UP rektor mislei, studente wil in Afrikaans studeer
Junie 24, 2016
Rapportryerbeweging se Bybelvasvra
Junie 28, 2016

Francois van Coke se selfgetitelde solo debuutalbum is sekerlik een van die beste albums vir 2016. Soos met sy Polisiekar-groep skop hierdie album reeds van die eerste lied af stof in die lug. Dis ’n fantastiese harderock-album wat elke aanhanger van rockmusiek moet hê. Die album het ’n lekker Foo Fighters-aanslag en so kan die groep dit ook staaf met hulle lewendige optredes. Gillende aanhangers en groot skares is nie ongewoon vir Francois en sy groep nie en hierdie ouens is maklik tans die beste lewendige groep in die land. Hulle stel ’n goeie hoë standaard waarby ander orkeste kan baat vind. Die album is ook reeds vir drie TempoEvent-Cover-660x440-toekennings benoem.  Francois het ook skoonskip gemaak by hierdie jaar se Ghoemas in elke kategorie waarvoor hy benoem was.

Maar dis natuurlik die vlagskiplied “Toe vind ek jou” van Francois en Karen Zoid wat groot aandag getrek het. Met 1,8 miljoen Youtube-kykers tot op hede is dit sekerlik die grootste enkelsnit wat Suid-Afrika opgelewer het in jare. “Neonlig” is nog ’n sterk enkelsnit wat saam Heuwels Fantasties gedoen word. Hierdie lied trek ook reeds groot aandag op radio-speellyste regoor Suid-Afrika. Al die musiek en liriek is deur Francois self geskryf met “Die Skip” wat saam Laudo Liebenberg geskryf is. Hunter Kennedy van Francois se Polisiekar-faam het ook hand bygesit met “Hulle sê” en “Neonlig”. “Ek weet nie”, “Skree” en “Hulle sê” gaan ook sterk toekomstige enkelsnitte word.

Die album is by verskeie studio’s opgeneem en die produksie en verwerkings is van wêreldstandaard. Jedd Kossew, Francois se regterhand doen ’n briljante werk op die ‘lead’ kitaar. Hierdie is voorwaar ’n CD van internasionale standaard en behalwe vir die taalgrens hoef Francois vir niemand internasionaal terug te staan nie. Die album kan saam die beste van internasionale rockmusiek geplaas word. Die CD is uitgereik deur Supra Familias en word versprei deur Coleske Artists.

Comments are closed.

error: Content is protected !!