Heldeakker in Bloemfontein ‘aangeneem’

Duet in Afrikaans
September 28, 2016
Hoop in die donker – Nagligte
September 28, 2016

Deur Marietjie Gericke, soos verskyn in Volksblad van 15 Augustus 2016

Bloemfontein. – ’n Gesin van die Rosestad het die Mangaung-metro se Pres. Brand-begraafplaas met sy heldeakker waarin onder meer verskeie staatspresidente van die verlede begrawe is, “aangeneem”.

Hulle sal nou vir die volgende drie jaar saam met ’n werker toesien dat dié geskiedkundige begraafplaas bewaar word van leeglêers, dwelmgebruikers, vandale en sataniste. Die begraafplaas word nou gereeld skoongemaak en gaan verder beveilig word.

Tientalle grafstene wat “omgeskop is” of wat weens die wind en weer self omgetuimel het, sal ook heropgerig en herstel word. Hiervoor word toestemming van die families van die afgestorwenes gevra.

Dirk Venter (20) is voorsitter van die Bloemfontein Golden History Foundation wat nou as geregistreerde stigting dié besonderse werk doen. Hy sal ook nou met die metro-munisipaliteit en die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (Sahra) saamwerk. Om die beskadigde grafte te herstel sal hy ’n permit by Sahra moet kry.

Venter sê die stigting bestaan eintlik net uit hom, sy pa, Gert, ’n klerk in die polisiediens, sy ma, Magdaleen, ’n tikster in die polisiediens, sy broer, Roelof, ’n vriend, Werner Coetzee, en ’n werker, Hendrik Jacobs.

Volgens hom is dit hul passie vir geskiedenis wat meegebring het dat hy en sy gesin so betrokke wil raak.

Hy sê die Pres. Brand-begraafplaas, op die hoek van Presidentlaan en Oliver Tambo-weg (voorheen Kerkstraat), bestaan uit verskillende dele: die Engelse en Kanadese grafte, wat deur die Commonwealth War Graves Commission (CWGC) versorg word, die konsentrasiekampgrafte, die Joodse grafte en die ou Bloemfonteinse grafte.

Die oudste graf is dié van ’n kind wat in 1837 gebore en in 1846 oorlede is.

Venter sê hy weet nie hoeveel grafte daar is nie omdat sommige al heeltemal tot niet is.

Dit is nou al ’n geruime tyd dat hulle maandeliks hul eie geld gebruik om die begraafplaas op te knap.

“Ons kyk veral na die voorste gedeelte waar ons die paadjies skoongeskoffel het. Ons het ook begin om onkruid in die begraafplaas uit te skoffel en om grafrante skoon te maak.

“Nuwe klipgruis is ook op sommige grafte gegooi. Hier en daar is selfs ’n bossie kleurryke, nagemaakte blomme op grafte aangebring.” Die gras tussen die grafte word ook gesny.

Venter sê die groot probleem is mense wat in die begraafplaas oornag en dit as toilet gebruik. “Dit stink, skep onaangename omstandighede en moet ook heeltyd skoongemaak word. Daar word ook plek-plek vuur gemaak.

“Dit is waarom ons nou die metro vir veiligheidsomheining gevra het sodat die begraafplaas behoorlik beveilig kan word. Die amptenare was positief en die stadsraad gaan geld hiervoor bewillig.”

Daar is heelwat uitdagings.

“Rommelstrooiery, kos soos hoendervleis wat in potjies gaargemaak word en waarvan mense die bene tussen die grafte rondstrooi, groot molshope wat oral kop uitsteek en onkruid wat welig groei, veroorsaak bykans heeltydse onderhoudswerk. Vandale rig ook skade aan,” vertel Venter.

Voorheen is selfs die omheinings van grafte gesteel. “Aan die Engelse kant is 300 kruise gesteel en vermoedelik vir skrootmateriaal verkoop.”

Venter sê hy gaan ook nou met ’n kundige saamwerk wat ’n register van al die grafte in die begraafplaas bygehou het en wat ook foto’s van elke graf geneem het, sodat die grafte weer behoorlik gemerk kan word.

’n Boek met dié inligting verskyn in November.

  • Staatspresidente wat in die heldeakker begrawe is, is Jim Fouché, Blackie Swart en Nico Diedericks. Die grafsteen van Swart is ook effens beskadig en ’n byeswerm het al op dié graf nesgemaak. Dit is verwyder, maar omdat die graf nie behoorlik geseël is nie, het die bye weer teruggetrek. Oudpres. Jan Brand van die Vrystaat is ook hier ter ruste gelê.
  • Belangstellendes kan Venter by 084-469-3888 bel.

 

Comments are closed.

error: Content is protected !!