Paul Kruger en die Neger Gospel-sanggroep van Amerika

Taalmonument vir 40 jaar
Oktober 21, 2015
René Girard, Afrikaners en sondebokke. Spanning in Suid-Afrika
November 11, 2015

Kruger staan burgers te woord op die stoep van sy ampswoning

deur Marthinus van Bart

McAdoo se Jubilee Singers, ook bekend as die Alabama Cake Walkers

McAdoo se Jubilee Singers, ook bekend as die Alabama Cake Walkers

In die vroeë 1890’s het die Amerikaanse Neger-sanggroep McAdoo’s Jubilee Singers van Alabama, ook bekend as die Orpheus M. McAdoo’s Alabama Cake-Walkers & Georgia Minstrels, ’n toer deur Suid-Afrika onderneem.

Hierdie Gospel-sangers het ook in die Transvaalse Boererepubliek, die Zuid-Afrikaansche Republiek, voor pres. Paul Kruger en sy vrou, Gezina, opgetree.

Die groepleier en onderwyser, Orpheus M. McAdoo, het by die groep se aankoms in Kaapstad in 1890 van die Engelssprekende kolonialers daar verneem dat die Boere van Transvaal rassiste is wat behae daarin skep om swart mense af te knou en te verdruk. Hy is sterk aangeraai om die ZAR liefs te vermy.

Orpheus M. McAdoo, onderwyser en leier van die Amerikaanse Neger Gospel-groep

Orpheus M. McAdoo, onderwyser en leier van die Amerikaanse Neger Gospel-groep

McAdoo wou egter graag die legendariese “stad van goud”, Johannesburg, sien en hy het uiteraard gehoop dat die fortuinsoekende Uitlanders daar die groep goed sou ondersteun.

In Februarie 1891 het hy dus met dapper en stapper na Pretoria gegaan en ’n onderhoud met staatspresident, Paul Kruger, aangevra. McAdoo was ook van plan om Kruger as amptelike staatshoof van die republiek na die openingskonsert te nooi.

Kruger staan burgers te woord op die stoep van sy ampswoning

Kruger staan burgers te woord op die stoep van sy ampswoning

In strakke kontras met die rassistiese leuens oor die Boere en Kruger wat in die Kaap aan McAdoo opgedis is, is hy vriendelik deur die Groot Gryse by die presidensiële ampswoning in Kerkstraat, waar ieder en ’n elk die president op demokratiese wyse volgens afspraak kon spreek, ontvang.

Die indertydse historikus en skrywer J.F. van Oordt skryf in Paul Kruger en de opkomst van de Zuid-Afrikaansche Republiek, HAUM, 1898, soos volg hieroor: “Een niet onaardige verhaaltje is door den heer McAdoo, het hoofd van de Amerikaansche Neger-zangergroep verhaalt. Hij kwam ZHEd. (pres. Kruger) vragen om bij een concert, door zijn troep te worden gegeven, tegenwoordig te zijn, en verzekerde den President dat zijne lieden zeer mooi zongen.

“Ja, maar jij hêt nog nooit mij hoor zingen. Ik zing bas,” was het luimige antwoord van ZHEd., maar hy nam toch de invitatie aan, daar men geestelijke liederen zou zingen, en het concert in den middag werd gegeven. Want ‘s avonds gaat ZHEd. zeer zelden uit.”

Orpheus M. McAdoo se toerbiljet van die Jubilee Singers in 1891

Orpheus M. McAdoo se toerbiljet van die Jubilee Singers in 1891

Die Transvaalse koerante het berig dat Paul en Gezina Kruger die matinee-vertoning baie geniet het, en dat die president “diep geroer” was toe die sanggroep die Neger Gospel-lied (Spiritual) Nobody knows the trouble I have seen, but Jesus uitgevoer het.

Orpheus Myron McAdoo (1858–1900) en sy groep het op 25 Januarie 1892 na Amerika teruggekeer.

Paul Kruger was geen rassis

Kruger was alom bekend oor sy lewenslange versoenende rol tussen sy eie mense, die Afrikaners, enersyds tussen Afrikaners en die swartmense van Suid-Afrika noord van die Garieb (Oranjerivier), asook tussen die Afrikaners en die Britte. Hy wou in vrede met sy medemens lewe, eerder as om voortdurend in konflik te verkeer. Hy was mettertyd ook in die buiteland bekend om sy leierseienskappe, sy vredesoeke en sy oorredingsvermoëns, en is deur wêreldleiers sowel as gewone mense, selfs deur sy vyande, daarom gerespekteer.

Die beroemde Duitse staatsman Otto von Bismarck het Kruger “die grootste diplomaat van die 19de eeu” genoem.

Daar word vandag nog steeds in die hoofstroommedia om politieke redes met opset valse bewerings gepubliseer dat Paul Kruger en die Boere rassiste was wat die swartmense met wie hulle in aanraking gekom het met minagting en wreedheid mishandel het. Op die vraag of Paul Kruger ’n rassis was wat hom aan onmenslikhede teenoor anderskleuriges skuldig gemaak het, kan die volgende feite gestel word:

Ten eerste was Kruger besonder begaafd met taalvaardigheid en kon hy die tale van verskeie swart stamme van Suidelike Afrika vlot praat. Hy het graag met die swart mense in hul eie taal gepraat omdat hy dan beter met hulle kon kommunikeer om misverstande, baie dikwels die oorsaak van onmin tussen volke, te voorkom. Boonop het hy daardeur agting by hulle afgedwing en hulle het hom as ’n geloofwaardige leier met groot eerbied bejeën.

Kruger het besonder baie moeite gedoen om in tye van dispute en onmin die stamhoofde op te soek of na Pretoria te nooi om samesprekings (indaba) met hulle te voer. Hy was besonder suksesvol met hierdie diplomatieke skakeling. Onder die opperhoofde met wie hy veral groot sukses deur samesprekings behaal het om ernstige probleme op te los, was Mosjesj, koning van die Basotho, koning Bunu van die Swazi’s, en Mogato (Mokgatle Thethe), hoofman van die Bafokeng. Hy het ook suksesvolle indaba’s met die Tswanas van die Marico-Bosveld in Noord-Wes-Transvaal gehou.

Kruger, die gelowige Christen, het niemand onderdruk nie

Kruger was ’n diep gelowige en belydende Christen. Hy het geglo dat alle mense, ongeag ras of kultuur, skepsele van God is en dus as medemens aanvaar moet word. Hy het egter van nie-Christene verwag om hulle te bekeer.

Kruger open Johannesburg Sinagoge

Kruger open Johannesburg Sinagoge

Toe Kruger die Joodse Groot Sinagoge van Johannesburg op uitnodiging van die Joodse gemeenskap geopen het, het hy dit “in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees”, as belydende Christen dus, gedoen. Hy het aan een van die Jode, wat hom daarvoor gekritiseer het, gesê die Jode behoort hulle tot Christendom te bekeer sodat ook hulle gered mag word om die Hemele te kan beërwe.

Kruger het as staatspresident die Afrikaners aangemoedig om in vrede met die swart inwoners van die republiek te leef. Maar met weerbarstige opperhoofde wat nie wou ophou om die burgers se vee te roof en plase te plunder nie (die lobolo– of bruidskat-stelsel was die vernaamste rede), het Kruger nie doekies omgedraai nie: Strafkommando’s is uitgestuur om die vee terug te kry en straf uit te deel, sodat die goeie orde herstel kon word. Omdat laasgenoemde aksie baie goed deur die swart inwoners van Transvaal verstaan is omdat dit ook hul eie beleid vir stam-oortredings was, was daar betreklik min botsings tussen wit en swart tydens die republikeinse era en het duisende swartmense vanoor Suidelike Afrika na die ZAR gestroom om daar werk te vind en om in vrede te kan leef, wat hulle nie elders in Afrika beskore was nie.

Niemand minder nie as Joseph Chamberlain, Britse politikus wat agter die beplande staatsgreep op die ZAR van 1895-’96 gesit het om die ryk goudreserwes vir die Britse Ryk te bekom, het 14 jaar tevore, op 25 Julie 1881, in die Britse Laer Huis (House of Commons) gesê die Britse parlementslede wat onder die indruk verkeer dat die Boere van die Zuid-Afrikaansche Republiek gewelddadige rassiste is wat die swart inwoners brutaal mishandel, word gruwelik deur die Britse koerante mislei. Hierdie indruk wat hulle uit die media verkry, noem Chamberlain “a rash and inconsiderate conclusion”. Die teenoorgestelde is egter die ware toedrag van sake in die ZAR, het hy in die Britse Parlement in Londen gesê.

Chamberlain het ook verwys na ’n brief van ’n vername Britse geestelike, eerwaarde George Blencove, voorvegter vir swart menseregte in Suider Afrika, dat die oorspronklike swart inwoners van Transvaal voor die koms van die Boere deur ander swart stamme uitgemoor of verdryf is. Hy het kennelik verwys na die bloedspoor van die uitgeweke geweldenaar Silkaats en sy Zoeloe/Matabele-krygsbendes wat in Zoeloeland (nou KwaZulu-Natal) teen Tsjaka gerebelleer het en toe moes padgee om elders ’n grondgebied deur roof en plunder te bekom. Toe die Boere in Transvaal opdaag, het hulle groot dele daarvan verlate gevind. Hulle het geen swart stamme uit die gebied verdryf om daarvan besit te kon neem nie.

Nadat die Boere hulle in die gebied ten noorde van die Vaalrivier gevestig het, en die plunderende moordbendes van Silkaats in militêre strafekspedisies oor die Limpopo verdryf het, het die oorspronklike inwoners wat voor Silkaats en kie. moes vlug, weer na Transvaal teruggekeer. Selfs vreemde stamme van elders het ook na Transvaal gekom omdat hulle daar in vrede onder die beskerming van die Boere kon leef.

Eerw. Blencove het voorts geskryf daar is (in 1881) ’n veelrassige gemeenskap in die ZAR, en die swart stamme se aanwas geskied in so ’n hoë tempo dat dit eerder die Boere is wat lugtig vir die groot getalle swartmense geword het, as dat die swartes die Boere sou vrees. (Hansard, Vol. 263, pp. 1828-1829)

Op 23 Oktober 1884 het Lord Derby in die Hoër Huis (House of Lords) in die Londense parlement gesê: “The black population of Transvaal is constantly on the increase, and there is a continual native immigration going on into that country, which does not look as if the condition of the people were one of suffering and oppression.” (Hansard, Vol. 293, p. 37)

Op 27 Junie 1881 is ’n brief van biskop John William Colenso, Anglikaanse biskop van Natal, in die prominente Britse koerant The Times of London gepubliseer, wat soos volg lui: “The simple fact that 800 000 natives were living under the Boer government (of Transvaal) without taking flight and running over to Natal for protection, is enough to show that the accusation against the Boers of illtreating the natives under their rule must be grossly exaggerated, and that, to all appearances, they even prefer the Boer rule to their own.”

Hy vermeld ook dat hy, in teenstelling met beskuldigings teen die Boere dat hulle slawerny beoefen, hy geen teken in die ZAR kon vind dat die swart mense tot slawe gemaak word of as slawe aangehou word nie. (Times of London) Colenso het egter toe onthul dat die Natalse administrateur Shepstone met die instemming van die Britse regering 4 000 Zoeloes in Natal met militêre geweld in slawerny ingedwing het. Hulle moes drie jaar lank kosteloos vir die Engelse suikerrietboere van Natal swoeg. Hulle is letterlik as slawe op slawemarkte aan hierdie Engelse boere verkoop.

(Lees meer hieroor in my boek Kaap van Slawe, die Britse slawebedryf van Elizabeth I tot Alfred Milner.)

In 1894 is Swaziland met die instemming van die Britse regering in Londen onder die voogdyskap van die Zuid-Afrikaansche Republiek geplaas. Die onderhandelings daaroor het in 1890 begin en is in 1894 afgehandel. Die Britse onderhandelaars was lord Loch en lord Rosmead. Beide die Konserwatiewe Party as die Liberale Party van Brittanje was by die onderhandelings betrokke. Die Boere het aan al die Britse vereiste vir die voogdyskap voldoen en hul ondernemings gestand gedoen.

Kruger laat hoofman Magato se skrander seuns oorsee studeer

Hoofman Magato en sy twee skrander seuns

Hoofman Magato en sy twee skrander seuns

Met die opperhoof Magato (Mokgatle Thethe), kgosi (koning) van die Bafokeng in die distrik Rustenburg, het Kruger goeie vriendskapsbande gehad. Toe die Voortrekkers onder aanvoering van Andries Hendrik Potgieter en Gert Maritz in 1837 die strydlustige Zoeloe Mzilikazi en sy impi’s uit daardie distrik verjaag het, was die tot dusver erg verdrukte Magato en sy mense baie dankbaar dat hulle van dié tiran verlos was.

Kruger, wat aan dié oorlog deelgeneem het, het die plase Boekenhoutfontein, Waterval, Rietvlei en Baviaanskrans gekoop. Hy het sy buurman, Magato, goed leer ken. Die enigste uitval wat die twee ooit gehad het, was toe Magato by die uitbreek van die Eerste Vryheidsoorlog in 1881 proviand aan die Britse garnisoen op Rustenburg verskaf het en laasgenoemde die Bafokeng met allerlei valse beloftes tot onrus opgestook het.

Nadat driftige woorde hieroor tussen Kruger en Magato geval het – wat amper op handgemeenheid aan albei kante uitgeloop het – is weer vrede gemaak toe Magato onderneem het om nie kant te kies in die stryd tussen Boer en Brit nie. Dié vriendskap het tot Magato se dood op 19 September 1891 voortgeduur.

In die publikasie De zonen van Magato (Mokgatle Thete, kgosi der Bafokeng) in Delft, een geschiedenis uit de Nederlands-Zuid-Afrikaanse betrekkingen, 1887-1890 deur dr. G.J. Schutte en uitgegee deur die Suid-Afrikaanse Instituut in Amsterdam, word verhaal hoedat Kruger met Magato meegewerk het om van 1887 tot 1890 twee skrander kapteinseuns, Bloemhof (16) en Paul (14), in Nederland te laat studeer om hul leierseienskappe te ontwikkel sodat hulle in die toekoms bekwame leiers van die Bafokeng kon wees. Die meeste van sy inligting het Schutte uit die argief van die Nederlands-Zuid-Afrikaanse Vereniging en die munisipale argief van Delft verkry.
Magato het vier seuns gehad wat volgens stamwette respektiewelik die potensiële opvolgers van hul vader was: Sekete (Johannes), Tumagolê, Kebarapetse/Keorapetse (Bloemhof), en Paul. Johannes, ’n Christen, het sy aanspraak op die leierskap van die hand gewys. Die “kroonprins”, Tumagolê, stompsinnig en weerbarstig van geaardheid, het hom van jongs af aan allerlei misdrywe skuldig gemaak. Gevolglik het sy vader besluit dat hy nie oor die nodige leierseienskappe beskik nie en het hy hom van sy opvolgingskap onthef. Ook is hy nie vir enige opleiding oorweeg nie. Vir Magato was Bloemhof die opvolger, met Paul as adjunk.

In 1884-’85 het die Nederlands-Zuid-Afrikaanse Vereniging ’n studiefonds vir Suid-Afrikaanse studente gestig om in Nederland te kan studeer. Die bestuurslede was die Amsterdamse hoogleraars proff. J.W. Gunning (voorsitter) en C. Bellaer Spruyt (sekretaris), asook H.A.L. Hamelberg van Arnhem.

Die studiebeurs is in oorleg met die Commissie voor de Hollandsche Studiebeurzen in Pretoria ingestel en deur die volksraad van die Zuid-Afrikaansche Republiek toegeken. Die sekretaris van die kommissie was Louis Wessels.

In 1887 is vier belowende leerlinge van die ZAR gekies om in Nederland te gaan studeer: Nicolaas Smit (12), seun van genl. Nicolaas Smit, held van Amajuba in die Eerste Vryheidsoorlog van 1881, Sarel Eloff (16), ’n kleinseun van pres. Kruger, Bloemhof Magato (16) en Paul Magato (14).

Die Magato-broers het hul skoolopleiding by die Hermannsburgse sendingstasie Saron in die Noordweste ontvang. Die vier leerlinge het in die skip Dunvegan Castle na Nederland gereis, waar Bloemhof en Paul in Delft toegewys is aan die sorg van ds. Leendert van der Valk van die Christelijke Afgescheiden Gereformeerde Kerken – verwant aan die Gereformeerde Kerk in Zuid-Afrika (Dopperkerk) in die ZAR. Paul Kruger was ’n vurige lidmaat.

Van der Valk moes toesien dat Bloemhof Magato naas gevorderde Christelik-akademiese opvoeding ook ambagsopleiding in algemene skrynwerk, wamakery, tekene en aanverwante vakke ontvang. Paul Magato moes as sendeling en godsdiensonderwyser opgelei word. Hul hoofonderwyser was Martinus Smink, pionier in Christelike onderwys in Delft en jare lange hoof van die Christelike skool van Nieuwe Langendijk. Een van ds. Valk se seuns, M.H.A. Valk, en nog drie senior onderwysers het die Magato’s onderrig.

Dit is besonder interessant dat daar onder meer besluit is om ook Tswana as akademiese vak aan hulle te doseer. Om veral die grammatika en taalkunde suksesvol te kon aanbied, moes een van die leerkragte die taal eers self baasraak. Daar was egter net ’n taalkundige handleiding in Zoeloe en ’n Bybel in Sotho beskikbaar, maar die leergierige en gehoorsame twee seuns het fluks meegewerk om uit eie kennis hul onderwyser by te staan om gesamentlik Tswana akademies onder die knie te kry. Hulle het weldra baie goed gevaar in taalkunde en stylleer, en kon gou briewe in keurige taal aan hul vader skryf om oor hul vordering verslag te doen. Hulle kon ook Nederlands en Engels lees en skryf.

Daarby het die seuns formele godsdiensonderrig ontvang, is gekatkiseer en het belydenis van die geloof afgelê. In Oktober 1890 is hulle gedoop en as lidmate van die Christelike Gereformeerde Kerk in Delft aangeneem. Almal was hoogs tevrede met hul vordering – veral hul vader, Magato, Paul Kruger en die republiek se Volksraad.

Maar toe tree die noodlot tussenbeide: Magato, toe reeds bejaard, word siek en hy versoek dat sy seuns van Nederland terugkeer sodat Bloemhof die leierskap by hom kon oorneem voordat hy sterf. Die seuns vertrek toe op 16 Oktober 1890 per skip terug na Suid-Afrika.

Terug by hul vader word die hele stam opgeroep om die opvolgingsplegtigheid by te woon. Maar die meerderheid besluit net daar dat die gekerstende Bloemhof met al sy geleerdheid nie geskik was om hul volgende koning te wees nie. Dit moes die onterfde, gewelddadige Tumagolê wees.

Die ZAR se naturellekommissaris op Rustenburg, H.P. Malan, is daarop ingeroep om geweldpleging te voorkom. Hy gelas toe dat op demokratiese wyse verkiesing gehou word. Die meerderheid stem toe vir Tumagolê.

Bloemhof en Paul moes noodgedwonge uit die gebied vlug en hulle met hul volgelinge elders gaan vestig. En so het hul name in die vergetelheid en uit die geskiedenis verdwyn.

Tumagolê het die tradisionele Bafokeng-stamskool en die ou stamgebruike in ere herstel wat deur sy vader, ’n bekeerde Christen, afgeskaf is. En daarmee het al die drome van Magato en Paul Kruger vir die “opheffing” van die Bafokeng soos mis voor die son verdwyn. Die goeie verhouding tussen die Bafokeng en die Boere, enersyds, en in die geledere van die stamlede self, andersyds, het uiteraard vinnig versleg. In 1920 het ’n burgeroorlog onder die Bafokeng uitgebreek wat twee jaar lank voortgeduur het. Dit was ’n stryd tussen tradisionaliste en vernuwers, tussen Christene en heidene, tussen voorstanders van samewerking met die Boere en Boerehaters. Die Bafokeng-stam was uiteindelik die verloorders.

Kruger was ʼn skrander diplomaat en vredemaker

Paul Kruger was betrokke by die Konvensie van Sandrivier toe op 16 en 17 Januarie 1852 ’n traktaat met Brittanje opgestel is vir die onafhanklikheidserkenning van Transvaal. Dit het gelei tot die stigting van die Zuid-Afrikaansche Republiek, ook bekend as die Boererepubliek van Transvaal.

Paul Kruger die demokraat

Paul Kruger die demokraat

Kruger het drie afvaardigings na Londen gelei om die ZAR se onafhanklikheid te bewerkstellig. Toe hy egter in 1881, en later weer in 1899, moes kies tussen die vryheid van die Afrikaners en skatpligtige onderdanigheid aan Brittanje, het hy verkies om tot die bitter einde toe vir hul vryheid en reg te veg.

Vir sy jare lange staatsmanskap en vredemakersvermoëns is hy in 1899 as die eerste ontvanger van die Nobel-vredesprys deur die Skandinawiërs genomineer.

Brittanje, wat indertyd op die punt gestaan het om die ZAR binne te val om die Witwatersrandse goudmyne met oorlogsgeweld van die Boere te roof, het egter agter die skerms geknoei dat Kruger se kandidaatskap vir die Nobel-vredesprys teruggetrek word. Die flou verskoning was dat die prys kwansuis nie aan regeringsleiers toegeken kan word nie. Hierdie bepaling is egter later geskrap. Onder staatsmanne, politici en sanksiedrywers wat die Nobel-vredesprys al ontvang het, is Nelson Mandela en FW de Klerk van Suid-Afrika, asook Barack Obama van Amerika.

Die muntkant van die Nobel Vredesmedalje[/caption]

[caption id=

Nobelprys goue medaljon muntkant Nobelprys goue medaljon muntkant

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

In die voorwoord tot die derde uitgawe in Maart 1942 van regter Manfred Nathan se biografie Paul Kruger, His Life and Times, skryf die geleerde outeur: “Paul Kruger was proposed as a candidate for the Nobel Peace Prize of 1899. Nominations for the award were considered by the Swedish Parliament in so far as it affected Science and Literature, and by the Norwegian Parliament in so far as it affected the Peace aspect. The proposal of Kruger was made by the member for Upsala, and it was seconded by the member for Jönköping. A committee of five was appointed to report. At the Hague Peace Conference of 1899, it was decided not to award the prize to the Heads of States. The first Nobel Prize award was in 1901.”

En die onreg wat Paul Kruger en die Afrikaners in 1899 aangedoen is toe die eerste toekenning van die Nobel-vredesprys hierdie werklike groot en vredestrewende staatsman in ’n tyd van groot beproewing deur die geknoei van Brittanje ontneem is, is lankal vergete. Dit staan nie eens in die Nobelprys-literatuur opgeteken nie. En, soos verwag kon word, was die eerste ontvanger van die Nobel-prys ’n Brit.

Regter Nathan bespreek in die eerste hoofstuk van sy biografie die plek van Paul Kruger in die geskiedenis soos volg: Volgens hom was Kruger oor die twintig jaar van sy presidentskap van die ZAR die mees opvallende figuur in die geskiedenis van Suid-Afrika. Aan die begin is hy verkleineer en gewantrou, terwyl diegene wat hom op nasionale en rassegrondslag teengestaan het, geen steen onaangeroer gelaat het om al sy pogings om die republiek op te bou, te verydel, af te kraak en hom as president aan nyd en veragting, vermeng met haat, te onderwerp. Maar Kruger het oor al daardie struikelblokke getriomfeer. En indien nie gedurende sy lewe nie, dan sekerlik ná sy dood, het sy teenstanders en sy vyande teensinnig hulde gebring aan al sy uitnemende kwaliteite.

Kruger het sy mense in hul uur van nood gelei, en dit was asof ’n heilige mantel op sy skouers geval het. En selfs toe was hy nie oral welkom nie. Sy opregtheid, sy gewilligheid om na die klagtes van die armstes te luister en die menings van die dwaasste, sy openheid vir ander, het mense laat voel dat hy die vader van sy mense is, en dat hy iemand was wat dit verdien het om die toegewydheid te ontvang wat aan ’n vader betoon word. Hy was egter meer as ’n landsvader (pater patriae). Hy het die toon aangegee in sy eie land deur sy sterk, onwrikbare wil, en hy het ook die leiers van die openbare mening in Brittanje, daardie imperiale mag wat hy soveel jare lank teengestaan het, beïnvloed, onthuts en ontwrig. Indien hy die bitterste antagonisme in sommige van hulle opgewek het, het hy hulle, asook diegene wat hom goedgesind was, daartoe genoop om na te dink, en om soms selfs hul beleid jeens Suid-Afrikaanse aangeleenthede te verander. En sodoende het hy die aandag van die ganse wêreld op hom gevestig. Van so ’n mens kan daar nie gesê word dat hy van weinig betekenis was nie. Hy kon vir sy mense nie permanente onafhanklikheid bewerkstellig nie, maar hy het hulle geestelik onafhanklik gemaak, en hulle sodoende bevry. Paul Kruger het aan die Afrikaners ’n siel gegee. Sy invloed duur vandag nog en dit sal steeds so in die toekoms wees. “He was a man of the people, he grew up with the people; he lived for the people,” skryf regter Manfred Nathan in sy biografie.

As daar een dag elke jaar is wat amptelik kan herleef as Heldedag, dan is dit 10 Oktober, die verjaarsdag van Paul Kruger. Vir meer as ’n eeu lank was Krugerdag ’n landswye feesdag van Suid-Afrika. Met die koms van die sogenaamde reënboogdemokrasie het dit egter soos alles van werklike waarde verdwyn.

5 Comments

  1. Hélène sê:

    Ek’s so dankbaar teenoor Martiens van Bart om die waarheid die lig te laat sien! Wat ‘n wonderlike stukkie geskiedenis. Dankie.

  2. Ja, elke mens, groot en klein, moet sy helde eer. Maar hoe kan ons dit doen as ons nie meer iets van hulle (wil) onthou en geleer word nie?!

  3. Suenel Bruwer-Holloway sê:

    Elke keer as ek my geskiedenis lees, ontdek ek nog ‘n element van Oom Paul se karakter. Sy inbors kontrasteer so met Milner en Rhodes se skelm skeinheiligheid, leuens en rassisme, maar sy demonatisering was een van die suksesvolste propaganda-veldtogte van die tyd. Mens wonder of daar enige vakbondleiers in hedendaagse Suid-Afrika is wat enigsins weet van sy onderhandelinge voor die ABO.

  4. Chris Joubert sê:

    Ek het ook ‘n oorspronklike eksemplaar van hierdie boek van JF van Oordt en het dit as twintigjarige van hoek tot kant gelees. Daar is wonderlike staaltjies in van Oom Paul. Die aanhaling van Otto von Bismarck is egter wonderlike nuus vir my.
    Twee brokkies uit die boek wat my bybly, is die een wat vertel hoe hy as jongman bo-op die nok van die kerk in Rustenburg op sy kop gestaan het, en hoe hy as jong deun aan ‘n swart stam se marathon-wedloop deelgeneem het en almal weggehardloop het. Halfpad het die wedloop oor sy pa se plaas gegaan en hy was só ver voor dat hy eers saam met sy pa gaan koffie drink het. Sy pa was baie bekommerd oor die moontlikheid van leeus langs die pad en laat hom toe die tweede helfte van die wedloop met ‘n voorlaaier hardloop – en toe wen hy nog steeds ver!
    Hoe kry ons hierdie boodskap van Oom Paul se leierskap, goeie diplomasie en goeie menseverhoudinge met swart stamme by die ANC, die EFF en die #AllesMustFall klomp?

  5. Zirk sê:

    Die disinformasie en leuens vanaf Brittanje het toé al begin. Só is SA se grootste probleem ook nog disinformasie en leuens wat aanhoudend onder oningeligte, ongeletterde massas herhaal word, sodat hulle dit uiteindelik as die groot waatheid, aanvaar. En soo word rassisme lewend gehou. En ons geskiedskrywers en historici skitter in hul afwesigheid. En siedaar, lewenslange konflik is ons voorland.!

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!