VAN ‘GLOBISH’ TOT ‘GIBERISH’: ‘N GEMEENSKAP IN KRISIS

DEKOLONISERING
Februarie 5, 2016
’N AFRIKANERBEELDJIE IN ELKE HUIS
Februarie 5, 2016

deur Christoff van Wyk

Dis Vrydagaand. Bloedbroers het opgeneem en ons besluit om dit te kyk. Na so lang tyd in Londen is dit lekker om weer ʼn Afrikaanse drama op TV te kan kyk met goeie akteurs. Ons verdiep onsself in die Afrikaner se stryd en hoe dit afgespeel het in die vroeë twintigste eeu. Dan skielik, sonder aankondiging, is alles pikswart. Die krag is af. In ʼn oomblik se tyd word ons uit die virtuele ruimte van Bloedbroers geruk na ons lewe hier, nou. Die taalkwessie is vandag weer ʼn probleem, maar wat ons nie dadelik snap terwyl ons kerse en flitse soek nie, is dat dit slegs ʼn simptoom is van ʼn baie dieper, onderliggende probleem. Dis nie net ons taal wat tans onder die spervuur is nie, maar die hele idee van gemeenskap en ons plek daarin.

Die NP van Wyk Louw Sentrum vir Gemeenskapstudies het onlangs, as deel van sy strategie van internasionale skakeling, die bekende Nederlandse filosoof en dosent, Professor Ad Verbrugge ontvang. Hy is tans verbonde aan die Universiteit van Leiden waar hy doseer in sosiale en kulturele filosofie asook ekonomie. Hy tree dikwels op as TV aanbieder vir die filosofiese besprekingsprogram, Kwintet en hy het ook reeds twee filosofiese boeke[1] uitgegee wat topverkopers was in Nederland. Professor Verbrugge het saam met prof Hennie van Coller (UV), prof Danie Goosen (UNISA) en Dr Johann Rossouw (UV) as gassprekers opgetree by ʼn twee dae lange gespreksgeleentheid. Die temas onder bespreking was ‘Die plek van die gemeenskap in globalisering’ en ‘Die krisis in die Universiteitswese’.

In sy lesing rondom die eerste tema het prof Verbrugge die spanning tussen die gemeenskap, die hunkering van die individu na selfverwesenliking en die globale wêreld uitstekend verduidelik aan die hand van terme soos ‘lyfwêreld’, ruimte en vry wees. Ons lewe in ʼn moderne wêreld waar die individu homself in ʼn tipe ruimte, los van spesifieke plek(ke) bevind en verwyder staan van die ‘lyfwêreld’, as’t ware. Ons kommunikasie, banke, vermaak en selfs ons lugvervoer het van ons individue gemaak wat met groot spoed kan beweeg en kontak maak, maar wat hunker na iets meer. Hierdie tipe lewensstyl veronderstel vryheid maar is juis teenwerkend van vryheid omrede die individu eers waarlik vry kan wees as hy homself kan uitleef binne ʼn gemeenskap en binne ʼn bepaalde plek waar daar wederkerige interaksie en erkenning van die ander is.

Die praktiese implikasie van die bogenoemde kan duidelik gesien word deur te kyk na die krisis in die universiteitswese met veral die klem op die taalkwessie. Prof Verbrugge het in die tweede lesing verwys daarna, hoe selfs die universiteite in Nederland tans onder druk staan om ook te verengels en dat hierdie verskynsel deel is van die globale neiging om eerder die plaaslike te misken. Dikwels bly dit nie by Engels nie maar word dit ʼn soort ‘Globish’ wat ʼn gebrekkige vorm van Engels is, maar wat maklik aangeleer kan word, met die hoofdoel om deel te word en opgeneem te word in die hierdie globale ruimte. Prof Hennie van Coller het ʼn uitstekende uiteensetting gegee van hoe diè proses besig is om by die Universiteit van die Vrystaat af te speel. Dis duidelik dat die bestuur van die Universiteit gewetenloos die stem van die studente, dosente en alumni ignoreer om seker te maak dat die karakter van die Universiteit globaal internasionaal en uiteindelik slegs Engels word. Dit is egter opvallend hoe onsamehangend en inkoherent verskeie van die dosente se argumente vir Engels as enkelmedium van onderrig is en verwys prof van Coller hier tereg daarna as ‘giberish’.

ʼn Verdere implikasie van die neiging na globalisering wat deur prof Danie Goosen uitgelig is, is dat die fokus en klem wat op individualistiese uitgangspunte geplaas word, veroorsaak dat daar nie meer in studie kursusse gekyk word na die geheel van die mens en sy gemeenskap en hul behoeftes nie. Studie kursusse word eng aangebied om slegs te hou by die spesifieke vakrigtings met geen moeite om die student op te lei as volledige persoon wat nie net ʼn behoefte het aan kennis nie, maar eerder volle selfverwerkliking. Hierdie selfverwerkliking kan slegs geskied binne die konteks van gemeenskap en duidelik word dit uitgesluit deur die huidige neiging na globalisering.

Indien ons die krisisse wat ons in die gesig staar te bowe wil kom, sal ons in diepte weer ons denkraamwerke moet hersien. Waar het ons mekaar verloor? Hoe vind ons mekaar weer? Met Bloedbroers vergete het ons eventueel die kerse aan. Ons sit terug en begin gesels. Vir die eerste keer in ʼn lang tyd.

 

[1]  ‘Tijd van onbehagen’ (2007) handel spesifiek oor die Westerse samelewing as ‘n ‘cultuur op drift’. Prof Verbrugge se opvolg boek ‘Staat van verwarring’ (2013) bevat dan ‘n verdere uitbreiding op die probleemstelling van die negatiewe kultuur skywe in die Westerse samelewing wat plaasgevind het steeds plaasvind.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!