Resensie: Kraakvars
Junie 28, 2016
Die Erfenisstigting
Junie 28, 2016

Deur Len Muller

‘Ek het in ’n huis groot geword waar ons Afrikaans gepraat het, maar met heelwat blootstelling aan ander tale en kulture. My Ma het ons nog altyd aangemoedig om ander kulture te leer ken en hulle te probeer verstaan. Juis, daarom het ek nooit die feit dat ek Afrikaans praat as enige iets spesiaal gesien nie – totdat ek na skool tien maande in die VSA spandeer het. Daar het ek na die eerste maand begin verlang na woorde soos “lekker” en “kuier”.

Iewers, tussen-in daardie tipe woorde wat mens net in Afrikaans kry, lê ‘n hele kultuur opgesluit wat die wêreld nie kan begryp nie.  Dis ons eie geheime woorde wat net óns kan verstaan. Dit maak ons uniek, maar dit beteken nie ons moet nie mededeelsaam wees nie. Mens hoor al hoe meer Engelse mense die woord “lekker” gebruik. Ek hou daarvan want dit beteken taal hoef ons nie te verdeel nie. My familie het gedurende my tyd in Amerika vir my biltong, droëwors en ‘n Huisgenoot Tydskrif gepos wat behoorlik ‘n knop in my keel en trane in my oë gesit het.

Aan die einde van my toer in die VSA, het ‘n Christelike universiteit vir my ‘n volle beurs aangebied om Teologie te studeer in Massouri. Hul sou al my studiegelde en ook verblyf betaal. Dit was ‘n groot geleentheid veral omdat finansies op daardie stadium bietjie moeilik was, maar toe ons weer eendag ‘n rugby wedstryd oor die internet moes kyk en ek my laaste stukkie droëwors eet het ek besef, Suid-Afrika en Afrikaans is in my hart. Ek kon nie nog ‘n maand langer daar bly nie. Ek het terug gekom Suid-Afrika toe en kort daarna begin werk aan my eerste Afrikaanse album getitel: ‘Doodgewone Avontuur’. Ek is ook onlangs getroud met ‘n volbloed Afrikaanse, Pretoria meisie en ek moet bieg, om in Afrikaans te kan sê; “Ek het jou lief”, sit net mooi op mens se lippe en veilig in jou hart.’

Comments are closed.

error: Content is protected !!