Anthony Hocking, ons eietydse “boy van Bethulie”

Die Erfenisstigting
Junie 28, 2016
Twee Grade van… Ongemak
Julie 25, 2016

Anthony Hocking, ons eietydse “boy van Bethulie”

Die FAK het tydens die BAK/FAK Eretoekenningsfunksie wat in Junie in Bloemfontein gehou is, vir Anthony Hocking vereer met die FAK Prestige-toekenning vir uitnemende kultuurprestasie vir waardevolle bydrae tot die teboekstelling van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, asook vir sy bydrae tot erfenisbewaring.

Hocking het grootgeword in Cornwall in die Verenigde Koninkryk, net soos sy landgenoot lank voor hom, Emily Hobhouse. Die reisgogga het hom egter vroeg gebyt en as regstudent by Oxford het hy gedurende sy vakansies begin toer. In die somer van 1965 het hy onder andere by ’n groot Amerikaanse radiostasie as ’n platejoggie uitgesaai onder die naam “James Bond” en dis hier waar hy ook mense soos die Beatles, die Beach Boys en Sonny & Cher ontmoet het.

’n Jaar later het hy regoor die wêreld geseil as lid van die bemanning op ’n passasierskip en dit was tydens hierdie reis dat hy vir die eerste keer, op 22-jarige ouderdom kennis gemaak het met Suid-Afrika. Die land het hom so beïndruk dat hy, nadat hy graad gevang het in 1968, besluit het om hom permanent hier te kom vestig.  Aanvanklik het hy in Kaapstad gewoon, waar hy vir The Argus koerant gewerk het. Na drie jaar by die koerant, het hy vryskutwerk begin doen en boeke begin skryf, hoofsaaklik geskiedenis en biografieë. In sy dae as ’n sukkelende, ongepubliseerde skrywer was een van sy mees waardevolle ondersteuners die redakteur van Die Huisgenoot, in wie se opdrag hy ’n aantal artikels geskryf het wat dan in Afrikaans vertaal is.

Intussen het Hocking al meer as 40 boeke geskryf. Die meerderheid van sy boeke is geskiedkundig van aard, maar daar is ook ’n paar biografieë, reisboeke en opvoedkundige verhalings. Dit het meestal Suid-Afrikaanse onderwerpe gedek en ’n paar is in Afrikaans vertaal.

In 1983 koop Hocking ’n huis in Bethulie, Suid-Vrystaat, in ’n tyd toe dit uiters ongewoond was vir Engelssprekendes om hulself te vestig in plattelandse Afrikaanssprekende gemeenskappe. Hy het vinnig geleer om diegene rondom hom te respekteer en is baie bemoedig deur die goedhartigheid van sy bure.

In 2000 het hy die ou Bethulie spoorwegstasie (gebou in 1894) gekoop. Hy moes die eienaars oortuig om dit nie as skroot te verkoop nie! Sy redenasie was dat die stasie as die aflaaipunt vir die mees berugte van die ABO-konsentrasiekampe gedien het, en bewaar moet word vir die nageslag

In 2005 het hy die Royal Hotel in Bethulie gekoop, wat erg agteruitgegaan het. Die hotel is gestig in 1873 en is een van die oudstes in die land. Die hotel is gerestoureer en word nou bemark as “Suid-Afrika se boek hotel”. Hocking se boek en plaat versameling wat in die tienduisende beloop, lok nou besoeke
rs van anthon3regoor die wêreld. Die afgelope vyf jaar het hy al gasheer gespeel vir toeriste van byna 40 verskillende nasionaliteite.

Om besoekers nog verder te vermaak, bied Hocking ook ’n verskeidenheid informele toere van Bethulie en die omgewing aan. Sommige van die toere fokus op militêre geskiedenis terwyl ander fokus op die kulturele geskiedenis en ’n paar op die kunste. Daar is selfs ’n spook-staptoer! Besoekers lê tydens die staptoere besoek af by ’n aantal interessante plekke en Hocking probeer veral om deur sy interessante stories, die klem te laat val op verskillende aspekte van Afrikanerkultuur.

Tot sy genot, het die toere guns gevind met besoekende Afrikaners. Volgens Hocking, “… lyk (dit) asof hulle dit heel aanvaarbaar vind om historiese besienswaardighede te besoek, gelei deur ’n Engelsman wat simpatiek voorkom oor Afrikanerkultuur en -geskiedenis!” Oorspronklik is die toere beperk tot Bethulie en omgewing, maar hulle het nou baie verder uitgebrei.

Een gebeurtenis wat Hocking probeer red van die vergetelheid, is die vierdaagse Slag van Bethulie brug tydens Maart 1900, wat volgens hom die Boere se laaste realistiese kans was om die Anglo-Boereoorlog te wen. Hulle het byna alle hoop op kommunikasie tussen Roberts se weermag in Bloemfontein en die kus vernietig, maar is gefnuik deur die dapperheid van ’n junior Britse offisier.

Nog ’n herinnering wat hy laat herleef het, is dié van Bethulie se Louw Wepener, held van die Tweede Basoeto-oorlog van 1865. Verlede jaar was die 150ste herdenking van Louw Wepener se dood. Hocking het ’n naweekherdenking by die graf/monument op die Wepener-plaas naby Bethulie georganiseer, asook ’n banket by die hotel. Hy en sy werknemers sorg steeds vir die lank verwaarloosde graf/monument.

’n Derde storie wat nuut ontgin is, is dié van Christiaan de Wet se pogings om die Kaapkolonie binne te val in Desember 1900, en die Britse teenmaatreëls om hom uit te hou. Hocking is besig om die roetes na te speur wat deur die De Wet-kommando en hulle gevangenes, asook die magte wat hulle vervolg het, gevolg is.

Hocking se navorsing oor die Anglo-Boereoorlog het hom opnuut respek gegee vir President Marthinus Steyn en die Vrystaatse betrokkenheid. Geskiedkundiges is geneig om die Vrystaat oor die hoof te sien, omdat hulle eerder fokus op president Paul Kruger en die Transvaal. Dit bring gereeld interessante gesprekke met besoekende Afrikaners mee.

Sedert verlede jaar bedryf sy hotel vierdag-veldren-fietstoere. Die toere wat in Bethulie begin en eindig, kry baie goeie aftrek onder die plaaslike gemeenskap. As deel van die ervaring steek die fietsryers plase oor waar hulle kan stop en Bethulie se boere ontmoet.

anthon2

Die afgelope paar winters het Hocking ’n jaarlikse poësie- en storienaweek by die hotel georganiseer, in samewerking met die nasionaal bekende Aasvoël Klub van Bloemfontein. Die meerderheid van die deelnemers is Afrikaners.

Die hotel bedien ook hulle eie weergawe van klassieke boerekos wat goeie aftrek kry en ’n groot aantal “bekeerdes” lok. Op aanmoediging van gaste, is Hocking besig om ’n nuwe soort kookskool saam te stel. Dit sal kliënte na ’n verskeidenheid plase neem waar hulle “die kokke ontmoet” op tuisgrond en Vrystaatse resepte leer wat van moeder na dogter oorgelewer is.

Hocking is nou in sy sewentigerjare, maar het geen plan om af te tree nie. Veel eerder beplan hy om voort te bou op wat die hotel reeds doen en om nuwe ondernemings aan te pak in Bethulie en die omgewing. Miskien is tyd net nie aan sy kant nie, maar sy vader het tot 100 geleef en daar is ’n goeie kans dat hy in sy voetspore sal volg.

Comments are closed.

error: Content is protected !!