100 000 name vir Afrikanergeskiedenis
November 13, 2015
DEKOLONISERING
Februarie 5, 2016

deur dr. Danie Langner

Op aanbeveling van ’n vriend het ek tydens die skoolvakansie Chris Barnard se Moerland afgestof. Die roman wat die eerste keer in die konteks van 1992 die lig gesien het, vertel die storie van Lukas van Niekerk. Die verbitterde swart Angolese Afrikaner met sy lewenslange hunkering na “sy eintlike land. Moeka se land. Afrikaans se land. Toon van den Heever se Hoëveld, Jan Celliers se vlakte, Langenhoven se ewige gebergtes, die Karoo se sterre, Natal se duisend heuwels, die Boland se blouberge, Transvaal se bosveld en Namakwaland se blomme. Al die mooi goed wat jou moedertaal so laat sing het.” Lukas se ontnugtering was dat die land hom nie wou hê nie. Tot die pad van die verbitterde swartman met die soekende Afrikaner en sy rebelse regse seun gekruis het. Dit is ’n dapper roman. ’n Roman wat uitdaag om na te dink oor die plek van Afrikaners en Afrikaans in hierdie komplekse mikrokosmos aan die verste punt van die globale wêreld.

Suid-Afrika het vandag in vele opsigte weer ’n Moerland geword. Die ideologiese son van die nasionaal-demokratiese rewolusie is besig om die Suid-Afrikaanse landskap tot as te verskroei. Die sirkel is sedert 1992 voltooi. Van rooi gevaar, swart gevaar, geel gevaar tot die nuwe wit gevaar. “What if there were no whites in SA?” vra Ferail Haffajee. In haar reguit en deursoekende styl ontmasker sy die kraaklyne in ons samelewing, maar ook die gevare van die ANC-elite se rassepreneurskap. Die oneffektiwiteit van ’n moreel bankrot regering het ’n teelaarde geskep vir wit en swart rassisme. Suid-Afrika is op ’n gevaarlike plek van bitter swartmense en ontnugterde witmense.

Die geskiedenis leer benoude katte maak benoude spronge. Die regering is ’n benoude kat. Suid-Afrikaners se tande kletter op ’n ekonomiese sinkplaatpad, want elke keer as die president van sy slapie wakkerskrik, val die Rand. Die Tages Anzeiger van Zürich beskryf Zuma in hulle uitgawe van 19 Januarie 2016 as “ein toxischer Präsident”. In die vernietigende artikel bevind die Switserse koerant: “Jacob Zuma sorgt gut für sich und die seinen – die Wirtschaft befindet sich derweil im Niedergang.” En hulle gevolgtrekking: “Jacob Zuma verwandelte Nelson Mandelas inklusive Regenbogennation in einen von Zulus dominierten Patronage-Staat: Das Land wird nicht von den besten Experten, sondern von den gehorsamsten Schmarotzern regiert.” Suid-Afrika het ’n ekonomiese groei- en leierskapprobleem, maar taal en kultuur word as die sondebok uitgesnuffel.

Breyten Breytenbach is reg: “Die beperkte ruimte wat Afrikaanssprekendes gegun word, word by die dag kleiner omdat mobilisering van etniese vyandigheid teenoor Afrikaans die maklikste uitweg is om ’n gefrustreerde bevolking se aandag van die werklike oorsake van hul agterstand af te lei.” Geen wonder die nate van sosiale kohesie is besig om los te torring nie.

Droogte beteken vir baie boere verlies, moedeloosheid, selfs wanhoop. Droogtebestuur is krisisbestuur. ’n Boer van Heilbron skryf: “Op emosionele vlak is die boere op ’n lae vlak. Strak gesigte is by die orde van die dag. Praatjies raak stil. Bepeinsinge is oral te bespeur. Menige harde manne is baie bekommerd en trane lê vlak as jy sien hoe die diere by die dag agteruitgaan. Menigte kuddes wat oor jare en selfs geslagte opgebou is, staar honger in die gesig.” Daar is ook ’n ander kant. Droogte is ’n tyd vir bestekopname, herbeplanning en aanpassing van prioriteite om te oorleef. Droogte maak mense nederig. Droogte bind mense saam, soos wit boere en swart plaaswerkers wat saambid vir reën. Droogte bou ’n brug, soos die waterbrug tussen stad en platteland. Vragmotor vir vragmotor, bottel vir bottel vol hoop en omgee.

Goeie deurdringende reën is besig om die landboudroogte se rug te breek, maar ons kulturele droogte gaan waarskynlik nog lank duur. Alle aanduidings is dat Minister Nathi se konsepwetgewing slegte nuus het vir Afrikanerbeelde en erfenisterreine. Nog harde gevegte. Nog dreigende hofsake. Nog rasse-politiek. Ons Afrikaanse damme droog op en ons kulturele weivelde verdroog.

Dit is maklik om te begryp hoekom baie mense die nuus afskakel en hoekom stapels koerante nog teen 17:00 op winkelrakke bly lê. Die isolasie van volstruispolitiek gaan nie keer dat ons Afrikaanse taal en kulturele erfenis verder verskroei nie. Raas en blaas help ook nie. Ons Nuwe Testament prof het geleer dit is onmoontlik om sout op elke tuinslakkie te gooi. Om elke ondeurdagte FB-inskrywing tot ’n nuwe rasseherrie te verhef, om oor elke braaivleispraatjie ontsteld te wees, om te wanhoop oor elke swart en wit rassis in die media, help niks. Die debatte is meestal ’n oppervlakkige geraas sonder oplossings. Dit vervreem, polariseer en etiketteer. Dit is Moerland op sy beste.

Effektiewe kulturele droogtebestuur vra eerder om vanuit die diep putte van die verlede koel water te skep. Op dié wyse word kulturele kapitaal ontsluit wat koelkop lafenis vir die hede en koerswysers vir die toekoms gee. Hiermee enkele koerswysers uit gister se putte:

 

Afrikaners is nie rassiste nie

Natuurlik is die Suid-Afrikaanse geskiedenis deurdrenk met konflik, botsende ideologieë, stamoorloë, grensoorloë, bosoorloë. ’n Landsbeleid, selfs met die beste oogmerke, kan rassisme bevorder. Strukturele rassisme laat verhoudinge verhard, vervreem mense van mekaar, sluit mense uit, beroof jongmense van toekomshoop, ontwortel kultuurgemeenskappe van hulle erfgoed, praat onreg goed en benadeel uiteindelik Suid-Afrika op die lang termyn. Persoonlike rassisme word gebore deur vrees en ’n knaende gevoel van bedreiging. Vrees teken ’n selektiewe en valse beeld van die werklikheid waar ideologiese gekleurde waardes aan mense en gemeenskappe toegedig word. Vrees teer op isolasie. Vrees oefen ’n ongesonde aantrekkingskrag op mense uit. Die jaag mense in ‘ons’ en ‘julle’ hoeke in. Vrees hol etiese waardes uit en gee nuwe inhoud daaraan. Kort voor lank heilig die doel die middele. Vrees beskou kritiek as gebrekkige lojaliteit. Vrees wil mense muilband. Dikwels word mense gemaan om onreg gedienstig gewillig en gedwee te verdra en die regering na te praat uit vrees vir wat miskien kan gebeur. Mense probeer vrees besweer deur sagte begrippe soos nasiebou, transformasie, versoening, regstellende geregtigheid, restitusie. In ’n ander tyd is begrippe gebruik soos vreedsame naasbestaan en afsonderlike ontwikkeling. Mense is nie dom nie en sien die harde rassisme en onreg wat in die naam van die begrippe gepleeg word. Die ironie is dat die mooi klinkende woorde eerder rassisme aanwakker as wat dit positiewe uitkomste bewerkstellig.

Ten spyte van ’n bloedige verlede en die rassetamboer wat so flink geslaan word, is daar ook ’n lang geskiedenis van wedersydse respek, goeie verhoudinge, omgee en gedeelde belange tussen wit en swart Suid-Afrikaners. Daar sal seker altyd ’n klein groep wit en swart rassiste wees, maar gewone Suid-Afrikaners haat nie mekaar nie. Inteendeel, grondvlak-verhoudinge tussen gewone Suid-Afrikaners is steeds gemaklik en welwillend. By verreweg die meeste Afrikanergesinne en jongmense wat ek ken, is oopkop, gemaklike, positiewe mense wat geen tyd het vir wit of swart rassisme nie. Hulle begeer om anderkant die rassedebat te beweeg en te werk vir ’n goeie toekoms waar elke gemeenskap vry, veilig en voorspoedig kan wees. Hulle word kwaad vir die polities korrekte moraliste wat voortdurend met veralgemenings rasse-etiket om Afrikaners se nekke wil hang en dan Afrikaners daaroor afknou en kapittel. Dit is destruktief en werk verlammend in op ’n konstruktiewe debat wat Suid-Afrika net so nodig soos reën het. Gewoonlik is dit diegene wat die rassplinter in ander se oë soek, wat blind is vir die rassistiese balk in hulle eie oog.

Miskien is dit nodig om dit nog ’n keer onomwonde te stel:

  • Trots wees op jou mense se verlede en hulle prestasies is nie rassisme nie. Ons leer uit hulle foute en bou op hulle prestasies.
  • Opstaan vir grondwetlike taal- en kulturele regte is nie rassisme nie.
  • Kritiek oor die verwoesting van infrastruktuur, vuil water in krane, die bestorming van standbeelde, die vernietiging van Afrikaans aan universiteite is nie rassisme nie.

Uit liefde vir die land en sy mense sal Afrikaners as aktiewe burgers onbevrees teen rassisme maar oor bogenoemde sake bly praat.

 

Afrikaners is deel van Afrika

President Zuma het in 2010 Afrikaners uitgedaag om as die wit stam van Afrika hulle eie Nkandla te vind. Die Nkandla wat hy en die ANC vir Suid-Afrika aanbied, is korrup, moreel bankrot en gebou op die fondamente van selfsug en eiebelang. Dit, nie rassisme nie, is van die grondliggende redes waarom soveel Suid-Afrikaners steeds vasgevang is in die slawerny van armoede en waarom die kulturele vryheid onderdruk en taalvryheid misken word. Die versnelde verengelsing wat Blade Nzimande, Dan Kwgadi, Jonathan Jansen en Wim de Villiers in die naam van Afrikanisering pleeg, verslaaf eerder as wat dit bevry. Die verstikkende meesterverhaal wat die ANC op die geskiedenis afdwing, vervreem eerder as wat dit inspireer.

Nie rassepolitiek nie, maar die “sug na Vryheid”, in die woorde van Andries Pretorius, is die goue lyn van gister tot vandag. Vanaf die eerste Vryburgers en Hugenote dwarsdeur die Groot Trek, twee Vryheidsoorloë en die Republiek vind jy die spore van die sug na vryheid. ’n Deel van ons familie-, geloofs-, taal- en kultuurwortels lê in Wes-Europa. Daar is baie Westerse waardes wat baie Afrikaners nie deel nie. Die ontworteling van geloof in ’n gesekulariseerde samelewing, die liberale ideologieë se verwoesting van Bybelse huweliks- en gesinswaardes, geprivatiseerde individualisme, harde kapitalisme, Amerikaanse grootdoenerigheid of Europese beterweterigheid laat baie Afrikaners koud.

Afrikaners se struggle vir vryheid strek oor langer as drie eeue. Afrikaners het ook ’n verskroeide aarde en armoedegeskiedenis. Afrikaners het ook in myne gewerk en ken van paaie bou en klippe kap. Hier het Afrikaners in reaksie teen imperialisme en kolonialisme demokratiese republieke gevestig, hoe gebrekkig dit ook al vandag vir sommige geleerdes mag lyk.

Afrika is deel van ons en ons van Afrika. Afrikaners het hulself en hulle taal na Afrika vernoem. Ons wortels is te diep in Afrika geplant. Niemand kan dit van ons ontneem nie. Nie die ANC wat in 1987 besluit het om Afrikaners te etiketteer as kolonialiste van ’n spesiale soort nie en ook nie die rassepreneurs wat Afrikaners wil reduseer tot tweedeklasburgers in hulle land nie. Afrikaners is hier om te bly.

Net so is die spore van vryheid te vind in die Oosgrensoorloë, die Anglo-Zulu-oorloë en die struggle teen apartheid. Soms het die spore saam geloop en soms oorkruis en deurmekaar. Die feit is Afrika se kinders wil vry wees van verslawende ideologieë en selfsugtige heersers. Die sug na Vryheid is die gemeenskaplike koördinerende beginsel wat baie Suid-Afrikaners weerskante van die politieke draad met mekaar deel. Vandag staan die Voortrekkermonument en Freedom Park langs mekaar. Elk ’n baken van die vryheidsideaal.

 

Afrikaners is bouers, nie brekers nie

Niks van die #must fall-veldtogte maak my opgewonde nie. Daar het genoeg geval en gebreek in hierdie land. ’n Toekoms word gebou, nie gebreek nie. ’n Toekoms word gebou deur die vryheid van selfverwesenliking, deur vurige en meelewende betrokkenheid by jou gemeenskap en gemeenskaplike sake wat gemeenskappe met mekaar deel. Opbouende betrokkenheid maak mense vry en gelukkig. Dit skep betekenis.

NP van Wyk Louw het beklemtoon dat vryheid slegs kan voortbestaan in geregtigheid. ’n Geregtigheid wat gebaseer is op universele waardes soos ’n kragtige lewe, waarheid, liefde, menslikheid, billikheid en begrypend saamleef met ander.

Om daarin te slaag, moet jy in verset wees teen verstarring en vasval in ’n eie bedompige geslote wêreld. Vir hom was die voorwaarde van voortbestaan die vermoë van ’n taal en kultuur om ten spyte van droogtetye uit eie krag te vernuwe en te verjong.

Vernuwing en verruiming was vir hom die aristokratiese ideaal vir ’n gemeenskap se denkpatroon. Dit is die vaste wil om in eie krag sonder beloning, dit te doen wat die geestelike en kulturele besit van ’n gemeenskap sal verryk.

Selfs in kulturele droogtetye is dit moontlik om koel water uit diep putte van president Steyn, NP van Wyk Louw, JD Kestell, NJ van der Merwe, MER, DJ Opperman, Johannes Degenaar te skep en aan te dra na die volgende geslag. Tree vir tree. Projek vir projek. Storie vir storie. So word ’n kulturele toekoms gebou.

Daar is by my geen twyfel dat goeie reën weer sal val en die kulturele droogte sal breek nie. Die gras sal groen uitspruit. Selfs in Moerland. Ons toekoms rus immers in die hande van die Here.

 

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!