Fees skep eerste ware tuiste vir Afrikaans

Nooit of nou – ShoNeill
Mei 31, 2016
Afrikaans verneder, maar daar is hoop
Junie 23, 2016

Fees skep eerste ware tuiste vir Afrikaans

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het vandag gesê dat hulle op Vrydag 19 en Saterdag 20 Augustus, die heel eerste SA Expo FAK Musiekfees aanbied. Die fees beloof om ’n hoogtepunt te wees vir vanjaar se kultuurkalender, aangesien dit die enigste fees is waar jy die groot liefde vir jou taal kan uitleef.

Volgens Johan Yssel, Feesorganiseerder by SA Expo, is dit die eerste keer dat die SA Expo FAK Musiekfees aangebied word. “Daar is baie feeste in die land wat Afrikaans ondersteun, maar geen fees kon dit nog regkry om werklik vir Afrikaans ’n tuiste te skep nie,” het Yssel gesê.

“Dit is vanuit hierdie agtergrond wat die FAK besluit het om vanjaar die fees aan te bied, waar feesgangers kan saamsing, dans, kopskud en baljaar in hulle taal. Die Vrydagoggend skop die fees af met plaaslike kunstenaars, vandaar beweeg ons oor na die eerste egte Afrikaanse rock-vertoning. Legendes wat optree, sluit in Francois van Coke, Saarkie, Beeskraal en nog ander bekende rockers. Die Saterdag begin vroegoggend saam bekende skoolkore wat beloof om die gehoor te betower met hul sangtalent. Die fees sluit af met Kurt Darren, Nadine, Jak de Priester, Jakkie Louw, Manie Jackson, Arno Jordaan, Rickus Nel, Liza Bronner, saam met nog ander gunstelinge,” het Yssel verduidelik.

Yssel meen dat daar vermaak vir die hele gesin is. Ma kan die unieke stalletjies geniet, terwyl pa en kinders kan kopskud in hul taal.

Hierdie fees beloof nie net die beste talent in die industrie nie, maar ook sakpaspryse. Die SA Expo FAK Musiekfees vind 19 en 20 Augustus 2016 op die Voortrekkermonumentterrein te Pretoria plaas. Ingang beloop R120 per dag, of bespreek ’n naweekkaartjie teen R200. Belangstellendes kan hier kliek om kaartjies te bespreek vir die fees of FAK Musiekfees op Facebook volg.

SA Expo FAK Musiekfees

Comments are closed.

error: Content is protected !!