Afri-Duetfees 2015
Oktober 20, 2015
Saam in Afrika
Oktober 21, 2015

deur Marthinus van Bart

Die verskyning van die biografie NJ hou koers by die FAK oor die lewe en werk van dr. Nico van der Merwe (1888–1940), onder meer stigter en eerste Hoofleier van die Voortrekkerbeweging, stryder vir die Afrikaanse taal en kultuur, stryder van die Bybel in Afrikaans, opvoedkundige en ook medestigter van die Helpmekaar Studiefonds, asook leraar, is besonder tydig.

Afrikaners verkeer daagliks onder geweldige bestaansdruk weens uiters vyandige dekonstruksie van hul nasionale karakter. Hul ywerige soeke na die bevestiging van ’n eerbare identiteit en van hul wettige en geregverdigde bestaansreg in Suid-Afrika neem daagliks toe.

NJHOUKOERSHierdie boek is kragtige ammunisie vir die selfbemagtiging van hierdie bevolkingsgroep – met sy wortels reeds sedert 1652 diep in die bodem van die vasteland van Afrika vasgeanker. Kennis is mag, en NJ hou koers voorsien ten dele daardie bemagtigende kennis.

Dat die samesteller en redakteur van hierdie pragtige boek, doktor Danie Langner, die huidige Hoofleier van Die Voortrekkers en ook die besturende direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is, is ’n merkwaardige toeloop van omstandighede. Hy het NJ se verhaal, wat die eerste keer in 1941 deur J de V Heese, Hoofsekretaris van Die Voortrekkers, met die titel Van penkop tot hoofleier, gepubliseer is en lankal uit druk uit is, heeltemal herskryf in ’n besonder lesersvriendelike styl en dit in ’n hoogs aanskoulike en illustratiewe boek met talle seldsame foto’s uit die argief van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein saamgestel. Langner het die teks – in die derde persoon – van Heese met die nodige omsigtigheid en deernis na die eerste persoon verwerk. So kom Nico van der Merwe self aan die woord, wat groter trefkrag aan die lewensverhaal vir die moderne leser verleen.

Die fokus is op Nico se vindingrykheid as jong seun om gedurende die Anglo-Boereoorlog te oorleef – wat hom in sy latere jare aangespoor het om die Voortrekkerbeweging te stig sodat die Afrikaanse jeug op ’n positiewe, inspirerende manier teruggebring kan word na die leerskool van die natuur en die veldlewe – uiteraard dan ook deur opvoeding vir die bevordering van natuurbewaring.

Die inhoud van die boek in soverre dit die persoonlike besonderhede van NJ betref, is gekontrolleer deur ’n kleindogter van NJ van der Merwe, naamlik mevrou Carin van Ginkel. Haar dogter Elsa is ’n uitblinker-Voortrekker. Die boek word voorsien van ’n inhoudsopgawe, voorwoord en bronnelys. Foto’s is onderskeidelik in swart en wit, sepia en volkleur. Die LW Hiemstra Trust het die publikasie moontlik gemaak.

Langner, ook ’n vader van ywerige en voorbeeldige Voortrekkers, het die boek op so ’n wyse versorg dat dit veral tot die jeug van vandag sal spreek. Hy was die regte persoon op die regte tyd vir hierdie taak. En inderdaad was sy hele gesin by hierdie waardige projek betrokke. Die boek lewer inderdaad ook ’n groot en uiters belangrike bydrae tot die opvoedkunde.

Ek het Van penkop tot hoofleier, in 1941 deur Nasionale Pers in Bloemfontein en Port Elizabeth uitgegee, baie jare gelede gelees en was daardeur aangegryp. Ook in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, deel V, Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, 1987, verskyn ’n opstel oor doktor Van der Merwe deur wyle professor MCE (Tienie) van Schoor. Hierdie woordeboekstel is egter nie binne maklike bereik van die meeste lesers nie.

Ek lewer sedert 2009 as vrywillige medewerker van die Voortrekkers praatjies oor die Afrikaanse kultuur by die jaarlikse saamtrek in Augustus van Wes-Kaapse Voortrekkers in die Paarl. Een van my gesogte onderwerpe is juis NJ van der Merwe en sy oorlewingstrategie in die konsentrasiekamp by Norvalspont. Jaar na jaar is ek verras oor die entoesiasme van die jong klomp oor die voorbeeld wat NJ as kind ook vir vandag se jeug gestel het.

Toe ek my praatjie oor hom die eerste keer in 2009 aangebied het, het selfs die offisiere teenwoordig nie geweet van wie ek praat nie. Ek het my opstel en ook ’n mooi foto van Nico in sy hoofleiersuniform in elektroniese en gedrukte (en gelamineerde) formaat toe aan hulle geskenk, en sedertdien is dit deel van hul kursus-leerplan wat die Paarlse Voortrekkers volg.

Nicolaas Johannes van der Merwe is op 17 Februarie 1888 op Senekal in die Boererepubliek van die Oranje-Vrijstaat gebore. Sy vader was Francois van der Merwe en sy moeder Elizabeth du Toit.

Sy gesinslede het hom Boetie, ook Nico, genoem. Hy het op ’n plaas in die distrik Fauresmith grootgeword. Die gesin het ook ’n tuishuis op die dorp gehad waar hulle gewoon het wanneer hulle naweke vir die kerkdiens, inkopies en pos na die dorp gekom het.

Boetie het ook susters gehad, maar hy was die enigste seun van die gesin. Sy pa het hom van jongs af geleer perdry en skiet, en hulle het dikwels saam gaan jag. Verder het Boetie baie van hom oor die veld geleer. Hulle het dikwels uitgekamp en het dan op ’n ossewa gery. Boetie het op die dorp skoolgegaan en gou het hy baie maats gehad. Hy was ’n gebore leier en almal was lief vir hom oor sy mooi geaardheid. Hy was behulpsaam, vriendelik, vindingryk, avontuurlustig en regverdig. Hy het sy vader en sy moeder geëer en sy sussies met respek behandel. Hy was maar 11 jaar oud toe die Anglo-Boereoorlog in 1899 uitbreek. Toe sy vader op kommando gaan, wou Boetie baie graag saamgaan. Hy was egter te jonk en sy vader het aan hom verduidelik dat hy na sy moeder en sussies moes omsien. Hulle het in die tuishuis op die dorp gaan woon omdat dit te gevaarlik was om alleen op die plaas te woon. Rowerbendes het vroue en kinders wat alleen op plase was, aangeval, gemolesteer en beroof. Die Britse soldate het toe nog nie in die Vrystaat opgedaag nie.

Toe al die mans weg was, behalwe die bejaarde mans wat nie meer kon perdry of skiet nie, was Boetie gou die leier van die jong seuns van die dorp. Hulle het hom “burgemeester” genoem. Wanneer oorlogsnuus per telegraaf  ontvang is, het die landdros dit uitgetik en op ’n kennisgewingbord voor die hofgebou opgeplak. Een van die bejaarde boere in die distrik, oom Pieter Coetzee, het Boetie gevra om elke keer as daar nuus opgeplak word, dit in ’n aantekeningboek neer te skryf. Elke Saterdag het oom Pieter ’n werker dorp toe gestuur en dan moes Boetie die berigte aan hom gee. As vergoeding het oom Pieter een keer per maand ’n groot sak aartappels aan Boetie gestuur.

Boetie se moeder het dan genoeg aartappels vir hul huisgebruik uitgehaal en Boetie het die res op die dorpsmark verkoop. So het hy dan telkens ’n mooi som geld vir die gesin verdien waarmee ander lewensmiddele, wat al hoe skaarser en duurder geword het namate die oorlog aangegaan het, gekoop is.

Van die ander bejaarde boere in die distrik het van Boetie se beriggewing verneem, en hom versoek om die oorlogsnuus ook vir hulle op teken. Hulle het hom daarvoor met allerlei plaasprodukte vergoed. Wat Boetie se ma nie kon gebruik nie, het Boetie ook op die mark verkoop.

Op ’n dag het die Britse soldate op die dorp opgedaag en op al die kos en ander voorrade in die winkels en die huise beslag gelê. Hulle het ook al die skape en beeste geroof. Van die vroue en kinders wat bereid was, is deur die soldate na konsentrasiekampe weggeneem. Die wegvoering van vroue en kinders was aan die begin nog nie onder dwang soos later in die oorlog nie. Net vyf gesinne het op die dorp agtergebly. Hulle het egter geen kos, melk, botter of vleis gehad om van te lewe nie. Geen plaasdiere is agtergelaat nie. Die soldate het alles saamgevat.

Boetie was bevriend met ’n bejaarde Skotsman wat op die dorp gewoon het en wat ook weg is saam met die soldate. Maar voordat hy vertrek het, het hy aan Boetie gewys waar hy ’n klomp sakke meel, suiker, rys, koffie en vaatjies met botter en soutvleis versteek het toe die soldate nog in aantog was. Nou het Boetie die voorrade gaan uithaal en so het die gesinne ’n tyd lank kos gehad om van te leef.

Boetie en ’n ander seun wat net so oud was soos hy, Sampie, het elke dag die omgewing gaan bespied op soek na loslopende vee of perde. Hulle het van tyd tot tyd sulke verdwaalde vee gevind en dan dorp toe aangejaag. So was daar gou ’n hele paar koeie wat melk en botter gelewer het.

Hulle het ook loslopende perde gevang. Nou was hulle berede en kon hulle makliker kos soek. Op van die verlate plase in die distrik het Boetie en Sampie vrugte in die vrugteboorde en groente in die groentetuine gevind en dit dorp toe gebring. So het die twee jong seuns vir ’n hele klomp bejaarde mans, vroue en meisies gesorg. En toe ’n Boerekommando op ’n dag daar opdaag, kon Boetie en Sampie vir die burgers ook kos gee.

Hulle wou toe hê Boetie en Sampie moes saam op kommando gaan om te gaan veg, maar Boetie het geweier, want dan sou die ou mense, vroue en klein kindertjies vir wie hy en Sampie sorg, alleen, weerloos en sorgloos wees.

Die twee seuns het toe agtergebly, maar die kommandolede het hul perde saamgeneem omdat hulle dit baie nodig gehad het om vir die vryheid van die Boere-republieke teen die Britse soldate te veg.

Op ’n dag het ’n groot kolonne Britse soldate op die dorp aangekom en alles voor die voet verwoes. Die huise, winkels, skool en kerk is afgebrand en die ou mans, vroue en kinders is gedwing om saam te gaan na Norvalspont aan die oewer van die Oranjerivier, waar ’n groot konsentrasiekamp was.

In die konsentrasiekamp het groot ellende geheers. Almal moes in tente bly en daar was geen geriewe nie. Die kos was ook baie min en van uiters swak gehalte. Baie van die mense was siek weens ondervoeding en ontbering.

Boetie het met groot vindingrykheid hul karige woonplek verbeter. Hy het die verrinneweerde tent reggemaak en selfs ’n houtstoof van ou stene, klei, beesmis en riviersand vir sy ma gebou.

Bedags het hy hout in die veld bymekaar gemaak en van doringdraad het hy vishoeke geprakseer om in die  Oranjerivier daar naby vis te vang sodat sy moeder dit vir hulle kon gaarmaak. Ook het hy veldkos versamel en so toegesien dat hulle nie van honger en siektes weens ondervoeding doodgaan soos soveel duisende ander mense in die kamp nie.

Meer as 27 000 Boerevroue en -kinders het gedurende die oorlog in die Britse konsentrasiekampe gesterf van siektes, honger en blootstelling in die winter aan koue, reën, wind, hael en sneeu, en in die somer aan die skroeiende son. Hulle het baie min kos, water en brandhout gekry. Die kos was dikwels oneetbaar en die water was erg besoedel. Daarvan het die mense baie ernstig siek geword en gesterf. Soms was daar gevaarlike ysterhakies in die blikkiesvleis, en blouvitrioel, ’n gifstof, en glasstukkies in die suiker.

Dit was ’n volksmoord wat die Britte teen die Afrikaners gepleeg het. Hulle wou die goud en diamante van Transvaal vir hulself gehad het, en daarom het hulle oorlog teen die Boererepublieke gemaak.

Ná die oorlog het Nico verder gaan leer en hom as ’n onderwyser bekwaam. Hy het toe begin om jeug- en debatsverenigings te stig en het ook sport afgerig. Hy was self ’n knap sportman en het rugby vir die Vrystaat se Suidelike Distrikte gespeel. Ook het hy aan gewigstoot deelgeneem.

Hy het egter besluit om die onderwys te verlaat en vir predikant in Stellenbosch te gaan studeer. Later, in 1919, is hy na Nederland waar hy aan die Vrye Universiteit van Amsterdam ’n doktorsgraad in die teologie behaal het.

As student op Stellenbosch het hy die Christelike Studente Vereniging (CSV) gestig, die kulturele Werda-komitee in die lewe geroep en ook ’n Afrikaanse Taalvereniging op die been gebring. Die Tweede Taalstryd om Afrikaans as amptelike taal erken te kry, het toe in alle ywer begin. As aanvoerder van hierdie taalstryd het hy in 1913 ’n reuse-Taalfees georganiseer. Dit is fel deur die Britsgesinde regering teengestaan, maar hy en sy mede-organiseerders het volhard en dit is op 1 Maart 1913 in Bloemfontein gehou.

President MT Steyn, die oudpresident van die Vrystaatse republiek, het ’n kort feesboodskap neergeskryf en aan Nico van der Merwe, wat in 1916 met sy dogter Tibbie getrou het, gegee. Dit het gelui: “Die taal van die veroweraar in die mond van die verowerde, is die taal van slawe”.

In 1916 het Nico lid geword van die Bybelvertalingskommissie, gelei deur doktor JD (Totius) du Toit, wat in die Paarl gebore is en op Kleinbosch skoolgegaan het in die Hugenote-Gedenkskool. Hulle het die Bybel, wat in Hoog-Hollands was, in Afrikaans vertaal en met groot moeite en onkoste laat druk. Die eerste Afrikaanse Bybels het in 1933 verskyn.

In 1924 het Nico Volsraadslid vir Winburg geword en hy was oor die eerste voorsitter van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK).

Ook was hy voorsitter van die Helpmekaar-fonds, wat behoeftige, skrander kinders verder laat leer het. Die fonds bestaan vandag, ’n eeu sedert dit gestig is, steeds. Dokter Chris Barnard, die beroemde hartchirurg, het met ’n Helpmekaar-beurs medies studeer.

Op 30 September 1931 het Nico die Voortrekkerbeweging gestig nadat hy drie jaar lank daaraan georganiseer het. Hy het geredeneer dat sy veldkennis en handvaardigheid as plaasseun hom in staat gestel het om hom, sy moeder en sy susters die Anglo-Boereoorlog en die Britse konsentrasiekamp te laat oorleef. As alle vindingryke en entoesiastiese kinders onder leiding van die Voortrekkerbeweging hierdie vaardighede en kennis kon aanleer, kan dit net tot hul eie voordeel én die van hul medemens strek.

Nico van der Merwe het ook die leuse van die Voortrekkers: “Hou Koers!” uitgedink. Hy was die eerste Hoofleier van Die Voortrekkers, en het die belangrike amp tot sy dood in 1940 beklee. Hy was maar 52 jaar oud toe hy gesterf het.

Die belangrikste elemente van NJ van der Merwe se nalatenskap aan die Afrikaners is:
1.) Die Afrikaanse Bybel
2.) Die erkenning van Afrikaans as amptelike taal
3.) Die Voortrekkerbeweging
4.) Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge
5.) Die Helpmekaar-fonds wat steeds studente help om verder te studeer.

NJ (Nico) van der Merwe het voorwaar koers gehou én koers aangedui.

Bronne:
1. Van Penkop tot Hoofleier deur J. de V. Heese, Nasionale Pers Beperk, 1941.
2.  Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, deel V, Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, 1987.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!