Stigter van Voortrekkerbeweging met behoorlike boek behoorlik vereer
Oktober 20, 2015
’n Nuwe lewe vir die ou Montagupas-tolhuis
Oktober 21, 2015

deur dr DANIE LANGNER

Middelgrondsoekende Afrikaners is  baie bekommerd oor die verharding van onderlinge verhoudinge en ’n nuwe vlaag van rassespanning in Suid-Afrika. Grumoorde, misdaad, swak landsbestuur, ontwrigting van kampusse, ’n gevoel van onveiligheid, doelbewuste marginalisering en ’n diep onsekerheid oor die toekoms, is maar enkele faktore wat Afrikaners se toekomshoop ondermyn. ’n Goeie vertrekpunt om rasseverhoudinge op ’n beter voet  te plaas, is om te luister na hoopskeppende suksesverhale van selfstandige gemeenskappe, waar swart en wit gemeenskappe hulle anderkant apartheid definieer op die basis van gedeelde belange. So ’n gemeenskap is ZZ2 in die Mooketsi-vallei naby Tzaneen waar ek onlangs besoek afgelê het.

Die Van Zyls van ZZ2 se landboustorie begin lank voor 1994. Hulle landboustorie lê sover terug soos 1699 toe die 32-jarige Willem van Zyl en die 25-jarige Christine van Loveren saam met hul twee kinders aan boord van De Drie Kronin Nederland verlaat het om hul wortels met behulp van die VOC in die nuwe  Kaapkolonie te verplant. Willem het geweet hoe om wortels te verplant, want kort na sy aankoms is hy aangestel as die assistent baas-tuinier op die plaas Rustenburg, naby Rondebosch. Soos talle van sy tydgenote het Willem hom teen die korrupte amptenare van die VOC verset en is na twee jaar weens weerspannigheid afgedank. As vryburger koop hy die plaas Vrede en Lust naby Franschhoek waar hy boer tot sy afsterwe in 1727. Willem se nageslag se reis oor twee eeue loop deur Graaff-Reinet, Colesberg en Heidelberg, totdat die negende geslag Van Zyls hulle in 1908 vestig in Boekenhoutsbult (Mooketsi). Die beesbrandmerk, ZZ2, is reeds in 1906 geregistreer.

Die Van Zyl-verhaal is vol stories van val en opstaan, van armoede en swaarkry, van innoverende planne en harde werk. Hulle storie is ook die storie van verweefdheid met die gemeenskap. Die stigter van ZZ2, Bertie van Zyl, het as jong seun die Sotho-gemeenskap se kultuur net so goed soos sy eie leer ken deur ure se kuier om die kampvuur en gesamentlike rugbreekwerk. Hy kon beter idiomatiese Sotho besig as baie Sotho-moedertaalsprekers. Wie nie die velkleur van die spreker sien nie, sou nie geweet het wie was die moedertaalspreker en wie nie.  Vandag is die ontspanne verhoudings steeds te danke aan die feit dat die wit personeel vlot met die plaaslike gemeenskap in hul eie taal kommunikeer, en andersyds te danke aan die bevestiging van individue en diverse kulture.

Dit is nodig om dieper te grawe om by die wortels van die gesonde rasseverhoudinge uit te kom. ZZ2 huiwer nie om alle faktore te ondersoek wat groei en wins kan beïnvloed nie. Dit is ook waar van verhoudinge. Ten spyte van meer as ’n eeu se saamleef en saamwerk, lank voor apartheid nog ’n woord of beleid was, moes die Afrikanergemeenskap van ZZ2 die feit in die oë kyk dat Afrikaners se beeld en geloofwaardigheid as gevolg van apartheid  ernstig skade gelei het. Dit is relatief maklik om die beeldskade van ’n korporatiewe maatskappy te herstel. ’n Nuwe handelsmerk, ’n duur advertensieveldtog en ’n goeie webblad kan vinnig openbare negatiewe persepsies soos mis voor die son laat verdwyn. Om ’n kultuurgemeenskap, soos Afrikaners, se beeld te herstel, is veel moeiliker. Waar begin mens? Ontvlugting, ontkenning of miskenning van Afrikaners se kulturele identiteit sal nie onderlinge rasseverhoudinge bestendig nie. ’n Volstruis se kop-in-die-sand-benadering, of ’n hensopper- of joiner-taktiek sal  eerder tot ongeloofwaardigheid en op die lang termyn tot ’n  irrelevante niksheid lei.  Net so min sal ’n bittereinder-taktiek, wat Afrikaners wil isoleer en  gemeenskappe in laaste loopgrawe teenoor mekaar opstel, rasseverhoudinge op ’n gesonde grondslag plaas.

In ’n provinsie waar Afrikaners se demografiese getalle vandag onbeduidend is, het ZZ2 met behulp van die afgetrede filosoof Freek Engelbrecht en die natuurkundige Erik Holm ’n gemeenskaplike ideeraamwerk en waardegedrewe bestuursfilosofie ontwikkel, waar die gedeelde belang swaarder weeg as die korttermynwins. Die dinamiese oopsisteemdenke het die Afrikanergemeenskap van ZZ2 gehelp om vanuit ’n interne locus standi eerlik te wees oor die skadelike persepsies oor Afrikaners.
•    Die klein Afrikanergemeenskap is deeglik bewus dat Afrikaners soms deur swart gemeenskappe  as  onverstandig ervaar word. Westerlinge is geneig om oorhaastig in ’n situasie in te storm, standpunte te formuleer en etikette te hang sonder om eers die kat goed uit die boom te kyk.
•    Ons leef in ’n komplekse land met uiteenlopende standpunte, behoeftes en lewensbeskouinge. Die gebrek aan erkenning hiervan word deur swart gemeenskappe as onbedagsaam ervaar.
•    Afrikaners kan goed verbaal en skriftelik kommunikeer, maar wanneer die polities korrekte woorde in praktyk net lippediens is, word dit as geveinsd en ongeloofwaardig beleef.
•    Oormoedige optrede, veral deur jong persone, word  dikwels as arrogansie beleef.

’n Eerlike inkyk is nie lekker nie. Dit is makliker om negatiewe persepsies oor Afrikaners te ontken of om die bal terug te gooi met meer negatiewe persepsies oor ander gemeenskappe. Erkenning is die basis van verstandige handeling wat kan lei tot beter begrip en verhoudinge. Tommie van Zyl verduidelik die verstandige handeling van ZZ2 om gesonde verhoudinge te bou aan die hand van enkele Sotho-spreuke:

1.    Moenie dans voor die tromme begin slaan nie
Moenie dadelik op ’n situasie reageer nie, luister eers mooi na die klank en ritme van die tromme. Fyn luister, lei tot goeie begrip van konteks. Daarna kan ’n persoon sinvol met deurdagte standpunte toetree tot die debat.

2.    Jy wat jou nie in die kraal gedra nie, veroorsaak dat almal mekaar opvreet
Onbedagsame optrede teenoor ander skep spanning en konflik in verhoudinge. Standpunte mag verskil, maar mense moet met respek hanteer word. Wanneer die enkeling die reël oortree lei die hele kraal daaronder.

3.    ’n Leeu wat nie saam met sy groep beweeg nie, is swakker as ’n kruppel buffel
Lede van gemeenskappe wat saamwerk aan gedeelde belange, is sterker as die individu wat hom bokant die gemeenskap stel.

4.    Gee en gee en gee is baie lastig
Aalmoese steel ’n gemeenskap se energie en lei tot afhanklikheid en ’n gebrek aan selfvertroue. Slegs deur selfhelp-ingesteldheid word armoede oorwin.

5.    Jy kan nie op een been dans nie
Harmonie tussen gemeenskappe is noodsaaklik vir vrede. Elke kultuurgemeenskap kan afsonderlik sterk wees, maar samewerking oor gemeenskaplike kwessies is noodsaaklik vir gemeenskaplike sukses.

ZZ2 se storie is meer as net ’n suksesvolle landbouverhaal. Dit is ’n storie van Afrikaners en Afrikane wat met oop denke en harde werk, saamwerk aan gedeelde belange sonder om van mekaar ’n ontkenning van kulturele identiteit te verwag. Dit is ’n hoopskeppende verhaal wat wys Afrikaners kan deur aanpasbaarheid, medemenslikheid, bedagsaamheid, beskeidenheid en regverdigheid hul ideale verwerklik, sonder om ander kultuurgemeenskappe te vervreem. Ons is in die woorde van Attie van Niekerk immers “saam in Afrika”.

1 Comment

  1. Sias sê:

    Ek is opgewonde oor die identifisering van die oplossing van die probleem – ‘n eerlike inkyk na onsself en die maatstaf wat gestel word om na toe te werk, nl. wat is die gewenste beeld van die Afrikaner in die Suid-Afrika van die toekoms?

    Saam met brood op die tafel kwessie en die infrastruktuur wat nodig is vir die onmiddellike toekoms, moet die belangrike sake met ‘n langtermyn ondertoon ook deel van die toekomsgesprek vorm.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!