René Girard, Afrikaners en sondebokke. Spanning in Suid-Afrika

Paul Kruger en die Neger Gospel-sanggroep van Amerika
November 11, 2015
Voorsittersverslag 2015
November 11, 2015

deur Danie Goosen

Afrikaners staan in ’n staat van beskuldiging. As daar vroeër ’n gees van welwillendheid teenoor ons vaardig was, het dit intussen plek gemaak vir ’n gees van beskuldiging, verwyt en selfs diepe afguns.

Vanuit regeringskringe en populistiese kringe word ons van arrogansie, kolonialisme en rassisme beskuldig. Onderliggend daaraan lê kwalik bedekte dreigemente. “Ons gaan julle arrogansie nie verder duld nie”, “Ons gaan julle rassiste bykom”, “Maak plek vir die meerderheid, of dra die gevolge,” ensovoorts, word gereeld in die openbare lewe gehoor.

Om dinge te vererger, word die beskuldigings en dreigemente ondersteun deur ’n falanks van woordvoerders wat aanvoer dat die identiteit van Afrikaners ’n gewelddadige ‘konstruk’ is. Indien ons ’n staat van aanvaarbaarheid wil bereik, moet ons van dié konstruk afskeid neem, word gesê.

Ten minste twee vrae dring hulself op: Hoe moet Afrikaners die beskuldigings en dreigemente verstaan? Nog meer, hoe moet ons daarop antwoord?

As ons by laasgenoemde kan begin: Afrikaners sal koelkop moet bly. Ons sal op ’n nugtere en strategies deurdagte wyse moet antwoord. In die proses kan ons met onvermoeide ywer die volgende aanvoer:

– Dat ons wortels diep in hierdie land lê, dat ons as kultuurgemeenskap oor ’n groot tydperk gevorm is, en dat ons eie identiteit nie net as ’n blote konstruk van geweld en manipulasie afgemaak kan word nie (maar dat ons met harde stampe en stote eg uit hierdie aarde gegroei het);

– Dat die geskiedenis van Afrikaners vanaf ons eerste oomblikke deur ’n trotse vryheidstrewe gekenmerk word (en dat ons ook ’n hoë premie daarop plaas dat ander volkere en gemeenskappe hierdie vryheidstrewe met ons sal deel);

– Dat Afrikaners ’n reuse aandeel gehad het in die opbou en modernisering van die land (en dat ons rol nie tot apartheid ingekort kan word nie);

– Dat Afrikaners eweneens ’n reuse aandeel het in die instandhouding van die bestaande orde, en dat ons onder meer by wyse van hoë belasting sorg dat ’n omvattende sosiale versorgingsnetwerk vir armes geskep is (om nie eens te verwys nie na die miljoene rande wat ons ekstra moet bestee om te sorg dat ons onderwys, ons mediese dienste, ons veiligheid, ensovoorts, op aanvaarbare vlakke gehou word);

– Dat Afrikaners as kultuurgemeenskap die onvervreembare reg op erkenning het (en dat volwaardige demokrasieë wêreldwyd sinvolle instellings en plekke aan sy gemeenskappe bied waarbinne hulle kan gedy, ook tot voordeel van die geheel).

– Dat die wrewelveldtogte teen Afrikaners nie aanleiding sal gee tot ’n mirakelagtige verdwyning van Suid-Afrika se talle ekonomiese, sosiale en politieke probleme nie. Inteendeel, dit sal die land self onherroeplik benadeel, om dit op die sagste wyse denkbaar te formuleer;

– En dat die aandrang om almal binne ’n ongedifferensieerde en selfs verstikkende eenheid op te neem nie tot vrede lei nie, maar juis die voorwaardes vir spanning neerlê. Vrede en voorspoed is slegs moontlik as die verskille erken en as ’n bate vir die geheel beskou word.

Dit bring ons by die tweede vraag: Hoe moet die verhoogde temperatuur téén Afrikaners verstaan word?

Ons maak hieronder slegs enkele voorstelle. In die proses word nie gepoog om Afrikaners te verontskuldig nie. Nogtans moet vooraf gesê word dat die enkele Afrikaners wat hulself vandag inderdaad wangedra, nie as normatief van alle Afrikaners beskou kan word nie. By verre die meeste Afrikaners handel nougeset binne die wet. Trouens, die meeste Afrikaners speel op ’n veelvoud van terreine (die onderwys, die ekonomie, die landbou, die kunste, ensovoorts) ’n positiewe en opbouende rol. Dit is ’n feit wat glad nie deur genoemde falanks van woordvoerders in ag geneem word nie. Daarvoor is hulle blinde vooroordeel te sterk.

In antwoord op bogenoemde vraag staan ons kortliks by die denke van René Girard, een van die reuse uit die intellektuele lewe van die afgelope dekades, stil. Girard, wat onlangs oorlede is, bied ’n belangrike sleutel om te begryp wat vandag met Afrikaners gebeur. Ons verwys kortliks na enkele tersaaklike gedagtes uit sy boeiende werk.

Girard het in sy werk telkens weer teruggekeer na die tema van spanning en geweld binne sosiale en politieke ordes. Hy het sy denke daaroor onder meer ontwikkel met behulp van nougesette vertolking van die mites en tragedies uit die Klassieke tydperk, die Christelike erfenis, asook die moderne letterkunde (Cervantes, Stendhal, Dostoyevsky, Proust, ensovoorts), sielkunde, antropologie en filosofie. In die hart van sy denke staan die poging om die oorsake van spanning en geweld te verstaan, asook die feit dat die oplossings wat vir die geweld aangebied word dikwels op fiktiewe gronde rus.

Girard gaan uit van die gedagte dat die oorsake van genoemde spanninge na die aard van ons begeertes teruggevoer kan word. Wat dus kenmerk ons begeertes?

Volgens Girard begeer ons nie ’n bepaalde objek omdat dit self begerenswaardig is nie, maar omdat andere daardie objek begeer. Hierin lê die bronne van konflik. Vanweë die feit dat individue en gemeenskappe die begeertes van andere naboots, word hulle onderlinge verhoudinge ook dikwels deur intense vorme van afguns, jaloesie en uiteindelik konflik gekenmerk.

In sy laaste groot werk, wat onder meer oor die strategiese denke van Carl von Clausewitz handel, verwys Girard na die volgende voorbeeld. Tydens die negentiende eeu het Europese state nie soseer koloniale besittings vanweë hul intrinsieke waarde begeer nie, maar eerder omdat ander Europese state dieselfde kolonies begeer het. So het Frankryk sy koloniale mag uitgebrei omdat Brittanje ’n koloniale ryk begeer het, terwyl Duitsland en België op hul beurt weer koloniale besittings nagejaag het omdat Brittanje en Frankryk dit gedoen het, ensovoorts. Volgens Girard dus letterlik ’n kwessie van ‘keeping up with the Joneses’ op die vlak van die staatlike.

Volgens Girard het hierdie dolle nabootsing van Europese state nie net tot intense vorme van kollektiewe afguns aanleiding gegee nie. In die verlengde van dié donker kragte wat tussen hulle werksaam was, het dit ook tot die grootste waansin denkbaar gelei, naamlik die selfvernietigende Eerste Wêreldoorlog, meer as ’n eeu gelede.

Alhoewel dit meestal uit politiek korrekte oorwegings nie in die openbaar gesê word nie, is Afrika (ook Suid-Afrika) volledig binne ’n nabootsende begeerte vasgevang. Afrika en sy sogenaamde post-koloniale elites begeer bykans sonder uitsondering wat hul eertydse koloniale meesters begeer. Tipies hiervan is die Westerse wetenskap en tegniek, Westerse staatstrukture, Westerse ekonomiese ordes, Westerse lewenstyle (vanaf eetgewoontes en kleredrag tot en met luukse motors en argitektuur). Hierdie en vele meer word op ’n kollektiewe grondslag as begerenswaardig nagejaag.

So bly Afrika se elites ironies genoeg vasgevang in dit waarteen hulle hulself oënskynlik verset, naamlik hul eertydse koloniale meesters. Kenmerkend van hierdie paradoksale toestand (‘Afrika begeer wat hy verag’) is intense vorme van afguns, wrokkigheid en jaloesie jeens die nagebootsde. Dit wat nageboots word, moet tegelyk uit die weg geruim word.

Dit bring ons by die belangrike vraag: Hoe pas Afrikaners in hierdie prentjie? Om Girard se antwoord hierop te begryp, moet ook stilgestaan word by sy insig in die fiktiewe antwoorde wat politieke ordes dikwels op genoemde spanninge gee. Dit hou met die ‘meganisme van die sondebok’ verband.

Volgens Girard word politieke ordes vanaf die vroegste tye gekenmerk deur die vermoë om op ’n volledig lukrake wyse sondebokke te identifiseer wat vir die spanning verantwoordelik sou wees. (So word vroue as ‘hekse’ geïdentifiseer bloot omdat hulle deur een of ander vreemde eienskap gekenmerk word, soos ’n letsel op die voorkop, ’n moesie op die neus, ensovoorts).

Ten grondslag hiervan lê die selfmisleidende en fiktiewe gedagte dat indien sondebokke soos hekse uit die samelewing gedryf word, die spanninge ook meteens sal verdwyn. Wanneer die sondebokke gedood of uitgedryf is, sal ’n sogenaamde eertydse harmonie tussen almal weer haar opwagting maak.

Anders as wat ons sou dink, is hierdie ‘primitiewe logika’ nie net op vroeë samelewings van toepassing nie. Ook moderne samelewings word daardeur gekenmerk. Dit blyk uit die wyse waarop die Jode, om maar die heel bekendste en mees dramatiese voorbeeld te noem, deur ’n bruut moderniserende mag soos die nasionaal-sosialisme én Stalin se kommunistiese diktatuur as sondebokke hanteer is. Indien die Jode uitgedryf word, is geglo, sal die orde herstel en sal daar harmonie tussen almal heers.

Alhoewel daar uiteraard ’n bykans onoorbrugbare verskil tussen die Jode en die hedendaagse Afrikaners is, is daar op die vlak van die ‘logika’ wat die sondebokmeganisme kenmerk ’n ooreenkoms. Te midde van die talle strukturele spanninge wat Suid-Afrika vandag ervaar, word nie net ’n krag soos die ‘kolonialistiese’ Weste toenemend as sondebok ervaar nie (‘ons armoede is slegs die gevolg van die Weste’), maar ook die Afrikaners. Soos met sondebokke in die algemeen rus dit op die fiktiewe vooronderstelling dat indien die Westerse invloed en ook die Afrikaners uitgedryf sou word, Suid-Afrika se probleme meteens sal verdwyn. En die reënboog weer glorieryk in die hemelruim sal skyn.

Inderwaarheid sal dit nie ’n jota of titel help om van Suid-Afrika ’n vrye, regverdige en florerende land te maak nie. Inteendeel, dit sal presies die teendeel tot gevolg hê.

Geformuleer met behulp van die voorbeeld van die Afrikaanse skole. Indien die handjievol Afrikaanse skole in ooreenstemming met die sondebokmeganisme uit die weg geruim sou word (soos wat die vyandige LUR van onderwys in Gauteng graag wil sien), sal die bestaande onderwyskrisis klaarblyklik soos mis voor die son verdwyn.

Inderwaarheid is die klein getal Afrikaanse skole wat oorgebly het ’n glansende voorbeeld van wat met die ander skole landswyd gedoen moet word (en nie iets wat uit wrokkigheid en afguns afgebreek moet word nie). Indien hulle sou ophou bestaan, sal dit die ganse onderwysbedeling net verder in ’n gemors dompel.

Dit bring ons by ’n slotopmerking. Soos wat reeds hierbo gesê is, sal Afrikaners koelkop moet bly. En ons nie laat meesleep in die irrasionaliteit wat die openbare verwysings na Afrikaners kenmerk nie. Alhoewel ons lank kan gesels oor die betekenis van ‘koelkop bly’, impliseer dit ook en veral om steeds verder beslag aan die volgende te gee:

Eerstens, Afrikaners moet nie ophou om op ’n universeel aanvaarbare en demokraties-legitieme wyse voorspraak vir onsself te maak nie.

Tweedens, Afrikaners moet nie ophou om so sterk as moontlike instellings en plekke te vestig waar ’n eie gemeenskapslewe kan gedy nie. Volgens Girard word nabootsende geweld gekenmerk deur toestande waar grense (soos onder meer beliggaam in instellings) opgehef is. Indien dié grense versterk en uitgebou word, bied dit ’n teenwig teen die gewelddadige implikasies van nabootsing.

Derdens, Afrikaners moet ook nie ophou om telkens weer ’n hand van samewerking na ander gemeenskappe uit te reik nie. Ingevolge die stemming ten grondslag van sy werk sou Girard met hierdie voorstelle saamgestem het.

4 Comments

  1. Dit sal voorwaar die ergste fout wees as die blanke Afrikaner nie telkens fier en reggop bly staan, en oral waar dit moontlik is, ‘n konstruktiewe verskil help maak nie. Nie alle kulture is so ingestel of toegerus nie.

  2. Willem de Jager sê:

    Baie dankie vir ‘n sober en insiggewende perspektief op hedendaagse verwikkelinge in die land en oor ons situasie as Afrikanergemeenskap.

  3. Baie dankie Danie Goosen, vir u sinvolle artikel.

  4. Chris Joubert sê:

    Ons sal bepaald koelkop moet bly sonder om net oor te gee soos Stellenbosch Universiteit (ek is self ‘n oud-Matie). Ons moet ook die gepeupel laat verstaan dat dit hoofsaaklik óns stem is wat die verandering van apartheid na die huidige bestel bewerkstellig het.
    Engels, die taal van die kolonialiste, is nou skielik die wondertaal om ons mee te slaan.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!