FAK Prestige-toekenning vir die bevordering van Afrikaanse media: Karen Meiring

NP van Wyk Louw Toekenning vir die bevordering van Afrikaanse taal en kultuur: Jaap Steyn
November 11, 2015
HB en MJ Thom Prestige-toekenning vir die bevordering van Afrikaanse onderwys en opleiding: Daan Potgieter
November 11, 2015

Karen Meiring voltooi ’n BA Honneurs in Drama aan die Noord Wes Universiteit in Potchefstroom. Sy begin haar loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf by SUKOVS in Bloemfontein in 1985 waar sy agter die skerms sowel as op die verhoog in talle dramas, musiekblyspele en operas optree.

In 1990 begin sy haar loopbaan as vryskutkunstenaar in Johannesburg waar sy vir TRUK in verskeie produksies en pantomimes optree. Sy is ook stigterslid van die legendariese vroue-a-capella-groep, Cutt Glas. Die groep verteenwoordig Suid-Afrika binne ’n bestek van twintig jaar by verskeie groot internasionale geleenthede en feeste in Nederland, Engeland, België, Portugal en China met groot sukses. Die groep wen ook die Unisa Con Cours Pan Afrique musiekkompetisie vir ensemble-groepe uit Afrika, ’n Artés van die SAUK en verskeie Geraas-toekennings.

In hierdie tyd vestig sy haarself ook as ’n impresario in die kunste en bestuur talle kunstenaars, onder meer Johannes Kerkorrel, asook groot projekte en kabaretteaters soos die Crossing by die Nasionale Kunstefees op Grahamstad en Club 58 in Hillbrow.

In November 1994 word sy die eerste Feesorganiseerder van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn. In 1999 word sy aangestel as Besturende Direkteur van die Fees.

Hoogtepunte by die KKNK sluit in verskeie pryse en nuwe inisiatiewe soos die Kanna-toekennings, opelug- en groot musiekteaterproduksies, die eerste Afrikaanse musiekblyspele soos Antjie somers, Vere en Altyd Jonker, asook verskeie oorspronklike Afrikaanse pantomimes. Sy bring talle internasionale kunstenaars na Suid-Afrika, onder meer Herman Van Veen, Jonathan Butler en die Flying Pickets.

Na ’n opwindende 14 jaar by die KKNK en in die Afrikaanse Feeste-bedryf, neem sy die leisels oor van die Oude Libertas Amfiteater in Stellenbosch. Sy vestig dit as ’n onafhanklike teater met privaat befondsing.

Op 1 April 2009 neem haar loopbaan ’n heel nuwe wending en sluit sy aan by MNET as Hoof van Afrikaanse Kanale, wat nou bestaan uit kykNET, kykNET & kie, kykNET NOU! en kykNET NOU! Internasionaal.

Onder haar leiding vestig die kanaal verskeie groot projekte om die Afrikaanse leefwêreld uit te bou en Afrikaanse inhoud in sy volle diversiteit te dien: Die Fiëstas-pryse vir teater en produksies by feeste, Die Silwerskermfees vir vollengte- en dokumentêre films en kortfilmkompetisie in Kaapstad, Die Ghoemas-trust en pryse vir Afrikaanse musiek, Afrivisie, ’n liedjieskryfkompetisie en gevolglik ook ’n liedjiebank.

In Maart 2013 word sy bevorder tot MNET: Direkteur van Afrikaanse Kanale. kykNET is een van die grootste en suksesvolste kanale op die DStv-platform. Karen Meiring word vereer omdat sy steeds nuwe en groter ruimtes skep vir Afrikaans om ’n nog blinker stertoekoms te hê in die uitvoerende kunste.

 

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!