’n Nuwe lewe vir die ou Montagupas-tolhuis
Oktober 21, 2015
Paul Kruger en die Neger Gospel-sanggroep van Amerika
November 11, 2015

Op 10 Oktober 1975 staan een van die grootste Afrikaanse reuse op en neem sy waardige plek in as beskermheer en baken van hoop. Die Afrikaans Taalmonument vier hierdie jaar sy 40ste bestaansjaar en hoe dan nou anders as om ’n fees daarvan te maak. So op 10 Oktober 2015 was die Kaap weer Hollands! Lekker roosterbrood op die oop kole, potjiekos en pap, koeksister en pannekoek – waarvoor jou lippe ook al gelus het! Plaaslike vermaak het die skares gaande gehad vir nog.

Die oggendprogram in die feestent is aangebied deur Ivan Botha en Donalee Roberts van die Pad na jou hart-faam. ’n Propvol program is aan die gehoor voorgelê, van die Drakenstein Jeugontwikkeling met ’n Kaapse Klopse-produksie, die rieldanser (die Boland-vastrappers) wat mense op hulle voete gehad het en die betowerende klanke van die bekroonde Adagio wat uitgebulder het teen die Paarlberge. Alles dit in Afrikaans – selfs die tafeldoeke was uit die herwinning van  Afrikaanse artikels uit vorige koerante.

Die FAK het as gelukwense aan die Taalmonument die roos “Afrikaans” oorhandig , wat so eie is aan die Afrikaner en die waardes en doelwitte van die Afrikaanse Taalmonument. Professor Wannie Carstens wat dit in ontvangs geneem het, het die FAK bedank vir die besonderse geskenk en die hoop wat daarmee gepaard gaan. Ons lig ons glas op die volgende 40 jaar!

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!