René Girard, Afrikaners en sondebokke. Spanning in Suid-Afrika
November 11, 2015
Hoogtepunte vir 2015
November 11, 2015

Prof. Danie Goosen

2015

 

Soos so dikwels in sy ses en tagtigjarige bestaan was vanjaar weer eens ’n geseënde jaar vir die FAK. Die FAK was ook vanjaar nie net weer geseënd met harde werk en toewyding nie. In en deur ons harde werk en toewyding, is die FAK mildelik met die geskenk van veel meer seëninge toegeval as wat ons ooit sou kon voorsien het. Die FAK is diep dankbaar daarvoor.

Vanjaar het die FAK in die eerste plek ingevolge sy organisasie-strukture goed presteer. Oorhoofs gesien is die FAK organisatories gesproke aansienlik uitgebou. Dit blyk uit die volgende:

  • Die betekenisvolle groei van FAK-vriende.
  • Die feit dat die FAK-personeel vanjaar, ondanks buitengewone eise wat ingevolge ervaring, kennis, verbeelding, werksure en toewyding gestel is, op ’n uitnemende wyse aan die verwagtinge voldoen het.
  • Die betekenisvolle verstewiging van sy eie finansiële selfstandigheid en vermoë om vanuit eie bronne te handel.

Ook wat betref die vier groot fokusterreine van die FAK, is vanjaar betekenisvolle vordering gemaak:

  • Met betrekking tot die uitbouing en bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur binne die raamwerk van ’n groot verskeidenheid projekte is besondere prestasies behaal;
  • Betekenisvolle treë is gegee met die uitbouing van die omvattende geskiedenisprojek van die FAK, en in die besonder met die kultuur-politieke doelwit ten grondslag daarvan, naamlik om mee te werk aan die herstel van Afrikaners se historiese selfbewussyn;
  • ’n Verskeidenheid van idee-gerigte projekte (boeke, artikels, webwerwe, seminare, ens) is binne die konteks van die NP van Wyk Louw-sentrum suksesvol afgehandel. Die oogmerk daarmee is steeds om betekenisvolle leiding vir Afrikaners as kultuurgemeenskap op die gebied van idees te gee.
  • Laastens het die FAK as ’n byderwetse federerende liggaam ook suksesvolle vennootskappe met ’n veelheid van Afrikaanse en Afrikanerorganisasies rondom verskeie projekte gesluit, gehandhaaf en verder uitgebou.

Alvorens ons enkele opmerkings oor die idee-toekoms van Afrikaners maak, wil ons van hierdie geleentheid gebruik maak om dankie te sê. Dankie vir die FAK-kantoor en elke lid van die personeel vir hul toewyding, harde werk en verbeelding, waarmee gesorg word dat die FAK steeds sy verantwoordelikheid jeens ons kultuurgemeenskap nakom.

In die besonder dankie vir dr. Danie Langner, die uitvoerende direkteur van die FAK, wat aan die leiding van die FAK staan, en wat daarvoor sorg dat die FAK met ewewigtige denke, volledige toewyding en ondernemingsgees sy historiese verantwoordelikheid binne ’n buitengewone uitdagende konteks nakom. Dit is vir die FAK-Direksie ’n besondere voorreg om saam met doktor Langner te werk. Ons groot dank ook aan die onvermoeide steun van Melanie, sy eggenote, asook hul vyf kinders.

Daarby wil ekself van die geleentheid gebruik maak om ook vir die ondervoorsitter van die Direksie, professor Jacques van der Elst, asook die ander lede van die Direksie te bedank. Hulle onbaatsugtige betrokkenheid by en deelname aan die FAK en sy verskillende komitees, is ’n onontbeerlike rede waarom die FAK vanjaar ook as geseënd kon ervaar.

Laastens ook ’n groot woord van dankie aan die talle ongenoemde en selfs onbekende ondersteuners van die FAK wat in die verskillende vertakkinge daarvan staan en hulle onontbeerlike steun aan die FAK verleen.

Omdat doktor Langner as uitvoerende direkteur reeds breedvoerig na die aktiwiteite van die FAK in sy jaarverslag verwys, staan ons hieronder by slegs ’n enkele uitdaging stil. Dit hou verband met die wêreld van idees, dié verantwoordelikheid van die FAK se NP van Wyk Louw-sentrum. In die besonder word slegs enkele opmerkings gemaak oor die gedagte van die sogenaamde “middelgrond” waarop die NP van Wyk Louw-sentrum vanjaar gefokus het. En wat in die hart van ’n idee-dokument staan wat die Sentrum vanjaar vir die Solidariteit-Beweging ontwikkel het.

Vanaf die beëindiging van apartheid word Afrikaners deur twyfel aan hul eie identiteit gekenmerk. Met betrekking tot die vraag wie en wat Afrikaners is, waar hulle vandaan kom, waarheen hulle op pad is, ensovoorts, het ’n groot twyfel ingetree. Afrikaners sal egter nie hulself kan verwesenlik as hulle steeds deur toestande van selftwyfel gekenmerk word nie. Groter vorme van selfvertroue en helderheid oor die eie identiteit is van die allergrootste belang.

Maar, en dit is die belangrike idee-vraag, hoe moet so identiteit lyk? In die NP van Wyk Louw-sentrum word uitgegaan van die standpunt dat ’n saambindende en hoopgewende grondslag vir ’n eie identiteit in die gedagte van die ‘middelgrond’ opgesluit lê.

Maar wat is die middelgrond? Histories gesproke is Afrikaners nie ekstreme mense wat in uiterste terme dink en handel nie. Inteendeel, Afrikaners is matige, verantwoordelike en gebalanseerde mense. By verre die meeste vind hulself alreeds in iets soos ’n lewensbeskoulike middelgrond tuis. Alhoewel daar ook onder Afrikaners, soos in alle kultuurgemeenskappe, uiterstes voorkom, verteenwoordig hulle ’n kleiner minderheid.

NP van Wyk Louw, een van die grootste Afrikaanse digters en denkers, het die soeke na ’n middelgrond vir Afrikaners saamgevat toe hy geskryf het: “Ek glo … aan die nugter oordeel en die gematigdheid van die meerderheid van ons volk.” In ’n ander konteks herhaal Louw die punt as hy skryf: “Ja, ’n mens verlang na ’n toekoms waarin ons Afrikaanse eenheid-in-verskeidenheid by geen Europese kultuur agter sal staan nie”. Alhoewel Louw dit nie in soveel woorde geformuleer het nie, het hy met dié eenheid-in-verskeidenheid na ’n toestand verwys waarin Afrikaners deur ’n middelgrond gekenmerk sal wees.

Wat is die eienskappe van die middelgrond? Die volgende staan in die hart daarvan:

a) ’n Godsdienstige uitgangspunt

Die gedagte van die middelgrond is in die Bybel geanker. Uit die Bybel leer ons dat God die hemel en aarde uit ’n oorvloed van vrygewigheid geskep het. Maar uit die Bybel leer ons ook dat God nie met enige aspek van sy skepping (soos die materiële, die biologiese of die historiese aspekte van die skepping) geïdentifiseer kan word nie. Indien God inderdaad met enige aspek daarvan sou saamval, word sy onbegrypbare en heilige transendensie aangetas; en veral ons denke in wat as ‘beeldaanbiddery’ beskryf kan word.

Die gedagte van die middelgrond sluit by hierdie teologiese uitgangspunt aan. In positiewe terme geformuleer, die middelgrond stel ons in staat om die verskeidenheid van die skeppingsgebeure raak te sien en dit in sy volle rykheid te vier, sonder om enige aspek daarvan te verabsoluteer.

b) Historiese aanknopingspunte

Die gedagte van die middelgrond is nie vreemd aan die Afrikaners nie. Trouens, indien ons argetipiese Afrikaners soos oudpresidente Paul Kruger en MT Steyn as maatstaf gebruik, behoort die gedagte van die middelgrond tot die hart van die Afrikaners.

Waarom? Dié leiers uit ons geskiedenis het daarin geslaag om tuis te kom tussen die tradisionele en die moderne wêreld, tussen die landelike en die stedelike, tussen die tradisionele sin vir gemeenskap en die moderne sin vir die individu, tussen die gesag van die tradisie en die belofte van die toekoms, ensovoorts.

So het oudpresident Kruger as tradisionele Calvinis tegelyk ’n groot bewondering vir die moderne republikanisme gehad, terwyl oudpresident Steyn tegelyk tradisiebewus én moderngesind was; tegelyk bewus van die eie gemeenskap én iemand wat goeie verstandhoudinge met ander gemeenskappe opgesoek het; tegelyk gemeenskapsdenker én ’n uitsonderlike individualis; tegelyk gemotiveer deur universele beginsels (geregtigheid, selfbeskikking, waarheid) én ’n vyand van dié universele mag van sy tyd, naamlik die Britse Empaaier.

c) Erfgename en skeppers

Vanuit die middelgrond beoordeel, is ons as mense sowel ‘erfgename’ van ons tradisies as ‘skeppers’. In die eerste plek bestaan ons by grasie van die feit dat ons ons gesinne, tradisies, kulture en tale geërf het. Ons is hoegenaamd, omdat ons ’n wêreld buite-om ons eie inspanning in ontvangs geneem het.

In die tweede plek ‘is’ ons egter ook by grasie van die feit dat ons ons wêreld skep. Ons is nie net erfgename nie, maar ons skep (of nog beter: ons herskep) ook aktief dit wat ons ontvang het.

Vanuit die middelgrond beoordeel, is beide aspekte noodsaaklik vir ’n lewendige gemeenskap, sowel die feit dat ons ons werklikheid dankbaar ontvang as dat ons ook ons werklikheid nuut herskep, sowel die in-ontvangs-neem as die aktiewe (her)maak van ons wêreld.

d) Gemeenskap en individu

Vanuit die middelgrond bedink, is sowel die eie gemeenskappe as die individu belangrik. Gemeenskap en die individu sluit mekaar nie uit nie, maar het mekaar eerder wedersyds nodig.

Terwyl gemeenskappe die ruimte skep waarbinne die skeppende individu hoegenaamd na vore kan tree, het die energieke gemeenskap ook skeppende individue nodig. Indien slegs die gemeenskap beklemtoon word, dreig dit om ’n geslote gemeenskap te word; indien slegs die individu beklemtoon word, dreig laasgenoemde om vereensaam te word en deur ’n lewe sonder betekenis gekenmerk te wees.

e) ’n Ongedifferensieerde versus ’n gedifferensieerde gemeenskap

Diegene wat vanuit die middelgrond dink en handel, pleit nie vir ’n geslote gemeenskapsopvatting nie, maar vir ’n gemeenskap wat geduld het met die veelheid van sub-groeperinge en andersdenkendes in eie geledere. Sowel die eenheid as die veelheid van stemme is noodsaaklik vir gemeenskappe.

Vanuit die middelgrond beoordeel, is samehang in ’n gemeenskap noodsaaklik. Maar verskille is eweneens noodsaaklik. Sonder hierdie dinge – samehang en verskille – loop gemeenskappe die risiko om óf in verstikking vas te draai óf na binne uiteen te val.

f) Tradisie en moderniteit

In aansluiting by bogenoemde opmerkings oor oudpresidente Kruger en Steyn kan ons ook sê dat diegene wat vanuit die middelgrond dink, hulself iewers in die vreemde sone tussen die tradisie en die moderne wêreld bevind.

‘Middelgronders’ neem sowel die stem van die tradisie as die eise van die moderne wêreld in ag. Indien net na die stem van die tradisie geluister word, val ons vas in ’n tradisionalisme; indien ons net na die stem van die modernisme luister, gee ons onsself oor aan die selfdestruktiewe obsessie met ‘vooruitgang’ en ‘ontwikkeling’.

g) Grense

Vanuit die middelgrond beoordeel, beperk grense tussen mense en gemeenskappe nie net nie. Grense maak dit ook vir gemeenskappe moontlik om hoegenaamd te kan wees. Identiteitsgrense, sosiale en ekonomiese grense, politieke grense, landsgrense, godsdienstige grense en geslagsgrense – hierdie en ander grense, skep die ooptes vir gemeenskappe om aan die geskiedenis deel te kan neem.

Vandag is die belangrike vraag nie of daar met grense weggedoen moet word nie, maar eerder hoe grense getrek moet word. Afrikaners het dikwels in die verlede te sterk grense rondom hulleself getrek. Wie en wat ’n Afrikaner is, is met te veel voorskrifte belas. Afrikaners is vandag daarenteen dikwels nie in staat om grense te trek nie. Daarom ook die selfontkenning by sommige van ons mense.

Vanuit die middelgrond beoordeel, is grense noodsaaklik, sonder om te ontken dat grense ook verskuif, verander of herformuleer kan word.

h) Vryheid

Die strewe na vryheid is een van die belangrikste moderne politieke ideale. Maar presies wat word met vryheid bedoel? Vandag kan tussen ten minste twee uiteenlopende opvattinge van vryheid onderskei word, naamlik die ‘vryheid van keuse’ en die ‘vryheid van verwesenliking’.

Eerstens, die vryheid van keuse is vandag die dominante vryheidsopvatting in die sogenaamde neo-liberale wêreld. Vryheid van keuse steun op die gedagte dat ons as mense vry is wanneer onsself kan kies hoe ons ons lewe wil ly. Alles is ’n funksie van my eie keusevryheid. Volgens dié vryheidsopvatting is die kultuur van regte (hetsy individuele of gemeenskapsregte) dié belangrikste instrument wat ons vryheid kan waarborg. In en deur ons regte word ons in staat gestel om ons lewe volgens ons eie keuse in te rig.

Tweedens, die vryheid van verwesenliking gaan uit van die gedagte dat ons vry is wanneer ons op ’n uitnemende wyse aan ons verskillende instellings deelneem. En onsself so as gemeenskap verwesenlik.

Terwyl die vryheid van keuse op die kultuur van regte steun, steun die vryheid van verwesenliking (of die vryheid van verwerkliking) op die gedagte van geluk. Ons kan sê geluk is sy hoogste doel. Indien ons onsself as onderwysers (of as musici, ingenieurs, dokters, huisvroue, tegnici, boere, sportmense, ens) verwerklik, ervaar ons geluk.

Vanuit die middelgrond bedink, word nie ’n strakke lyn tussen bogenoemde opvattings van vryheid neergelê nie. Beide is noodsaaklik vir ’n gesonde gemeenskapslewe. Indien ons net op die vryheid van keuse klem lê, loop ons die risiko om in ’n negatiewe kultuur te verval waarin ons telkens slegs ’n steeds uitbreidende hoeveelheid regte vir onsself opeis, sonder om ook ons verantwoordelikheid na te kom. Indien ons egter slegs sou klem lê op die vryheid van verwerkliking, kan ons onsself in ’n toestand bevind waar ons ons geluk ten koste van andere se regte najaag.

i) Die eie gemeenskap en die ander gemeenskappe

 In aansluiting by die gees en stemming ten grondslag van die gemeenskapsfederalistiese tradisie soek gemeenskappe wat vanuit die middelgrond dink en handel altyd weer goeie betrekkinge met ander gemeenskappe op.

Vanuit die middelgrond beoordeel, staan die klem op die eie gemeenskap nie in spanning met goeie verstandhoudinge nie. Inteendeel, die vryheid, voorspoed en veiligheid van die eie gemeenskap is ten nouste daaraan verbonde.

Goeie gemeenskapsverhoudinge is nie ’n funksie van óf selfontkenning óf selfoorskatting nie, maar die soek na ’n balans tussen die goeie van die eie en die goeie van ander gemeenskappe.

j) Die ekonomie

Vanuit die middelgrond bedink, word ’n voorkeur vir die gedagte van die vrye mark uitgeoefen, en tegelyk ’n omvattende kritiek op die staatsgedrewe sosialisme uitgespreek.

Vanuit die middelgrond bedink, skep die vrye mark die ruimte waarbinne gemeenskappe kan gedy, terwyl die staatsosialisme telkens weer gemeenskappe aan neerdrukkende maatreëls en die irrasionaliteit van burokratiese hiërargieë onderwerp.

Maar vanuit die middelgrond bedink, word daar ook ’n kritiese voorbehoud gehandhaaf teenoor die eksesse van die hiper-kapitalisme, en in die besonder die neiging van laasgenoemde om sy rug op gemeenskappe en tradisies te draai en slegs die belange van die alleenlopende individu na te jaag.

Kortom, vanuit die middelgrond bedink, word ingetree vir ’n vryemarkekonomie wat tegelyk sy verantwoordelikheid vir gemeenskappe en die tradisies van die mensdom aanvaar.

Ons hoop, geloof en vertroue is dat dit die jare wat voorlê weer eens in die teken van oorvloedige seën sal staan.

 

 

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!