KULTURELE DROOGTEBESTUUR
Februarie 5, 2016
VAN ‘GLOBISH’ TOT ‘GIBERISH’: ‘N GEMEENSKAP IN KRISIS
Februarie 5, 2016

deur prof. Danie Goosen

Een van dié kodewoorde van ons tyd is ‘dekolonisering’. Vanaf die regerende elite tot en met opposisiegroepe gebruik dié woord om te verduidelik waarheen ons op pad behoort te wees: na ’n gedekoloniseerde samelewing.

Ook aan universiteite speel dekolonisering ’n belangrike rol. Universiteite ondersteun toenemend in sowel hul dosering as navorsing die idee van dekolonisering. Vroeër, word aan universiteite gesê, was kennis en wysheid deur Westerse (lees: koloniale) opvattinge daaroor beïnvloed. Nou is ons taak as universiteite om lokale en veral Afrika-opvattinge van kennis en wysheid te ontdek en uit te dra.

Maar wat word met dekolonisering bedoel? Ongelukkig bestaan hieroor geen eenstemmigheid nie. Ondanks die feit dat die oproep tot dekolonisering by verskeie gemeenskappe byval vind, verskil hulle diep oor die betekenis daarvan. Wat die regerende elite en die EFF daarmee bedoel, stem byvoorbeeld nie ooreen met wat ’n kultuurgemeenskap soos die Afrikaners daaroor sê nie.

In die oë van die regerende elite is Afrikaners ‘koloniste van ’n spesiale soort’ wat nog aan programme van dekolonisering onderwerp moet word. In aansluiting hierby voer EFF-geïnspireerde studente aan dat Afrikaans aan ons universiteite ’n teken van kolonialisme is en dat dit daarom van die kampusse verwyder moet word.

Afrikaners daarenteen wys graag op die feit dat hulle die proses van dekolonisering ingelei het met hul heroïese stryd teen die Britse Empaaier. Universitêre Afrikaans is juis ’n latere manifestasie hiervan. Dit is immers met behulp van universitêre Afrikaans dat die eentaligheidsdrome van die Empaaier op ’n afstand gehou is. In die mate waarin die EEF vir Engelse eentaligheid op ons kampusse pleit, word die koloniale erfenis ironies genoeg gekontinueer, sê hulle.

Ongelukkig gaan die verlies aan eenstemmigheid oor wat dekolonisering beteken met kritiese gevolge gepaard. Dit hou verband met die feit dat verskille daaroor tans met ’n verslegting in die verhouding tussen gemeenskappe gepaard gaan. In plaas daarvan dat gemeenskappe mekaar as bondgenote in die kritiek op die koloniale gedagte ervaar, word sommige juis van kolonialisme beskuldig.

Groter eenstemmigheid oor wat ons met dekolonisering bedoel, het dringend noodsaaklik geword. En ondanks die enorme uitdaginge wat daaraan verbonde is, is dit nie onmoontlik nie. Hieronder is juis ’n voorstel in hierdie verband.

Ons gaan uit van die gedagte dat groter eenstemmigheid (nie volledige eenstemmigheid nie, want dit is onmoontlik) bereik kan word op grond van die volgende omskrywing van dekolonisering. Ons noem slegs twee belangrike eienskappe daarvan.

Eerstens, dekolonisering gaan oor ’n verset vanuit die sogenaamde koloniale periferie teen die voorskriftelikheid van die koloniale sentrum. Of met dié sentrum na die destydse Empaaier of die hedendaagse neo-liberale en finansiële globalisme verwys word, dekolonisering beteken telkens om ’n stem aan die gemeenskappe op die periferie te gee. Soos ekonomies verarmde en benadeelde gemeenskappe, lokale gebiede, plaaslike kulture en tale, inheemse kennisstrukture, tradisionele opvattinge oor wat die goeie en die ware beteken, ensovoorts.

Tweedens, die doel van die verset teen die koloniale sentrum is om ruimtes oop te maak waarbinne die gemeenskappe op die periferie op so ’n selfstandige wyse as moontlik (dit wil sê sonder om telkens aan die voorskrifte van die sentrum onderwerp te wees) oor ’n eie toekoms kan besluit.

Indien dié doel verwesenlik word, voer die dekoloniale stem aan, kan die vernedering wat met die vroeë onderhorigheid gepaardgaan, omskep word in ’n toestand waar gemeenskappe kan gedy en ons menswees so tot haar reg kan kom.

Alvorens ons egter eenstemmigheid oor bogenoemde omskrywing van dekolonisering sal bereik, sal ons bruut eerlik oor ’n belangrike feit moet wees. Gemeet aan dié omskrywing kan daar nie by voorbaat aanvaar word – soos wat vandag te dikwels gebeur – dat daar ’n klinkklare onderskeid tussen koloniseerders en gekoloniseerders, tussen die sentrum en die periferie, getrek kan word nie. Waarom nie?

Dwarsoor die geskiedenis van die anti-koloniale beweging is daar neiginge onder dié gemeenskappe wat die koloniale juk afgegooi het om hulself opnuut as ’n sentrum op te stel en kleiner gemeenskappe aan hul nuut verworwe mag te onderwerp. Daarmee herhaal hulle ironies genoeg die koloniale mentaliteit waarteen hulle hulself vroeër verset het.

’n Voorbeeld hiervan is die anti-koloniale beweging in Afrika, wat dikwels in sy geskiedenis van die instrumente van die koloniale era gebruikgemaak het om plaaslike gemeenskappe aan sy mag te onderwerp.

Kwezi Kwa Prah, ’n belangrike stem in die dekoloniseringsgesprek, illustreer hierdie punt met verwysing na die wyse waarop Afrika-regerings die koloniale tale nageboots en hul eie gemaak het, dit alles met vernietigende gevolge vir die inheemse tale. Afrika-regerings het “die soewereiniteit van die moedertale met die tale van die koloniale magte vervang,” skryf hy. In die proses is “elites geskep wat slegs in naam nog Afrikaan is, maar in werklikheid deur die Westerse koloniale kultuur betower is, dit wil sê elites wat linguisties en kultureel van hul eie wortels vervreem is.”

Dieselfde ironie kan ook gesien word met betrekking tot ’n rits van ander verskynsels, soos die moderne Westerse staat, Westerse simbole van status en rykdom, Westerse opvattinge oor wetenskap en tegniek, ensovoort. Kenmerkend van die anti-koloniale beweging in Afrika is dat dit bykans sonder uitsondering gepoog het om hierdie dinge na te boots.

Maar ook die geskiedenis van Afrikaners word deur ’n soortgelyke ironie gekenmerk. Vroeër het Afrikaners vanuit die periferie die sentrale gesag van die Empaaier uitgedaag. Tydens die apartheidsjare was hulle egter self ’n sentrum ten opsigte van die meerderheid. So is die koloniale erfenis gekontinueer, ondanks hulle vroeër verset daarteen.

Is die sogenaamde dekoloniale beweging in staat om te erken dat anti-koloniale kragte dikwels in die verlede in ’n koloniale mentaliteit teruggegly het? Nog meer, het dié beweging die moed om te erken dat die periferie vandag nog in vele opsigte van die ou sentrum afhanklik is? En dat hy liefs ’n goeie verstandhouding met die voormalige sentrum moet handhaaf eerder as om utopiese vergesigte van ’n pure postkoloniale toestand na te jaag?

In die mate waarin die dekoloniale beweging steeds onrealistiese drome najaag, sal hy homself (soos telkens in die verlede) teen die harde werklikheid te pletter loop. Een van die groot siektes wat hiermee gepaard gaan, is dat die dekoloniale beweging in ’n verlammende wrokkigheid jeens die sentrum vasval. Vreemd genoeg lei dit tot ’n slaafse bakhandhouding teenoor die sentrum, waarmee – tragies genoeg – ’n spiraal van afhanklikheid jeens die sentrum in stand gehou word.

Indien die dekoloniale beweging egter van sy eie grense bewus is en nie onrealistiese verwagtinge met betrekking tot ’n pure postkoloniale toestand najaag nie, sal hy deur die wrokkigheid kan breek. En vir homself verantwoordelikheid aanvaar. Geen egte dekolonisering is immers moontlik sonder harde werk en eie inspanning nie.

 

 

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!