Rapportryerbeweging se Bybelvasvra

Resensie: Francois van Coke
Junie 27, 2016
Afri-Duetfees 2016
Junie 28, 2016

Rapportryerbeweging se Bybelvasvra
Die eerste been van die nasionale Bybelvasvra-projek van die Rapportryers het afgeskop op 20 Mei op verskillende dorpe regoor Suid-Afrika. Vanjaar het 57 skole met ’n totaal van 125 spanne ingeskryf waaronder daar 10 nuwe skole was.
Die vyf voorlopers onder die senior spanne is Laerskool Marietjie van Niekerk (Bethal), Laerskool Randhart, Laerskool Moorivier (Potchefstroom), Laerskool Hennopspark en Laerskool Goedehoop.
Die vyf voorlopers in die Junior Afdeling is Laerskool Garsfontein, Laerskool Vastrap (Rustenburg) se tweede en derde spanne, Laerskool Pietersburg-Oos en Laerskool Jordania.
Die tweede rondte word geskryf op 18 Augustus. Nadat die tweede rondte geskryf is, sal die 10 voorlopers bepaal word. Hulle sal dit dan uitspook in die finaal gedurende ’n heerlike naweek op 20 Oktober by ’n vakansieoord.
Uit ’n Bybelkennis-projek wat die Rapportryers drie jaar gelede geloods het, het dit aan die lig gekom dat die jeug se algemene kennis van die Bybel veel te wense oorlaat. Die doelstellings van die Bybelvasvra is juis die bevordering van die jeug se liefde vir die Bybel en Bybelstudie, die bevordering van die jeug se kennis en hanteringsvermoë van die Bybel, asook die bevordering van die jeug se kommunikasie- en samewerkingsvermoë.
Die gedagte is juis dat elke kind wat deelneem die mense rondom hom/haar ook positief kan beïnvloed en die Woord dus uitgedra word, veel verder as net die skool en die afrigter, maar ook gesinne.
Alle leerlinge tot en met Graad 7 mag deelneem. Daar is geen beperking op die aantal spanne wat ’n skool/gemeente/instansie mag inskryf nie. Die span bestaan uit vier leerders (hoef nie dieselfde graad te wees nie) en daar is ook geen geslagtelike voorskrifte nie.
Aangesien baie voormalige Afrikaanse skole ook nou dubbelmediumskole geword het, glo die Rapportryers dat die geleentheid om meer van die Bybel te leer nie deur taalgrense beperk behoort te word nie. Daarom bied ons ook aan Engelse leerders die geleentheid om aan die vasvra deel te neem. Die vraestel is in Afrikaans of Engels beskikbaar en u moet dit duidelik op die inskrywingsvorm aandui.
Agtergrond
Die Bybelvasvra het 40 jaar gelede in Sasolburg begin en die belangstelling was so oorweldigend dat dit reeds die daaropvolgende jaar, as ’n projek van die Rapportryers, op Nasionale vlak aangebied is.
Skrifgedeeltes vir volgende jaar sal teen einde November 2016 beskikbaar gestel word. Die vraestelle bestaan uit ses Afdelings: Meerkeuse, Kortvrae, Pasmaats, Versbou, Blokraai en Snelsoek.
Uitdunrondtes word in streekverband in verskillende sentra in die verskillende provinsies aangebied.
Elke deelnemer ontvang ’n sertifikaat van deelname. Die wenspan van elk van die nege provinsies ontvang ’n addisionele sertifikaat, asook R600 per span. Die Top 10 senior spanne na afloop van die twee uitdunrondtes word genooi na die finale rondte wat oor ’n naweek beslis word. Die spanne woon die naweek kosteloos by. Prysgeld is R4000.00, R3000,00 en R2000.00 onderskeidelik vir die eerste, tweede en derde plekke.
Inskrywingsfooie
R 300.00 per senior span en R 180.00 per junior span.
Spanne moet egter, soos gebruiklik, op eie koste by die verskillende sentra aanmeld.
SLUITINGSDATUM VIR INSKRYWINGS VIR VOLGENDE JAAR: Vrydag 21 April 2017
Skryf in. Hierdie Bybelvasvra is enig in sy soort. Dit is nie net ’n leerervaring, maar ook pret.

Comments are closed.

error: Content is protected !!