’n Nuwe lewe vir die ou Montagupas-tolhuis

Saam in Afrika
Oktober 21, 2015
Taalmonument vir 40 jaar
Oktober 21, 2015

deur ALITA STEENKAMP

Die hoogtepunt van elke reis per motor vanaf die binneland na George, is die oomblik wanneer jy op ’n helder dag oor die kruin van die Outeniquapas ry en die blou waters van die groot oseaan in die verte gewaar. Daar is min ander roetes wat so mooi is soos hierdie pas wat kronkelend deur die majestueuse Outeniquaberge na onder daal. Wanneer ’n mens by die 4 Passe-uitkykpunt stilhou is dit moontlik om al vier passe te sien. Twee van hierdie passe het in die verlede vervoer vanuit die binneland oor die berge en weer terug, moontlik gemaak, en twee is tans nog in gebruik. Die oudste van hierdie vier passe is die Cradockpas waarmee die Voortrekkers en hul ossewaens moeisaam oor die berge is. Dan is daar ook die Treinspoorpas wat gebruik word as die hoofroete tussen Kaapstad en Port Elizabeth. Die derde pas is die Outeniquapas wat deesdae byna al die verkeer dra. Die vierde pas, die Montagupas, is destyds gebou om die Cradockpas te vervang as poort na die kusstreek. En wanneer ’n mens dan so in jou gerieflike motor met die Outeniquapas deur die berge kronkel en draai, dink jy vir geen oomblik aan die reisigers wat toentertyd beslis nie so ’n gemaklike en gerieflike rit hierlangs gehad het nie.

Die Montagupas, wat vernoem is na die destydse koloniale sekretaris van die Kaap in die 1840’s, Sir John Montagu, dra ’n gepaste naam, want dit is juis danksy sy entoesiasme vir die ontwikkeling van goeie paaie in die Kaapprovinsie dat hierdie pas gebou is.

Tolhuis 3

’n Foto uit vergange se dae

In 1844 het sowat 250 bandiete begin met die bou van hierdie pas. Drie jaar later, in Desember 1847 is die pad vir verkeer geopen. Gedink tolhekke en tolgeld op ons land se paaie hoort net in moderne tye? Moenie glo nie. Tesame met die pas is daar ook ’n Tolhuis opgerig waar die tolmeester, en sy gesin kon tuisgaan. Tolgeld is bereken per wiel van die wa en die aantal trekdiere en diere wat gekarwei word. Die Tolhuis is gebou met sandsteen uit die omgewing en het aanvanklik ’n rietdak gehad. In 1855 is die rietdak in ’n brand vernietig, en het die tolhuis ’n sinkdak gekry.

Op 31 Desember 1918 is die tolgeld op paaie afgeskaf en daarna het die tolhuis nie meer ’n amptelike doel gehad nie. Dit het bloot oor die jare blyplek verskaf vir  ’n hele paar gesinne. Nadat die laaste gesin uit die tolhuis getrek het, is dit maar aan die genade van die wind en die weer oorgelaat. Vandale het die pragtige steenmure met graffiti ontsier, die houtvensterrame is uitgebreek en van die geelhoutbalke in die tolhuis is afgesaag met ’n bandsaag.

IMG_1369

Een van die interessante bakens langs die pad

Gerda Stols, ’n inwoner van George se man, Johan, was ’n kultuurhistorikus en die twee het al in 1999 begin droom om die Tolhuis weer tot sy eertydse glorie te herstel. Dit was duidelik dat indien daar nie vinnig opgetree word nie, sou die stukkie geskiedenis totaal verlore gaan. Hy het begin navorsing doen en saam met Gerda hard gewerk om hierdie droom te bewaarheid. Johan is in 2006 oorlede, maar Gerda het nie die droom laat vaar nie en in 2008 het sy ’n organisasie, die Vriende van die Tolhuis, in die lewe geroep en daar is met hernude ywer gewerk om fondse vir hierdie projek te kry.

“Die projek is uiteindelik klaar en ons is baie dankbaar vir die gemeenskap van George en omgewing. Na beraming het die hele projek sowat ’n halfmiljoenrand gekos. Talle besighede het soveel dinge, en veral handearbeid, geskenk. Daar is ’n rietplafon ingesit, die mure  aan die binnekant is skoongemaak en die verlore  houtvensters en deurrame,  en houtvloere is vervang. Ons volgende projek is om die sandsteen aan die buitekant ook skoon te maak,” sê Gerda. Sy is veral dankbaar vir die klipkapper Joost Pyck wat baie raad verleen het en ook gehelp het om die pragtige klipkunswerk wat oorspronklik bo die kaggel ingesit is, maar deur die jare met pleister en verf bedek is, tot volle glorie te herstel.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het van hierdie restourasieprojek te hore gekom en wou baie graag die uitnemende dienswerk om die historiese gebou te restoureer en as monument vir die gemeenskap in stand te hou, vereer. In Mei vanjaar het die voorsitter van die FAK, doktor Danie Langner, ’n spesiale toekenning aan die Vriende van die Tolhuis oorhandig. Vir die heel eerste keer het die groep vasberade inwoners ’n amptelike klop op die skouer vir hulle harde werk gekry.

IMG_1383

Die pad kronkel deur die pragtige Outeniqua-bergreeks

“Ons was besonder dankbaar oor hierdie toekenning van die FAK, want dit het die kollig so ’n bietjie op die Tolhuisprojek laat val en meteens is die Burgemeester van George, en sy span ook bankvas agter hierdie projek. Die geld wat ons by die FAK gekry het, het gehelp om die rietplafon in te sit. Op 24 September, op Erfenisdag, het daar ’n skattejag in George plaasgevind. Al die besondere ou geboue in George was op die roete en deelnemers het ’n draai gemaak by geboue soos die sandsteenkerk in Pacaltsdorp, die ou stadsaal en die Anglikaanse katedraal. Die roete het by die Tolhuis geëindig waar die spanne hul pryse ontvang het. Daar is heerlike roosterkoek met maalvleis, konfyt, kaas, en koffie en tee bedien en behoorlik gekuier. Die plaaslike musiekgroep, die Eden Minstreals, het gesorg vir musiek, en ons was baie tevrede met hoe die dag verloop het. Die mense is nou baie meer bewus van die Tolhuis en almal het versoek dat ons die Erfenisskattejag ’n jaarlikse instelling moet maak. Ons plaaslike munisipaliteit het die bemarking van die dag geborg. Dit was alles bewusmaking wat spruit uit die FAK-toekenning wat ons vroeër vanjaar ontvang het,” sê Gerda.

Met die wiele aan die rol, gaan dinge beslis nie nou stop nie. Die Vriende van die Tolhuis het reeds aansoek gedoen by Wes-Kaap Natuurbewaring vir ’n lys van inheemse plante en bome wat geplant kan word om die terrein te verfraai. Daar word steeds gehoop dat daar in Desember met ’n koffiekamer op die perseel begin kan word, maar dit kan ook net gebeur indien Wes-Kaap Natuurbewaring die nodige konsessie-ooreenkoms met die organisasie sluit.
Die Voortrekkers van Oord Outeniqua het onlangs by die Tolhuis ’n kamp gehad en daar is onder meer gefokus op die natuur en kultuur. Natuurbewaarders het saam met die Voortrekkers die pas gestap en verskillende protea- en boomsoorte uitgewys. Daar was ook ’n plaaslike “sweepklapper”, Buks Gericke, wat sy slag kom wys het en ook iemand wat sy miniatuur ossewaens uitgestal en meer daarvan vertel het.

Tolhuis 1

Bo die Tolhuis troon die Outeniquaberge uit

Nou wag daar ’n nuwe lewe op die ou Tolhuis. Al sal daar nooit weer ’n tolmeester wees wat hier gaan woon nie, hoop die Vriende van die Tolhuis dat dit meer sal word as bloot net die ou Tolhuis langs die pad. Daar is reeds baie artefakte uit die dae wat mense met ossewaens die berge moes oor, ou meubels en baie ou foto’s van die tolhuis wat oor die jare geneem is wat deel vorm van die uitstalling aan die binnekant. Die grootste droom wat nou moet waar word, is dat die Tolhuis in die toekoms oop sal wees vir besigtiging vir die publiek. Tans gebeur dit net op afspraak.
Vir byna 170 jaar hou die ou Tolhuis wag daar op ’n draai aan die onderpunt van die Montagupas. Mag hierdie historiese geboutjie vir nog ten minste 170 jaar staande bly en talle besoekers verwelkom.

Interessante feite:
•    Ongeveer 250 bandiete het meer as drie jaar aan die projek gewerk.
•    Die ingenieur vir die Montagupas was ’n Australiër, Henry Fancourt White na wie die gholfkompleks en die dorpie Blanco – nou ’n voorstad van George – vernoem is.
•    Die  Montagupas is die oudste onveranderde pas wat steeds in gebruik is.
•    Die pas strek oor 7,4 kilometer vanaf George tot by die klein nedersetting Heroldt aan die noordekant van die Outeniquaberge en is begaanbaar met ’n gewone sedanmotor.
•    Die tolhuis is vroeg in 1972 saam met die Montagupas tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

Vir meer inligting skakel:
Gerda Stols
Montagupas-tolhuisprojek
Tel: 083 772 8252
gerdastols@telkomsa.net

2 Comments

  1. Elma van den Berg sê:

    Baie geluk en baie dankie vir die inspirenende artkel en werk!
    Ek sal dit baie graag besoek!
    Hopelik in Des. vanjaar.
    Sterkte vorentoe

  2. Mieka Erasmus sê:

    In 2013 het ons gesin van 11, (grootouers , volwasse kinders en kleinkinders) per trein vanaf George bergop gery op jou gemelde Treinspoorpas. Ook aangegaan en piekniek middagete geniet by die verwaarloosde tolhuis. op die Montagupas. Dit was n belewenis! Ons is baie bly jul het als gerestoureer en weer in werking gestel.
    Wat nou van die Cradockpas… Sou dit moontlik wees om op n makliker manier, as per voet kilometres ver ,op tenminste n deeltjie van die wapad te kan kom? dit het gelyk of die treinspoor en die Montagupas pad op plekke die wapad kruis. Ook my voorouers het oor die berg met daardie pad na Cradock per wa getrek.
    Groete Mieka

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!